Enkele opmerkings ivm definisies van meeteenhede vir Kobus de Klerk en Dolf

  • 14

Wanneer spesifieke meeteenhede gedefinieer word, is dit onvermydelik om die terminologie vir die meting van ander eenhede, in die definiëring daarvan te gebruik. So bv is die gram (g) in ’n stadium as volg gedefinieer: “Een Gram is gelyk aan die massa van 1 kub cm suiwer water by 4°C.” Dus word ’n volume-eenheid (kub cm) en ’n temperatuur eenheid (°C) gebruik om die definisie van dié massa-eenheid te omskryf.

Presies net so word daar ook in die definisie van die Ligjaar van die terme van addisionele eenhede gebruik gemaak nl die spoed van lig en die jaar.

Nou kom ek bepaal my dan nou by die Ligjaar en dan laat ek nou maar die fyner tegniese detail en geredekawel soos lugleegte en die presiese lengte van ’n jaar uit. Ag, kom ek los sommer die definisie van die Ligjaar in geheel uit want enige Graad 8 leerling wat Fisika as vak neem, behoort dit in elk geval te ken. Ek sien selfs Dolf en Kobus probeer elkeen vir my ’n lesing daaroor gee. Die einde van die storie en wat die kern van die dispuut is en saak maak, gaan op stuk van sake nie oor die definisie nie maar oor die verkeerde gebruik van die term Ligjaar om verloop tyd aan te dui want ’n Ligjaar is ’n term waarmee kosmiese afstande aangedui word en nie tyd nie.

Ongelukkig leen die term hom na my mening tot misopvattings en ek vermoed die oorsaak daarvan lê in die definisie opgesluit waar in die omskrywing die term van ’n eenheid van tyd (jaar) gebruik word. In Engels bestaan dieselfde probleem waar hulle van “Light year (L,y,)” praat. Mense wat nie ’n redelike wetenskaplike grondslag het nie, het as gevolg daarvan begin om dit verkeerdelik as ’n term vir tyd te gebruik en clichés soos: ‘ligjare gelede’ het gou posgevat. Dit is verkeerd en Dolf en Kobus de Klerk kan maar jakkalsdraaie gooi soos hulle wil maar verkeerd is VERKEERD.

Om ’n teenvoeter vir die verkeerde gebruik te kry maar waarskynlik meer belangrik, omdat die afstand wat deur ’n Ligjaar voorgestel word in baie gevalle net so onprakties is soos om die afstand tussen Kaapstad en Windhoek in meters aan te dui, het wetenskaplikes ’n nuwe term nl die Parsek in gebruik geneem. En daarmee dan ook sommer twee vlieë met een klap doodgeslaan. Ander terme wat gebruik word om kosmiese afstande mee uit te druk is die Astronomiese eenheid; Kiloparsek en Megaparsek.

Nou om mee af te sluit en net vir die interessantheid:

• ’n Astronomiese eenheid is die gemiddelde afstand tussen die aarde en die son en is gelyk aan 1,408 x 10^8 km. Dit word gewoonlik gebruik om afstande binne die sonnestelsel aan te dui. (Waar ^ gelyk is aan: ‘tot die mag’)
• ’n Ligjaar is gelyk aan 9,461 x 10^12 km.
• ’n Parsek is gelyk aan 30,857 x 10^12 km.
• ’n Kiloparsek is gelyk aan Parsek x 10^3 km.
• ’n Megaparsek is gelyk aan Parsek x 10^6 km.

En o-ja Dolf jy’s reg. Daar is nie iets soos ’n dom vraag nie. In die Weermag van die tagtigs en daarlangs sou die instrukteur jou gewoonlik toegesnou het: ‘Kak vraag — sit!’

Bronne: Norton’s Star Atlas — Arthur P Norton: ISBN 0-582-98898-5
The Astronomy Encyclopedia — General Editor Patrick Moore: Geen ISBN verwysing nie
The Skywatcher’s Handbook — Colin A Ronan: ISBN 0 552 99146 5

Panda

  • 14

Kommentaar

  • Panda: Mens sou nou dink dat met "parsek" niemand meer ’n fout sal maak nie, maar in een van die Star Wars-flieks gebruik hulle hom wraggies as ’n eenheid van tyd! 🙂

    In ieder geval, laat ek nie te veel tyd mors deur hier voor die rekenaar te sit nie. Ek moet gaan oefening kry, want ek sien ek weeg al oor die 80 000 kubieke sentimeter...

