Eenders en anders: Nederlandse en Suid-Afrikaanse skole

  • 1

Jente Rhebergen (foto: Imke van Heerden). Foto van klaskamer: Ajari, CC BY 2.0, Wikimedia Commons

In ’n onlangse artikel op Voertaal skryf Ingrid Glorie dat dit nie goed gaan met die Nederlandse onderwys nie. Naomi Meyer het met Jente Rhebergen, wat nagraads in Nederlands en Afrikaans studeer het en onderwyseres aan ’n Montessoriskool in Nederland is, oor die stand van die Nederlandse onderwysstelsel gesels.

Jente, in 'n onlangse artikel op Voertaal skryf Ingrid Glorie dat dit nie goed gaan met die onderwys in Nederland nie. Dit klink soos die soort stelling wat ons gereeld in die Suid-Afrikaanse media teëkom ten opsigte van die Suid-Afrikaanse onderwys. Op grond waarvan kan so iets oor die Nederlandse onderwys gesê word?

Nederland was tradisioneel een van die toppresteerders op die gebied van sekondêre onderwys. Uit die verslag van die onderwysinspeksie waarna Ingrid verwys, blyk dit egter dat die leerresultate al 20 jaar terugloop. Volgens die verslag is dit nie net reken- en leesvaardighede wat hard agteruitboer nie, maar selfs die bewegings- en kultuuronderwys is nie op standaard nie. Veral leesprestasies daal vinnig. In 2016 was daar nog 76 persent van die leerders wat die streefvlak bereik het; die afgelope jaar was dit net 65 persent. Na raming was dit selfs minder as die helfte van die leerders wat die streefvlak bereik het. Bowendien neem die segregasie op skole toe en is daar groot kwaliteitsverskille tussen skole.

Die betrokke partye baklei momenteel baie oor wie die verantwoordelikheid moet vat vir vir die agteruitboerdery wat in die verslag beskryf word. Volgens die ministerie van onderwys het skole nie voldoende ambisie nie. Nederlandse skoolbesture het mede deur lumpsumfinansiering 'n groot outonomie om die onderwys na hulle eie smaak in te rig. Dis 'n goeie ding vir byvoorbeeld vernuwingskole wat eksperimenteer met nuwe lesmetodes, maar daar is baie skole wat sukkel met die verantwoordelikheid waardeur groot kwaliteitsverskille ontstaan.

Wil jy dalk verduidelik hoe die Nederlandse skoolstelsel werk? In Suid-Afrikaanse terme is daar 'n laerskool en 'n hoërskool. In sekere Europese lande is daar wat hoërskole betref, skole meer toegespits op tegniese en arbiedsvaardighede en dan ander wat hul akademies toespits op leerders wat beoog om universiteit of kollege toe te gaan. Hoe werk dit in Nederland?

Die Nederlandse sisteem is baie eenders aan dit wat jy vir sekere Europese lande beskryf; daar is egter nog 'n onderwyslaag tussen die tegniese en die akademiese vlakke. Die meeste kinders begin hulle skoolloopbaan op die ouderdom van vier. Kinders tussen die ouderdomme van 5 en 16 wat in Nederland bly, het sogenaamde leerplig. Dit beteken dat hulle skool toe móét gaan en slegs by groot uitsondering vrystelling kry of onderwys by die huis mag hê. Die laerskool is in beginsel vir alle kinders gelyk en omvat meestal agt jaar (groep 1 t/m 8). Aan die einde van dié periode bepaal die onderwysers gewoonlik na aanleiding van ’n toets wat bekendstaan as die Cito-toets in watse tipe hoërskool die leerlinge toegelaat sal word. Dit is die eerste bepalende splitsing van die leerders en het groot invloed op die verdere loopbaan van die kinders, ook ná hulle skooltyd. Daar word onderskeid gemaak tussen vmbo, havo en vwo. Vmbo (voorbereidend middelbaar beroepsonderwijs) duur vier jaar en gaan vooraf aan 'n mbo (middelbaar beroepsonderwijs) wat seker vergelykbaar is met 'n Suid-Afrikaanse technikon. Havo (hoger algemeen voorbereidend onderwijs) duur vyf jaar en maak die kinders reg vir 'n hbo-studie (hoger beroepsonderwijs). 'n Hbo-studie lei die leerders op vir die arbeidspraktyk en is meer reflektief as 'n mbo, maar nie so teoreties as 'n akademiese opleiding nie. Om universiteit toe te kan gaan moet die kinders ses jaar lank vwo (voorbereidend wetenschappelijk onderwijs) deurloop of 'n hbo-studie voltooi. Dit is moontlik om tydens jou hoërskoolloopbaan op te stoot na 'n hoër vlak en omgekeerd, maar in die praktyk is daar maar min uitwisseling tussen die drie groepe leerders en werk die splitsing nog ver in die samelewing deur. Van al Nederlandse hoërskoolleerders gaan veruit die meeste (ek glo omtrent 60 persent) vmbo toe. Die ander 40 persent is redelik gelyk verdeel tussen havo en vwo. Ingrid Glorie verwys in haar artikel na 'n video waarin hulle die skoolsisteem baie oorsigtelik verduidelik:

