Entrepreneurskap en diversifisering in die nuwe musikale ekonomiese landskap: Inleiding

  • 4

Deel 1: Inleiding

(Lees deel 2 hier.)

Niemand hou meer van die idee van die suffering artist nie. Op ’n sekere ouderdom mag dit dalk ’n romantiese konsep wees, maar wanneer ’n mens lees van nog ’n huishoudelike naam wat met geen geld en mediese fonds op hul sterfbed lê, dan begin mens jouself afvra: “Waar het dinge verkeerd gegaan?” Hoe gebeur dit dat ’n talentvolle en erkende musikant, liedjieskrywer of sanger in só ellendige situasie beland? Is dit hul eie skuld? Is dit die bedryf se skuld? Hoe dra die publiek tot die probleem by of lê die probleem op regerings- en beleidsvlak? Ek is van mening dit is ’n mengelmoes van uiteenlopende faktore wat saam een groot ongewenste effek op ons kunstenaars en hul lewens het. ’n Mens is nie seker of jy jou kop in die byenes wil steek nie. Die geraas is te veel en dit maak jou kop deurmekaar. Soveel so dat dit moeilik is om verseker te weet of jy logies daaroor dink.

The Scream (Edvard Munch)

Maar een ding is verseker – wanneer dit by die kunste kom is dinge nie eenvoudig nie. In menige professies ontvang jy opleiding, kwalifiseer jy uiteindelik, moet jy moontlik ’n internskap doen, begin jy heel onder en word jy met tyd volgens prestasie bevorder. Só kan jy die korporatiewe leer tot op bestuursvlak klim. In ander professies stap jy met ’n merkwaardige CV by jou gewenste pos in en word jy op meriete gekies om daar te wees en ook daarvolgens betaal. Op goedertrou. By voorbaat. In die meer entrepreneursgeoriënteerde beroepe word ’n diens gelewer en die kliënt betaal vir dienste ontvang. No questions asked.

In die musiekbedryf is opleiding en “dienslewering” nie so ter sprake nie. Dit gaan oor kreatiwiteit en talent. Om nie eers te praat van dinge soos good looks, persoonlikheid en kommersiële waarde nie. In die bedryf word verwag dat jy jou eie waarde bepaal. Dit klink wonderlik, maar dit is moeilik. Veral in ’n bedryf waar daar geen werklike standaarde of maatreëls is wat bepaal hoe “waarde” gemeet en vergelyk word nie. Dit is subjektief. Dis persoonlik. En dit is manipuleerbaar.

Foto: http://www.themitquill.mitindia.edu

Ons almal weet dat ’n bedryf sonder maatreëls, riglyne en arbeidswette ’n baie gevaarlike een kan wees. Dit laat soveel ruimte vir misbruik en uitbuiting, wanbestuur, twyfel en trapplek vir gewetenlose ambisieuse mense om hul weg na bo te klouter en daar te floreer. Na soveel gesprekke, debatte, klagtes en pogings deur die regering, sleutelpersone in die bedryf en kunstenaars self; tot die stig van unies, organisasies en so meer, bly die kreatiewe wêreld onveranderd, wispelturig en wankelrig – die Wild West – waar dit soms voorkom asof slegs ’n handjie vol mense werklik voordeel trek en ook dikwels, aan die stuur van sake staan.

Verde het die digitale en IT-era die musieklandskap drasties verander. Aanvanklik was almal baie opgewonde oor die verwikkelinge, want skielik kon enige ou se musiek wêreldwyd blootstelling geniet. Dit het ruimte geskep vir enige kunstenaar of orkes om beroemd te raak sonder die hulp van ’n korporatiewe maatskappy (platemaatskappy). Dit het baie hekwagters en duur fasiliteerders en instaatstellers uitgesny en kunstenaars baie geld begin spaar.

Tog het hierdie einste blink kant van die muntstuk baie verblind en het dit eers later duidelik geraak dat dit die ekonomiese struktuur van die bedryf handomkeer verander het. Soveel so dat selfs die eens monopoliserende korporatiewe maatskappye amper hulle gatte gesien het. En natuurlik ’n hele paar musikante wat nie by die pas van die veranderinge gehou het nie. Om old school te dink vandag, is om jou eie gat te grawe.

So die vraag is – hoe gemaak om te oorleef? Hoe koop jy jou droomhuis, jou betroubare (never mind fancy) motor, hoe maak jy jou kinders groot, betaal jy hulle skoolfooie en voorsien jy vir jou eie mediese en pensioenkostes? Dit is iets wat kunstenaars vir hulself moet vra en antwoorde vind.

Ons almal weet ’n samelewing sonder sy kunstenaars kan pretty grim raak. Ons moet ons kunstenaars bemagtig om saam met hulle mede-landsgenote self-aktualiserend en finansieel onafhanklike wesens te word. Dit is nou as ons nie bereid is om aksieplanne vir beleids- en bedryfsmaatreëls te ontwikkel nie.  

Daar sal mense wees wat nie werklik daarvan sal hou nie, want dit gaan beteken hulle moet meer begin betaal vir musiekverwante “dienslewering” waarvoor hulle in die verlede peanuts betaal het.

Onbekwame hekwagters en gulsige sleutelpersone in die bedryf gaan dalk uit hul posisies van mag geskop word en droëbek eenkant sit. Sommige kunstenaars gaan nie daarvan hou nie, want dan gaan hulle miskien nie meer so baie kan vra en daarmee wegkom nie. The knife cuts both ways. 

