Emosioneel gesond

  • 2

Jan Rap met sy geheuekiekies het my laat terugdink aan my eie moeilike kinderjare. Elkeen van ons dra eie stories. Grootgeword met ‘n middelkindsindroom het ek myself gesien as die bruinbroodjie in die familie. Verwerp en onwelkom. As verweer het ek rebels en aanvallend voorgekom en moes my eie “battle fight” onder my twee ouer broers.

My konserwatiewe ouers het my gesien as aggressief en moeilik, en hierdie “tag” om my gehang. Al vegtende het ek vir myself ‘n opstandige en dwarstrekkerige geaardheid gekweek.

Alhoewel ek dit nooit oorweeg het om soos Jan my voete in beesmis warm te gemaak het nie, onthou ek hoe ons vroeg-vroeg in die oggend opgedraf het met die slingerpad busstop toe. Selfs in die bibber winter het ons sonder skoen of trui, swaar tas oor die skouer, kortpad gevat en het dan só op hierdie half gevriesde slange wat in die kronkelvoetpad lê opsoek na warmson, afgekom. Jy moes maar hoogspring, steekbos aan albei kante. Daardie tyd was die botterspinnekoppe al so groot soos my hand en het hulle die Long-drop vol webbe gespin. Dan het ek maar hurkend gesit, want jy het nie geweet wat van onderaf op jou klim.

Maar kan die mens sy eie persoonlikheid vorm? Self besluit oor jou toekomskarakter?
Meeste van die insette hier op SêNet word voortgebring vanuit die skeppingsdrang van die skrywer. Elkeen met eie styl en aanslag. Die besef? – God het die mens uniek geskape. Inter-intelligensies soos musikaal, kinesteties, linguisties, ruimtelik, ens is alles vrye gawes ontvang vanaf die Skepper. God se verantwoordelikheid teenoor die mens.

Daarteenoor is die mens verantwoordelik vir sy eie Emosionele Intelligensie (EI). ‘n Vaardigheid wat aangeleer of verkry kan word deur keuse en die begeerte daarna.

EI is om eie emosies te ervaar, erken asook beheer daaroor uit te oefen. Hierdeur word die self opgebou tot effektiewe hantering van sosiale verhoudinge. Emosioneel intelligent genereer positiewe transformasie en verryking. Wanneer daar na Gods vrug gekyk word soos voorgehou in die Bybel in Gal 5:22 van liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing, dien hierdie skrifgedeelte as motiveringskrag tot EI.

Om bewus te wees van dit wat binne in ons aangaan, asook dit wat in die ander persoon gebeur, is ‘n voorvereiste vir enige gesonde verhouding hetsy huwelik, kinders of vriendskap. Om die somtotaal van intelligensie in te sien, is dit belangrik om te weet wat die ander persoon oorkant of om jou beleef en voel. Bedrewenheid hierin beteken om ‘n emosie te kan verwoord asook bewustelik te definieer.

Verhoging van EI dra daartoe by dat die mens sy potensiaal en doel op aarde verwesenlik. Om dormante verstandelike vermoëns op te wek. Hoe weet ek waar my EI vlak huidiglik staan? Deur op te let na die daaglikse lewe om my. Dit is die hoogste toets tot EI. Hoe hanteer ek dit wat met my gebeur elke dag. Wat is my reaksie op ‘n aksie? Soos my vriendin dit stel, hoe tree jy op wanneer jou Cokeblikkie geskud word.

Emosies is ‘n goddelike ontwerp tot doel. Daarom mag ‘n gewaarwording nooit ontken of onderdruk word. Eerder erken, beken en deurgewerk word. Al moet jy die leeu van jou omstandighede “face.” Onderdrukte emosies, soos om bv te ontken dat ‘n geliefde afgesterf het, is skadelik vir die fisiese sowel as psigiese. Gevoelens moet eers op ‘n toepaslike wyse uitgespreek word, voordat dinge aangespreek kan word. Emosionele onbedrewenheid is ‘n nie-ingesteldheid van eie gevoelens. Wortels wat hieruit spruit is ondoeltreffende kommunikasie, onbedrewe konflikhantering, lae selfbeeld en swak selfaanvaarding. Om hierdie gevoelensoproep te onderdruk word daar na ‘n vals troos gesoek soos alkoholisme, dwelmmisbruik, eetsteurnisse, rook, seksuele sondes, ens. En natuurlik genereer dit weer na psigiese dinge van depressie, vrees, verwerping, haat, woede, hebsug, bitterheid, ens.

Emosionele bedrewenheid is seënryk en voordelig vir die mens. ‘n Oproep tot gesonde balans tussen denke en gevoelens.

Negatiewe emosies tap energie, daarteenoor sal bedrewe konflikhantering probleme oplos. Die grootste oorwinning vir self lê in die vermoë om soms te “laat los.” Of soos die gelowige dit verwoord: My vlees (die sondige natuur) is saam Jesus Christus gekruisig en is die keuse om net die goeie aan te hang.

Net soos die liggaam oefening tot gesondheid en fikswording benodig, net so is dit vir die sielsdimensie ook nodig om gesonde waardes en optredes aan te leer. Maw emosioneel fiks!

Hoe gesond is jy? Beantwoord die volgende vrae eerlik teenoor jouself:

1. Ek is daarvan bewus dat ek somtyds kwaad voel, wat wissel van irritasie tot woede.
2. Somtyds nadat ek en ‘n ander persoon meningsverskil gehad het, is dele van my liggaam sonder gevoel of word warm.
3. Ek weet dat ek baie sterk gevoelens ervaar, maar is dikwels nie in staat om met mense daaroor te praat nie.
4. Ek is eerder ‘n emosionele ontploffer dan ontlonter.
5. Ek vind dat my handpalms sweet wanneer ek in ‘n stres situasie beland.
6. Ek word somtyds deur ‘n negatiewe gemoedstemming oorweldig, en ontwikkel ‘n sterk behoefte na drank of eet. (Of ophou eet)
7. Ek ervaar die lewe redelik doelloos en negatief.
8. Ek hou daarvan om konflik te skep, of beledigend op te tree, dit is opwindend.
9. Mense sien my gewoonlik as ‘n moeilike of aggressiewe persoon.
10. Ek moet altyd die laaste sê hê, al is dit ten koste van my huweliksmaat of ander persoon.

NEE antwoorde op bogenoemde word gesien as positief en Emosioneel Intelligent. Hoop jou telling is beter as myne.

Nou ja, soos Henn gesê het, hiermee pak ek my rekenaar by die werk op en kan nie wag om die big 5 te sien nie. Wildsplaas, hier kom ons! Indien ek wel dit regkry om Zero (Mannetjieleeu) se geel oë af te neem, sal ek ‘n vars geheuekiekie vir julle in die nuwe jaar saambring.

Geseënde vakansietyd vir jou. Hoop jy ry veiliger as hierdie ou.

Trienie

  • 2

Kommentaar

  • Trienie Mahne

    Goeiedag Wanda. Ek sien jou kommentaar in my epos. Kan ek jou help? Ek is nie seker wat jou behoefte is. Skryf gerus aan my persoonlik by trienie@jgb.co.za - indien LitNet toestemming sal gee daartoe ... Trienie Mahne

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top