  • Panda

    Ek sien met reikhalsende verlange uit na die spiritueel intelligente antwoorde van Kobus en Dolf op hierdie skrywe van jou. Jy stel die feite mooi duidelik en ondubbelsinnig maar soos ons weet speel feite en gesaghebbende opinies geen rol in dié tweetjies se opmerkings nie. Al word daar artikels oor Jupiter se mane in die vaktydskrif Science, deur gesaghebbende wetenskaplikes geskryf, staan die spiritueel intelligente ene vas by sy geloof dat dit optiese illusies is met die keffende Dolf agterna.

    Staal jou dus vir die spiritueel intelligente vertolking van die begrip ligjaar.

    Groetnis

    Thomas

  • Panda,

    Dankie vir die lessie oor die “enkele” definisies van meeteenhede ... gaap ... en ook as mens na "kilo-" toe gaan sit jy 3 nulletjies by en na "mega-" sit jy nog 3 nulletjies by die "kilo-" ... gaaaaap ... maar indirek is jy maar weer die een wat “jakkals-draaie” gooi om die kwessie van die belangrikheid van die “tyd” faktor (en ander aannames) in die bepaling van ’n ligjaar ten opsigte van ruimtelike (astronomiese) afstandmeting en daarom die onakkuraatheid daarvan.  Jy kom selfs nie eens nie agter dat jy eintlik – op ’n redelike “ek-probeer-slim-klink-want-ek-het-opgelees-en-kyk-na-my-bronnelys” manier  – Kobus en my uitwysing van die onakkuraatheid van ’n ligjaar in terme van afstandmeting bevestig en dit dan vinnig "toeverf" deur vir ons te vertel van Parsek en hoe dit eintlik die afstandmeting in terme van ligjare “vervang” het weens die “verkeerde" gebruik van die term “ligjaar” in terme van tyds verloop ... hahahaha! Maar jy vergeet dat 1 Parsek = ongeveer 3,26 ligjare, wat ons weer terugbring na die netelige kwessie van die onakuraatheid daarvan en die raaiery daaroor. Gegewe Parsek is ’n "beter" manier vir ruimtelike (astronomiese) afstandsmeting, maar dit is nie ’n “perfect science” nie en die woordjie “ongeveer” kom geredelik in die definisie daarvan voor.

    Terloops,  ek self was ’n instrukteur in die jare tagtigs en dit was die jong en onsekere 19 jarige (selfs ouer) instrukteurs wat gewoonlik nie die antwoorde geken het nie en dan met ’n brawe “k-a-k vraag – sit” die kwessie van hul eie onnoselheid probeer omseil het. Aan die ander kant het die 19 jarige (en ouer) instrukteurs, wat wel hul storie geken het, ook dikwels sarkastiese en grappige opmerkings gemaak (weermag is nou maar eenmaal weermag) maar dit ook en altyd opgevolg het met die regte antwoord.

    Hier is vir jou goeie raad. Voordat jy ander mense uitmaak as “dom” of uitkryt as vraers van “dom” vrae, is dit nogal wys om eers sekerheid te kry oor hul kwalifikasies, hul spesifieke kennis vlakke en hoe belese hulle is – indien nie, is jy dan dikwels die een wat eintlik jou eie naam “gat” maak, veral waar jy probeer “slim” klink.

    Sterkte

    Dolf

  • Dolf

    Jy en jou held KdK gaan so aan oor die onakkuraatheid van die meting van die afstand ligjaar. Hoekom gee jy ons nie een maal die feite nie? ’n Kort antwoord sal genoeg wees. Iets soos: ’n Teoretiese ligjaar se lengte is X terwyl die werklike afstand Y is – ’n fout van Z %. Moet nou nie lang stories skryf nie. Vat my sinnetjie net so en vul asseblief vir my X, Y en Z in.

    Ons wag in spanning.

    Thomas

  • Dolf

    Ek wou nog byvoeg: Oor jou ek Kobus se kennisvlakke (een woord!) van die wetenskap het ons geen twyfel nie.

    Thomas

  • Laas toe ek ’n "instrukteur"  so baie hoor kakpraat het, was toe die sersantjie op Potch vir ons probeer wysmaak het dat ’n sirkel 180 grade is. Na veel geredekawel het hy darem uiteindelik toegegee dat hy van ’n klein sirkeltjie gepraat het. 

