Ekokritiek en die nuwe materialisme: ’n Ondersoek na die nuwe materialisme in enkele gedigte van Johann Lodewyk Marais uit die bundel In die bloute (2012)

  • 1

Opsomming

Internasionaal word daar interdissiplinêr opnuut klem gelê op materialiteit en materialisme, algemeen beskryf as die nuwe materialisme en objekgeoriënteerde ontologie/OO. Tereg praat Serenella Iovino van ’n ontploffing in navorsing oor hierdie onderwerp (Iovino 2012a:134) en teoretici beskryf die oplewing as “the material turn” (Iovino 2012b:3; Alaimo 2010:7). Hierdie materiële draai word gesien as reaksie op die abstrakte tekstuele teorieë van onder andere Jacques Derrida, Julia Kristeva en Michel Foucault wat die afgelope aantal dekades die botoon gevoer het. Dat die nuwe materialisme ’n uitwerking op die ekokritiek en ekopoësie sou hê, was onafwendbaar. Die skeiding tussen teorie en materie word lank reeds deur die ekokritici bevraagteken, veral teen die agtergrond van die inherent samehangende en interaktiewe aard van ekokritiek. Ekokritici bepleit ’n herevaluasie van materie en materialiteit; hulle vra dat die skeiding tussen materie en teorie, tussen objek en subjek, tussen natuur en kultuur en tussen lewende en nielewende opnuut aandag verdien. Sulke ondersoeke lei tot nuwe perspektiewe wat veral lig werp op die aard van materie, inter- en intra-aksie met materialiteit en die wyse waarop materie narratologies optree. Daar word ook ondersoek ingestel na hiperobjekte en die invloed daarvan, nie net op die mens en sy onmiddellike omgewing nie, maar op die voortbestaan van die planeet. ’n Ekologiese ondersoek na materie en materialiteit brei ons konsepte van plek, ruimte, tyd en materie sodanig uit dat dit ons dwing om nuwe wyses te vind waarop ons met alle objekte kan saambestaan. Ekokrities en ekopoëties lei die ondersoek ons na die teks en die wyse waarop materialiteit daarin neerslag vind. In hierdie artikel word daar nagegaan wat die teoretiese agtergrond van die nuwe materialisme en objekgeoriënteerde ontologie is en hoe aspekte daarvan as ekokritiese leesstrategieë aangewend kan word. Hierdie leesstrategieë word toegepas op geselekteerde gedigte van Johann Lodewyk Marais uit sy bundel In die bloute (2012).

Trefwoorde: nuwe materialisme; objekgeoriënteerde ontologie; verhaalde materie; verhalende materie; materiële verbeelding; materialisasie; Jacques Derrida; ekokritiek; ekopoësie; hiperobjekte; vreemde vreemdeling; terravorming; alterverhaal


Abstract

Ecocriticism and the new materialism. An investigation of new materialism in selected poems from the volume In die bloute (2012) by Johann Lodewyk Marais

In the past three years great emphasis has been placed internationally on materialism and materiality, generally described as the new materialism or object-oriented ontology (OOO). What Serenella Iovino (2012a:134) describes as an “explosion” of research across a wide spectrum of disciplines on materialism has inevitably also had a resounding influence on ecocriticsm. Theorists talk about the material turn (Iovino 2012b:3; Alaimo 2010:7), which is seen as a reaction against the abstract textual theories of, among others, Jacques Derrida, Julia Kristeva and Michel Foucault which have led the theoretical way during the last two decades.

The academic world has been focusing largely on language and on its power to constitute reality, our social world and the structures that we as humans inhabit. Language defines our world by providing us with the concepts for these structures, whereby our understanding of our world has increasingly become a purely theoretical and linguistic construction. As Susan Hekman (2010:1) states: “We humans, in short, are the creators of all we survey.” But linguistic and theoretic constitution does not account for the physical reality and materiality of life and events around us; textual, theoretical and linguistic constructions of the postmodern turn are inadequate to answer all the questions. The division between the linguistic construction of something and the physical thing itself, and the exclusion of reality, need to be readdressed. It requires a new way of looking at the interconnection between language and reality, bringing back materiality.

The article draws on the work of researchers such as Serenello Iovino, Susan Hekman and specifically Timothy Morton and introduces a materialistic or matter-centred approach in the analysis of poetry. The new materialism and object-oriented ontology as theoretical frameworks lead to the rethinking of materiality: that which our bodies and the natural world around us are being made of. Object-oriented ontology and the new materialism are forms of realism that asserts, in the words of Timothy Morton (2011b:165), “that real things exist”. It does not see nature as a passive social construct, but rather as a mediating force effecting interaction with and change of other elements, including man. Matter is the substance of all things and of all material formations: human and nonhuman bodies, living and nonliving things are the emergences of which the existence and meaning are related to the discursive dimension.

Researchers in the field of the new materialism argue that the new materialism leads to new perspectives which highlight aspects such as the nature of matter, inter- and intra-action with materiality and the way in which matter acts narratively. The investigation of the narrative nature of matter introduces elements such as the reversal of roles between man and matter, the decentralising of humankind, and eventually drawing on a material imagination. Matter is seen not as little bits of nature, but as a vital and dynamic inter- and intra-active whole; not as a solid substance, but as a substance interactively in progress, ever moving, ever evolving. It requires interaction between human and nonhuman; it requires us to see human qualities in the non-human and vice versa, human agency having some “echoes in nonhuman nature”, as Jane Bennett (2010:XVI) puts it. In this way the voice of nature is being heard, the story is being told. Material exchange happens in the phase when intra-action between human and nonhuman substance takes place – physical attributes and elements undergo change and are transposed, which often lead to the reversal of human and non-human roles.

The study of object-oriented ontology also leads the researcher to an investigation into hyperobjects and their influence, not only on man and his immediate surroundings, but also on the future existence of the planet. An ecological investigation of matter and materiality expands our concepts of place, space, time and matter in such a way that it forces us to find new ways to co-exist with all objects around us, and to look the future in the eye.

Morton’s (2011b:165) concepts of the strange stranger and the withdrawal of objects are central to object-oriented ontology. Morton describes the strange stranger as an “uncanny, radically unpredictable quality of life-form” which recedes into strangeness the more we think about it. The strange stranger can be an animal or matter, something which we as humans cannot figure out, something lying beyond our grasp. It has to do with the concept of thinking about ecology as having no centre and no edge, as permitting no distance, having no definite inside or outside. What is within and what is without, and even what is human and what is animal, become paradoxes.

Using object-oriented ontology and the new materialism as lenses through which to look at literary texts opens up new insight into the relationship between man and matter and between man and his place in the environment. It brings about a new way of reading texts in how the literal space and physical matter are encoded in texts and how the words are physically introduced on to the page and the margins of the page – therefore also including the physical environment and place of the reader.

The article investigates the theoretical background of the new materialism and object-oriented ontology and how aspects of it can be utilised as ecocritical reading strategies. These reading strategies are applied to selected poems by Johann Lodewyk Marais from his poetry volume, In die bloute [In the blue] (2012). The new materialism and object-oriented focus are not only about the object, but includes man as the acting, living, experiencing object. We need to deal with a whole new worldview and the new place of humans in this worldview. The reading strategies proposed in this article challenge the reader with the centralised position of power being inverted and a state of material exchange and intra-action being reached, which lead to a change in perceptions and actions.

These strategies open new perspectives on ecology and materiality and bring the reader to the understanding that there is no text and nature; there is no subject and object; there is no “us and them”. No inside and outside. We are part of what is and what is becoming. We are the universe.

Keywords: new materialism; object-oriented ontology; storied matter; material imagination; materialisation; Jacques Derrida; ecocriticism; ecopoetics; hyperobjects; strange stranger; terraforming; alter-tale

 

1. Inleiding

Serenella Iovino (2012a:134) sonder 2010 uit as die jaar waarin daar oor ’n wye spektrum van dissiplines ’n ontploffing in navorsing plaasgevind het op die gebied van die nuwe materialisme en objekgeoriënteerde ontologie/OO (Object-Oriented Ontology, OOO) wat ook uiteraard ’n invloed op literatuur en ekokritiek gehad het.

In ’n vorige artikel (Smith 2012:925) oor ekokritiek en ekopoësie word in die glossarium van ekokritiese terme opsommenderwys die volgende oor objekgeoriënteerde ontologie gesê:

Dit is ’n teoretiese denkrigting wat ’n herbesinning oor materialiteit tot gevolg het: dit waaruit ons liggame en die natuurlike wêreld om ons gemaak is. Dit poog om die verdeling tussen materie en die kulturele konstruksie daarvan – ’n direkte uitvloeisel van die postmodernisme en die poststrukturalisme – te oorbrug.

Gedurende die afgelope paar dekades is daar op die teoreties-wetenskaplike terrein grootliks klem geplaas op die postmoderne teorieë van dekonstruksie en poststrukturalisme, waarin ’n abstrakte, tekstuele siening van die werklikheid voorop gehou is. Dit het tot gevolg gehad dat teorie en materie van mekaar geskei en ’n diskursiewe of linguistiese fundamentalisme op die voorgrond gestel is. Die belangrikheid van materie wat interaktief kan inwerk op beide die menslike en niemenslike wêreld, is hierdeur grootliks geïgnoreer of ontken. Daar word algemeen gepraat van die materiële draai (“material turn”, Iovino 2012b:3), wat gesien is as ’n reaksie teen sommige van die radikale tendense in postmoderne en poststrukturele denke. Hierdie tendense het dit ten doel gestel om die wêreld te dematerialiseer tot linguistiese en sosiale konstruksies wat die linguistiese of tekstuele draai (“linguistic turn” of “textual turn”, Barad 2003:801) genoem is. Die linguistiese draai sluit onder andere die teorieë in van mense soos Jacques Derrida, Julia Kristeva en Michel Foucault, wat gefokus het op die krag van taal om die realiteit te skep – dus, dat taal verantwoordelik is vir die realiteit en nie ’n refleksie daarvan is nie.

Scott Knickerbocker (2012:3) merk tereg op dat die ekoteorie sterk op voorafgaande teorieë, veral die poststrukturalisme, reageer, wat volgens hom nie vreemd is nie, omdat enige nuwe denkskool of denkrigting gedefinieer word in opposisie tot die gevestigde praktyke. Ekokritiek en die nuwe bewussyn van materialiteit wat daarin ingebed is, word gesien as teenvoeter vir postmoderne teorieë, waardeur die oormatighede van poststrukturele taalteorie ingekort word (volgens Knickerbocker 2012:3). Dit is egter ook juis kritici soos Knickerbocker (2012:3) en Neil Evernden (1996:103) wat daarop wys dat die oorreaksie op tekstualiteit deur ekokritiek politiese omgewingsaksie beklemtoon terwyl dit tred verloor met die estetiese (en by implikasie tekstuele en taalgerigte) ervaring wat juis so ’n aksie inspireer. Ten spyte van belangrike tekortkominge bied ’n fokus op materialiteit en die objek ’n verruimende blik wat ’n belangrike bydrae tot ekosentriese teorie lewer.

