The Snows of Kilimanjaro: ’n film met ’n groot, warm hart


The Snows of Kilimanjaro

Regisseur: Robert Guédiguian

Rolverdeling: Jean-Pierre Darroussin, Ariane Ascaride, Gérard Meylan, Marilyne Canto


Ek het vanjaar nog min goeie flieks gesien; hierdie is een van hulle.

Michel Monteron (Jean-Pierre Darroussin) werk al jare lank by ’n skeepsmaatskappy in Marseille. Hy is die blouboordjiewerkers se vakbondverteenwoordiger en wanneer die film open, moet hy die kompromis wat met bestuur aangegaan is, aan die ander werkers oordra: twintig gaan hulle werk verloor, en op regverdige wyse word die name geloot. Dié gebeure lei tot ’n gewelddadige rooftog by Marcel se huis, en van hier af kring die intrige uit: na Marcel se beste vriend en kollega, wat ook sy swaer is; na sy vrou, Marié-Claire (Ariane Ascaride) en haar suster; na sy twee kinders en húlle kinders.

Weens ’n volkome toevalligheid kom Marcel op die spoor van die diewe. Hy kom egter gou agter dat geregtigheid nie so ’n eenvoudige saak is nie. Soos ’n wyse gesê het: as ons alles kon verstaan of weet, sou ons alles kon vergewe.

Die film het ’n besonder interessante maatskaplike agtergrond: die sterk-gewortelde sosialistiese tradisie onder die Franse – seker te verwagte by ’n volk wat in 1789 al ’n revolusie gevoer het vir vryheid, gelykheid en broederskap. Marcel is ’n ou-skool-vakbondman, ’n goeie en gewetensvolle mens, maar sy hoë ideale en rotsvaste beginsels word behoorlik uitgedaag deur die harde werklikhede van vandag se globale ekonomie wat onder uiterste druk verkeer. Vir ’n Suid-Afrikaanse kyker sny die film se problematiek van dié wat het en dié wat nie het nie, na aan die been.

Moet egter nie dink dis alles net ’n sware gewroeg nie. Daar is steeds die sjarme so tipies aan Franse films: ’n jong kelner se raad oor liefdeswee, die familie-etes en lekker kos, die innige verhouding tussen twee huweliksmaats. Kortom: dis ’n film met ’n groot, warm hart.

 

Kommentaar

  • Bibi Slippers

    Suzette, ek het hierdie film ook vreeslik baie geniet.  Sommer onverklaarbaar aan die huil gegaan tydens hulle huweliksherdenkingsparty waar al die gaste die liedjie oor Kilimandjaro sing.  So bly ek het dit gaan kyk!

    Groete
    Bibi

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top