  • Chris Dippenaar

    Thomas, skaars is jou woorde koud en Dolf kom met sy “ek-probeer-slim-klink-want-ek-het-[nie]-opgelees-en-kyk-na-my-[spirituele]-bronnelys”

  • Dolf: 

    Die parsek word so gedefinieer dat daar geen onduidelikheid is oor watter afstand dit is nie (want dit word gedefinieer in terme van meetkundige idees, nie ligjaar nie). Jy sal nie weet nie want jy bodder nie om te gaan oplees oor hierdie dinge nie. Beide jy en jou held KdK voel julle skynbaar genoop om in te storm by gesprekke oor onderwerpe waarvan julle niks weet nie en dan groot lawaai op te skop.

    Jy moet verstaan: ons bose agnoste gee nie om nie. Julle is die ouens wat in die proses gekke van julself maak en die ganse Christendom laat lyk asof dit volslae agterlik en onkundig is. Daarom dan dat julle mede-Christene so elke nou en dan probeer om julle stil te maak – julle laat hulle ook sleg lyk. 

    Terloops, soos jy straks weet is kerk en staat in Amerika formeel geskei: in staatskole is dit onwettig om enige geloof te verkondig. So wanneer dit wel gebeur is daar dikwels hofsake daaroor. Maar interessant genoeg: in die hofsake oor kreasionisme in die skole daar, was die hoofklaers tot dusver meesal nie ateïste nie, maar gelowige Christene wat saamstem met die beginsel van skeiding van kerk en staat, en boonop voel dat kreasionisme hul geloof idioties laat lyk. Hulle wil dit dus nie in kinders se kele afgedwing hê nie.

    Maar dit is die ding met fundamentaliste: hulle besef nie dat hulle hul eie grootste vyand is nie, en het geen idee van hoe belaglik hulle idees hulle vir opgevoede mense laat lyk nie.

  • Thomas,

    Dankie ook vir jou bevestiging dat ek en Kobus toe in die kol was met ons redenasie ten opsigte van die onakkuraatheid van ’n ligjaar in ag genome al die “aannames” wat daaromtrent gemaak word. Sien gerus ons vorige skrywes. Soos gewoonlik mis jy weer die punt (’n tipe van “slim-vang-sy-baas” kwessie).  Al wat ons net eenvoudig uitgewys het is dat julle manne julle ongeloof en/of evolusie afgodsdiens regverdig deur dít te ondersteun met ongegronde, onbewysde, aangenome, ongeveer geskate, min-of-mere, naastenbye en onakkurate “wetenskaplike” metodes, teorieë, en dies meer.

    Dus, hiermee my som ter verduideliking: Teoreties (en Prakties) is julle “(on)geloof” X = steeds onbewysde teorieë en hipotese om jul afgodsdiens en dwaling van die evolusieleer te ondersteun. Daarinteen is die werklikheid en waarheid, die ware christelike geloof,  Y = die Enigste en Ware Evangelie van God se Genadeversoening in en deur Sy enigste Seun, Jesus Christus ons Here. Dus is die fout wat julle met julle insigloosheid en dwaasheid maak, Z = 100%.

    Angus,

    Nou weet ek waar jou ongegronde en insiglose redenasies vandaan kom – van jou insiglose instrukteurs! Hoe lui die spreekwoord: “What monkey sees, monkey does”. Snaaks hoe jy moedwillig die woordjie “regte ten opsigte van die regte antwoord in my vorige skrywes mislees. Maar nou ja, só ken ons jou nou al.

    Chris,

    Jy is weer verkeerd. Dit moet lees dat Dolf “ook-lees-en-wel-oplees-en-ook-verstaan-WAT-hy-lees-en-nie-homself-probeer-regverdig-deur-onakkurate-metodes-as-waar-te-probeer-afmaak-deur-slim-te-probeer-klink-en-bronnelyste-aanheg-te-heg-nie.”

    Panda,

    Jy is reg, die woord is egter agnostici of agnostiese koortjie, kyk gerus jou mede agnostiese koorlede, Thomas, Angus, Brianvds en Chris se “singery”.  

