Elegie vir ’n sterfling

  • 0

Elegie vir ’n sterfling
(Yukio Mishima 1925–1970)

Stomme Yukio van die jonge masker,
Slinkse Mishima die selfdoodmasjien,
Bedryf ’n eg Japannese plot.

Waardig is die droom,
maar waardig die dood?
’n Einde wanordelik, glibberig, bloederig,
Pynlik in die skoot.
Die swaard:
Goeie letterkunde.
Slegte filosofie.

Roep die literatuur,
is die oproep fel:
Herberg van die ambisie,
Vriend vir die ontheemde,
Listigste mistasting.

Genoeg gerou en gepeins! Nou
Uit die smart wat ewig is soos see
Reik na lofprysing en bewondering!
Gedenk die prosa van ’n klein, skraal reus.
Verleidelik, die doodsbesef wat vlugtig
Soos kersiebloeisels lees.

Hoe hunker jong dissipels nie,
Jy met jou Japannese plot,
Die tweespalt en rou, die lot waaroor jy, skrywer, skreeu.
Jy van wie se staal die son af kaats,
Met jou heul samoerai-fantome.
Jare reeds was jy
Fotograaf se trotse prooi:

Jou feitlik naakte lyf
Smeulend in die sneeu.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top