Ena Jansen oor Elisabeth Eybers, die literêre dubbelburger

  • 0

By geleentheid van die 100ste verjaardag van Elisabeth Eybers en die oorplasing van Eybers-boeke en persoonlike besittings van Amsterdam na Bloemfontein. Voor die oorhandigingsgeleentheid van die Eybers-boeke is Ena Jansen se boek Soos familie ook in NALN  bekendgestel.

Toespraak by NALN in Bloemfontein 13 Oktober 2015 

jansen1

Ena Jansen: NALN-uitstalling. Eybers se bril. (Foto: Mudboots Creative Art)

Baie lank het ek en Otto Liebenberg na hierdie dag uitgesien. Op die valreep het hy dit reggekry om vandag se gebeure saam met NALN se personeel te organiseer, ondanks die feit dat hy self onlangs uitgetree het as direkteur. My groot dank en gelukwense, mede namens die Zuid-Afrika Huis in Amsterdam, dat ons hier saam is ná ‘n lang en ingewikkelde pad van onderhandelinge voordat alles kon materialiseer.

Dat my stem te midde van ’n verkoue skielik op Sondag heeltemal weggeraak het en nog nie herstel het nie, is een ding wat ons glad nie kon voorsien nie. ’n Akute inflammasie van my stembande maak dit vir my onmoontlik om te praat – ek is regtig baie jammer om stemloos hier aanwesig te wees. Ek sal nou maar net die prentjies wys en is baie dank verskuldig aan my voorleser Melinda Bekker wat op die laaste oomblik inval!

naln_ena_eybers

Die gehoor luister na Ena Jansen se toespraak in die NALN-ouditorium

Ek was van plan om uit die vuis te praat en wou veral heelwat sê oor die klinkklaarheid, die helder klank van Eybers se poësie – iets wat ek bo alles hoog ag. Dit is ook die rede waarom ek Klinkklaar gekies het as titel vir die bloemlesing gedigte wat sy self twee jaar voor haar dood nog voor ‘n mikrofoon voorgelees het en wat ek en haar dogter Marita in 2009 gebundel het. Maandag het ek besef dat ek nie vanaand sal kan praat nie en daarom tog woorde op papier moet sit om te laat voorlees. Ironies genoeg is ek self dus alles behalwe klinkklaar, slegs ‘n Eybers-whisperer.

jansen2

Ena Jansen teken Soos familie, boekbespreking in Ketelkelder, NALN se Boekemark. (Foto: Mudboots Creative Art)

Bloemfontein

Dit is baie gepas dat ’n gedeelte van Eybers se boekery na NALN kom. Nie net omdat dit die nasionale letterkundige museum en bewaarplek van baie Afrikaanse skrywers en digters se boeke, manuskripte en persoonlike besittings is nie, maar omdat Elisabeth Eybers ’n besondere band met Bloemfontein gehad het; dikwels vertel het hoe baie Bloemfontein vir haar beteken het.

Dis immers hier waar haar moeder die eerste skoolhoof was wat deur president Steyn by Oranje aangestel is. Haar pa het ’n tyd hier studeer, haar man Albert Wessels en haar seun Bert het by Grey College skoolgegaan. In my boek Afstand en verbintenis is ’n pragtige foto van dr John en mev Lily Eybers, afgeneem deur hulle skoonseun Albert Wessels by die aftree-oord Siësta in Bloemfontein. In die boek is ook ’n foto van Eybers se ouers se graf in Schweizer-Reneke. Daarop word Elisabeth Susanna Eybers (gebore Le Roux, 1879–1968) pertinent omskryf as “Eerste prinsipale Meisieskool Oranje Bloemfontein”. Die gesin se verbintenis met Bloemfontein was altyd een waarvan Eybers met trots gepraat het.

