Emily Hobhouse (1860–1926) en haar biograwe: US Woordfees 2017

  • 2

Hier onder publiseer LitNet Ena Jansen se volledige lesing, soos gelewer op 4 Maart 2017 by US Woordfees 2017. Sommige van die PowerPoint-skyfies wat sy tydens die lesing vertoon het, verskyn ook met haar toestemming tussendeur die teks. Die doel van haar lesing was veral om Rykie van Reenen se werk oor Hobhouse ook weer onder die aandag te bring.


Geagte dames en here, beste kenners én leke betreffende die wel en wee van Emily Hobhouse:

Graag begin ek my lesing deur Elsabé Brits geluk te wens met ‘n biografie wat stewig in sy skoene staan, wat baie hedendaagse lesers tereg daarvan sal oortuig dat Emily Hobhouse ‘n uitsonderlike vrou in uitsonderlike omstandighede was. Brits se biografie bereik nou weer Afrikaanse lesers wat nie naastenby so ‘n ruim keuse aan ander biografieë het as wat Engelse lesers het nie. Uiteraard kan die meeste Afrikaanse lesers wel van ál hierdie boeke kennis neem, maar ek konsentreer vergelykenderwys veral op een ander boek wat ook in Afrikaans geskryf is: Rykie van Reenen s’n.

My punt vandag is dat daar nie een ultieme biografie oor ‘n historiese persoon is nie. Elke generasie stel nuwe vrae en het ander belange; elke biograaf sal daarom vanuit die kennis en ervaring van ‘n bepaalde eie tyd ‘n ander beeld van daardie persoon ontwerp. Uiteraard sal politieke insig, genderbewussyn, navorsingswerk, skryfvaardigheid en talle ander faktore bydra tot die beeld wat geskep word.

Ek sal Brits se biografie as vertrekpunt gebruik om ‘n paar algemene stellings oor biografieë te opper. Dan wil ek spesifiek ingaan op die verband tussen Geliefde verraaier en Rykie van Reenen se Heldin uit die vreemde.

Trouens, die hoofaanleiding vir Elmari Rautenbach om hierdie sessie vir die Woordfees te beplan, was juis dat dit haar opgeval het dat so min melding by die verskyning van Elsabé Brits se Hobhouse-biografie gemaak is van Rykie van Reenen se boek van 1970. Het almal dan al daarvan vergeet? En dit terwyl ‘n tweede uitgawe daarvan in 1999 verskyn het, uiteraard om saam te val met die eeuherdenking van die Anglo-Boereoorlog 1899–1902. Dis nog orals in biblioteke beskikbaar. Bowendien verwys Brits self op bl 8, in die allereerste sin van haar boek, na haar voorganger s’n. Sy skryf:

In die winter van 2013 het ek Rykie van Reenen se jeugboek oor Emily Hobhouse, Heldin uit de vreemde, in ‘n snuistery-winkel op Prins Albert in die Karoo raakgeloop. Soos baie ander mense het ek Emily se storie breedweg geken, maar daar was dinge in die boek wat my bygebly het. Een daarvan was die indruk dat Emily veel méér was as die vrou uit die Britse “upper class” wat haar tydens die Anglo-Boereoorlog die lot van vroue en kinders in konsentrasiekampe in die verre Suid-Afrika aangetrek het.

Die informasie-aanbod in die wêreld is so oorweldigend, en daar gebeur uiteraard in elkeen van ons se lewens so baie dinge, dat jy letterlik soms eers oor iets moet struikel voordat jy goed oplet, belangstel, en voordat dit vir jou betekenis kry. Soms weet jy van iets of iemand, maar het dalk ‘n weersin in ‘n onderwerp omdat jy met ander goed besig is, of te jonk daarvoor is. Maar soms, op ‘n dag, kan iets of iemand jou aangryp, ‘n ontmoeting wat jou jare lank boei, selfs jou lewe in ‘n ander rigting stuur.

Dit is duidelik dat dit met sowel Rykie van Reenen as Elsabé Brits gebeur het.

Tydens my voorbereiding vir die lesing het dit my begin opval hoe min ons weet, hoe kort ons almal se geheue is. Én hoe skrywers en navorsers, maar eintlik sommer almal van ons, op so ‘n passievolle manier ‘n verhaal kan herneem dat dit kan lyk asof niemand anders ooit vantevore reg daaraan laat geskied het nie.

Wie was Emily Hobhouse?

Ek is seker u wat hier sit, het ‘n goeie idee, weet waarom Emily Hobhouse die fokus van honderde artikels en ‘n tiental boeke is, weet dat ‘n Vrystaatse dorp, strate en koshuise, selfs ‘n duikboot na hierdie boegbeeld van pasifisme vernoem is.

Miskien is ‘n paar Oranje Meisieskool-alumni vandag aanwesig wat nog onthou dat julle jaarliks op die skool se verjaardag 10 kilometer ver na die Vrouemonument moes loop waar Emily Hobhouse se as bygelê is? Sommige van u het dalk Joan Hambidge se twee gedigte opgedra aan Hobhouse gelees. Of julle onthou dat Wilna Snyman ‘n paar dekades gelede ‘n aangrypende vertolking van Hobhouse gegee het in Deon Opperman se stuk Dear Mrs Steyn. Julle ken dalk Karen Zoid se “Love is a weapon – ‘n song vir Emily” en het nie net Zoid en Herman Binge se filmportret van haar op kykNET in 2013 gesien nie, maar ook Foxwood Films se dokumentêre rolprent wat vir die reeks Formidabele vroue gemaak is. Bowendien onthou julle wat talle uitstekende historici wat gespesialiseerd is in die Boere-oorlog oor haar geskryf het. Ook mense soos Elizabeth van Heyningen en Liz Stanley, wat ruim aandag aan spesifiek die konsentrasiekampe gegee het.

‘n Tradisie wat skoolmeisies verplig tot wandelinge na die Vrouemonument, besluite van politici wat ‘n duikboot doop met die naam SAS Emily Hobhouse S98, bewonderaars wat invoelende gedigte skryf en liedjies sing, navorsers wat nuwe biografieë skryf – almal het die beste bedoelinge, is besig om ‘n verhaal te hersirkuleer wat hulle die moeite werd vind. Hulle beskou hulle bydraes sekerlik as ‘n eerbetoon, as ‘n soort regstellende aksie. In die geval van Emily Hobhouse is die hergebruik, selfs toe-eiening, van haar verhaal dan ook telkens ‘n toevoeging tot ‘n eggoput van oorvertelde verhale.[i] Heden ten dage is ‘n oorspronklike, ‘n outentieke verhaal immers so goed as onmoontlik. Alles is intertekstueel verbonde.

Emily Hobhouse was ‘n Britse predikantsdogter wat eers in 1895, ná haar pa se dood, kon ontsnap aan die voorskrifte waartoe haar stand en die heersende Victoriaanse kultuur ‘n ongetroude vrou soos sy ingeperk het. Sy was indrukwekkend om te sien: lank, statig en sterk in haar jong dae, wel dikwels sieklik, maar altyd dinamies, met besonder sprekende oë tot aan haar dood op 66-jarige leeftyd.