In hierdie artikel word nagegaan wat die teoretiese agtergrond van objekgeoriënteerde ontologie, en veral nuwe materialiteit, is en waarom en hoe bepaalde aspekte daarvan as ekokritiese leesstrategieë aangewend kan word. Daar word kortliks gewys op hoe daar deur middel van nuwe materialisme en die objekgeoriënteerde ontologie na Derrida – as een van die sterkste verteenwoordigers van die tekstuele draai – gekyk word. Geselekteerde gedigte van Johann Lodewyk Marais uit sy bundel In die bloute (2012) word dan ondersoek aan die hand van enkele leesstrategieë wat uit die nuwe materialisme en objekgeoriënteerde ontologie onttrek word.


2. Teoretiese agtergrond

As gevolg van die rykheid van stemme wat met omgewingswetenskappe in gesprek tree, is dit volgens Iovino (2012a:134) nie vreemd dat ’n internasionale fokus op materialiteit ’n effek op die ekokritiek begin wys nie. Waarskynlik is ook die omgekeerde hiervan waar, naamlik dat die afgelope aantal jare se fokus op ekokritiek op sy beurt weer ’n vars blik op materialiteit tot gevolg het en konkrete liggaamlike dimensies opnuut bestudeer word. ’n Verskeidenheid perspektiewe wat strek vanaf die argeologie, sosiokulturele antropologie en politieke en ekonomiese wetenskappe tot geografie en geologie klink tans op waarin die sogenaamde objekgeoriënteerde ontologie en ’n nuwe fokus op die materiële toenemend ’n rol speel.

Enkele van die kerntekste in die ondersoek na nuwe materialiteit is Meeting the universe halfway (2007), geredigeer deur Stacy Alaimo en Susan Hekman, en Material feminisms (2008) deur Karen Barad. Jane Bennett se Vibrant matter (2010), David Abram se Becoming animal (2010) en Hekman se The material of knowledge (2010) sluit by hierdie tekste aan. Ook Diana Coole en Samantha Frost se New materialisms (2010) en die Oxford handbook of material culture studies (2010), geredigeer deur Dan Hicks en Mary C. Beaudry, maak ’n noemenswaardige bydrae.

Soos reeds in die inleiding vermeld, kan hierdie studies gegroepeer word onder wat algemeen beskryf word as the material turn (Iovino 2012b:3; Alaimo 2010:7), terwyl die onderskeie teoretici elk afsonderlike terme vir hul spesifieke variasie van die teorie gebruik, byvoorbeeld vibrant materialism (Bennett), agential realism (Barad), material feminism (Alaimo en Hekman) en new materialism (Coole en Frost). Oppermann (2012:462) en Iovino praat van material ecocriticism en lê veral klem op die omgewingsgerigte dimensie van die teorie.

Maar wat presies is objekgeoriënteerde ontologie (OO) en wat word bedoel met nuwe materialisme? Wat behels die nuwe wyses waarop materialiteit gekonseptualiseer word en hoekom is dit belangrik vir omgewingsgerigte navorsing om kennis daarvan te neem? Hoe kan dit bydra tot betekenisvolle ekosentriese ondersoek na die omringende werklikheid?

2.1 Objekgeoriënteerde ontologie

Die term object-oriented ontology, met die afkorting OOO, waarvoor ek hier objekgeoriënteerde ontologie (OO) gebruik, is die skepping van die filosoof Graham Harman soos hy dit gebruik in vier boeke, Tool-Being (2002), Guerrilla Metaphysics (2005), Prince of Networks (2009) en The Quadruple Object (2011). Dit is veral die ekofilosoof Timothy Morton wat in ’n aantal kerntekste, waaronder Ecology without nature (2007) en The ecological thought (2010), die teorie verder ontwikkel. Oor OO sê Morton (2011b:164) die volgende:

OOO belongs to recent attempts to rethink realism in the wake of the distinctly anti-realist philosophies that have held sway for some decades. In so doing it shares obvious affinities with ecocriticism and ecophilosophy as propounded by Lawrence Buell, Scott Slovic, Greg Garrard, and Jonathan Bate.

Deur die verwysing na Buell, Slovic, Garrard en Bate posisioneer Morton OO in die kern van die ekokritiek. Volgens Morton verskil OO van standaardekokritiek deurdat die konsepte Natuur en Materie (met hoofletters) verwerp word. Morton (2011b:165) verduidelik sy oënskynlik teenstrydige standpunt soos volg:

OOO is a form of realism that asserts that real things exist – these things are objects, not just amorphous “Matter”, objects of all shapes and sizes […]. [I]t subscribes neither to Nature nor to Non-Nature. OOO thus offers a middle path – not a compromise […]. We’ve become so used to hearing “objects” in relation to “subjects” that it takes some time to acclimatize to a view in which there are only objects, one of which is ourselves.

Op die vraag “Hoekom ekologie sonder natuur?” – die alombekende en kontroversiële uitspraak van Morton – sê hy dat die natuur dikwels gesien word as iets vaag, ver en “buite”, en dat so ’n konsep van die natuur nie ekologie bevorder nie: “[T]hinking, including ecological thinking, has set up ‘Nature’ as a reified thing in the distance, under the sidewalk, on the other side where the grass is always greener, preferably in the mountain, in the wild” (Morton 2010a:3). Ekologie gaan dus veral oor die saambestaan van alle dinge. Mense het mekaar nodig, net soveel as wat hulle die omgewing nodig het – trouens, mense is mekaar se omgewings; mens en omgewing is een groot objek; mens en plek is een groot objek; mens en natuur is een groot objek. Ekologiese denke gaan nie net oor niemenslike objekte nie, maar het te doen met my en jou. Ons is gewoond daaraan om te sê dat ons in die wêreld woon, en ons sien die wêreld en realiteit as die agtergrond van die toneel waarin ons self die hoofrol speel. Ons praat oor die natuur as iets wat elders is, waarheen ons moet gaan. Wat nodig is, is dat ons onsself begin sien as deel van die objek, as die objek self. Ons leef binne-in ’n objek, ons bevind ons in ’n massiewe, gedurig veranderende, bewegende objek, waarin alle dinge saambestaan.

Een van Morton se belangrike insigte is sy beskrywing van die wyse waarop objekte terugtrek en die volle geheel nooit waargeneem kan word nie (2011b:167), terwyl hy hiperobjekte beskryf as objekte soos aardverwarming of plutonium (wat ’n halflewe van 24 100 jaar het), waarvan die omvang terugtrek deurdat ons dit nie direk kan sien of aanraak nie, of die omvang daarvan menslike begrip te bowe gaan. Dit bestaan, ongeag of ons dit kan sien of nie, en sal bestaan lank nadat ons nie meer daar is nie. Morton (2011c:80) sê: “Hyperobjects are real objects that are massively distributed in time and space. […] Hyperobjects are so vast, so long lasting, that they defy human time and spatial scales.” Hiperobjekte gaan nie tot niet in ons leeftyd nie en hulle brand nie sonder dat hulle self brand en toksines, vrystel nie. Dit het nodig geword dat die mens begin dink oor hiperobjekte en hul toekoms en aan die toksiese objekte waarmee ons ’n realiteit deel, wat saam met ons deel van die groter objek is.

’n Verdere konsep wat Morton ontwikkel is die strange stranger (Morton 2011b:165) wat, saam met die beginsel van terugtrekkende objekte, as kernaspekte van die OO gesien word. Hy verduidelik hierdie konsep só:

Strange stranger names an uncanny, radically unpredictable quality of life-forms. Life-forms recede into strangeness the more we think about them, and whenever they encounter one another – the strangeness is irreducible. Ecological philosophy that does not attend to this strangeness is not thinking coexistence deeply enough.

Uiteindelik word ons bewus van die wêreld om ons juis wanneer ons op die punt is om dit te verloor; ons ken en herken dit wanneer dit verlore is. Morton (2010a:132) sê in dié verband: “We are becoming aware of the world at the precise moment at which we are ‘destroying’ it – or at any rate, globally reshaping it.” Saam met die bewustheid van wat ons verloor, is ’n bewussyn van hartseer, en ’n ekologiese ramp kan bykans op dieselfde skaal as ’n oorlogservaring of trauma gelees word. As ons om ons kyk en sien watter dinge ons besig is om te verloor, is ’n proses van terravorming besig om plaas te vind: ons bring objekte na die oppervlak van ons bewussyn en aanvaar verantwoordelikheid vir ons keuses, waardeur ’n nuwe landskap geskep word waarvan ons ’n bewussyn dra (2010a:135). Ons is besig om ons konsep van wat die aarde is, wat natuur is en wat ons verhouding daarmee is, te hervorm, nie volgens die beperkte visie uit ons klein hoekie van die wêreld nie, maar ’n visie wat die rykdom van die heelal insluit, van die sigbare en die onsigbare. Hoe ons omsien na die “vreemde vreemdeling”, na die objek en die hiperobjek, is volgens Morton die langtermynprobleem waarmee ekologie te kampe het. Ekologie brei ons konsepte van plek en ruimte en tyd sodanig uit dat dit ons dwing om nuwe wyses te vind waarop ons oor objekte dink en met alle objekte as deel van daardie objekte kan saambestaan.

2.2 Die nuwe materialisme, materiële verbeelding en die narratief van materie

In New materialism: Interviews & cartographies (2012:93) wys Rick Dolphijn en Iris van der Tuin daarop dat die term new materialism of neo-materialism vir die eerste keer in die tweede helfte van die 1990’s onafhanklik van mekaar deur Manuel DeLanda en Rosi Braidotti in kultuurteorie gebruik is. Die nuwe materialisme word soos volg in ’n vorige artikel (Smith 2012:892) opgesom: “Nuwe materialisme as teoretiese raamwerk sien die natuur nie as ’n passiewe sosiale konstruksie nie, maar eerder as ’n bemiddelende krag wat interaksie met en verandering van ander elemente teweegbring, insluitende die mens.” Materie kan dus gesien word as ’n meervlakkige konsep wat die materialiteit van sowel die menslike liggaam as die natuurlike en nienatuurlike wêreld insluit en nie beperk word tot die eng dualisme van natuur/kultuur, materie/intellek, lewend/nielewend en menslik/niemenslik nie. Dit veronderstel ’n dig verstrengelde en meervoudige weefsel wat sowel sosiolinguistiese konstruksies en kulturele verteenwoordiging (die diskursiewe praktyke) as die materialiteit van ekologiese verhoudings en ervarings insluit. Materie veronderstel ’n terrein van kennis en aksie waar materiële formasies ontstaan; dus, menslike en niemenslike liggame wat in samehang en vervlegting met mekaar optree.

