Entrepreneurskap en diversifisering in die nuwe musikale ekonomiese landskap: deel 2

  • 0

Luna Paige in gesprek met Lukas de Beer, Jonathan G Shaw, Wynand Myburgh en Nataniël

Deel 2: Musiek is ’n besigheid

(Lees deel 1 hier.)

Bo: Jonathan G Shaw en Lukas de Beer | Onder: Nataniël en Wynand Myburgh

Ek het in my jare as liedjieskrywer en sangeres al baie mense teëgekom wat my gevra het wat ek doen vir ’n lewe. Sou ek musiek antwoord sou baie my dikwels vra: “En wat is jou regte werk?” Om potensiële aanhangers, kliënte en werkverskaffers te oortuig van jou waarde as kunstenaar is nie altyd ’n maklike taak wanneer jy met mense werk wat sukkel om te verstaan dat kuns ook ’n besigheid is nie. Baie het intussen bygekom en verstaan meer en meer dat musiek ’n besigheid is, wat ook (glo dit of nie) tot voordeel van die kunstenaar kan strek.

Daar is baie geleenthede vir besigheid in die musiekbedryf, net soos daar baie rolspelers binne die bedryf en al sy inter-connecting bedrywe is. Die vraag is waar jý jouself gaan posisioneer.

Ek het met Jonathan Shaw (outeur van The South African Music Business) gesels en by hom uitgevind hoe die Suid-Afrikaanse musiekbedryf vergelyk met ander bedrywe in Suid-Afrika. Volgens Shaw het hy die syfers al verskeie kere nagevors en bestudeer, aanvanklik vir die eerste weergawe van sy boek in 2007. Hy het intussen al drie opgedateerde weergawes gepubliseer. Sy mees onlangse navorsing het getoon dat die onderskeie musiekbedrywe ’n geheel van ongeveer R3.1 biljoen (ongeveer 0.104% van Suid-Afrika se BBP) in 2014/2015 werd was. Die syfer is klein in vergelyking met byvoorbeeld die filmbedryf wat ongeveer R7 biljoen werd is en sommige ander groot motormaatskappye wat ongeveer R50 biljoen ’n jaar genereer. Die afleiding kan dus gemaak word dat die musiekbedryf steeds een is wat gedryf word deur passie en nie noodwendig baat uit grootskaalse belegging nie.

Iemand soos Nataniël het op ’n vroeë ouderdom besef dat daar baie besigheidspotensiaal in die musiekbedrywe (ons brei later hieroor uit) is ten spyte van ’n frustrerende swak infrastruktuur met betrekking tot belegging en investering. “Daar was hierdie vreemde idee dat kunstenaars arm was en dat die regering moes help met ondersteuning en borgskap. Ek kon dit nie verstaan nie. In die res van die wêreld was kunstenaars onder die rykstes in die samelewing. Ek het geweet dat dit nie heeltemal moontlik was in Suid-Afrika nie, ons gehoor is eenvoudig te klein, maar ek het geweet dat ek net in hierdie bedryf sou bly as ek op enige ouderdom net so suksesvol kon wees as enige ander persoon van dieselfde ouderdom – sakeman, regsgeleerde, mediese dokter, enige iets. Ek het met min geld grootgeword en ’n finansiële gesukkel is die ergste. Dit maak jou oud en benoud en verniel jou geloof en jou verbeelding. Daar is honderde meer opwindende maniere om te suffer.”