In 1895 was sy 35 jaar oud, met bitter min blootstelling aan die wêreld buite die grense van haar pa se gemeente waar sy al die jare gewoon het. Sy was vervul met ‘n behoefte om mense te help, om welsynswerk te doen – let wel, ver buite die bekende dorpsgrense. Onmiddellik ná haar pa oorlede is, vaar sy dan ook die wye wêreld in, tree in die voetspore van talle indomitable Victorian lady travellers, vroue wat tuis dikwels siek, swak en mislik was, maar wanneer hulle eenmaal in vreemde en intens ongerieflike en gevaarlike oorde was, ongelooflik opgebloei het.

Die beroemde Mary Kingsley, ‘n direkte tydgenoot van Hobhouse, was maar een van hulle. In 1893 en 1895 het sy twee jaarlange reise deur die binnelande van Wes-Afrika onderneem. Ná die publikasie van haar tweede reisboek het sy, soos Emily later, ernstig in diskrediet geraak omdat sy die Britse koloniale politiek gekritiseer het. Met die uitbreek van die Boereoorlog is sy dadelik Suid-Afrika toe om Boerekrygsgevangenes te gaan verpleeg. In die Simonstad-kamp is sy egter met tifus besmet en in 1900 daar oorlede. Nie ‘n duikboot nie, maar ‘n vis, ‘n slang en ‘n akkedis wat sy in Wes-Afrika gevind en aan die Britse Museum geskenk het, plus ‘n krater op Venus is na haar vernoem.

Meestal het vroue soos Mary Kingsley om persoonlike redes huis en haard verlaat: vervul met ‘n drang om eksotiese plekke te sien of om sendingwerk te gaan doen, maar veral om aan genderbeperkinge te ontsnap. Hulle persoonlike motiverings het wel belangrike politieke gevolge gehad. Onafhanklike ervarings in die vreemde het die reisigers opgeskerp vir onreg. Talle het later kampvegters vir menseregte en vrouekiesreg geword. The personal became political, soos genderteoretici en postkoloniale kritici sou sê.

Dit geld sekerlik ook vir Hobhouse. In 1895 reis sy eers na Amerika, na die ysterertsmyne in Minnesota waar talle mans uit haar tuisdorp onder verskriklike omstandighede werk. ‘n Verlowing aan ‘n Amerikaner voer haar na Meksiko waar sy ‘n plaas vir hulle koop, maar die verlowing loop uit op ‘n erbarmlike liefdesteleurstelling en sy keer terug na Engeland. Nooit weer sou ‘n man ‘n ring aan haar vinger steek nie, hoeseer sy ook na ‘n huwelik en kinders verlang het.

Ná Amerika sou Hobhouse uiteindelik op twee ander kontinente werk van ingrypende belang gaan doen: in Afrika en Europa. Haar pasifistiese standpunte en humanitêre optrede tydens en na die Anglo-Boereoorlog in Suid-Afrika en later in Duitsland tydens en ná die Eerste Wêreldoorlog het haar in opspraak gebring, maar ook roem besorg.

Die titels van twee Afrikaanse biografieë som die konflikterende beeldvorming in verband met Emily Hobhouse ráák op: Heldin uit die vreemde en Geliefde verraaier. Was sy held of hufter? Dis die soort vraag wat in postkoloniale tye gereeld oor Nederlandse koloniale helde soos Jan van Riebeeck en Jan Pieterszoon Coen gevra word. Of oor Suid-Afrikaanse politici soos Smuts, Malan en Verwoerd. En dis ‘n vraag wat telkens reeds týdens haar lewe oor Emily Hobhouse gestel is.

Wat is die rol van biograwe met betrekking tot beeldvorming? Wat is hulle aanvanklike vertrekpunte en hoe gaan hulle om met inligting wat dalk in stryd is met die aanvanklike beeld wat hulle van hulle protagonis het? En wat is hulle houding ten opsigte van voorganger-biograwe?

Hierdie vrae is belangrik.

Biograwe is steeds meer bewus van die belang van hulle metodologiese keuses. Alhoewel die dilemmas om lewende ooggetuies te probeer vind of toegang tot argiewe te verkry dikwels van die opspraakwekkendste aspekte van hulle ondersoek is waaroor hulle graag vertel, dink en praat hulle nie nét daaroor nie.

In Engeland het die afgelope jare dan ook allerlei teoretiese boeke verskyn oor die skryf van ‘n biografie. Boeke soos Mapping lives onder redaksie van France en St Clair, Body parts deur Hermione Lee en A higher form of cannibalism? Adventures in the art and politics of biography deur Carl Rollyson. ‘n Mooi titel is ook dié van James Clifford: From puzzles to portraits.

In Nederland is ‘n Biografie-instituut in 2004 aan die Rijksuniversiteit Groningen opgerig met Hans Renders as hoogleraar Geschiedenis en Theorie van de Biografie. Verskillende wetenskaplike institute werk saam om daarvoor te sorg dat oor veral bekende, maar ook oor onbekende Nederlanders biografieë geskryf word. Uiteraard kan jy self met ‘n voorstel kom, maar in opdrag van byvoorbeeld die Huizinga-instituut in Den Haag word literatore, historici en joernaliste eksplisiet aangestel en subsidie gegee om iemand se biografie te skryf.

Hier in Suid-Afrika was NP Van Wyk Louw se standpunt dat die mens agter die boek presies daar moes bly: agter die boek. Dit is waarskynlik ‘n rede waarom dekades lank so min biografieë oor skrywers verskyn het. Met verloop van tyd het insigte verander en belangrike skrywersbiografieë deur veral John Kannemeyer en Jaap Steyn is gepubliseer. In Suid-Afrikaanse boekwinkels is daar deesdae ‘n baie stewige en steeds uitdyende rak vol biografieë, van skrywers, maar ook van politici, sporthelde en sakelui.

Maaike Meijer, ‘n Nederlandse genderdeskundige en biograaf van die digteres M Vasalis, het in 2011 “Dertien stellingen voor een biograaf” gepubliseer[ii]. Al hierdie stellings is belangrik vir voornemende biograwe, veral nommer 4, waarin Meijer wys op die inherente spanning tussen die beeld wat biograwe reeds vantevore het van hulle “objekte” of gebiografeerdes en hoe hulle omgaan met bronne, hoe hulle dié laat spreek.

Meijer sê:

Je begint met een beeld maar daaroverheen worden in interviews en archieven steeds weer nieuwe, vaak tegenstrijdige, beelden aangereikt. Laat dat gebeuren. Stel je open voor voortdurend omver gekegeld te worden. Timmer het beeld van de gebiografeerde niet af. Ga voor complexiteit, niet voor eenduidigheid.

Moet dus nie vashou aan ‘n vooringenome beeld nie, wees bereid om jou uitgangspunte voortdurend te hersien: selfs teleurgestel te word in iemand wat jy aanvanklik veral bewonder. Daarom sê Meijer in stelling 5: “Romantiseer de gebiografeerde niet. Daar hebben je lezers geen behoefte aan.” Sy vra heel pertinent: “Waarom heb je er zelf behoefte aan? Als je dat eenmaal weet zal je het niet langer doen.”