In haar grensverskuiwende navorsing oor materie sê Karen Barad (2003:821) ook wat materie nié is nie, ’n waardevolle uitspraak waardeur sy poog om wanpersepsies uit die weg te ruim:

Matter is not little bits of nature, or a blank slate, surface, or site passively awaiting signification; nor is it an uncontested ground for scientific, feminist, or Marxist theories. Matter is not a support, location, referent, or source of sustainability for discourse. Matter is not immutable or passive. It does not require the mark of an external force like culture or history to complete it.

Barad (2003:822) stel voor dat materie gesien word nie as vaste substansie nie, maar eerder as substansie in sy intra-aktiewe staat van wording, “not a thing, but a doing, a congealing of agency. Matter is a stabilizing and destabilizing process of iterative intra-activity” (Barad se beklemtoning). Die proses van aanhoudende intra-aktiwiteit is verantwoordelik vir die (voort)bestaan van materie en materie verwys na beide die materialiteit en die materialisasie van verskynsels. Die klem op die woorddeel intra- eerder as inter- dui op ’n aksie wat in die binnekant van (Odendal en Gouws 2005:481), eerder as tussen elemente plaasvind, wat nogeens die lewende, wordende, vitale aard van materie onderskryf. Die vitaliteit van materie word ontken deur die skeiding tussen materie en taal, ’n skeiding wat wyd deur teoretici van die nuwe materialisme gekritiseer word.

Barad (2003:801) lewer soos volg kommentaar hierop:

Language has been granted too much power. The linguistic turn, the semiotic turn, the interpretative turn, the cultural turn: it seems that at every turn lately every “thing” – even materiality – is turned into a matter of language or some other form of cultural representation.

Hierdie stelling bevestig die argument dat dit nie net gaan oor die skeiding tussen voorwerp en die voorstelling daarvan deur middel van taal nie, maar oor die oppergesag van taal bo die materiële voorwerp self, waardeur die inherente werking van die materialiteit ondermyn is. Taal is belangrik; kultuur is belangrik; diskoers is belangrik. Maar hoe het dit gebeur dat taal meer betroubaar geword het as materie, dat wat ons oor iets sê meer betroubaar is as die fisiese saak self? Barad (2003:802) wys daarop hoe Friedrich Nietzsche lank gelede alreeds waarsku teen die foutiewe tendens om grammatika te ernstig op te neem, om linguistiese strukture toe te laat om die vorm van en ons begrip van die wêreld te determineer. Dit is om toe te laat dat ons glo dat die onderliggende subjek- en objekstrukture van taal ’n refleksie is van ’n voorafbestaande ontologiese realiteit van die wêreld. Die idee dat die menslike en die niemenslike oor inherente eienskappe besit wat representasie (deur taal) voorafgaan, is ’n metafisiese voorveronderstelling wat ten grondslag van die teorie van representasie en die produksie van representasie lê. Die beweging wat Barad (2003:802) as performatiwiteit definieer, fokus op die ooreenkoms tussen materie en wat materie dóén, “matters of practices/doings/actions” en nie die ooreenkoms tussen woorde/taal/beskrywings en materie nie.

Representasie en die produksie van kennis hang saam met die materialiteit van dit wat geken word – die een impliseer die ander. Ons bekom nie kennis deur buite die wêreld te staan nie; ons weet omdat ons ván die wêreld is. Die tradisionele skeiding tussen materie en taal is ook die skeiding tussen natuur en kultuur. Barad (2003:829) sê in dié verband: “The separation of epistemology from ontology is a reverberation of a metaphysics that assumes an inherent difference between human and nonhuman, subject and object, mind and body, matter and discourse.”

Ook James Smith (2012:157) stel ondersoek in na die dinamiese aard van materie en fokus veral op die kruisresonansie tussen die filosofie van Gaston Bachelard en die materialisme van die 21ste eeu, soos aangebied deur Jane Bennett in haar boek Vibrant matter: A political ecology of things (2010). Bachelard (1994:xix) voer aan dat subjek en objek medegekonstitueer word, waardeur die verdeling van ons en dit ter syde gestel word. Die skepping van verbeelding vra dat daar ontslae geraak word van die idee van ons-subjekte en dit-objekte as geldige onderskeiding. Eerder as om verbeelding in ’n sisteem van voorgeskrewe reëls te probeer inpas, probeer Bachelard se model van verbeelding volgens James Smith (2012:158) om die krag van verbeelding te bemagtig nog voor strukturele betekenisse daaraan gekoppel word. Hy voer aan dat om ’n vaste, kategoriese definisie aan ’n objek toe te ken, daartoe sal lei dat die dinamiese krag daarvan misken word en die verskynsel as ’t ware vervlak word. Die vitaliteit en dinamika van materie behoort bewaar te word en Bennet (2010:5) stel ’n wêreld voor waarin die vermoë om die vitaliteit van ’n objek te voel, hetsy deur die rede of deur die liggaam, die moontlikheid tot ’n betrokkenheid met die wêreld skep sonder om dit tot die gebruikswaarde daarvan te vervlak of te reduseer. Om objekte te sien as “living, throbbing confederations” dien as teenvoeter vir die beperkinge van ’n antroposentriese teorie en die sosiopolitiese effekte daarvan (2010:24).

Bennett (2010:IX) gaan selfs so ver om te sê dat hierdie siening saamhang met die oppergesag van die mens: “Why advocate the vitality of matter? Because my hunch is that the image of dead or thoroughly instrumentalized matter feeds human hubris and our earth-destroying fantasies of conquest and consumption.”

Wat nodig is, is om bewustelik menslike eienskappe in die niemenslike raak te sien en andersom, waardeur grense bevraagteken word; ’n ondersoek na daardie eienskappe van die niemenslike waarin menslike en/of lewende persepsies en eienskappe resoneer. So ’n klemverskuiwing bied talle moontlikhede vir verruiming van insig. Bennett (2010:XVI) praat van “the notion that human agency has some echoes in nonhuman nature”. Skeidings wat lewend teenoor leweloos stel, menslik teenoor niemenslik en subjek teenoor objek bied struikelblokke op pad na ’n wêreldsiening waarin materie beleef word as ’n entiteit wat die mag het om die mens se optrede te beïnvloed en ’n rol te speel in menslike persepsies van en interaksie met die wêreld.

Die krag van materie om dinamiese betekenis in en oor beide menslike en niemenslike liggame te bou, vind volgens Iovino (2012a:137) uiting in narratiewe oor materie, of verhaalde materie.Dit beklemtoon die materialiteit van omgewing en plek en dinge en sluit aan by Alaimo se (2008:9) transliggaamlikheid en Buell (2005:62–3) se konsep van translokaliteit, waardeur die oorgang tussen die innerlike en die uiterlike van elke liggaamlike vorm, hetsy menslik of niemenslik, gekarteer word. Na analogie van Iovino (2012a:137) se konsep van verhaalde materie (storied matter), sluit ek in ’n vorige artikel (Smith 2012:893) hierby aan met die konsep van verhalende materie, waardeur die materiële voorwerp sélf verhalend en dinamies handelend optree. So word die klem verskuif van die menssentriese na ’n objekgesentreerde handeling of handelende objek.

Wat al die bogenoemde teoretici gemeen het, is die verskuiwing van klem vanaf ’n siening van ’n passiewe geobjektiveerde beskouing van die niemenslike wêreld na ’n beskouing wat voorsiening maak vir die bewussyn van ’n lewende, vitale materialiteit waarby die mens interaktief betrokke is – ’n materialiteit waarvan hy fisies deel is. Soos Alaimo (2010:1) dit stel:

The environment has been drained of its blood, its lively creatures, its interactions and relations – in short, all that is recognizable as “nature” – in order that it become a mere empty space, an “uncontested ground,” for human “development”. If nature is to matter, we need more potent, more complex understandings of materiality.

Alaimo lê hier besondere klem op die wyse waarop die natuur tot so ’n mate geobjektiveer geraak het dat ons bykans nie meer daaraan kan dink as lewend en handelend nie. Die menslike interaksie met die natuur se lewende en nielewende entiteite het tot niet gegaan: in die plek daarvan is die “begrip” natuur, wat gestroop is van alle lewe en as sodanig ’n leë abstraksie of leë spasie geword het, slegs daar vir die mens se eie benutting om daaraan betekenis toe te ken soos dit die mens pas. Die mens glo dat deur die natuur te ontwikkel, waarde daaraan toegevoeg word –’n aksie wat bydra tot objektivering en uitbuiting van die “onbetwiste” spasie.

Die noodsaaklikheid van ’n vars perspektief op die niemenslike en nielewende dinge om ons stel die mens in staat om na die narratief daarvan te luister, om die handelende objek en sy aksies raak te sien, om inter- en intra-aktief betrokke te wees daarby en die menslike self as deel te sien van die groter geheel van objekte. Dit vra ’n betrokkenheid wat tasbaar en sintuiglik is en nie in woorde op bladsye of in navorsingsartikels bly vassteek nie. Dit vra ’n terugdraai vanaf die uiterste vorme van teoretisiteit om die fisiese ding self agter die taalsimbool in die oë te kyk. Dit is wat die nuwe materialisme doen.


3. Die nuwe materialisme en die teoretisiteit van die poststrukturalisme

Diana Relke spreek reeds in 1999 in Greenwor(l)ds haar kommer uit oor die rigting waarin postmoderne kultuurteorie beweeg, waardeur die klem uitsluitlik op abstrakte diskoersteorieë val (1999:288, 320). Daardeur sluit sy by verskeie Amerikaanse ekokritici aan, onder wie die gesaghebbende ekokritikus Cheryl Glotfelty, wat wys op die “dualisms that separate meaning from matter, sever mind from body, divide men from women, and wrench humanity from nature” (1996:xxiv), ’n skeiding wat selfs in sommige van die ekokritiese strominge sigbaar is. Relke stel ’n skryfpraktyk voor wat dien as ’n herontdekking en herontginning van die materialiteit van literêre teorieë. Sy sê: “The reintegration of material embodiment into theories of culture opens up the possibility of exploring the limitations of current discourse theory and literary criticism” (1999:288–9).

Die abstrakte, tekstuele siening van die werklikheid deur postmoderne teorieë van dekonstruksie en poststrukturalisme het tot gevolg dat teorie en materie geskei word terwyl diskursiewe of linguistiese fundamentalisme op die voorgrond gestel word. Volgens Relke (1999:322–33) lei dit tot die skeiding van betekenis en materie en sy argumenteer ten gunste van ’n kognitiewe kartering van die verhouding tussen die abstrakte en die reële. Sy voeg die volgende belangrike stelling by: “Matter matters. I […] became convinced that what’s missing in Foucault, Lacan, and Derrida – founding fathers of postmodernist theory – is a structured system other than the system of signs” (1999:321).  