Persoonlike noot

Die foto van Eybers wat NALN gekies het om op hulle Facebook-bladsy te sit, het ek in Januarie 1975 geneem toe ek haar vir die eerste keer ontmoet het. Met die Pentax Spotmatic wat ek kort vantevore by ‘n Burger-fotograaf gekoop het voor ek in Nederland gaan studeer het. Eybers was toe byna 60 jaar oud en ek byna 24. Ons was albei dogters van plaasseuns wat predikante geword het en hulle Bolandse vroue wat self professioneel geskool was, en volgens meer mense as hulle dogters, besonder slim was. Ek het in 1975 toe so pas van Stellenbosch in Amsterdam aangekom; Eybers het dieselfde paadjie van Johannesburg Amsterdam toe reeds op 46-jarige leeftyd in 1961 afgelê. Ondanks ons leeftydsverskil het ons onmiddellik aanklank by mekaar gevind.

jansen3

Ena Jansen teken op skrywersmuur, Ketelkelder, NALN Boekemark. (Foto: Annelien Diedericks)

Die vrouetydskrif Sarie Marais het die artikel wat ek op versoek van Fritz Joubert oor hierdie ontmoeting geskryf het, in Februarie 1975 geplaas. Daarin het ek weggeskram van persoonlike goed wat Eybers vertel het en gekonsentreer op haar leefomgewing: die pragtige sober verdieping van haar huis in Amsterdam se Van Breestraat waar ons sit en Earl Grey-tee drink het. Dit was die basis van ons vriendskap. En dis waarskynlik ook die rede waarom ek waarskynlik nié die een sal wees wat haar biografie sal skryf nie. Ek sien dat NALN in die vertoonkas wat spesiaal vir vanaand ingerig is, ook hierdie ou Sarie ten toon stel.

In totaal het ek Elisabeth Eybers 32 jaar lank geken: honderde koppies tee en koffie en glase wyn saam met haar gedrink, baie van haar stories goed leer ken, baie van haar rustige wysheid geleer en baie gelag. Ontmoetings met haar het nie tot ‘n einde gekom met haar dood nie. Sy bly vir my en baie ander lesers ’n soort lyfdigter. Haar werk kan jy in alle omstandighede lees. Sy het immers pragtige gedigte geskryf oor emosies wat ons almal meemaak: oor verliefdheid, oor moeilike verhoudings, oor ouers en kinders, oor verdriet, verlange, die lewe tussen twee lande, oor doktersbesoeke en die naderende dood, en veral oor die ambag en proses om dit alles in woorde vorm te gee. Sy blý boeiend, sy blý klink – in twee taalwêrelde: Suid-Afrika én Nederland. En altyd in Afrikaans. Sy is inderwaarheid, soos NALN dit op hulle banier so mooi noem, ’n literêre dubbelburger.

jansen4

Ena Jansen teken Soos familie vir Johannes van Niekerk in Ketelkelder, NALN se Boekemark. (Foto: Annelien Diedericks)

Dubbele poëtisiteit van die literêre dubbelburger

Die argument wat ek in my proefskrif en boek oor haar, Afstand en verbintenis. Elisabeth Eybers in Amsterdam, uitgewerk het, was dat haar Amsterdamse bundels wat ná 1961 verskyn het, ‘n fassinerende uitdaging aan twee stelle lesers bied. Bo en behalwe beeldspraak en rym wat poëtiese taal dikwels van “gewone” taalgebruik onderskei, is daar sedert Eybers in Amsterdam woon, ’n ekstra vervreemdende laag wat verband hou met haar ruimte en die konsekwensies wat dit vir twee stelle lesers het:

    • Suid-Afrikaanse lesers moet ekstra moeite doen omdat sommige Nederlandse woorde en omstandighede waarna sy verwys vreemd is
    • Nederlandse lesers moet ekstra moeite doen omdat haar Afrikaanse taal en Suid-Afrikaanse wêreld vir húlle vreemd is.
jansen5

Ena Jansen teken Soos familie vir Tony en Gisela Ullyatt in Ketelkelder, NALN se Boekemark. (Foto: Annelien Diedericks)

    En dís waaroor poësie gaan: die spesiale moeite wat skynbaar spontane, maar wel hipergeorganiseerde taal van jou vra. Sulke poësie vra van jou om in die digter se woordwêreld te verwyl met áándag. Die “dubbele poëtisiteit” van die literêre dubbelburger Eybers se poësie sorg daarvoor dat jy, soos die strukturalis Jonathan Culler dit gestel het, nie te gou die “unseemly rush from word to world” kan of wil maak nie.