Foto: Omslag van Another 365 things that people believe that aren't true

Geldmaak uit musiekmaak is duidelik ’n wilsbesluit. ’n Mindset. Wynand Myburgh en die res van Fokofpolisiekar het vroeg in hulle orkes se bestaan en handelinge besef dat hulle ’n musiekgenre geskep het wat nie groot aftrek geniet nie. Hulle het verstaan dat hulle hard sal moet werk om hulle brand aan hul teikenmark bloot te stel, te vestig, credibility te verkry en dit as springboard vir nuwe, ander projekte te gebruik om uiteindelik volhoubaarheid in die bedryf te verseker. Sjoe! Hoeveel kunstenaars operate so? Soos Wynand tereg sê: “Dit is nie vir alle kunstenaars maklik om besigheidsgedrewe te dink nie.” Indien dit was, sou daar seker baie meer suksesvolle as onsuksesvolle kunstenaars gewees het. Ek wil ’n klip in die bos gooi en sê dat musikante nie die luxury het om nie besigheidsgedrewe te dink nie. Dit is ’n verantwoordelikheid – ’n vaardigheid wat aangeleer moet word – ’n gesindheid wat móét verander – as musiekmaak vir jou as kunstenaar belangrik is.

Daar is maniere. Kreatiwiteit raak al hoe meer ’n ding in die korporatiewe wêreld. Musikante is kreatief. Iewers gaan hulle met ’n bietjie dink, mentorskap en navorsing, iets ongeloofliks kan doen – wat finansieel winsgewend is en terselfdertyd bydra tot die korporatiewe wêreld en ekonomie. “As jy ’n musikant is – either way – was dit nog altyd ’n entrepreneursbesigheid. As jy besluit jy is ’n  musikant – begin jy jou eie besigheid,” reken Wynand Myburgh.

Hy trek ’n oulike vergelyking: “’n Klomp ouens sit op couches, rook ’n joint en besluit om ’n band te begin.” So begin hulle. En so hou hulle dikwels aan. “Die ouens van Coca-Cola sou nie noodwendig saam om ’n konferensietafel sit en joints rook na hulle besluit het om hul besigheid te begin nie.” Die kunsproses werk anders, ja. Maar nie besigheid nie. Dit vra dissipline, professionaliteit en kophelder deursettingsvermoë. Dit is wat maak dat een ou slaag en ’n ander een nie.

Die entrepreneur se verantwoordelikheid

Ek verkyk my gereeld aan die toewyding en professionaliteit van akteurs en kry soms skaam as ek hulle werksetiek met die van musikante vergelyk. Dan moet ek myself herinner dat meeste akteurs tersiêre opleiding ontvang het waar ’n sekere werksdissipline en -etiek in hulle ingedril word (soos Marthinus Basson een middag by De Akker vir my gesê het). Ons weet dat enige ou sonder enige formele opleiding ’n kitaar kan optel en begin speel en baie bekend kan word as hy ’n hit song skryf. Ek wonder tog of die ouens wat opleiding ontvang dalk ’n effense voorsprong het? In my jeug was daar nie baie opvoedingsopsies in kontemporêre musiek nie, en dit wat daar was, was baie duur. Meer so was daar beslis nie baie opleidingsgeleenthede in die besigheidsy van musiek nie. Daar is wel nou baie meer opsies en ek dink dit is baie belangrik vir enige aspirant musikant om sulke opleiding te ontvang. Diegene wat al langer in die tand is kan steeds baat uit opleiding. Daar is verskeie jaarlikse, maandelikse en weeklikse inisiatiewe wat aangebied word. Ek dink byvoorbeeld aan die Music Exchange-konferensies (’n inisiatief van Martin Meyers) wat baie swak bygewoon word deur veral die Afrikaanse musikante. Hoekom, weet ek nie. Mens is nooit te oud om te leer nie óf om nuwe connections te maak nie.

Yo-Landi Vi$$er

Wynand beaam dat mens wel die positiewe invloed van formele opleiding in sommige suksesvolle musikante se werk kan bespeur. Hy gebruik Yo-Landi Vi$$er van Die Antwoord en Peach van Pletzen van Bittereinder (onder andere) as voorbeelde. Peach het gematrikuleer by Pro Arte en Yo-Landi het weer opleiding by die Lady Grey-kunste-akademie ontvang. Hulle het verstaan dat daar iets groter met musiek saamgaan.