Campbell (1996:133–4) lewer nog sterker kommentaar op postmoderne teorieë:

Theory sees everything as textuality, as networks of signifying systems of all kinds. Foucault sees an idea like madness as text; Lacan sees a human being as a text; Derrida argues that everything is text in the sense that everything signifies something else. But ecology insists that we pay attention not to the way things have meaning for us, but to the way the rest of the world – the nonhuman part – exists apart from us and our languages. […] The systems of meaning that matter are ecosystems.

Wat teoretici soos Relke, Glotfelty en Campbell gemeen het, is die bekommernis dat onlangse literatuurteorie en -kritiek soos die poststrukturalisme en die postmodernisme gedurende die afgelope aantal dekades beweeg het in ’n rigting waarin die teks en tekstualiteit sodanig op die voorgrond gestel is dat die materialiteit van die omringende wêreld en van die mens self bitter min of geen aandag ontvang het nie. Hulle bepleit ’n terugkeer na die konkrete werklikheid, na die fisiese, tasbare wêreld wat ons omring, na ’n teorie wat in gesprek tree met en interaktief betrokke is by hierdie tasbare materiële werklikheid. Terwyl die postmoderne teorieë die werklikheid en kultuur sien as ’n sisteem van tekens of ’n struktuur wat op taal gebaseer is, wil die nuwe materialisme terugkeer na die fisiese materialiteit van die werklikheid, weg van abstraksie en tekstualiteit. Dit wil die dualisme tussen taal en die ding wat taal verteenwoordig, tussen die abstrakte en die konkrete, tussen denke en die liggaamlike, ophef.

Vanuit die nuwe materialistiese teorie word geredeneer dat as Derrida (1997:158) in sy seminale stelling “there is nothing outside the text” argumenteer dat alles teks is, in die sin dat alles na iets anders verwys, hy daarmee bedoel dat die konteks en alles wat buite die teks lê, deel van die teks is. Die teks verwys voortdurend na iets anders as deel van ’n netwerk van verwysende sisteme. In teenstelling met hierdie denkwyse wil ekologie daarop aandring dat ons aandag moet terugkeer na die erkenning van die wyse waarop natuur net soveel bydra tot ons konstruksie as mense as die tekens wat vir natuur en plek instaan. Dit veronderstel dus die wegbeweeg van ’n uitsluitlik vertekstualiseerde werklikheidsbeskouing. Die wêreld is veel groter en ouer as ons normale persepsie daarvan. Die mens is ’n deelnemer en ’n waarnemer binne die eeue oue kontinuum van alle dinge. Campbell (1996:133) wys daarop dat die siening van Foucault in The order of things (1966:380), dat die mens as sentrum van intelligensie en gees derhalwe ook die sentrum van waarde is, ’n historiese siening is wat aan die verdwyn is. Ons is die lede van en landbewoners op aarde, nie die heersers van die planeet nie.

In teenstelling met ekokritici soos Relke en Campbell wat uitgesproke anti-Derrida is en veral wil verskil met die abstrakte teoretisiteit van Derrida en die poststrukturaliste, wys Morton (as een van die belangrikste stemme van die objekgeoriënteerde ontologie) egter op die aansluiting by presies die stelling van Derrida waarmee die bogenoemde ekokritici ’n probleem het. Morton se interpretasie is dat wanneer Derrida (1997:158) sê “there is nothing outside the text”, of Gayatri Spivak se alternatief (wat Morton verkies), “There is no outside-text”, hy daarmee saamstem deurdat hy daarin lees dat daar nie ’n groot Ander is nie, “no device, for instance, that could measure quantum phenomena without participating in these phenomena” (Morton 2011b:177). Belangriker: “All observations are inside the system” (Morton 2011b:177). Volgens Morton is dit belangrik om die konteks waarin die bostaande aanhaling van Derrida voorgekom het, raak te sien, naamlik dat dit deel gevorm het van ’n paragraaf waar Derrida Rousseau se posisie oor Natuur ontleed, waardeur Derrida volgens Morton (2011b:178) ’n verband met ekokritiek lê. Uit hierdie uitspraak van Morton kan gesien word dat hy Derrida se seminale stelling hier bo interpreteer as ’n verwysing na die saambestaan van alle dinge en dat alle dinge interaktief binne dieselfde sisteem is.

Morton voer aan dat Derrida nie ’n veralgemenende stelling oor realiteit maak nie, maar dat Derrida ’n sisteem van interaktiwiteit beskryf. Morton (2010b:1,2) voer aan dat ekologie en dekonstruksie inderwaarheid op talle vlakke met mekaar verwant is, iets wat nie oor die algemeen raakgesien word nie. Hy verduidelik hierdie stelling aan die hand daarvan dat die mens byvoorbeeld 98% van sy genome met sjimpansees en 35% met affodille deel (2010b:6); lewensvorme bestaan dus uit allerlei strukture, waarvan baie anorganies is. Ook die prosesse van simbiose en endosimbiose sluit hierby aan, d.w.s. die uitruiling en saambestaan wat nie net om ons nie maar ook in ons bestaan. Ons is dus nie eintlik onsself nie, as ons daarmee wil sê dat ons enkelvoudige en onafhanklike wesens is. Ons is opgemaak uit andere. Op dieselfde wyse as wat lewensvorme in verhouding met mekaar staan, so bestaan tekste ook uit ander tekste. Daar is nie as sodanig ’n teks nie, sê Morton; tekstualiteit is deurtrek van die andersheid en die Ander, en terselfdertyd is elke teks ook uniek (2010b:7). Soos wat Darwin die stabiliteit van die spesie ondermyn het (deur aan te toon hoe alle lewensvorme se oorsprong uit ’n gemeenskaplike genetiese poel kom), het Derrida die stabiliteit van die teks ondermyn (2009:8). Ekologie gaan oor ’n grenslose sisteem sonder sentrum of rand. En so ook poësie.

Met hierdie teorie sluit Morton dus aan by die idee van ’n interafhanklike, interaktiewe saambestaan van alle dinge, wat uiteindelik ooreenstem met die sieninge van die nuwe materialisme en objekgeoriënteerde wetenskapsbeskouing. Dit is uiteindelik ’n siening wat krities staan teenoor die abstraktheid en sisteemteoretiese benaderings van die postmoderne en poststrukturele teorieë.


4. Waarom nuwe materialiteit en objekgeoriënteerde leesstrategieë in die ekokritiek?

Die waarde van teorieë oor materie, objekte en materialiteit vir die ekokritiek en ekopoësie lê daarin dat die antroposentriese posisie van die mens in die heelal opsygeskuif word vir ’n siening wat aandag gee aan die kweek van ’n tasbare sin vir skakeling met die materiële wêreld, hetsy deur ’n bewussyn te kweek vir die nielewende en niemenslike dinge wat ons kan sien, of die hiperobjekte waarbinne ons ons bevind, soos Morton se teorieë voorhou. Volgens Iovino (2012a:144) lê die belangrikste aspek van die samewerking tussen die nuwe materialisme en ekokritiek in die skakel tussen ontologie, verbeelding en politiek. In beide gevalle word die klem geplaas op die noodsaaklikheid daarvan om grense van die menslike te herdefinieer en om ’n meer inklusiewe perspektief van aardse dinamika te ontwikkel. Materiële ekokritiek skep ’n bewustheid van die verhaalde en verhalende aard van materie waarin materiële verbeelding wys op ’n allesomvattende materiële dimensie van ons bestaan saam met alle ander dinge wat bestaan en waarbinne die mens bestaan. Ekokritiek en ekopoësie word die voertuie waardeur hierdie verskuiwings in persepsie waargeneem word; dit word die teoretiese meganisme waardeur die interaksie tussen die materie van die menslike, die niemenslike en die nielewende wêreld blootgelê word.

Wanneer die nuwe materialisme as leesstrategie ingespan word, open dit vars moontlikhede van teksondersoek – ondersoek wat beweeg vanaf ’n abstrakte, teoriegesentreerde leesstrategie na ’n lees vir natuur, ’n lees vir materie, ’n lees vir die interaksie tussen menslike en niemenslike en tussen die lewende en nielewende. Dit soek na die interspel tussen fisiese substansies (beide menslik en niemenslik) en biologiese liggame waardeur voorspelbare skeidings tussen lewensvorme en materiële entiteite opgehef word. Selfs dit wat tradisioneel as lewend of nielewend beskou word, word bevraagteken. Sodoende word die betowering vir die omringende werklikheid herstel, en die soeke na nuwe narratiewe dimensies en nuwe vorme van narratief spruit hieruit voort. Dit word ’n ontologiese verslag wat daarop gemik is om die dinamiese materialiteit wat langs en deur die mens vloei, te verwoord deur gebruik te maak van teorieë, beelde en narratiewe wat die sensoriese, linguistiese en verbeeldingsaandag tot materiële dinamika lei (Iovino 2012a:139). So ’n narratief word ’n alterverhaal wat daarop gemik is om die realiteit te herbetower, ’n verhaal wat parallel loop, maar ook in teenstelling met bestaande verhale van ongelykhede, rassisme, besoedeling en armoede. Die term alter-tale word vir die eerste keer deur Bennett (2001:8) gebruik, waardeur sy na ’n alternatiewe verhaal of “counterstory” verwys waardeur die outobiografie of selfrepresentasie van materie bewerkstellig en die innerlike bekoring en vitaliteit van materie opnuut ontdek word.

Soos meestal die geval is met nuwe teorieë, word daar egter ook geldige kritiek geopper, veral teen objekgeoriënteerde ontologie. In sy artikel “The call of things. A critique of object-oriented ontologies” wys Cole (2013:106) daarop dat die OO-teorie nog nie die toets van tyd deurstaan het nie en dat hierdie teorieë, “the new vitalism, ANT (actor-network theory) and object-oriented ontology”, wat hy gesamentlik “object-oriented ontologies (plural)” noem, almal wel een ding gemeen het, naamlik die poging om nie die mens in die hart van dinge te plaas nie. In teenstelling met dualistiese beskouings wat natuur-kultuur, menslik-niemenslik en lewend-nielewend teenoor mekaar stel, wil Knickerbocker (2012:4–8) taal en poësie nie as die teenpool van materialiteit sien nie, maar juis as deel daarvan. In sy kritiese beskouing van OO en nuwe materialisme ondersteun Knickerbocker ’n siening dat ekokritiek ’n noodsaaklike toevoeging tot antroposentrisme is en dat ons beide as deel van die natuur en apart daarvan bestaan. Dit beteken dus dat beide antroposentrisme en ekosentrisme deel is van wat ons is. Met hierdie siening slaag hy daarin om materiële teorieë te versoen met ’n standpunt wat mens en taal steeds deel van die werklikheidsbeskouing maak.