Eybers is maar één van ‘n baie indrukwekkende groep gróót digters in Afrikaans. Elkeen is uniek op sy en haar eie manier: NP Van Wyk Louw, DJ Opperman, Olga Kirsch, Sheila Cussons, TT Cloete, MM Walters, Adam Small, Wilma Stockenström, Breyten Breytenbach, Antjie Krog en Marlene van Niekerk. Groot verseboek en NALN is onderskeidelik ’n fantastiese bron en plek om hierdie en baie ander digters se werk te leer ken.

Ek ken egter min digters met wie lesers so intiem saamleef as met Elisabeth Eybers. Sy is ’n digter wie se Versamelde gedigte op jou bedkassie lê, wat jy present gee aan jou dogter as sy haar eerste baba verwag, wat jy aan kinders in die buiteland stuur, wat jy lees wanneer jy wakker lê en nadink oor die naderende dood.

In haar 100ste geboortejaar is Eybers steeds aktueel.

Eybers “die stewige loopplank”

Aan die wieg van die noue kontak tussen Afrikaanse skrywers en die Nederlandse literêre wêreld deesdae staan die digteres Elisabeth Eybers. Tydens talle dekades van kulturele boikot-aksies gedurende die tweede helfte van die 20ste eeu was Eybers se hoë profiel in Nederland en Vlaandere immers ’n anachronisme en is niemand se Afrikaanse gedigte behalwe hare en Breytenbach s’n deur Nederlanders gelees nie.

jansen6

ZeBroz 75 sing Eybers-toonsettings, Werner Schmidt en Seleke Botsime in NALN Ouditorium. (Foto: Mudboots Creative Art)

2015 is dus ’n gepaste moment om stil te staan by die “stewige loopplank” wat Eybers tydens haar 46 jaar in Amsterdam tot stand gebring het om ’n plek vir ook ander Afrikaanse digters in die Nederlandse literêre wêreld voor te berei. Breyten Breytenbach het sy eie hoë profiel gehad, mede as gevolg van sy politieke betrokkenheid. Ingrid Jonker het bekend geword mede danksy VPRO-dokumentêremaker Saskia van Schaik se pragtige film Korreltjie sand. Gerrit Komrij se groot bloemlesing Afrikaanse gedigte het verder ‘n enorme rol gespeel om Afrikaanse poësie bekend te stel. Wilma Stockenström, Antjie Krog en daarna Peter Snyders, Charl-Pierre Naudé, Ronelda Kamfer en Marlene van Niekerk is na geleenthede soos Poetry International en Winternachten uitgenooi. Deesdae is álle Afrikaanse digters in die Lae Lande welkom, ook as sangers. Mense soos Gert Vlok Nel, Amanda Strydom, Chris Chameleon, Jannie du Toit, Laurinda Hofmeyr, Luna Page, Andries Bezuidenhout, Jack Parow.