Net om ’n idee te skep, daar is ervare musikante wat speel vir R750 (daar is kunstenaars wat vir minder speel!) en daar is ervare musikante wat speel vir soveel as R80 000. Dikwels ken hulle mekaar, is hulle tydgenote en het hulle al iewers saam op ’n verhoog gespeel of gejam. Hoe kan die verskil in artistieke waarde werklik (kom ons rond dit af) R79 000 groot wees? Werklik? (Ek hoor sommer klaar hoe gons die rasionaliserende breine nou om ’n antwoord hiervoor te formuleer.)

Met hierdie rubriekreeks wil ek poog om denkstof te voorsien vir musikante en ook diegene wat met hulle werk en hul ondersteun om musikante te inspireer om beter entrepreneurs te word, om hulle vaardighede werklik op te skerp, uit te brei en meer aktief betrokke te raak by die bedryf en om meer verantwoordelikheid te neem vir hul eie sukses en finansiële groei. In essensie, om hulle waarde te ken. Al die ander self-employed mense moet dit doen.  Hoekom nie die kreatiewes nie?

Ek het met ’n paar mense gesels oor die bedryf, die onlangse tendense en hoe kunstenaars binne die raamwerk moet aanpas en slim dink om voordeel daaruit te trek. Ek het ook met hulle gesels oor wat kunstenaars verkeerd doen binne hierdie wispelturige Wild West.  Ek gesels met Nataniël (liedjieskrywer, sanger, besigheidseienaar en skrywer), Wynand Myburgh (musiekbestuurder en lid van Fokofpolisiekar), Lukas de Beer (die outeur van Artrepreneur) en Jonathan G Shaw (outeur van The South African Music Business).

Nataniël

Ons praat oor die dinge wat ons kan verander. Hoekom? Want dit is so maklik om alewig te bly kla oor dit wat nie gaan verander nie. Kla neem jou nêrens. Complaining perpetuates suffering. Aksie is nodig. Dalk as kunstenaars verander, sal die bedryf saam met hulle verander. Daar is klaar mense wat anders te werk gaan en groot sukses behaal. Ons kan by hulle leer. Soos die Franse komponis Claude Debussy (1862–1918) tereg gesê het, “Works of art make rules; rules do not make art.”

In dié rubriekreeks kyk ons na die omvang en waarde van ons huidige musiekbedryf en hoe dit met ander bedrywe in die land vergelyk. Ons kyk na die verskillende bedrywe binne die bedryf en hoe die pendulum gedurig swaai tussen die kunstige en die kommersiële. Ons kyk na die kunstenaar se verantwoordelikheid as entrepreneur, die noodsaaklikheid en kreatiwiteit van diversifisering en veranderende inkomstestrome vir musikante in hierdie multimedia- en digitale era. Ons raak ook effe aan die rol van tradisionele instaatstellers en fasiliteerders in die musiekbedryf soos, onder andere, die regering, radio, Suid-Afrikaanse televisie sowel as die rol van musiekfeeste en kunstefeeste.

’n Mond vol.  

Nataniël leef al musiek vandat hy ’n jong seun is en het sy eie besigheid, Nataniël House of Music begin toe hy nog te jonk was om die papiere te teken. Hy vier 30 jaar in die bedryf en is bekend as liedjieskrywer, sanger, storieverteller, skrywer, rubriekskrywer, tong-in-die-kies-etiket-guru, kok en entrepreneur en moenie vergeet van die uitstekende TV-persoonlikheid nie. In 2018 bemark hy sy boek CLOSET, werk hy aan ’n nuwe boek, ’n verskeidenheid konserte en ’n televisiereeks.

Jonathan G Shaw

Jonathan G Shaw is ’n musikant, klankingenieur, studio-eienaar, outeur van musiekhandboek The South African Music Business, internasionale spreker en konsultant in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf.

Wynand Myburgh

Wynand Myburgh is baskitaarspeler en bestuurder van Fokofpolisiekar, Jack Parow en Van Coke. Hy bestuur ook Fokof Lager.

Lukas de Beer

Lukas de Beer is ’n liedjieskrywer, sanger en outeur van Artrepreneur. Hy spesialiseer in Artrepreneurs’ coaching. Hy is mede-eienaar, vervaardiger en liedjieskrywer van Stonebear & Mayor Record Label. 

Word vervolg in deel 2.

Lees ook:

Entrepreneurskap en diversifisering in die nuwe musikale ekonomiese landskap: deel 2

Is ons musiek outentiek? (Deel 1)

Is ons musiek outentiek? (Deel 2)

  • 4

Kommentaar

  • Uitstekende stuk Luna! Ek het al ligjare gelede Elbie Adendorff jou lof persoonlik hoor besing toe hulle nog Dorpstraatteater gehad het. Die minste wat ons in Estcourt kon doen is om ons huis oop te stel vir enersyds 'n kunstenaar en andersyds die geleentheid vir mense te gee om hulle ore en oë te kan oopstel. Hoofsaaklik ons vriend Francois le Roux (Ha! Man) en Joke Debaere, Liza Joubert (Ragtime) en Benjamin Fourie, met Lara Kirsten DV volgende. Kuns en kultuur, musiek ingesluit, is soms ingebore (waarskynlik soos Francois en Joke se Mira?) en soms ingetoë, maar kwantiteit maw geld speel soms tweede viool tov kwaliteit.
    Benjamin is gefokus op kwaliteit.
    Francois fokus ook nie op geld nie.
    Maar kunstenaars moet kan leef, oorleef en waardig oudword en sterf.
    Miskien is jy deel van die oplossing/s by die lees van jou insiggewende sinvolle artikel.
    Kom maak 'n draai tuis as jy in KZN 'n pap wiel kry digby Estcourt. Ons het 'n Kawai GL 50 tuis vir al amper 'n jaar ...

    • Baie dankie Dirk vir die skrywe. Hou kontak en ek sal beslis laat weet as ek ooit weer deur KZN reis. Mooi bly.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top