In my ondersoek na nuwe materialisme en objekgeoriënteerde ontologie as leesstrategieë het dit geblyk dat daar op internasionale gebied nog weinig aandag gegee is aan die toepassing van die teorieë op spesifieke literêre tekste, meer spesifiek poësietekste. In die res van hierdie artikel word daar dus ’n poging aangewend om enkele materialisties-teoretiese vertrekpunte te konkretiseer deur die toepassing daarvan op gekose poësietekste in Afrikaans.


5. Op soek na materie in In die bloute van Johann Lodewyk Marais

Teen die agtergrond van voorgaande teoretiese raamwerk word ’n aantal aspekte van materialiteit uitgelig wat ingespan kan word om ’n materialistiese blik op die gekose gedigte van Johann Lodewyk Marais te werp. Die keuse van die gedigte is gedoen op grond van die voorkoms van materialiteit wat die aandag getrek het, asook die natuursentriese aard van die bundel binne die breër natuur- en ekosentriese konteks van Marais se oeuvre en natuurlik die nou verbintenis tussen ekokritiek en die nuwe materialisme.

Marais se werk word allerweë erken en beskryf as poësie waarin “die bewustheid van die komplekse verhouding tussen mens en omgewing” voorkom (Weideman 2006:361) en na Marais self word verwys as “natuurdigter” en “groen digter” (Möller 2012) wat waarheidsoekend en sintuiglik (Weideman 2006:326) op reis is oor die hele aarde en die waters onder die aarde. In Perspektief en profiel wys Weideman (2006:361) op die digter se onafgebroke gemoeidheid met die mens en sy invloed op die natuur, terwyl Erika Lemmer (2012:182) die wisselwerking tussen wetenskap en letterkunde in sy oeuvre uitlig. Marais kan gesien word as een van die sterkste voorlopers van ’n ekologiese kultuur in die Afrikaanse letterkunde en skryf poësie wat telkens grense verskuif en vernuwend optree.

Om ’n soektog na materialiteit in Marais se poësie te onderneem, is om nie net die natuur nie, maar ook die nielewende, of dit wat tradisioneel as nielewend gesien is, raak te lees. Die leser vra haar onder andere die volgende vrae af: Hoe lyk materialiteit? Wat is die subjek-objek-verhouding in die gedig? Hoe tree materie dinamies en handelend op? Op watter wyse vind interaksie tussen die lewende en die nielewende en tussen die menslike en die niemenslike plaas? Op watter wyse beïnvloed materiële dinge mekaar en hoe beïnvloed materie die mens? Hoe word materialisme in die gedig uitgebeeld? Hoe lyk die vreemde vreemdeling in die gedig en op watter wyse word die saambestaan van alle dinge aangedui?

Marais dig dikwels oor die natuurlike wêreld en in veral sy meer onlangse bundels betrek hy op ’n beduidende wyse die menslike interaksies met die natuurlike wêreld, wat meer word as blote poëtiese objek. Hoewel ’n ryk verskeidenheid betekeniselemente ontgin kan word (en daar wel uiteraard ook daarna verwys word in sekere argumentasies), lê hierdie artikel spesifiek klem op die interaksie tussen die menslike en die niemenslike, die subjek-objek-verhouding in die gedigte en die wyse waarop materialiteit aangebied word. Daar word ook gekyk na die produksie van kennis en verhalende materie en die voorkoms van die vreemde vreemdeling-konsep. Hierdie elemente of materialiteitsmerkers kom dikwels gesamentlik en in wisselwerking met mekaar voor binne dieselfde gedig. Ter wille van kontinuïteit en samehang van die gediggeheel sal daar eerstens na die voorkoms van hierdie merkers in die openingsgedig gekyk word.

5.1 Interaksie tussen die menslike en die niemenslike

Die inleidende gedig, “in see gaan” (9), bied aan die leser wat op soek is na materie ’n interessante invalshoek, nie net vir hierdie gedig nie, maar vir die bundelgeheel, en lui die eerste materialiteitsmerkers in wat ook vooruitwys na die res van die bundel.

Al kom ek meer bedroë uit,
wil ek ’n bundel verse skryf
met seesand tussen die blaaie,
die diepgang van die sloepe ken
en saans na The Beach Boys luister.
Ja, al weet ek hoe die wind waai
en dat die digter in sy vers
nie aan ’n skulp kan stem gee nie. (9)

Een van die eerste dinge wat opval, is die afwesigheid van die verwagte lidwoord, “die” voor “see” in die gedigtitel. ’n Aantal moontlike verklarings kan aangebied word. Eerstens kan die afwesigheid van die vanselfsprekende en verwagte lidwoord daarop dui dat die leser met ’n veranderde perspektief te make het, dat ’n veranderde ingesteldheid nodig is; dit kan ook dui op ’n belangriker posisie wat die woord “see” inneem deur versterkte klem op die woord. Deur die aksie van ingaan in die titel aan te dui, word met die heel eerste gedig reeds aansluiting gevind by die eerste woord van die bundeltitel, in, wat posisioneel deurlopend baie sterk in die bundel figureer en as een van die sentrale temas beskou kan word. Die woord in dui op ’n bewustelike naderbeweeg van die spreker-digter om homself te omring met “see”, of met “die bloute”. Die hoë gebruiksfrekwensie van die woord in, in byvoorbeeld “inkyk” (14), “binne-in” (21), “in” (24), “binne” (26), “in […] binneste inkyk”, en die ontginning van die konsepte ingaan, binnegaan en omring wees, bevestig die belangrikheid van hierdie tema in die bundel.

[B]loute in die bundeltitel word as ’n sinoniem vir “see” gebruik. Blou in al sy betekenisvariante word onderliggend geaktiveer, waaronder ook die melankoliese toonaard van die kleur blou, “hemelsblou” (lug, uitspansel) en “bloute”, wat ook na dynserigheid en onsekerheid kan verwys – wat op hulle beurt verband hou met die geheimenisse en ondeurgrondelikheid (selfs onsigbaarheid) van dit wat in die see is.

Terwyl daar by die bundeltitel, In die bloute, nog ’n ambivalensie tussen afstandelikheid en omringende nabyheid gevind word (soos ’n mens byvoorbeeld “in die verte” sal sê), besweer die openingsgedig hierdie afstandelikheid summier deur die posisie van die spreker-digter omring deur die bloute, omring deur see, te bevestig. “[I]ngaan” en “in” sluit aan by wat ek tevore as ingeplaaste skryf (Smith 2012:901) binne die tradisie van die ekopoësie gedefinieer het.

Die deurlopende en eksplisiete verwysing in die bundel na “die digter” sluit natuurlik aan by bogenoemde ingeplaastheid en skep ’n interessante wisselwerking tussen die vertellende en ervarende “ek” en “die digter” wat beide as instansies in die bundel teenwoordig is. Albei word aangebied in verhouding tot die skryfproses, byvoorbeeld “die digter in sy vers” en “ek wil ’n bundel skryf” in die openingsgedig (9); “moet ek [...] notas maak” ( 27); “ek moet die juiste woorde vind” (36); “ek skryf die naam neer” (56); en “skubbig skryf” (73). Ook wanneer die vertellende “ek” aangespreek word, vind verwysings na die skryfproses plaas, byvoorbeeld in “waarom skryf jy nie liewer [...] nie” (14). Wanneer in hierdie artikel na “die digter” verwys word, word die instansie van die vertellende, skrywende en belewende spreker-digter in die bundel veronderstel.

Die digter en die vertellende “ek” is dikwels sintuiglik teenwoordig in die gedig, byvoorbeeld deur te luister (“ek het [...] geluister” (27)); te hoor (“die digter/ met die moerse, moerse ore” (36), “hoor [...] vertel” (64)); te proe (“ek herkou” (19)); te kyk (“woordeloos [...] toekyk” (42)), “sien” (63)); en te voel (“afgevee” (13), (“druk ek met al my krag” (24), “ek [...] kneus” (56), “met my wysvinger voel ek” (64)).

Die bundeltitel se spel met die onderliggende “uit die bloute”-idioom wat op die onverwagte dui, sluit dan ook aan by die onverwagte taalkonstruksie van die eerste gedigtitel. Deur die verwagte “uit” met die onverwagte “in” te vervang, word die ingeplaastheid van die digter bevestig.

Die tweede betekenisverband wat deur die gedigtitel geaktiveer word, is natuurlik die idiomatiese uitdrukking “in see gaan” wat beteken om ’n onderneming aan te pak (Kritzinger en Sabbagha 1981:386), wat saamhang met die opdrag wat die digter aan homself stel (vergelyk “ek wil ’n bundel verse skryf” (9); “projek oor die land en die see” (15); “notas maak”, “woord op papier sit” (27); en “notaboeke […] waarin ek die hele jaar lank/ my seegedigte skubbig skryf” (73).

Teenoor die beklemtoonde gebruik van die woord “in” val die voorsetsel “uit” in die eerste versreël op, ’n betekenisvolle afwyking van die uitdrukking “om bedroë daarvan af te kom”, wat klem lê op die dubbele posisie van die digter. Hoewel hy telkens die see ingaan, hetsy fisies of tekstueel/diskursief, verwys “uitkom” na sy gedesentraliseerde posisie ten opsigte van die see. Sy wens is om die see in te gaan, maar hy bevind hom aan die buitekant.

Die eerste materiële objek waarmee die leser, op soek na materie, gekonfronteer word, is “see”, gevind in die tweede deel van die gedigtitel, wat isotopies skakel met “seesand”, “sloepe”, “wind” en “skulp”. Hierdie objekte vorm die eerste materiële isotopie in die gedig. Nog ’n isotopiese reeks word gevorm deur “bundel”, “verse”, “blaaie” en “vers”. Daar word dus twee materiële velde teenoor mekaar gestel: aan die een kant is daar die tasbare, materiële dinge wat met die see verband hou, aan die ander kant die tasbare, materiële dinge wat met die diskursiewe aksie van die digter verband hou. Die see-isotopie is niemenslik en in hierdie gedig nielewend, dieselfde as die bundel-isotopie. ’n Aktansiële rol word aan die tradisioneel nielewende dinge toegeken, waarvan die mees opsigtelike die wind is wat waai, en dus dinamies en handelend optree en daardeur as nielewende materie ’n invloed op die mens uitoefen.