En dit is maar ’n paar van die woordmense wat deesdae gereeld in Nederland optree en gelees word. Op ’n manier kyk Elisabeth Eybers altyd oor hulle skouer mee; is háár werk ’n toetssteen; word die jonger generasies aan haar gemeet. Hierdie ander digters se werk word in Nederlands vertaal; net Eybers s’n staan as die onvertaalde paal bo water – omdat Nederlandse lesers op ’n byna misterieuse manier die spesiale moeite doen waarvan ek gepraat het.

jansen7

Ena Jansen, Eybers-uitstalling, NALN Ouditorium. Eybers se stoel, kunswerke, lamp. (Foto: Mudboots Creative Arts)

Oorlede op 92

Op LitNet is ’n foto wat ek op Sondagoggend 22 Februarie 2015 van haar graf geneem het, enkele dae voor Elisabeth Eybers se 100ste verjaardag op 26 Februarie 2015. Sien http://www.litnet.co.za/die-100ste-geboorteherdenking-van-elisabeth-eybers. Vir diegene wat die stukkie nie gelees het of onthou nie, verwys ek vandag graag kortliks na wat ek toe geskryf het:

Elke jaar sedert sy op 92-jarige leeftyd in Amsterdam oorlede is op 1 Desember 2007, fiets ek en ’n ander ou vriendin van haar, Annemarie Balkema, saam na die begraafplaas Zorgvlied ten suide van Amsterdam en laat ’n bos tulpe op haar graf agter. Party jare is dit guur en reën dit, soos die dag waarop sy begrawe is, maar soms is die lente in die lug, soos die dag vanjaar toe dit pragtige voorjaarsweer was.

Elisabeth Eybers was nie bang vir die dood nie, dit het vir haar geen skrikbeeld ingehou nie. Voortdurend het sy – byvoorbeeld in “Swymelrym” – gewonder “hoe sal ons eendag doodgaan/ hoe haal ons daardie paal?” Haar begeerte was al lank “om leeg genoeg te loop om vol te loop met wat vanuit hierbuite binnevloei”. Sy wou “grondig vergaan”, “die stilte betrek”, haar blywend toespin in ‘n droom.

Jaar ná jaar, terwyl ons by Elisabeth Eybers se sober grafsteen staan, ervaar ons hierdie stilte. “Laat ons loof wat ons nie kan verstaan.”

jansen8

Ena Jansen, Eybers-uitstalling, NALN Ouditorium. Eybers se stoel, hoederak, jas, hoed, kunsversameling. (Foto: Mudboots Creative Arts)

Eybers se boekery onderdak in Amsterdam én Bloemfontein

Maar nou eers terug na Bloemfontein. In NALN se pragtige ou Raadsaalgebou is dit vanaf vanaand moontlik om op ’n baie konkrete manier kontak te behou met Elisabeth Eybers. ’n Deel van haar boekery is nou hier. Oor die algemeen is dit gewone boeke wat baie van u ook besit. Hierdie honderde boeke is egter spesiaal omdat hulle jare lank in Eybers se huise en boekrakke in Johannesburg en Amsterdam gestaan het, omdat háár handtekening in baie van die boeke staan. Ook ’n klompie van haar persoonlike besittings is nou hier by NALN in Bloemfontein. ‘n Klompie ander boeke is steeds in die Zuid-Afrika Huis in Amsterdam en sal ná die heropening van die verboude pand weer daar besigtig kan word.

jansen9

Stoeltjie ... (Foto: Ena Jansen)

Op die webwerf van die Zuid-Afrika Huis kan u nalees wat die geskiedenis van die boekery is. Sien http://www.zuidafrikahuis.nl/content/eybers, waar ek kortliks dokumenteer wat die gang van sake was: hoe die boeke deur haar erfgename geskenk is aan die Zuid-Afrika Huis en van haar woonstel op die Amsterdamse Stadionkade na die Zuid-Afrika Huis op die Keizersgracht vervoer is totdat ‘n gedeelte daarvan vandag in Bloemfontein feestelik deur NALN in ontvangs geneem word.

Ek laat verder ook vanaand ‘n klompie foto’s sien van die inpakkery. Verder ‘n foto van ’n papiertjie met twee getikte gedigte wat in ’n boek gevind is en nié in dié vorm in haar Versamelde gedigte gepubliseer is nie. Danksy die tikmasjien van Eybers wat nou in NALN se besit is en vanaand hier uitgestal staan, sou u kon vasstel of hierdie gedigte inderdaad getik is op die tikmasjien hier voor ons.