Volgens Wynand is kuns maak ’n lewenskeuse, ’n besluit om ’n individualis te wees – een wat na hom/haarself moet omsien. “Baie besef nie hulle gaan populêr raak nie en is soms onvoorbereid op dit wat met sukses saamgaan. Hulle raak vasgevang in dag tot dag dinge, het niemand wat leiding gee nie en maak geen toekomsplanne nie.” Wynand glo dat jy as kunstenaar moet weet hoe om te optimize op die hoogtepunt van jou loopbaan se sukses. Om voorsiening te maak vir wat daarna kom.

Ek kan aan so baie musikante dink wat op ’n tyd in hul lewe welaf was. Iemand soos Crocodile Harris. Sy treffer “Good News” was nommer een in Suid-Afrika in die 80’s en hy was ook genomineer as beste sanger. Die lied het nommer een-status in Frankryk bereik vir 10 weke lank, wat gelei het to optredes saam met musieklegendes soos Al Jarreau en Bonnie Tyler. Die lied het vlam gevat in Europa en hy het ook ’n prys by die Cannes musiekfees ontvang. Hy het oor die 200 000 plate in Frankryk verkoop en baie van sy liedjies word vandag nog oor die radio gespeel. Ek het in die 2000’s met dié kunstenaar gewerk en dit was vir my hartverskeurend om te sien hoe ’n man met so ’n groot skrywerstalent en internasionale sukses, so moes sukkel op sy oudag.

Hoe gebeur dit? Dat ’n ou soos daai 30 jaar later in klein restaurante optree, voor klein gehore, met ’n klankstelsel wat hy self moet beman? Sonder ordentlike beligting? Sonder ’n professionele span wat na sy belange omsien? Shaw meen dit gebeur dikwels met musikante weens basiese swak finansiële bestuur, wat dikwels spruit uit ’n gebrek aan opleiding en kennis in die verband. Hy meen baie musikante slaag nie daarin om hulle inkomste te poel en hulself salarisse te betaal nie. Ek onthou onmiddellik hoe Wynand aan my genoem het dat Fokof wel inkomste gepoel het en hulself aanvanklik baie min betaal het en dat hulle hul inkomste teruggestoot het in hul besigheid. Sarah Mclachlan is ook een so kunstenaar wat haar platemaatskappy oortuig het om inkomste te herinvesteer in haar loopbaan. Op die manier het sy ’n baie suksesvolle besigheid op dreef gebring en in stand gehou. Sy was gelukkig om saam met ’n meer “verligte” platemaatskappy te werk wat haar toegelaat het om haar eie werksetiek en -idees met hulle s’n te inkorporeer.

Shaw vra tergend of ons werklik sulke finansiële vernuf van kreatiewe wesens kan verwag? Natuurlik, ja. En hy beaam dat tye wel aan die verander is, veral in die wyer kreatiewe bedrywe. En dat die idee dat kreatiewe mense nie met geld kan werk nie spruit uit die meer tradisionele werkinge van platemaatskappye en ander rolspelers wat totale beheer oor musikante se besighede aanvaar het en mag uit die kunstenaar se hande geneem en gehou het. Daardie dae is verby. “Vandag se musikante moet optredes, skepping, tegnologie en besigheidsvernuf kan balanseer,” meen Shaw.

Jy is die besigheid

Outeur van Artrepreneur, Lukas de Beer meen die geheim lê in die slagspreuk, “YOU are the BUSINESS.” Volgens hom moet die kunstenaar altyd by die self begin. Hy spot dat dit nie moontlik is om ’n kanon vanuit ’n skuit af te skiet nie. Die fondasie is belangrik.

Eers is dit belangrik dat die kunstenaar sy kreatiwiteit en sy outentieke self bymekaar uitbring. Dit herinner my aan iets wat Eric Maisel gesê het: “Creativity is the result when you opt to matter and decide to make personal meaning.” Mihaly Csikszentmihalyi sê weer dat ons skep omdat ons mense is en omdat ons dit geniet. Dit moet ons nooit verloor nie.