Nog belangriker is die skulp wat “stem” kan hê. Dit is in die potensiële aksie “stem gee” waaruit ’n aantal belangrike afleidings gemaak kan word. Die digter is nie onseker oor die vermoë van die skulp om stem te hê nie (sien byvoorbeeld ook “luister of hy self iets te sê het” (27)), maar eerder oor sy eie vermoë om deur sy vers reg aan daardie stem te laat geskied: “dat die digter in sy vers/ nie aan ’n skulp kan stem gee nie” (9). Die digter se vers en die see/skulp se stemme is by implikasie albei fisies teenwoordig in die gedig. Om stem te hê dui op ’n lewende, selfs menslike eienskap wat aan die niemenslike, nielewende skulp toegedig word. En hierdeur word een van die belangrike aspekte van die nuwe materialiteit bewerkstellig: die voorstelling van die lewelose as dinamies en handelend. Die stem van die skulp/see vorm ’n narratief, net soos die woorde van die digter, wat nog ’n eienskap van nuwe materialiteit aktiveer, naamlik dié van verhalende materie.

Die plaasvervangende rol – die digter se stem in plaas van die skulp se stem, of andersom – dui voorts op die verwisseling of omkeer in die subjek-objek-verhouding. Dit gaan nie net oor die niemenslike en nielewende dinge waaraan ’n menslike eienskap toegeken word nie, maar oor die onvermoë van die menslike om daardie niemenslike stem te wees of oor te dra. Die menslike subjek, die digter, verloor sy sentrale posisie as skepper van woorde en verse en kom “meer bedroë” daarvan af. Die woord “bedroë” speel ook in op die onderliggende betekenis “droog”, wat teenstellings soos droog/nat, land/see en dus mens- en seelewe oproep. Daar is skeiding en grense in die digter-see-verhouding, maar die “seesand tussen die blaaie” dui op ’n wisselwerking, ’n plek waar see en digter ontmoet en uitruiling plaasvind.

Dit is veral die saambestaan van die materiële en die niemateriële, die menslike en die niemenslike, en ook materiële uitruil en rolwisseling wat aandag verdien.

5.2 Omkeer van rolle, materiële uitruil en saambestaan

Aan die een kant is dit die digter wat verwoord en wat, soos in die gedig “inkvis” (32), “met die diefstal van sy ink” (32) die inkvis “in die treilnet/ van die woord harteloos vang” (32). Aan die ander kant kan hy “in sy vers/ nie aan ’n skulp […] stem gee nie” (9). Die posisie van digter en seedier word in die gedig “inkvis” omgeruil deurdat die digter selfs die inkvis se ink wil gebruik in sy neerskryf van die seeding, al besef hy self dat dit “harteloos” sou wees. Die beeld kan ook geïnterpreteer word as ingeplaaste skryf, waardeur interaksie, en selfs intra-aksie (Barad 2003:288 se term “intra-action”), tussen digter en vis bewerkstellig word – ’n vorm van materiële uitruiling wat plaasvind, wat die tradisionele outonomie van die digter/mens uitdaag en selfs ondermyn. (Ook “harteloos” dui op menslike emosie wat ontbreek, eweneens ’n uitruil van menslike en niemenslike eienskappe.) Die saambestaan van die mens en die materie word veronderstel. Die digter wil sy eie onvermoë om genoegsame woorde te vind (“nie […] kan stem gee nie” (9) en “jou sien en weet bra sonder nut” (32)), vervang met die ink uit die see wat aan hom die vermoë gee om die seeding aan die lig te bring – dus te ken, die geheimenisse te ontbloot, maar ook na die lig van die oppervlak en land te bring:

Die inkvis word in die treilnet
van die woord harteloos gevang.
Swyg sou nie onvanpas wees nie:
jou sien en weet bra sonder nut.
Maar met die diefstal van sy ink
bring jy hom meteens aan die lig. (32)

Ook in die gedig “Manatoka” vind ’n uitruil van materie plaas:

“Wat se boom is dit dié?” vra ek
wanneer ons bo die Koppe staan.
“Dis ’n manatoka,” sê sy,
terwyl ek die rooi bessies kneus.
Ek skryf die naam neer op my hand. (56)

Deur die onbekende boom te benoem, word ’n band tussen die digter en die boom gesmee. Die naamgewing dui dus op identiteitskepping. Die digter se kennis oor die boom word verryk, waarna die digter sy ink verruil vir die sap van die “rooi bessies” (56) waarmee hy die naam van die boom op sy hand neerskryf (56). So vind wisselwerking tussen die menslike en die niemenslike plaas en die skryf van die naam op die hand word ’n fisies ingeplaaste  skryfaksie. In die gedig “Suidooster” (73) verkry die digter selfs visagtige, niemenslike eienskappe wanneer hy “skubbig skryf”. Die term intra-aksie dui op ’n materiële uitruiling wat tussen entiteite plaasvind, waardeur fisiese eienskappe en elemente intern verandering ondergaan en onderling getransponeer word (Barad 2003:288) en die menslik–niemenslik-rolle omgeruil word.

Die digter “weet […] hoe die wind waai” – sy kennis plaas hom in ’n tradisioneel antroposentriese posisie, waarin hy die natuur en sy omringende materiële werklikheid deur en deur ken. Dit is egter ’n illusie waarvan hy sigself bewus word. Sy kennis (“weet hoe die wind waai”) word ondermyn deurdat dit nie voldoende is om sy sentrale posisie in stand te hou nie. Om te weet hoe die wind waai, dui natuurlik idiomaties daarop dat dit wat geheim of weggesteek was, ontbloot word – wat aansluit by die deurlopende tema van die digter se (soms vergeefse) soeke na die geheimenisse en verborgenhede van die see. Vergelyk ook onder andere “loop soek” (14); “Die digter frons en wonder weer” (20); “Is daar iets binne-in/ wat ek nie kan sien nie?” (21); “Wat is jy?” (22); “verberg hy sy broosheid” (31); en “Hierdie godgeskape raaisel” (33). Ook “die diepgang van die sloepe” wat die digter wil “ken” (9) sinspeel op die niesigbare geheimenisse wat die digter wil ken en begryp.

Ironies dui die werkwoord “waai” op die dinamiese krag van die subjek “wind”, waaroor die digter/mens nie mag het nie. Die skulp en wind tree interaktief met die digter op; ’n klem op dóén en wórd, eerder as passiewe wéés word bewerkstellig. So word reeds in die eerste gedig die mens se oppergesag oor die natuur, die niemenslike en nielewende dinge bevraagteken en word die subjek-objek-verhouding opgehef; ’n nuwe sentrum word tot stand gebring – dié van die see en “seegoed” (14).

Die plaasvervangende rol wat materie speel, word ook aangetref in die gedig “Please, let me wonder” (69), waarin die digter praat van “opdrifsels van notaboeke”, wat in direkte teenstelling staan met die netjiese vroeëre “notas maak” (27). Progressief word die notas en boeke later “notaboeke” waarin die digter “skubbig skryf” (73), totdat dit uiteindelik “opdrifsels van notaboeke” (69) word en die digter hom al minder in die sentrum van die skryfaksie vind. Algaande neem die digter niemenslike eienskappe aan en word hy meer vis, soos “skubbig” (73) veronderstel. Dat die boeke opdrifsels word, kan ook dui op die wisselwerking tussen digter en see, waardeur sy boeke eers die see moet ingaan voordat dit reg laat geskied aan die see. Die “blaaie” van boeke word vervang met die “blaaie” van die dolfyn:

Nat en glansend draai hy sy kop
en liggaam soos ’n tolskaatser:
’n flikkerende warreling
van stertpunte, vinne, blaaie. (63)

Hier word die mensgemaakte (maar nielewende) boek se blaaie vervang met die lewende, niemenslike liggaam van die dolfyn, en in die vergelyking met die “tolskaatser” verkry die dolfyn menslikheid, word hy mens. Die omkeer van rolle en gesagsposisie kan ook nagespoor word in die gedig “Steve Irwin” (65), waarin beskryf word hoe die mens aanvanklik in beheer is, die oppergesag beklee, maar hoe die rolle uiteindelik omgekeer word:

Duikbril op; mus op;

polsveters vas. Suurstof
begin pomp: is daar

nog iets? Die kamera
verhef jou: jy beheer alles.
Die kamera gee jou afstand:
jy is nou daar.

Crickey!

Moenie bang wees nie:
die bulrog is by jou. (65)

Die duiker berei homself voor vir sy ingaan in die see in deur alle moontlike voorsorg te tref vir sy eie veiligheid: ’n duikbril om te kan sien; suurstof om asem te kan haal in ’n wêreld wat nie sy eie is nie, waarin hy nie in sy natuurlike element is nie. Die digter-spreker maak die stelling dat die “kamera” die duiker “verhef” bo alles om hom, dat hy alles “beheer”. Die woord “verhef” dui op arrogansie wat gepolariseer word deur die geïmpliseerde vrees aan die einde van die gedig. Die kamera gee “afstand” aan die duiker: aan die een kant die gevoel van veiligheid dat hy op ’n afstand kan bly, maar deur middel van die kamera se lens baie naby aan die bulrog kan kom, gesuggereer deur “jy is nou daar”; aan die ander kant dui dit juis op fisiese nabyheid, ook deur middel van die ironiserende herhaling van die eindreël: “die bulrog is by jou”. In hierdie laaste reël word die orde omgekeer en is die bulrog op bykans religieuse of metafisiese vlak by die mens en in staat om die mens se vrees te besweer. Ironies is die pylstert-bulrog by implikasie egter juis verantwoordelik vir die dood van die duiker Steve Irwin, TV-persoonlikheid, aanbieder van natuurlewe-programme en veral bekend vir sy vreesveragtende nabyheid aan gevaarlike diere.

In die interessante gedig “Leerrugseeskilpad” (47) is dit die niemenslike objek (die leerrugskilpad) wat terugpraat met die teorie (“Derrida”), die linguistiese en die menslike:

Die spoor is op sigself belangrik,
sê Derrida. Ons weet nie of daar
iets is waarna dit terugverwys nie.

“Bog!” sê die groot leerrugseeskilpad
ná sy haar broeiholte gemerk het
en haar pote oor die sandstrand sleep. (47)

Die skilpad word die nuwe objek wanneer ’n nuwe subjek-objek-verhouding tot stand kom. Derrida – wat as metafoor dien vir tekens en abstraksies, en vir die teorie en teks wat bo alles gestel word en alles is – word vervang met die tasbare teenwoordigheid van die materie van die skilpad, wat die nuwe subjek word en wat kommentaar lewer op Derrida / die mens en wat na die mens kyk. Die tekens wat hier gelaat word, is die leerrugseeskilpad wat haar broeiholte “gemerk” het en die “sleep”-merke van haar pote op die sandstrand – fisiese, tasbare tekens en spore, wat inderdaad na die skilpad self “terugverwys”.

Die aktiewe rol van die objek kan ook ondersoek word in die wyse waarop die produksie van kennis oor die objek plaasvind.