Hierdie advies is belangrik. Biograwe erken immers dikwels dat daar behalwe ‘n eerste affiniteit en bewondering selfs ‘n soort verliefdheid op hulle hoofpersoon ontwikkel. Hoe kan dit ook anders as jy jare lank met iemand opstaan, die dag of naweek deurbring, gaan slaap en in die nag oor droom?

Wat opval aan sowel Van Reenen as Brits is dat albei so passievol oor Emily Hobhouse is. Hulle kom – en dit is baie tipies van biograwe – ook baie ná daaraan om hulle heldin te verromantiseer. Hierdie verering kom op verskillende maniere tot uiting in hulle eie leefruimtes. Voorbeelde daarvan is die volgende:

Op die agterflap van Van Reenen se Boer War Letters is ‘n foto van Rykie langs ‘n borsbeeld van Hobhouse deur Laura Rautenbach. Bowendien het sy die huis waarin sy jare lank in Westdene, Johannesburg gewoon het, “hob house” genoem. Toe ek laasweek in Johannesburg was, het ek gaan soek en sowaar die huis weer gevind. Die huidige bewoners was nie tuis nie, maar die kleiteëltjie op die posbus wat Van Reenen daar moes aangebring het terwyl sy vanaf die jare ’60 tot in 1980 in Johannesburg gewoon het en in dié tyd aan haar Hobhouse-boeke gewerk het, is steeds daar. Dit word duidelik in ere gehou.

Elsabé Brits se passie vir Hobhouse is uit alle onderhoude met haar duidelik. By die bekendstelling van haar biografie in Augustus 2016 lê sy byvoorbeeld ‘n krans én haar boek by die nissie in die Vrouemonument waar Hobhouse se as weggebêre is. In onderhoude verwys sy na tekeninge wat sy besit van Hobhouse. Sy “bewe” as sy Hobhouse se plakboeke sien.

Meijer se stellings 10 en 11 is baie mooi: “Laat je meeslepen. Laat je niet meeslepen.” Get carried away. Don’t get carried away.

Want om ‘n biografie te skryf móét jy gedrewe en passievol wees, maar ook uiters gedissiplineerd. Om iemand se lewensloop sinvol te probeer beskryf kos verskriklik baie werk. Jy moet ure en ure op ‘n stoel bly sit: of dit nou in argiewe of by jou eie lessenaar is. Jy moet voorgangers se werk ken, argiewe uitspit, alles lees en beluister wat jy maar kan om so digby soveel moontlik feite te kom om ‘n beeld van ‘n persoon te kan vorm en oortuigend te kan oordra. Maaike Meijer meen ‘n biograaf moet minstens vyf jaar lank betrokke wees by die persoon oor wie sy skryf.

Hoeveel mense het hierdie gedrewenheid vir die lewe van Emily Hobhouse gehad?

Ek het ‘n paar van die belangrikstes hier op ‘n ry gesit: Ruth Fry (1929), John Fisher (1977), John Hall (2008), Birgit S Seibold (2011) en Robert Eales (2014). Van die eerste Afrikaanse biografie met die eenvoudige titel Emily Hobhouse wat deur Annette Terblanche geskryf en in 1948 deur Afrikaanse Pers Boekhandel uitgegee is, kon ek nie so gou ‘n voorblad in die hande kry nie. Wel weet ek dat daar ‘n eksemplaar in die onvolprese biblioteek van die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam is en dat dit 383 bladsye dik is.

En dit bring my nou weer by die biografieë van Rykie van Reenen en Elsabé Brits.

In ‘n onderhoud met Naomi Meyer vir LitNet het Brits op die vraag hoekom haar biografie oor Hobhouse nou in 2016 nodig is, geantwoord:

Emily Hobhouse het ‘n boek verdien, in beide Afrikaans en Engels, wat net háár verhaal vertel – nie ander mense s’n of dié van die slagoffers wat sy in twee oorloë – die Anglo-Boereoorlog en die Eerste Wêreldoorlog – bygestaan het nie. Dit is ‘n boek oor ‘n briljante vrou – nie een oor die generaals nie; ‘n boek oor ‘n vrou wat teen haar Victoriaanse opvoeding gegaan het en nie net gedurf het om die status quo van die magtigste ryk op aarde uit te daag nie, maar dit sowaar verander het.

Boonop het Emily deur die jare so ‘n romantiese beeld gekry, en dit is so onregverdig teenoor haar – sy verdien soveel haar intellektuele beeld, nie die tannie-beeld nie. Ek wou haar in ‘n meer gendersensitiewe, eietydse biografie uitbeeld vir die vrou wat sy was, nie die “hysterical spinster” nie.

En dit lei ons natuurlik na Rykie van Reenen se Heldin uit die vreemde, waarna onlangs as ‘n “tienerboek” verwys is. Dit is volkome tereg met die Scheepers-prys bekroon, maar is beslis nie nét ‘n jeugboek nie. Dit is so boeiend geskryf dat ek dit as ‘n biografiese roman ook vir volwassenes beskou.

Hoe dan ook, kan dit met geen moontlikheid as genderonsensitief beskryf word nie; nêrens rys Hobhouse as “tannie”[iii] of histeries uit die bladsye van Heldin uit die vreemde op nie. Sy word duidelik as pasifis geteken wat nie net in die Boereoorlog humanitêre hulp aan vroue en kinders wou bied nie, maar ook in die Eerste Wêreldoorlog, en teen alle oorlog gekant was.[iv]

Van Reenen se boek is gebaseer op ‘n uiters deeglike kennis van Hobhouse se eie geskrifte. Behalwe Heldin uit die vreemde het sy immers ook die formidabele Boer War Letters van Hobhouse in 1984 gepubliseer.[v] Dit is die resultaat van monnikewerk, ‘n enorme stuk navorsing wat aan Van Reenen die Recht Malan-prys besorg het. ‘n Eredoktoraat van die Universiteit Stellenbosch is aan haar toegeken. Albei hierdie boeke is in 1999 herdruk en is in lesersvriendelike uitgawes beskikbaar. Van Reenen verduidelik in die “Editor’s note” spesifiek wat die verband tussen Hobhouse se “little memoir” is wat sy in die vorm van ‘n lang brief aan Tibbie Steyn geskryf het en die tydgenootlike briewe wat sy ook aan Steyn, maar onder andere aan lord en lady Hobhouse en talle vriende en vriendinne geskryf het.

En daarom vra ek my tog af: Is dit Heldin uit die vreemde se skuld dat Brits telkens in onderhoude die afgelope maande praat van die “tannie-beeld” wat Hobhouse sou gehad het en wat sy nou met haar boek wou herstel? Het Van Reenen in Heldin uit die vreemde dan net die beeld geskets van ‘n gemoedelike reddende engel en geen aandag gehad vir haar skerp intellek en skrywerspen, vir haar pasifisme, sosialistiese standpunte en antirassisme nie? Nie vertel hoe daadkragtig en dikwels moeilik sy was nie, hoe “tegendraads”?