So uiteindelik kom die “YOU” neer op die feit dat die kunstenaar sy/haar persoonlikheidstipe, sterk- en swakpunte moet ken, ’n goeie en fyn balans tussen persoonlike en professionele verhoudings moet handhaaf en gedurig aan sy/haar professionele vaardighede moet skaaf. Die besigheidsvernuf en -vaardighede begin dán eers van waarde raak.

Selfkennis en eerlikheid is noodsaaklik vir ’n soliede fondasie om vanaf te werk.

Wanneer dié fondasie gelê is, kan die kunstenaar begin om homself op te voed oor die aard van die bedryf en is dit belangrik om ’n goeie begrip te hê van wie die sleutelfigure en -organisasies in die bedryf is. Elke bedryf het sy fasiliteerders/middelmanne, sy instaatstellers, sy verbruikers en daai aaklige hekwagters. Kennis hieroor kan ’n kunstenaar se fokus en besigheidstrategie baie help.

Die kunstenaar kan ook baat uit mentorskap en moet nie die verskillende mentorskapkanale onderskat of verwaarloos nie. Mentorskap kan in bedryf-rolmodelle, werkswinkels, literatuur, aanlyn- en ander kursusse gevind word.

The flow

De Beer meen dat die kunstenaar moet sorg dat sy professionele en kreatiewe uitdagings sy vaardighede as kunstenaar op ’n ontwikkelende wyse uitdaag. Hy verwys my na Mihaly Csikszentmihalyi se opspraakwekkende teorie oor tevredenheid of geluk in kreatiewe professies. Volgens Csikszentmihalyi ervaar ’n persoon ongelooflike ontevredenheid en selfs angs wanneer uitdagings en vaardighede nie in pas is met mekaar nie. ’n Persoon met baie vaardighede en min uitdagings raak verveeld. Een met min vaardighede en baie uitdagings raak angstig. Op besigheidsvlak kan jy byvoorbeeld baie goed wees met networking en jouself in uiters uitdagende situasies laat beland. As jy op musikale vlak nie die vaardighede het om daardie uitdagings met sukses af te handel nie, kan jy uitsien na ongewenste uitkomste en die verlies van toekomstige geleenthede. Dit is om dié rede dat De Beer sê jy eers jouself moet ken en jouself op ’n optimale vlak vir jou beoogde uitkoms moet ontwikkel. Daarna sal jy jouself geleidelik meer en meer uitdaag en verder ontwikkel en groei in jou bedryf.

As die kunstenaar dit regkry in samehang met ’n toegewyde werksdissipline, sal dit makliker raak om ondersteuning te genereer. Ondersteuning is vir Lukas een van die essensiële faktore vir enige artrepreneur se sukses. Ondersteuning kan verkry word deur networking, mentorskap, afrigting of opleiding.  Dan kan die kunstenaar met trots sê: “I own my business.” Dan sal die kunstenaar weet waarmee hy/sy hom/haarself wil assosieer en waar potensiële veelvuldige inkomstestrome vandaan kan kom.

Nataniël

Op sy eie manier sluit Nataniël se advies baie hierby aan. Ek het hom gevra watse advies hy aan veral niche kunstenaars (wat sukkel om hul unieke talente aan die breër publiek bekend te maak) kan gee. Hy beklemtoon net soos De Beer hoe belangrik selfontwikkeling en eerlikheid is. “As jy jou vaardighede slyp, elke liewe dag werk aan vakmanskap, opleiding ontvang, lesse leer, nederig en dankbaar te werk gaan en ’n produk van kwaliteit skep, sal die regte mense jou uiteindelik opmerk en ’n verhoog verskyn. Die grootste probleem is dat mense ongeduldig is en geen stamina het nie. Almal wil oornag roem hê, ’n kompetisie op televisie wen, of na een vertoning ’n feeslegende word. Dis alles bog. Harde werk is die enigste pad. Stamp jou kop, stamp jou toon, huil, trek die hare uit jou kop, byt vas en werk. Jy moet bereid wees om jou lewe op te offer vir iets waarin jy glo. Jy moet ook wreed eerlik en nugter wees. Die lewe gee vir jou antwoorde. As daar uiteindelik niks gebeur nie, is jy dalk bedoel vir iets anders.”

