Erfanusdag

  • 2

Ons sal nou eens en vir altyd moet besluit of dit nou Erfenisdag, Swerfenisdag of Braaidag is. Of al drie? En of dit aanvaarbaar is om al drie dae van die Swerfenislangnaweek te braai. Miskien moet ons ’n referendum oor dié ou sakie hou. Niemand het ’n idéé wat ons nou eintlik herdenk of gedenk nie. Is dit die geskiedenis van die koeksister, die kroekbroer of die vuvuzela?

Daar’s natuurlik nog ’n opsie en dit is om die huidige vakansiedag heeltemal af te skaf en oor te begin.

Laat ek dus begin deur te noem dat dit Saterdag 23 September ons geliefde Fanus Rautenbach se geboortedag was. Eintlik hoef ek net te sê Fanus, want daar is en was mos net één. Hy sou nou 89 jaar oud gewees het. Soos hy self by meer as een geleentheid vertel het, is hy op ’n Sondag in Lichtenburg gebore, want sy ma het nie in die week tyd gehad nie en hulle het óórkant die tronk gebly omdat die tronk binnekant vol was. Wat hy nie baie vertel het nie, was dat sy pa ’n aartappelboer was totdat die Groot Depressie hulle familie stad toe gedryf het.

Vir Fanus het ek ’n leeftyd geken (soos die res van ons land se mense). Volksbesit en die rede waarom ek vele oggende laat by die skool opgedaag het. Hom eers net na sy 80ste verjaarsdag persoonlik ontmoet. Oud en weerloos maar steeds die meester van die Afrikaanse kwinkslag, woordspelings, gediggies en storietjies vol lag met ’n traan. So het ek hom elke keer as ek Kaap toe gegaan het, gaan oplaai en saam met hom daai groot borde “prawns” (’n garnaal klink vir my te klein) by Panama Jacks getakel. Tuis het ek byna daagliks my vonkpossies (soos hy na e-pos verwys het) gekry met nuwe en ou storietjies, versies en ander lekker nonsietjies.

In 2009 kry hy in Bloemfontein die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Eeufeespenning. In die kieriekasteel daar onder Tafelberg is daar net een Afrikaanse tannie, en alhoewel haar koppie so ’n bietjie op kwart voor vasgehaak het, neem ou Fanus maar dié eerbewys saam eetsaal toe om vir die tannie te wys. Sy rol daai medalje met die prominente 100 so rond in haar palm en kyk met verwondering na haar ou tafelgenoot: “My wêreld Fanus, jy het nooit vir my gesê jy is al honderd nie!” Lang storie, maar my voorstel is om eerder 23 September te herdoop na Erfanusdag met braai verpligtend die hele naweek.

En ja, gepraat van aartappelboerdery: ek sien die Moerkweker van die Jaar word op 27 September in Johannesburg by die Moerkwekersforum se galadinee aangewys. As ek nou vir Fanus sou gevra het hoe ’n pa sou voel as sy seun gekies word as Jongmoer van die Jaar, sou hy geantwoord het: “Moer trots natuurlik!” En as sy laaitie dit nie gemaak het nie? “Moer de moer in!”

 

Foto's verskaf.

Lees van Fanus Rautenbach se rubrieke in LitNet se argief.

  • 2

Kommentaar

  • Johan Pienaar

    Sommer net 'n persoonlike belewenis. In die 70's verkoop ek op die Pta-skou skeermesse en hy kom verbygestap. Hy willig in om te staan vir 'n promosie-skeer en terwyl ek besig is merk hy op: "Jy sal ook nou vir mense kan sê dat jy eenmaal die gek geskeer het."

  • Willie van Aswegen

    Ek was bevoorreg om Fanus se plategeneraal vir 5 jaar op "Flink uit die Vere" te wees.
    Ek is nou 71 maar daar gaan nie 'n dag verby wat ek nie die Penniefluitjie-kwêla in my gedagtes oproep nie en vir Fanus sê: "Môre-sê, waarmee vermaak ons die volk v'more?"

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top