Met groot aandag het ek Van Reenen se boek daarom herlees. Sy aan sy met die Boer War Letters. En besluit dat absoluut niemand Rykie van Reenen die skuld kan gee van ‘n negatiewe “tannie-beeld” nie. Hobhouse rys uit Heldin uit die vreemde op as ‘n kragtige en energieke vrou, iemand wat kordaat en prontuit kon praat en optree, presies die soort mens vir wie Van Reenen bewondering sou gehad het: ‘n intellektuele vrou met groot medemenslikheid, ‘n uitstekende waarnemer, spreker en skrywer, ‘n komplekse en dikwels geteisterde persoon. Iemand wat strategies kon dink én optree. Wat sowel filosofies as prakties ingestel was.

Daarom moet dit my van die hart: dit is goed en wel om ‘n nuwe boek so gunstig moontlik te bemark, maar die verskyning van Geliefde verraaier het onnodiglik die indruk gewek dat uiteindelik ‘n boek oor Hobhouse moes verskyn omdat so min voorheen oor haar bekend sou gewees het én om ‘n té gemoedelike beeld van haar te korrigeer. 

Van Reenen se boek dek bykans alle aspekte van Hobhouse se lewe wat ook nou in Brits se boek na vore kom. Ook sý fokus suiwer op Hobhouse, en net soos Brits bied sy die noodsaaklike konteks; gee sy besonderhede oor die verskroeide-aarde-beleid van Kitchener, van die kampe, van Milner se maatreëls – kortom van die wêreld waarin Hobhouse beweeg het. Dit alles word gedoen om Hobhouse se standpunte en optrede te probeer deurgrond, te verstaan waarom haar werk so noodsaaklik, uitsonderlik en belangrik was. Albei biograwe steun in hoofsaak op die korrespondensie van Hobhouse wat self so ’n uitstekende verteller was. Hulle is dikwels veral vertalende hervertellers.

Ná die “Vooraf” (1–8) waarin Van Reenen met die stem van ‘n tydgenootlike waarnemer-joernalis die plegtigheid in Bloemfontein van 27 Oktober 1926 beskryf toe Hobhouse se as weggelê is by die Vrouemonument, begin haar hoofstuk een met Emily se geboorte op die dorpie St Ive. Dis presies waar Brits se chronologies-vertelde verhaal ook begin in háár hoofstuk 1 nadat sy eers in die inleidende “Aanloop” verduidelik het hoe sy hoegenaamd van Emily Hobhouse kennis geneem en spoedig deur haar geobsedeer geraak het. En Brits volg dan in verband met die gebeure op 27 Oktober 1926 presies dieselfde tegniek as Van Reenen. Nie aan die begin nie, maar aan die einde van haar boek, in hoofstuk 22, beskryf sy dié dag ook asof sy daar was as ‘n tydgenootlike joernalis. Sy voeg ‘n laaste hoofstuk, 23, toe: “Liefde in ‘n notaboekie”. In die eerste gedeelte word ‘n tragiese, romantiese beeld van die na liefde hunkerende Emily geskep. Veral aan die einde van haar hoofstuk tien het Van Reenen ook oor ‘n “hartsteleurstelling” gepraat. Brits se slotparagrawe eindig met ‘n bevestiging van die algemene beeld van Suid-Afrikaners oor haar wat reeds deur Van Reenen gevestig is: dié van “hartlikheid en die hoogste agting”. Albei is dit eens dat sy dikwels verguis is in Engeland.

'n Mens sou  ’n volledige skema kon maak van die twee biograwe se keuses van fokus en alle hoofstukke van Van Reenen met dié in Brits se boek vergelyk. 'n Steekproef maak reeds baie duidelik dat daar baie ooreenkomste is, maar dikwels gee een skrywer min aandag aan iets en die ander een weer meer. Van Reenen eindig soms ‘n hoofstuk by ‘n spesifieke insident, terwyl Brits dit alreeds onderdeel maak van ‘n volgende hoofstuk. Albei se keuses is geregverdig en sinvol in die opset van hulle doelstellings. Die belangrike werk wat Hobhouse tydens en ná die Eerste Wêreldoorlog in Duitsland gaan doen het, kry by Brits twee hoofstukke, by Van Reenen slegs enkele paragrawe. Hierin word die feit dat Hobhouse se optrede ‘n poging was om wêreldvrede te bewerkstellig nadruklik vermeld, ook die groot hulp wat Suid-Afrika ná die oorlog aan die oorlogswese van Leipzig verleen het. Brits gee ruimer aandag hieraan – en dit is veral die toegevoegde waarde van haar biografie.

Soos in die geval van baie voorbeelde in die wêreld wat bestaan van meer as een biograaf wat oor dieselfde persoon skryf (daar is in Afrikaans byvoorbeeld meerdere Leipoldt-biografieë) sou 'n skema van verskille en ooreenkomste tussen die Hobhouse-biografieë in besonderhede uitgewerk en bespreek kan word. Dit sal veral baie interessant wees om te vergelyk wátter gebeurtenisse deur wie as scénes uitgelig word en wátter panoramies en oorsigtelik opgesom word, selfs oorgeslaan word. Die biograwe se keuses word uiteraard ten alle tye bepaal deur die beskikbaarheid van materiaal. In die meeste gevalle is dit Hobhouse se eie briewe. Van Reenen en Brits se persoonlike aanleg en belangstellings plus die tyd waarin hulle biografieë geskryf is, sal verder rigtend wees.

Dit is duidelik dat albei die biograwe hulle laat meesleep, maar tog ook nie. In albei se boeke is sekerlik genoeg wetenskaplike afstand om ‘n te intense verbintenis hok te slaan. Albei laat hulle lei deur wat aangeteken is deur Hobhouse, deur tydgenote en die navorsingswerk wat reeds gedoen is deur historici en ander biograwe.

Rykie van Reenen se Heldin uit die vreemde is, soos reeds gesê, dun, en dit lees, soos die Hollanders sal sê, soos ‘n trein. En nié omdat dit ‘n sogenaamde jeugboek is en dús maklik nie, maar veral omdat die waarnemings en taalgebruik so oorrompelend helder, beeldend en oortuigend is. Van Reenen was ‘n uitstekende stilis, het “less is more” as ‘n lyfspreuk gehad, was wars van plegstatigheid, het ‘n besondere vertroulikheid met lesers tot stand gebring. Volkome tereg is sy deur mense soos Martie Meiring, Ton Vosloo en Annie Schumann bewonder vir haar bondigheid. Volgens Kerneels Breytenbach was daar in die tyd toe hy ‘n jong joernalis was, “net een tipe Sondagleesstof: Ryk, Ryker, Rykie!”

Die uitgewer Danie Van Niekerk beskryf haar as ‘n legende in die Afrikaanse skryfwêreld. Hy motiveer dit so:

Omdat sy die mens was wat sy was – getrou aan haarself, iemand met mededoë met haar medemens, maar ‘n afkeer aan opgeblasenheid. Omdat sy ‘n oorspronklike, indringende benadering tot elke onderwerp gehad het en omdat sy die vermoë had om daardie benadering so vars in woorde te stel dat dit lesers oorrompel het.[vi]

Hierdie varsheid en bondigheid is deels ‘n rede waarom Van Reenen se Heldin uit die vreemde nie dik hoef te wees nie – die seleksie wat sy gemaak het uit die enorme klomp ervarings van Hobhouse tydens die Boereoorlog is meer as genoeg om ‘n gedetailleerde beeld van die vrou, haar belewings en standpunte in lesers se gemoed te vestig.