In die vorige rubriek word gevra wat/wie die suffering van kunstenaars veroorsaak. Daar word geïnsinueer dat die kunstenaar sake in eie hande moet neem om sukses te verseker. In Deel twee is dit duidelik dat die meeste van die onus op die kunstenaar rus, soos in enige ander besigheidsman, -vrou of entrepreneur se situasie. Selfkennis, die opskerp van vaardighede (kreatief en besigheidsverwant), die bereidwilligheid om te leer, om ure en ure se harde werk in te sit, risiko’s te neem en te aanvaar dat niks op ’n skinkbord vir jou aangedra gaan word nie – dit alles sal jou help om jou besigheid en jou brand reg te kry vir sy groot trek die onbekende in. Die belangrikste is om te bly skep omdat dit jou opgewonde maak, omdat dit ’n verlenging van jou is en omdat dit jou persoonlik verryk, uitdaag en gelukkig maak. In Deel drie gesels ek met Nataniël, Wynand Myburgh, Lukas de Beer en Jonathan Shaw oor die onvermydelike noodsaaklikheid tot diversifisering.

Fokofpolisiekar het nie hul geld uit CD sales gemaak nie. Omdat die musiek nie hoofstroom was nie het hulle maar om en by 15 000 eenhede verkoop. Dit was kardinaal om na alle moontlikhede te kyk sou hulle as kreatiewe individue volhoubare beroepe wou verseker. Volgens Myburgh het dit hulle gedwing om ’n lewe op alternatiewe wyses te maak. Hulle moes ’n wêreld vir hulself skep. Ek love die idee, van iets maak uit niks. Dit maak my kinderlik opgewonde! En dit is nie iets wat almal kan doen nie. Ek stem saam met Wynand dat mens dikwels ’n love-hate-verhouding met dié realiteit van die beroep het. “It would have been fucking nice to just play music”!

“Om met kos te werk was nie my idee nie. Mense wat gereeld by my aan huis geëet het, het geleenthede aan my gebied. Ek het nooit gedink ek sou een boek skryf nie. ’n Uitgewer het my genader. Nou is daar al 19 boeke! Sosiale geskiedenis fassineer my en ek het dit nog altyd bestudeer en dit het my kennis van etiket gegee. Niks waarmee ek nog op ’n besigheidsvlak betrokke geraak het, is geforseer nie – alles was natuurlike uitvloeisels van my lewe. So ook die stories wat ek skryf en vertel. My oupa en my pa was albei uitsonderlike storievertellers.” Ek glo – en Nataniël se storie beaam dit – dat alle besigheidsverwante vertakkings uiteindelik ’n organiese proses is en ’n uitvloeisel van jou inherente kreatiwiteit. Kreatiwiteit – die één ding waarna baie korporatiewe maatskappye smag in hulle konferensiekamers waar nuwe idees uitgedink moet word.

In Deel drie kyk ons na diversifisering in musiek, hoe die tendens wêreldwyd vlamvat en aan die orde van die dag is. Bitter min van ons ken deesdae iemand wat nét musiek maak of ’n instrument bespeel. En daar is ’n rede daarvoor. Dit is nie omdat musiek nie lonend is nie. Dit is omdat die bedryf baie gesigte het, multi-dimensioneel is en ons in ’n era woon waar diversifisering die nuwe musiek-ekonomie geraak het. Ons kyk na hoe kunstenaars hul kreatiwiteit, hulle belangstellings en reeds bestaande netwerke kan benut om in hierdie nuwe ekonomie te floreer. Om baie meer deel te hê aan daai R3.1 biljoen slice van die pie en om saam te werk om die bedryf te laat groei, werk te skep (in ’n land waar baie werkloos is) en beleggers te motiveer om meer geld in die bedryf te investeer. 

Hou LitNet dop vir deel drie.

Lees ook:

Entrepreneurskap en diversifisering in die nuwe musikale ekonomiese landskap: Inleiding

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top