Hierdie papiertjie is maar een van ‘n skoendoos vol wat uit haar boeke verwyder is toe ons in 2014 besef het dat die verbouing van die Zuid-Afrika Huis dit nie moontlik sou maak om ‘n volledige Eybers-kamer te handhaaf nie. Die boeke moes verdeel word, die papiertjies moes opsy gesit word en gered word met die oog op verdere navorsing. Sommige papiertjies is net inkopielysies, ‘n mooi ou Suid-Afrikaanse posseël of ‘n koerantknipsel. Maar wie weet vertel dit dalk ´n storie oor haar, help dit ‘n gedig ontsluit.

jansen10

… en kapstok met hoed en jas van Eybers in die Zuid-Afrika Huis voor die verskeping Bloemfontein toe (Foto: Ena Jansen)

‘n Groot gedeelte van Eybers se boeke bly in Amsterdam agter, veral dié met strepies en aantekeninge. Ander met min spesifieke bibliofiele waarde kon op ‘n sogenaamde “meeneem”-dag deur gereelde besoekers van die biblioteek op die Keizersgracht saamgevat word huis toe teen ‘n geringe donasie. ‘n Belangrike deel van veral haar Afrikaanse boeke is na NALN gebring. Haar boekery is dus nie meer ‘n fisiese eenheid nie, maar ons weet ook dat Eybers tog al heelwat boeke weggegee of selfs weggegooi het toe sy begin opruim het. Haar kinders het ook ná haar dood saamgeneem wat hulle graag wou behou.

‘n Volledige boekstawing van haar boeke bestaan gelukkig wel in die vorm van ‘n katalogus wat deur twee Leidse studente gemaak is van al die boeke wat oorspronklik in Januarie 2008 in die besit van die Zuid-Afrika Huis gekom het. Hierin staan elke inskripsie, potloodstrepie en stukkie papiertjie aangeteken wat daarin gevind is. ‘n Verkorte aanlyn katalogus is op 13 Oktober 2013, vanaand presies twee jaar gelede, tydens ‘n simposium in Amsterdam geaktiveer. Sien http://www.litnet.co.za/titels-van-elisabeth-eybers-1915-2007-se-boekery-aanlyn-beskikbaar en http://www.litnet.co.za/eybers-kamer-in-amsterdamse-zuid-afrikahuis-oopgestel.

jansen11

'n Handgeskrewe resep (waarskynlik Eybers se moeder s'n) gevind in 'n ou kookboekie van mevrou Smuts – 'n voorbeeld van “gevonde voorwerpe” in Eybers se boeke. (Foto: Ena Jansen)

Otto Liebenberg sal verder aan u vertel hoe die ontvangs van die boeke hier in Bloemfontein en die inrig van ’n Eybers-kamer hier by NALN verloop het. Ek wil hom baie hartlik bedank vir sy en Nola Doré, Gerda Stroebel, Annelien Diedericks en ander personeel van NALN se enorme inset om dit moontlik te maak. Dat dit in Elisabeth Eybers se 100ste geboortejaar gebeur, is ’n besondere prestasie.

Ek hoop dat ek vanuit die kant van die Amsterdamse Zuid-Afrika Huis ’n indruk aan u kon gee van hoe die boeke nog in Amsterdam in Eybers se boekrakke gestaan het en hoe ons dit destyds nog op die Stadionkade ná haar dood saam met haar dogter Jeanne Wessels ingepak het. Mag die boekery van Eybers, sowel dít wat in Amsterdam agtergebly het as dít wat nou in Bloemfontein is, ’n nuwe stimulans in Suid-Afrika bied tot volgehoue liefde vir én ondersoek na Elisabeth Eybers en haar werk.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top