Van Reenen se seleksie is strenger as Brits s’n; bowendien is haar fokus veral die Boereoorlog-tyd. Sy som meer dikwels op en slaan gedeeltes uit Hobhouse se lewe doelbewus oor, maar telkens kies sy uitstekende tonele om in besonderhede te beskryf. Dit is dan ook geen wonder dat Elsabé Brits juis so goed onthou het hoe boeiend Van Reenen die praktiese Emily Hobhouse se ploegskema en ander hulpprojekte ná die oorlog beskryf het nie.[vii]

Danksy streng redaksiewerk is Brits se boek óók bondig. Brits skryf iewers dat sy tot drie keer die boek herskryf het en duisende woorde moes skrap. Alhoewel die boek meer as 300 bladsye dik is, is dit tipografies so ryk bedeel met foto’s en groot stukke uitvergrote teks dat die getal woorde, 95 000, miskien nie veel meer as dubbeld soveel teks bevat as Van Reenen se dun boekie nie. [viii]

Opsommend sou ek wou sê dat Van Reenen se werk ‘n biografiese boek deur ‘n ondersoeksjoernalis is wat ook historiese-roman-skrywer word, terwyl Elsabé Brits s’n meer ‘n klassieke biografie is wat goed nagevors is en wat ook joernalistieke trekke het. Brits het toegang tot ongeveer veertig jaar ekstra se insigte van historici. Bowendien is dit ‘n boek wat gemik is op ‘n hedendaagse visueel-ingestelde leser wie se onrustige aandag op allerlei maniere gegryp moet word.

Soos gesê, albei biograwe maak sterk gebruik van Hobhouse se briewe. Hobhouse was immers ‘n uitstekende waarnemer en skrywer. Sover ek kon agterkom, staan die meeste briewe wat Brits soms afsonderlik in haar bibliografie vermeld, ook reeds in die Boer War Letters wat deur Van Reenen versamel, geredigeer en ingelei is.

Albei biograwe maak ook gebruik van Hobhouse se ongepubliseerde outobiografie wat tydens die laaste jare van haar lewe in die vorm van ‘n lang brief aan haar geliefde vriendin Tibbie Steyn geskryf is. Hierdie sogenaamde "little memoir" is grootliks op haar eie briewe gebaseer. Daar bestaan, soos wat Van Reenen vermeld in die eerste en enkele ander paragrawe van haar "Editor’s note" by Boer War Letters, en ook deur Brits in haar eerste eindnoot, twee sogenaamd oorspronklike kopieë daarvan. Beide is deur Hobhouse met die hand geskryf en/of deur haar getik toe sy later jare ‘n tikmasjien gekry het. Dit is vanaf 1922 tot kort voor haar dood in 1926 geskryf.

Die een kopie het Hobhouse aan adv Gladys Steyn, dogter van Tibbie Steyn, bemaak met die opdrag dat dit uitgegee moet word, saam met 500 pond vir hierdie doel. Aan Oliver Hobhouse, haar broer Leonard se seun, is die ander kopie bemaak en ook hy het 500 pond vir dieselfde doel ontvang. Steyn het haar kopie aan die Vrystaatse Argiefbewaarplek geskenk, waar dit reeds dekades lank beskikbaar en toeganklik vir navorsers in Suid-Afrika is. Die ander kopie was baie jare in besit van Oliver Hobhouse. Hy het dit aan sy dogter nagelaat, Jennifer Hobhouse Balme. Onlangs het sy dit en al die ander dokumente van haar groottante aan die Bodleian-biblioteek in Oxford, Engeland geskenk.[ix]

Dit is na Oliver se kopie van die outobiografie dat Brits in haar “Aanloop” verwys. Sy het dit by Jennifer Hobhouse Balme te siene gekry toe sy haar in 2014 in Kanada gaan besoek het. Ook het Balme die drie plakboeke, ou foto’s, briewe en klein dagboeke wat sy toe nog in haar besit gehad het, aan haar gewys. Dit word in die aanloop beskryf as ‘n “wonderlike vonds” en in talle onderhoude is die indruk gewek dat nuwe dokumente gevind is wat niemand nog ooit sou gesien het of van gebruik sou gemaak het nie.

“Hier is Emily … in dié dagboeke en plakboeke. ‘n Ongekende intieme blik op die ware Emily,” skryf Brits op bl 10. Sy is veral so opgewonde omdat sy “nog nêrens van die bestaan daarvan gelees of gehoor” het nie en hoop om aan die hand daarvan die “ware Emily” te kan vind.

Was dit dan nêrens anders bekend nie?

In Brits se Aanloop-inleiding, op bl 9, is ‘n kort verwysing tussen aandagstrepe na twee boeke wat Jennifer Hobhouse Balme self oor haar groottante geskryf het. Eers by die tweede deurlees van die aanloop het ek gewonder waarom Hobhouse Balme dan nie self van hierdie vondste in die dose en trommel gebruik gemaak het toe sý haar boeke geskryf het nie. Dat sy dit wél gedoen het, is baie duidelik wanneer jy die voorwoorde tot haar eie boeke raadpleeg en na lesings op die internet gaan kyk wat sy oor haar werk gehou het. In een wat sy nog in 2015 gehou het, word haar werkwyse uitvoerig beskryf.[x] Paul Murray verwys in sy resensie van Beloved traitor na al drie Hobhouse Balme se boeke: hy is duidelik bekend daarmee.[xi] To love one’s enemies (1994 en 2012), die eerste boek van Jennifer Hobhouse, is ongeveer 700 bladsye dik, die ander twee net minder as 200 bladsye elk: Agent of peace (2015) en Living the love (2017).

Alhoewel dit in Brits se aanloop en in onderhoude nie goed blyk nie, maak sy dit in haar dankwoord, eindnote en bibliografie duidelik dat sy nie spesifiek die dokumente uit die trommel en dose gebruik het nie, maar uiteindelik veral via Hobhouse Balme se gepubliseerde werk by die “ware Emily” probeer uitkom het. En so moet dit ook wees. Jy hoef nie vir alles self die wiel uit te vind nie. As navorser het jy voorgangers op wie se werk jy kan voortbou en vir wie duidelik en helder krediet gegee moet word. As jong navorser is jy in die besonder bevoorregte posisie dat jy van voorgangers se werk gebruik kan maak om met die kennis van jóú tyd dan weer met nuwe vrae na die Hobhouse-argief te kan gaan kyk.

Dis byvoorbeeld veral danksy die groot hedendaagse aandag vir slawerny en kennis oor hoe die adellike klasse en Hobhouse se eie voorgeslagte daardeur in Brittanje verryk is, dat Brits haar eerste hoofstuk die titel “Van slaweskip tot vryheidsvlug” kon gee. Sy vermeld dat Emily van dié geskiedenis sou geweet het, maar ‘n verband word nie eksplisiet gelê met háár gevoelens van vasgekeerdheid en “marteling” nie.

Ek wil nog iets sê oor die sogenaamde “tannie”-imago wat Emily Hobhouse tot nou sou gehad het. Meer dikwels is dit jou eie gebrek aan kennis en vooringenomendheid wat jou negatiewe beeld van iets of iemand bepaal. Jou eie onkunde oor iemand of ‘n tydvak beteken nog nie dat alle wetenskaplikes en skrywers wat voor jou gewerk het, daardie beeld nadruklik aan die skep was nie.