5.3 Verhalende materie en die produksie van kennis

In die gedig “Tierkourie” (27) wend die spreker-digter verskeie vorme van kennisverwerwing aan in sy poging om iets betekenisvol oor die tierkourie te skryf. Hy rig hom eerstens tot ’n ander digter (’n verwysing na T.T. Cloete) wat “eens oor ’n skulp geskryf” en “die binnekant in detail verbeeld/ en voor die leser se oë laat leef” het. Dan bekyk hy die skulp deeglik, maar oorweeg dit om verdere kennis in te win:

Moet ek eers weer op my boekrak gaan soek
om meer oor die oseane, vorm
en gedrag van dié boorling van Pemba
te lees voor ek ’n woord op papier sit?

Hy wil moontlik self ontledend te werk gaan of dalk die plek waar hy die skulp gekoop het, gaan besoek en daardeur sy kennis oor die skulp aanvul.

Moet ek hom desnoods alkant bestudeer,
in sy binneste inkyk, notas maak
en sy samestelling deeglik vasstel?
Moet ek die man in Maputo loop pols
by wie ek hom vir ’n hand vol munte
van die hoop voor sy voete gekoop het?

Wanneer al hierdie gewone vorme van afstandelike, mensgeoriënteerde bestudering en navorsing nie die nodige resultate oplewer nie, besluit die spreker-digter om ’n ander roete te volg:

Of moet ek hom liewer teen my oor druk
en luister of hy self iets te sê het? (27)

Deurdat die tierkourie self aan die woord gestel word, vind ’n omgekeerde handeling plaas – nie langer is dit die mens wat oor die skulp-as-objek skryf nie, maar is dit die skulp wat verhalend optree. Die skulp word self verantwoordelik vir die produksie van kennis oor homself en dus ook die produksie van sy representasie. Dit is hierdie performatiwiteit van die materie wat samehang tussen wat die objek ís en wat die objek dóén, na vore bring – die skulp vertel homself en definieer daardeur homself. Die skeiding tussen die materiële objek, die skulp, en die taal waarin en waardeur die objek beskryf word, word opgehef. Die spreker-digter se betrokkenheid by die skulpobjek slaag daarin om die siening wat die leser van die skulp het, te verander en dien as teenvoeter vir ’n antroposentriese siening.

Hierdie aktiewe rol van objekte kan ook nagespoor word in die gedig “Nautilus” (29), waarin die “koppoot-reisiger” as ‘t ware sy eie materiële oseaangebonde bestaan transendeer wanneer hy snags as “boot” op die donkerblou see uitvaar:

Snags styg die koppoot-reisiger
op, op uit die donkerblou see
en in die maan se dowwe lig
verskyn ’n boot vol pêrelglans. (29)

As reisiger is hy op gelyke vlak met die spreker-digter, wat as reisiger uitgebeeld word wanneer hy “met die windings langs ’n reis begin” (13), soos ook die “Seeboon” (53).

5.4 Die “vreemde vreemdeling” en hiperobjekte

Die rol wat oë en kyk in die bundel speel, kan eweneens ondersoek word om die verhouding tussen die menslike en niemenslike na te gaan. Die verwysings na “kyk”, “sien”, “oog”, “oë” en “inkyk” is veelvuldig en deurlopend. Hierteenoor word dikwels die idee van verborgenheid gestel, soos byvoorbeeld “verberg” (31), maar ook “verstom” (41), “misreken” (38) en dikwels “verwonderd” (41). Die omgekeerde rolle in die kykproses, wat saamhang met die oppergesag en ook die omgekeerde subjek-objek-posisie, word onder andere uitgebeeld in die gedig “Sandhaai” (39), waarin die digter op treffende wyse uitbeeld hoe dit uiteindelik die sandhaai is, “hý”, “wat skulpiesoog loer” alhoewel die digter “dié vis met die afgeplatte lyf/ en spits neus vir sy vrou [wou] wys”.

In die gedig “Maanjellievis” word die beperkte sigvermoë (en insig) van die digter aan die kaak gestel:

Hy is voelers
en mond
en lobbe
en die dinge binne-in die jellie
wat ek nie kan sien nie.

Wat weet in hom?
Is daar iets binne-in
wat ek nie kan sien nie? (21)

Die ondeurgrondelikheid van die objek sluit ten nouste aan by die konsep van die vreemde vreemdeling, soos deur Morton (2011b:165) gedefinieer. In hierdie gedig is die maanjellievis die vreemde vreemdeling wat ontoeganklik is vir die mens, wat selfs onvoorspelbaar is, veral wanneer daar kontak tussen die mens en hierdie lewensvorm of objek is. Die soeke van die spreker-digter word telkemale in die loop van die bundel bevestig wanneer hy byvoorbeeld “loop soek” (13), “wonder” (20), en verklaar: “wat is jy? Dit weet ons nog nie” (22). Hy probeer om die “onpeilbare” (43), dit wat “verberg” (31) is, te deurgrond, om die “godgeskape raaisel” (33) te verstaan. Die “verwondering” (41) en verwysing na die “skoonheid” (42), “suiwerheid” (30) en “broosheid” (31) wat telkemale deur die spreker-digter geregistreer word, is ’n aanduiding van die aard van die verbintenis en interaksie tussen die mens en die niemenslike objekte om hom – ’n verbintenis van respek en eerlike interaksie wat dikwels lei tot die omkeer van rolle, soos in “Stinkvis” die geval is, wanneer ’n dubbelblik ter sprake is:

Dis immers ék wat my verstom
aan die gebare waarmee hy
my verwondering gadeslaan. (41)

Die vreemde vreemdeling-beginsel van Morton het ook ’n effek op hoe daar na plek en ruimte gekyk word. Die plaaslike en bekende kan in ’n oogwink vervreemding tot gevolg hê. Wie is dit wat verstom, wie is dit wat vir wie laat skrik? In die gedig “Duiwelvis” (38) is dit “ta met die steeltjiesoë” wat “ongeërg soos ’n klip” op die digter wag. Wat die digter as ’n lewelose “klip” aangesien het, is lewend en keer die rolle om deurdat die digter onkant gevang word, “die wind uit sy seil geskrik” (38). Die vis tree as aktant op wat ’n invloed op die mens uitoefen deur hom te laat “skrik”. Vervreemding word só bewerkstellig:

Op die vlak vulkaniese rif
het ta met die steeltjiesoë
ongeërg soos ’n klip gewag.
Die visserman van die vlerkprou
het hom gruwelik met dié vis
en sy dik vratterige vel
en vermomming misreken
en die wind uit sy seil geskrik. (38)

Die aanvanklik gemeensame toonaard, uitgedruk deur die woorde “ta” en “ongeërg”, word vervang deur die ervaring van skrik en die onderliggende gevaar van hierdie vis, wat as die wêreld se giftigste bestempel word en die dood kan veroorsaak – kennis wat respek vir die vreemdeling in die hand werk.

Vanuit die teoretiese agtergrond van die OO na die bundel gekyk, is dit veral die wyse waarop objekte terugtrek, wat aandag trek. Die see, wat tradisioneel in literatuur geobjektiveer word, kan gesien word as die onbekende, die vreemde vreemdeling, ondeurgrondelik vir die mens. Hoe meer die digter na die geheimenisse van die see kyk en dit probeer verstaan, hoe meer trek die objekte terug en word dit onpeilbaar, dikwels ’n letterlike terugtrek die see of skulp in, byvoorbeeld “gekrenkte ineenkrimp” (22), “in die diep waters verdwyn” (42), “donker onsigbare” (73), of terugtrek in die bladsye van ’n boek, soos in die gedig “Kenneth S. Norris”:

Dan blits die tuimelaar terug
na die verbeelde waterlyn
en in Norris se beskrywing
sien ek ’n skaduwee verdwyn. (63)

Die ervaring van die vreemde vreemdeling is egter nie altyd aangenaam nie; dit dra nie noodwendig tot ons welsyn by nie en laat ons soms glo dat ons iets gesien het wat ons nie behoort te sien nie. In “Patagoniese Tandvis” word die mens se bestaan op aarde gerelativeer tot “’n moment in die voortgang van die tyd”. Dit is egter nie net die mens se gerelativeerde bestaan wat ter sprake is nie, maar veral die huidige as ’n breukdeel  van die geheel van tyd.

Die oënskynlik nuttelose swem
in die stil, koue, pikdonker water
van die groot Suidelike Oseaan
in verre dieptes met vriesweermiddel
in die dik vloeistowwe van sy liggaam;
en die jare se gestadige groei
bring ’n onpeilbare ontroering mee
groter en dieper as die daaglikse
verslind van tjokka, vis en garnale
en só word die o so nuttelose,
die onaantreklike, die reisiger
na eilande van die ysige maan,
’n moment in die voortgang van die tyd. (43)

Die “vriesweermiddel” dra ’n suggestie van Morton se hiperobjekte, wat bestaan en ’n invloed uitoefen, “groter en dieper as die daaglikse”, lank nadat die mens nie meer daar is nie. Daar word veronderstel dat dit teruggetrek is, volgens Morton se terminologie, onsigbaar vir die menslike oog. Soos die “verre dieptes’ en die “stil, koue, pikdonker water”, is die digter en die mens bewus van die bestaan daarvan, maar kan dit nie sien nie, en is nie bewus van die omvang en skaal van invloed daarvan nie. Die digter wys hoe die mens se aksies ’n langtermyninvloed uitoefen op die niemenslike, die lewende en nielewende omgewing waarin die mens optree. Dit lyk, uit die antroposentriese oogpunt, na ’n “oënskynlik nuttelose swem” van die “o so nuttelose,/ die onaantreklike […] reisiger”, terwyl die lewe van die tandvis en die impak van die “vriesweermiddel” in “die dik vloeistowwe van sy liggaam” as “’n moment” beskryf word, wat juis ironisering in die hand werk en gejukstaponeer word met die woord “jare”. Die gedig dra by tot ’n ekologiese bewustheid wat juis deur die ironiese spel instrument kan wees in die tot stand bring van veranderde houdinge en uiteindelik optredes. Deur wat nié gesê word nie, deur die afwesigheid van teenwoordigheid, deur die bewuswees van wat teruggetrek het, word die leser juis met die ongenoemde en onnoemlike gekonfronteer. Die “eilande van die ysige maan” verleen ’n kosmiese, bo-aardse, meer-as-aardse dimensie aan die bestaan van die vis en by implikasie word die kosmiese skaal van invloed wat die dade van die mens het, soveel meer skrikwekkend en “ysig”. Die gedig dra ’n atmosfeer van kilheid, stadige dood, onherbergsaamheid en bykans vyandigheid oor.