    Sterkte

    Dolf

  • Dolf

    So jy kon toe nie ’n wetenskaplike antwoord ge-Google kry nie toe vergas jy ons op die spiritueel intelligende weergawe daarvan. Al gevolgtrekking wat ons dus maak is dat jy, nes Kobus gewoon nie die wetenskaplike kennis het om my eenvoudige vragie te antwoord nie en nou braaf agter jou spirituele skanse skuil.

    Ek het jou ’n direkte vraag gevra en nes Kobus kry ek nie ’n direkte antwoord nie. Kobus probeer sy onkunde wegswyg oor die paar lastige vragies wat ek hom bly vra maar jy blaker jou onkunde luidkeels hier uit. As jy nie die antwoord weet nie is die beste om so te sê. Op dié manier sal jy vir ’n korter rukkie soos ’n swaap voorkom.

    Gaan Google nou en dan gee jy vir ons die waardes van X, Y en Z soos vesoek – of wees ’n man en erken jy praat oor iets waarvan jy nie snars verstaan nie. 

    Groetnis

    Thomas

  • Thomas,

    Man, om die waarheid te sê, ek HET jou vragie heel gepas en HEELTEMAL korrek ingevul, dankie. Of dit nou in jou “boekie” inpas of nie, skeel my werklik glad nie – die waarheid is die waarheid en dit is dit. Jy sien, in my vorige skrywes het ek die definisie van ’n ligjaar eenvoudig verduidelik (nogal sonder om te Google) en dit bevat AL die nodige feite – maar jy verstaan nog steeds nie. Jy babbel van onkunde hier en swape daar (ek weet jy probeer jou eie onnoselheid verberg), maar jy het nie (kan nie) enigsins my argument of verduideliking weerlê nie – glad nie. Sê vir my ek is verkeerd en dat “tyd” nie ’n rol in die bepaling van ’n ligjaar speel nie en daarom glad in berekening  gebring hoef te word oor astronomiese afstandberekening nie. Of sê vir my ’n ligjaar het glad nie tyd nodig om bereken te word nie en dat die bepalende faktor in ’n ligjaar slegs die spoed van lig is. Bewys dit vir my en ek erken “soos ’n man” ek is verkeerd. Indien nie, maak dan maar weer een van jou insiglose en leë opmerkings in jou gewoonlike “knee-jerk” reaksies. As ’n laaste uitweg, lees gerus my skrywes aan Panda onder “Dolf hoeveel dae in jou ligjaar” elders  – hopelik dring ’n bietjie logika tot jou deur.

    Brianvds

    Wat jy moet verstaan is dat jy geen idee of begrip van ware christelike geloof het nie en nog minder die ware christelike kerk, gebou op die enigste ware evangelie van Jesus Christus, verstaan. Soos voorheen raai ek jou vriendelik aan: Hou asb. op probeer, jou redenasies hou GEEN water nie en sit my glad nie af nie – jy redeneer tipies onkundig soos enige ander agnostici/ateïs/evolusionis oor sake Gods.  Jy moet ook versigtig wees om so mildelik van “gelowige christene” te praat – daar is ’n hemelsbreë verskil tussen ware christelike geloof en valse christelike geloof.

    Ek onderneem plegtig om die ware christelike geloof in ’n toekomstige skrywe aan jou (en ander) te verduidelik.

    Sterkte

    Dolf

  • Dolf

    Hoekom antwoord jy vrae wat nie gevra word nie? Volgens jou is die meting van ’n ligjaar so onakkuraat dat enige berekening van die ligging van verafgeleë hemelligame onmoontlik en totaal spekulatief is – tog kan jy glad nie sê hoe onakkuraat die meting is nie en hoe jy dit bereken nie. Of het jy bloot agter jou heer en leermeester aangekef?

    Nou toe gaan Google en laat weet ons wat jou antwoord is. Sê net vir ons wat is die waardes van X, Y en Z in my vragie. Jou kleitrappery lyk alteveel of jy weereens oor iets praat waarvan jy niks weet nie. Vroom praatjies oor spiritueel intelligente kwinkslae om jou onkunde weg te steek versterk bloot ons vermoede van jou wetenskaplike kennisvlak (onthou tog dis een woord – dan het jy minstens iets geleer!). 

    Thomas

  • Dolf: Ware Christelike geloof beïnvloed nie die afstand van ’n parsek nie – hy is dieselfde vir Christene, Moslems en ateïste.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top