Ek het self op ‘n stadium van die héle Boereoorlog ‘n oom-en-tannie-beeld gehad, eintlik ‘n oupa-en-ouma-beeld. Alles daarvan het immers met my grootouers te make gehad, ook met my pa se generasie, wat so ontroerd kon raak oor Jan FE Celliers se gedig “Dis al”, wat uit persoonlike herinnering kon vertel oor ma’s wat in die konsentrasiekamp was.

As jongmens het ek my nogal gedistansieer van die oorlog, totdat ek op ‘n dag baie toevallig in die Zuid-Afrikahuis ‘n boek op die rak gesien het met die titel Tant Alie van Transvaal – deur Alie Badenhorst. Dat ‘n boek so ‘n naam kon hê was vir my nogal snaaks. Ja, spesifiek die Tant Alie in die titel het my geïntrigeer. En dit was nou juis dié boek wat my belangstelling in die Boereoorlog gewek het en wat tot talle artikels en ‘n paar boekpublikasies gelei het, laasjaar nog tot die uitgee van die jong Anna Barry se Boereoorlogdagboek Ons Japie.

Alida M Badenhorst se dagboek is uit die oorspronklike Nederlands in Afrikaans oorgesit deur MER en in 1929 uitgegee. Einste tant Alie se dagboek het al in 1923 in Engeland verskyn – in ‘n vertaling deur Emily Hobhouse. Soos talle ander tydvakke in die Suid-Afrikaanse geskiedenis boei die Boereoorlog voortdurend – ás jy natuurlik oopstaan vir die web van verhale daaroor en self gaan snuffel, soos wat Brits nou gaan doen het.

Nog enkele punte

Albei skrywers praat van Hobhouse as Emily. Brits doen dit al vanaf reël 4 in haar boek en daarna so goed as enduit. Ook Van Reenen doen dit bykans deurentyd. Hoe jy jou protagonis noem, is een van die metodologiese probleme waarvoor biograwe te staan kom. Tydens ‘n kongres “Rewriting Biography” wat in September 2016 in Groningen gehou is, het die literatuurwetenskaplike Elisabeth Leijnse hierdie interessante aspek aangeraak. Uit ondersoek blyk dit dat biograwe na mans ná hulle 15de lewensjaar byna altyd slegs met hulle vanne verwys. Na vroue, daarenteen, word byna altyd slegs met voorname verwys. Of hulle nou oud of jonk is. Volgens Leijnse sê dit steeds iets oor die posisie van vroue in die samelewing en hoe daar na hulle gekyk word. Sy het self hierdie probleem in haar eie dubbelbiografie van twee adellike vroue opgelos deur alle persone in haar lywige boek met hulle voorname te benoem, vroue én mans, hoof- én byfigure.

Ten slotte wil ek nou terugkom op die besondere Hobhouse-biograaf wat danksy Brits se boek onder my aandag gekom het, maar wat in die hype rondom die boek te min krediet kry. ‘n Google-ondersoek het naamlik baie gou allerhande boeiende feite oor Jennifer Hobhouse Balme aan die lig gebring.

Terwyl Brits in 2014 na die ander kant van die wêreld gereis het om Hobhouse Balme, die kleindogter van Emily Hobhouse se geliefde broer Leonard, te ontmoet, sou sy haar ook drie jaar vroeër in Suid-Afrika kon ontmoet het – dis nou as sy toe reeds in Hobhouse belang gestel het.

In Januarie 2011 naamlik het die dokumentêre-film-makers Jan Groenewald en Pieter de Vos van Johannesburg Jennifer Hobhouse Balme na Suid-Afrika laat kom om saam met hulle op Emily Hobhouse se voetspore te reis. Sy het Suid-Afrika toe reeds talle kere eerder saam met haar man besoek en het ‘n passie vir alles wat met Emily Hobhouse te make het. De Vos, Groenewald en Jennifer Hobhouse Balme is vir die film wat hulle gemaak het, saam na Bloemfontein, Springfontein, Norvalspont, Kimberley en Mafikeng – die roete wat Emily meer as ‘n eeu vantevore vrou-alleen en onder uiters swaar omstandighede per trein aangepak het om toestande in die kampe te ondersoek.

Hier is twee foto’s wat ses jaar gelede tydens die verfilming op Philippolis geneem is.

Foxwood Television se dokumentêre film is in Maart 2012 gebeeldsend as een van die eerste in die reeks Formidabele vroue wat in opdrag van Marida Swanepoel gemaak is. Dit is in 2013 vir ‘n ATKV-Mediaveertjie benoem en in 2014 word die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se eerste Deleen Bekker-prys vir die beste dokumentêre televisiedraaiboek aan De Vos en Groenewald toegeken. Trouens, ook Herman Binge het vir sy film oor Hobhouse ‘n erepenning van die Akademie ontvang.

Nog iets

Vir albei Afrikaanse biograwe van Hobhouse moes dit meer as interessant gewees het om in die korrespondensie tussen Hobhouse en Tibbie Steyn hulle sogenaamde “weekly confession”-briewe uit 1921 aan te tref waarin die lesbiese verhouding tussen Tibbie Steyn se dogter Gladys met Petronella van Heerden bespreek is. Soos u weet, was Van Heerden die eerste Afrikaanse vrou wat ‘n dokter en mediese spesialis geword het. Dit blyk dat Hobhouse nie net oor ander volke, swart mense en oorlogslagoffers ruimdenkend was nie, maar ook oor die liefde tussen vroue. Sy skryf in 1921 aan haar ou vriendin:

I understand now, also from what you say, that you feel regretful over Gladys’ attachment to Nell v Heerden. It always appeared to me very strange & somewhat unusual in S African life. But you know in Europe it is an everyday matter this coupling up of young women who have struck out for themselves & do not marry. They find thus the companionship they need. [.. ] Thus they secure nearly (not quite) the best of both types of life – having complete independence coupled with companionship which prevents the sinking into the old time “Old-maidenism”.[xii]

Ek wonder trouens of die samevoeging van Tibbie Steyn en Emily Hobhouse se name, asook die volksmoeder-etiket wat dekades lank op Tibbie Steyn geplak is en wat onophoudelik gefungeer het as “an open sesame … which unlocked the hearts [and] purses” vir watter doel ook al, miskien bygedra het tot die “tannie-beeld” waarvan Brits praat. Dalk het baie Afrikaners so ‘n beeld via Tibbie Steyn na Emily verplaas? Wel moet vermeld word dat van Tibbie Steyn altyd met groot respek gepraat is. Sy was beslis nie ‘n tannie na wie familiêr verwys is nie. As daar nou twee ladylike vroue in die Suid-Afrikaanse geskiedenis was, is dit dié twee. Geen wonder nie dat Hobhouse se briewe aan haar hartsvriendin áltyd gerig was aan “Dear Mrs Steyn”. Dis ook waarom die statige en fier Wilna Snyman so uitgeknip was vir die rol van Hobhouse.