Terugskouend op die ontleding van die gedigte aan die hand van die nuwe materialiteit en die OO moet daar uiteindelik in aanmerking geneem word dat ’n materialistiese en objekgeoriënteerde fokus nie net gaan oor die objek nie, maar ook die beskouende, belewende en handelende onderwerp, die mens, insluit. Morton (2007:2) sê: “Coming up with a new worldview means dealing with how humans experience their place in the world.” Deur middel van hierdie leesstrategieë word die leser gekonfronteer met die uitwerking van die mens se gesentraliseerde magsposisie en magsmisbruike. Hy word egter ook blootgestel aan ’n omgekeerde orde wat raakgelees kan word, naamlik die gedesentraliseerde staat waarin hy hom bevind, sy wisselwerking met en die uitruiling van materiële elemente wat tot ’n verandering in persepsie en optrede lei. Hoe hy kyk, waarna hy kyk en hoe hy dit nuut interpreteer as deel van homself en interafhanklik homself as deel van die geheel van materialiteit sien, ontvang nou die aandag.


6. Gevolgtrekking en samevatting

Die nagaan en identifisering van die belangrikste merkers van OO, en veral die nuwe materialisme, as uitbreiding van en aanvulling tot die belangrikste ekokritiese en ekopoëtiese beginsels lewer ’n bydrae tot die vernuwing wat die ekokritiek en ekopoësie bring. Deur krities na die teksgesentreerde teorieë van die afgelope dekades te kyk, deur Derrida en sy medeteoretici vanuit die perspektief van die OO en van nuwe materialisme te herevalueer, beteken dat die weg gebaan word vir literatuurbeskouings wat interaktief, samehangend en transliggaamlik is, wat ’n ingesteldheid teweegbring wat gelyke aandag aan diskursiewe praktyke en aan die materialiteit van die wêreld gee.

Die ideologie van afsonderlikheid, wat ’n kiem van ekologiese geweld, onkunde en selfs vernietiging inhou, is besig om plek te maak vir ’n ideologie van wisselwerking, insluiting, saambestaan en vervlegting. Die nuwe materialisme fokus die aandag op materialiteit, op transliggaamlikheid, op wat sowel menslik as niemenslik is, op wat lewend en nielewend is, en op die dinge wat buite die beheer van die mens en van taal lê. Dit fokus op saambestaan, interaksie en intra-aksie met die dinge om ons waarvan ons deel is. Ekologie het nie net te doen met aardverwarming, herwinning en alternatiewe energie nie; dit het ook te doen met die verhoudings waarin ons staan. Morton (2010a:2) sê:

It has to do with love, loss, despair, and compassion. […] It has to do with amazement, open-mindedness, and wonder. It has to do with doubt, confusion and skepticism. It has to do with concepts of space and time. […] It has to do with reading and writing. It has to do with race, class, and gender. It has to do with ideas of self and the weird paradoxes of subjectivity. It has to do with coexistence.

In die bloute tree in gesprek met die materiële realiteit waarbinne ons ons bevind; die gedigte kan gelees word as ’n ondersoekende, medeskeppende speurtog na die niemenslike en die dikwels onsienlike. Deur gebruik te maak van die nuwe materialisme en ’n objekgeoriënteerde teoretiese raamwerk is die leser in staat om nuwe interpretasiemoontlikhede te ontgin, ’n werkwyse wat ook met sukses op ander tekste toegepas kan word.

Deur net aan omgewing, of aan die abstrakte konsep van ekologie, of aan ekologie as literatuurteoretiese beginsel te dink, word die interaktiewe en samehangende aard van ekokritiek en ekopoësie ontken. ’n Ekokritiese fokus op materialiteit wil dus die leser bring by die punt om te verstaan: Daar is nie teks en natuur nie. Daar is nie subjek en objek nie. Daar is nie ’n “ons” en ’n “dit” nie. Daar is nie ’n buitekant en ’n binnekant nie. Ons is deel van wat is en wat word. Ons ís die heelal.

 

 

Bibliografie

Abram, D. 2010. Becoming animal: An earthly cosmology. New York: Vintage Books.

Alaimo, S. 2010. Bodily natures. Science, environment, and the material self. Bloomington: Indiana University Press.

Arigo, C. s.j. Notes toward an ecopoetics: Revising the postmodern sublime and Juliana Spahr’s This connection of everyone with lungs. how2, 3(2).

Bachelard, G. 1994 [1958]. The poetics of space. Vertaal deur J.R. Stilgoe. Boston, Massachusetts: Beacon Press.

Barad, K. 2007. Meeting the universe halfway: Quantum physics and the entanglement of matter and meaning. Durham: Duke University Press.

—. 2003. Posthumanist performativity: Toward an understanding of how matter comes to matter. Signs. Journal of Women in Culture and Society, 28(3):801–31.

Bennett, J. 2010. Vibrant matter: A political ecology of things. Durham en Londen: Duke UP.

—. 2001. The enchantment of modern life: Attachments, crossings, and ethics. Princeton: Princeton University Press.

Buell, L. 2005. The future of environmental criticism. Malden: Blackwell Publishing.

Campbell, S. 1996. The land and language of desire: Where deep ecology and post-structuralism meet. In Glotfelty en Fromm (reds.) 1996.

Cole, A. 2013. The call of things. A critique of object-oriented ontologies. Minnesota Review, 80:106–18.

Coole, D. en S. Frost. 2010. Introducing the new materialisms. In Coole en Frost (reds.) 2010.

Coole, D. en S. Frost (reds.). 2010. New materialisms: Ontology, agency, and politics. Durham: Duke UP.

Derrida, J. 1997. Of grammatology. Vertaal deur G.C. Spivak. Baltimore en Londen: John Hopkins University Press.

Dolphijn, R. en I. van der Tuin. 2012. New materialism: Interviews & cartographies. Michigan: University of Michigan Library, MPublishing. http://hdl.handle.net/2027/spo.11515701.0001.001 (29 April 2013 geraadpleeg).

Evernden, N. 1996. Beyond ecology: Self, place, and the pathetic fallacy. In Glotfelty en Fromm (reds.) 1996.

Foucault, M. 1970 [1966]. The order of things. Londen: Routledge.

Glotfelty, C. 1996. Literary studies in an age of environmental crisis. In Glotfelty en Fromm (reds.) 1996.

Glotfelty, C. en H. Fromm (reds.). 1996. The ecocriticism reader: Landmarks in literary ecology. Athene: University of Georgia.

Harman, G. 2002. Tool-Being: Heidegger and the metaphysics of objects. Illinois: Carus Publishing Company.

—. 2005. Guerrilla metaphysics: Phenomenology and the carpentry of things. Illinois: Carus Publishing Company.

—. 2009. Prince of networks; Bruno Latour and metaphysics. Melbourne: re.press.

—. 2011. The quadruple object. Hants: Zero Books.

Hekman, S. 2010. The material of knowledge: Feminist disclosures. Bloomington en Indianapolis: Indiana University Press.

Hicks, D. en M.C. Beaudry (reds.). 2010. Oxford handbook of material culture studies. Oxford: Oxford University Press.

Iovino, S. 2012a. Steps to a material ecocriticism. The recent literature about the “new materialisms” and its implications for ecocritical theory. Ecozon@, 3(1):134–45.

—. 2012b. Material ecocriticism. Matter, text, and posthuman ethics. In Müller en Sauter (reds.) 2012.

Knickerbocker, S. 2012. Ecopoetics. The language of nature, the nature of language. Amherst en Boston: University of Massachusetts Press.

Kritzinger, M.S.B. en N.G. Sabbagha. 1981. Afrikaanse spreekwoorde en uitdrukkings. Pretoria: J.L. van Schaik.

Lemmer, E. 2012. Diorama: gedigte (Johann Lodewyk Marais). Tydskrif vir Letterkunde, 49(1):182–4.

Marais, J.L. 2012. In die bloute. Pretoria: Cordis Trust Publikasies.

Möller, L.A. 2012. Resensie: In die bloute (Johann Lodewyk Marais). Versindaba. http://versindaba.co.za/2012/11/19/resensie-in-die-bloute-johann-lodewyk-marais (30 Oktober 2013 geraadpleeg).

Morton, T. 2007. Ecology without nature. Rethinking environmental aesthetics. Cambridge, Massachusetts en Londen: Harvard University Press.

—. 2009. Writing ecology. Gepubliseer as “Escritura Ecologica”. La Tempestad, 10(65):94–7.

—. 2010a. The ecological thought. Cambridge, Massachusetts en Londen: Harvard University Press.

—. 2010b. Ecology as text, text as ecology. The Oxford Literary Review, 32(1):1–17.

—. 2011a. Objects as temporary autonomous zones. Continent, 1(3):149–55.

—. 2011b. Here comes everything. The promise of object-orientated ontology. Qui Parle, 19(2):163–90.

—. 2011c. Zero landscapes in the time of hyperobjects. Graz Architectural Magazine, 7:78–87.

Müller, T. en M. Sauter (reds.). 2012. Literature, ecology, ethics. Heidelberg: Winter Verlag.

Odendal, F.F. en R.H. Gouws (reds.). 2005. HAT. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Kaapstad: Pearson Maskew Miller Longman.

Oppermann, S. 2012. A lateral continuum: Ecocriticism and postmodern materialism. ISLE, 460–75. http://www.academia.edu/1390562/_A_Lateral_Continuum_Ecocriticism_and_Postmodern_Materialism (2 Mei 2013 geraadpleeg).

Relke, D.M.A. 1999. Greenwor(l)ds. Ecocritical readings of Canadian women’s poetry. Alberta: University of Calgary Press.

Scigaj, L.M. 1999. Sustainable poetry: Four American ecopoets. Lexington: University Press of Kentucky.

Smith, J.L. 2012. New Bachelards? Reveries, elements and twenty-first century materialism. Other Modernities, 16/10/12:156–67.

Smith, S. 2012. Plek en ingeplaaste skryf. ’n Teoretiese ondersoek na ingeplaaste skryf as ekopoëtiese skryfpraktyk. LitNet Akademies, 9(3):887–928. http://litnet.co.za/assets/pdf/Smith_9_3.pdf

Tompkins, J.P. 1980. The reader in history: The changing shape of literary response. In Tompkins (red.) 1980.

Tompkins, J.P. (red.). 1980. Reader response criticism. From formalism to post-structuralism. Maryland: The Johns Hopkins University Press.

Van Coller, H.P. (red.). 2006. Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, Deel 3. Pretoria: Van Schaik Uitgewers.

Weideman, G. 2006. Johann Lodewyk Marais (1956–). In Van Coller (red.) 2006.

 



  • 1

Kommentaar

  • Uitstekende artikel, die woord ekologie (oa) lees nou vir my so wyd soos die see.
    Ek staan verstom dat enige rasionele mens 'n taal wil kelder waarin kennis so sorgvuldig uitgemeet word in simbiose met die siel van die natuur/mens/digter.
    Dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top