Slot

In haar But enough about me: Why we read other people’s lives (2002) skryf Nancy K Miller veral oor outobiografieë en die “memoir boom” of herinneringskultuur. Van wat sy sê, sou ek in verband met die biografie as genre die volgende wou oorneem: dat lesers van biografieë probeer om ‘n balans te vind tussen die openbare of publieke lewe van iemand anders en hulle eie persoonlike lewens. Deur jou te verdiep in die keuses wat veral uitsonderlike én ook soms doodgewone mense maak ten opsigte van daardie groter wêreld, probeer jy die poreuse grense verstaan tussen ‘n persoonlike lewe, jou eie inkluis, en die wêreld waarin ons almal beweeg.

Die naam Emily Hobhouse roep baie assosiasies op. Dié van versmoring: sy kan so maklik gesmoor word in nasionalistiese verhale. Van preservering: danksy ‘n rykgevulde argief, dokumente wat sy self nagelaat het en dít wat ander oor haar geskryf het, het sy die aanslae van die tyd oorleef. Van verpakking: Emily is ‘n travelling concept – met haar kan jy alle kante op. Van bewaring: soos ‘n argiefdoos is sy met toue toegeknoop in afwagting van telkens weer ‘n volgende ondersoeker wat die verleiding nie kan weerstaan om dit wat aan haar eie blik onttrek was, weer op te diep nie. Telkens weer word kunstenaars en skrywers in ‘n nuwe era uitgedaag tot eie verbeeldingryke interpretasies.[xiii]

Die Suid-Afrikaanse geskiedenis het ‘n paar vroue opgelewer oor wie niefiksie- en fiksieskrywers en -kunstenaars nooit uitgepraat en geskryf raak nie. Soms is ‘n onderwerp net eenvoudig in die lug. So 20 jaar gelede was dit veral Eva-Krotoa, ‘n dekade later veral Sara Baartman. Eintlik is onderwerpe soos hierdie besondere vroue se lewens nooit heeltemal “weg” nie. Tye verander, telkens is daar nuwe skrywers en kunstenaars wat dieselfde vrou oor wie al dekades of selfs eeue geskryf is, weer voor die voetlig bring. En so hoort dit ook.

Oor veral Eva-Krotoa, maar ook van Sara Baartman, bestaan relatief min geskrewe tydgenootlike getuienis, maar ‘n ryk eggoput aan verbeeldingryke interpretasies het tydens die afgelope jare van hulle lewens tot stand gekom. Ook mense soos lady Anne Barnard en Susanna Smit wat self baie geskryf het, inspireer telkens nuwe interpretasies.

Emily Hobhouse hoort by hierdie reeks vroue wat self baie geskryf het. Die strewe om die ware Hobhouse te vind is myns insiens onmoontlik, trouens onnodig. Die “ware Emily” bestaan nie. Hoe komplekser iemand was en die keuses wat sy moes maak en hoe ingewikkelder haar konteks was, hoe meer verskuif ons beeld van haar en daardie verlede in die lig van die steeds verskuiwende hede. Daarom is dit vir navorsers so belangrik om kaleidoskopies te lees, om kennis te neem van soveel moontlik van die verhale wat reeds bestaan. Om eie geskrifte te lees, en om dan weer vanuit ‘n later perspektief nuwe toevoegings en interpretasies te maak tot ‘n reeds omvangryke eggoput van verhale.

In ‘n wêreld waarin miljoene mense ontheemd is en geteister deur oorlogsgeweld, waar vreemdelingehaat botvier, neokolonialisme en populistiese nasionalisme steeds veld wen, is aktivistiese mense van die kaliber van Emily Hobhouse hard nodig – vroue wat hulle uitspreek en wat werk teen onreg. Mense soos Thulisile Madonsela, Myrtle Witbooi, Malala en Michelle Obama, om ‘n paar te noem. Almal op hulle eie manier ‘n Emily Hobhouse in die hede. Tereg het Jean Meiring onlangs geskryf: “Hobhouse se stem is so dringend soos ‘n eeu gelede.”

Die belang van Brits se biografie oor Hobhouse kan sekerlik gesien word in die perspektief van Maeterlinck wat Emily Hobhouse in 1926 aanhaal in haar ongepubliseerde outobiografie gerig aan Tibbie Steyn en wat Rykie van Reenen dan weer in 1984 aanhaal in die inleiding tot die Boer War Letters: “The dead live everytime we remember them.”

‘n Britse negentienjarige vrou met die naam Emily Hobhouse wat opvallend baie soos “that Miss Hobhouse” lyk, was in Mei 2016 in Suid-Afrika en het sterk onder die indruk van haar groot-groottante se verhaal gekom, onder meer danksy haar besoek aan die Oorlogsmuseum en die Vrouemonument. Sóós Rykie van Reenen en Elsabé Brits voor haar. Hobhouse se verhaal sal wéér en weer vertel word, ‘n volgende keer miskien selfs deur so ‘n jong familiegenoot wat moontlik die beeld van verguising wat dalk steeds nog in Brittanje oorheers, ondanks Jennifer Hobhouse Balme en ander Engelse biograwe se boeke, met nóg ‘n biografiese ingreep kan probeer hersien.

 

Eindnotas

[i] JM Coetzee gebruik die uitdrukking “echo chamber of discourse” in sy boek White Writing. On the Culture of Letters in South Africa (1988).

[ii] Armada, tijdschrift voor wereldliteratuur, 17(62), Maart 2011. Los inlegvel in posterformaat.

[iii] Die aanspreekvorm en benaming tannie is belade. Vir party mense is dit ‘n erenaam waarmee respek en agting uitgedruk word. Vir ander is die woord denigrerend, veronderstel dit ‘n veels te gemoedelike familiariteit. Omdat sy die beeld van Hobhouse wil regstel, gaan Brits kennelik daarvan uit dat laasgenoemde negatiewe beeld aan Hobhouse kleef. In my eie waarneming, en uitgaande van bestaande uitbeeldings of “representasies” in skrif en visuele beeld (soos ander biografieë – ek dink veral aan dié van Van Reenen) is die oorheersende “imago” of beeld van Hobhouse wel dié van ‘n vrou wat gerespekteer en geag word.

[iv] Op bl 4 van Heldin uit die vreemde beskryf Van Reenen vir Hobhouse as “hierdie Engelse vrou wie se lewe een groot protes teen alle oorlog en onreg was”. Op die tweede laaste bladsy van die boek word Hobhouse se laaste geskrewe woorde aangehaal: “Ek wil hê die hele Engeland moet dit aanneem dat my dade na my innerlikste oortuiging patrioties was in die volste sin … ‘n sterk en helder stem is nodig om deur die omhulsel te breek waarmee die waarheid van 1899 af vir ons volk bedek is …” (110).

[v] Human & Rousseau het Emily Hobhouse. Boer War Letters (geredigeer deur Rykie van Reenen, 1984 en 1999; 557 ble) as ‘n akademiese, wetenskaplik-verantwoorde geannoteerde boek uitgegee. Dit bevat ‘n helder voorwoord, ‘n uitgebreide afdeling met eindnotas en ‘n indeks. Met hierdie boekstawing van Hobhouse se eie geskrifte wou Van Reenen in 1984 reeds, volgens die omslagteks, voorkom dat ‘n clichébeeld en mitevorming van Hobhouse ontstaan.

[vi] Inligting ontleen aan Lizette Rabe, biograaf van Rykie van Reenen, se artikel “Vryheid van die Afrikaanse spraak: Ryk, Ryker, Rykie” (2009): http://scholar.sun.ac.za/handle/10019.1/97482.

[vii] Die ploegprojek wat Hobhouse onderneem het, word inderdaad uiters entoesiasties en beeldend deur Van Reenen beskryf. Geen wonder nie; sy was immers die enigste dogter van ‘n Swartlandse boer en het ná haar pa se dood self jare lank op die familieplaas Waterkloof in die distrik Darling gaan boer. In Heldin uit die vreemde (bl 83) skryf Van Reenen: “Dis ‘n plan wat die verbeelding dwars oor die land aangryp. ‘n Bolandse vrou, mev Haumann van Draaihoogte, stuur glad self ‘n span osse Onderveld toe. […] En Emily is verstandig. Oral werk sy in oorleg met die predikante en hul kerkrade wat vir ‘n groot deel uit boere bestaan en die landsomstandighede soos hul eie hand ken. […] Hoe geniet Emily dit nie! Hoe lewe sy nie in hierdie praktiese organisasiewerk nie! Saam met die boere kyk sy na die wolke wat opsteek: reën? Gaan dit nie reën nie? ‘I have the ploughing of the Transvaal on my mind,’ skryf die Cornwalliese pastoriedogter aan lady Hobhouse, haar Aunt Mary. Jare later sal ‘Miss Hobhouse’ se ploegspanne nog in die Vrystaat en Transvaal ploeg – hulle het ‘n instelling en ‘n legende geword.”

[viii] Van Reenen se boek is ontereg as “slegs” ‘n jeugboek bemark. Heldin uit die vreemde is vir ‘n volwasse leser uiters boeiend. Dis sowel in die oorspronklike eerste uitgawe as die tweede sober uitgegee: 110 bladsye deurlopende teks geset in 11 pt-Baskerville Intertype. Lesers kry die ruimte en tipografiese rus om gefokus en aandagtig te bly lees, enduit hulle verbeelding te gebruik en te konsentreer. As illustrasiemateriaal is daar ‘n 8- bladsy swart-wit katern waarop 12 foto’s afgedruk is. In vergelyking hiermee is Elsabé Brits se boek 352 bladsye dik. Ek sal wel verras wees as blyk dat haar volledige teks veel meer as die dubbele van 110 bladsye 11 pt-drukwerk sou oplewer. Lesers word nogal oorweldig, altans ek, deur ‘n menigte lettertipes, ook baie kleur: van gekleurde ink tot gestileerde seemeeue en uitvergrote details uit waterverftekeninge van Hobhouse. Smaak verskil uiteraard. Paul Murray beskryf dit as ‘n psigedeliese boek, maar wel aantreklik. Op haar blog skryf Joan Hambidge: “Die uitleg van die boek is vir hierdie leser ongelukkig te ‘besig’.” Foto’s word dwarsdeur die boek groot en klein afgedruk, soms nog ‘n keer uitvergroot as agtergrond van teksgedeeltes, soms herhaal, byvoorbeeld in geval lesers teen bl 79 sou vergeet het hoe sir Alfred Milner lyk van wie die identiese foto reeds op bl 53 afgedruk is. Op bl 145, wat oor die ploegspanne gaan, word ‘n illustrasie uit ‘n 17de- of 18de-eeuse reisverslag van miskien Peter Kolb afgedruk – iets wat vreemd aandoen vir ‘n situasie uit die vroeë 20ste eeu. Die deurlopende skreeflettertipe is rustig, maar nogal klein, moontlik 10 punts (wat presies, word nie in die kolofon vermeld nie), maar dan word dit met alle moontlike ander lettertipes tot so groot as miskien 26 punts deurspek, afgewissel met kleurpanele, honderde foto’s, blokke baie groot gedrukte stukke teks wat herhaal wat jy so pas pal langsaan aan die lees was. Drie outobiografiese teksgedeeltes waarin Elsabé Brits oor haar soektog in die buiteland skryf, word in ‘n skreeflose letter afgedruk. Die inleiding tot die boek, “Aanloop” (8–10), handel veral oor Brits se reis na Kanada en haar ontmoeting met Jennifer Hobhouse Balme. Kort hierna is daar ‘n beskrywing van Brits se reis na die St Ive in die suidweste van Engeland waar Hobhouse grootgeword en jare lank by haar siek predikantevader in die pastorie moes bly woon het (22–6). Oor die kerk skryf Brits: “Ek verbeel my Emily is ook hier, en sluit my oë om 125 jaar terug te reis en my in te dink in Emily se posisie” (23). Op bl 174 is ‘n kort paragraaf waarin Brits inligting gee oor die pakkie briewe wat verband hou met Hobhouse se tante Mary se dood – dit is van die dokumente wat Jennifer Hobhouse Balme Brits laat sien het tydens haar besoek aan haar in 2014. Die derde outobiografiese fragment is op bl 192: enkele paragrawe oor ‘n besoek wat Brits in Maart 2015 bring aan ‘n familie-argief in Somerset, Engeland. Sy ontdek daar ‘n pragtige foto van Hobhouse met haar hond Caro by haar huis in Bellevue, Johannesburg. Oor besoeke aan Johannesburg, aan die plattelandse dorpe waar Hobhouse spin- en weefskole begin het of aan die terreine waarop die konsentrasiekampe was, skryf sy nie.

[ix] Sien Jennifer Hobhouse Balme se webwerf http://www.emilyhobhouse.ca.

[x] Sien byvoorbeeld http://aboriginalneighbours.org/emily-hobhouse-presented-jennifer-hobhouse-balme-aboriginal-neighbour-speaker-series.

[xi] Sien http://www.litnet.co.za/book-review-emily-hobhouse-beloved-traitor-by-elsabe-brits.

[xii] 1921, aangehaal deur Elbie Truter in Tibbie, Rachel Isabella Steyn 1865–1955. Haar lewe was haar boodskap (1997:170).

[xiii] Hierdie beskrywing het ek ook in verband met Eva-Krotoa gebruik. Sien my orasie aan die Universiteit van Amsterdam (2003): https://pure.uva.nl/ws/files/2039005/33790_oratie_jansen.pdf.

 

  • 2

Kommentaar

  • Annelize van der Ryst

    Dankie vir die publikasie van hierdie briljante samevattende oorsig deur Ena Jansen van al die huidig beskikbare geskrewe en visuele uitbeeldings van Emily Hobhouse se lewe. Mag ek byvoeg, vir wat dit werd is, dat dit my voorreg was destyds om vir Rykie van Reenen te vertel van wyle Laura Rautenbach se borsbeeld van Emily. Rykie wou summier 'n kopie daarvan hê. Sy het die beeld uitgestal in haar huis in Westdene met 'n strooihoed op die kop. Rykie se sin vir humor was maar altyd sonder fieterjasies.

    • Baie dankie vir jou kommentaar, Annelize. En wat is dit interessant om nou te hoor dat dit jy was wat vir Rykie bekendgestel het aan die borsbeeld, én om te hoor dat Rykie vir Emily met 'n strooihoed uitgedos het!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top