Sal die meerderheid Nederlandse kinders skoolgaan met die oog daarop om tersiêre onderrig te ontvang, met ander woorde verder na skool te studeer? Die vraag is dus ook: Maak dit vir alle Nederlandse kinders saak om op skool goed te vaar met die oog op verdere studie, of is daar 'n ander sosiale verwagting na gelang van die skool wat jy besoek (alle leerders sal nie noodwendig universiteit toe gaan nie en akademiese prestasie het ander betekenis vir sekere jongmense)?

Een van die gevoelighede van die onderskeid tussen vmbo, havo en vwo is dat dit 'n hiërargie vooronderstel. Vmbo is vir "swak" leerders en vwo vir "wonderkinders". Hierdie sienswyse is fataal vir die selfvertroue van vmbo-leerders en skep 'n vyandskap tussen leerders uit verskillende opleidingsvlakke wat ook ná die leerders se skoolloopbaan deurwerk. Aantrekliker is dit om die talente van vwo'ers nie as "beter" te sien nie, maar "anders" as die talente van vmbo'ers. Daar is verskillende skole vir die verskillende leerders omdat hulle verskillende behoeftes het. Dit beteken nie dat vmbo-leerders nie geskiedenis en wiskunde moet leer nie; dit beteken net dat hulle ander onderdele daarvan moet leer wat hulle kan toepas in hulle toekomstige loopbaan. Bowendien is daar baie ander dinge, soos sosiale vaardighede en jou persoonlikheid, wat leerders op skool ontwikkel. Ek dink Nederlandse skole vaar gemiddeld baie goed in hierdie tipe vaardighede, al is daar nog genoeg ruimte vir verbetering. 'n Ander hot topic is die rol van "burgerskapsvorming" op skole.

Wat is die kriteria vir skoolkinders om goed te vaar op skool in Nederland? En hoe werk huiswerk smiddae (indien enige) en ook assessering in skole?

Omdat die skole so verskillend is, is dit onmoontlik om 'n eenduidige antwoord hierop te gee. Daar is skole waar die leerders al hulle huiswerk op skool maak en skole waar die leerders baie van hulle eie tyd aan huiswerk spandeer. Steeds meer skole eksperimenteer met ander vorme van assessering of selfs die ophef van toetse, maar dit blyk nie gemaklik nie. Kinders hou van duidelikheid en vir die meeste kinders is 'n wêreld sonder toetse waarin hulle self verantwoordelik is vir wat hulle leer ondenkbaar. Daar is 'n groot opmars van besighede wat hulleself presenteer as “onderwysexperts” en wat eksamentraining en huiswerkbegeleiding aanbied. Ouers met geld (gewoonlik self hoogopgeleid) betaal baie geld om hulle kinders dié ekstra begeleiding te kan bied. Wat natuurlik prettig is vir hierdie leerders, maar ook kanse-ongelykheid met hulle minderbedeelde klasmaats in die hand werk. Bowendien is daar steeds meer weersin teen leer vir 'n eksamen pleks van leer vir jou toekoms.

Ongelyke sosiale omstandighede is ook iets waarna Ingrid in haar artikel verwys. Dit klink insgelyks baie bekend vir 'n Suid-Afrikaner! Leerders uit beter sosiale omstandighede vaar dalk akademies beter – of is dit 'n veralgemening? Hoe lyk die Nederlandse situasie?

In Nederland het ons in die volksmond lank gepraat van "swart" en "wit" skole, wat vir Suid-Afrikaners seker ook bekend sal klink. Die praktyk was darem egter bietjie anders as wat julle in Suid-Afrika geken het. Dit was ten eerste nooit 'n offisiële onderskeid nie, en ten tweede het "swart" seker maar so iets beteken soos "almal wat 'n migrasie-agtergrond het". Tradisioneel het die "wit" skole gemiddeld beter presteer as die "swart" skole. Die onderskeid is egter ’n bietjie agterhaald. Segregasie word toenemend sigbaar op die gebied van opleidingsvlak eerder as etniese agtergrond. Op hulle twaalfde jaar ontvang kinders van laagopgeleide ouers deurgaans ’n minder hoë sekondêre skooladvies as hulle ewe slim klasmaats met hoogopgeleide ouers, en die gaping wat hier ontstaan, word toenemend moeilik vir hulle om in te haal. Die skooladvies is oorspronklik bepaal deur 'n objektiewe toets aan die einde van die laerskool (die Cito-toets). Deur 'n wetswysiging in 2013 is deesdae die subjektiewe oordeel van die onderwyser belangriker as die uitslag van die objektiewe toets. In die praktyk beteken dit dat kinders wat meer ondersteuning van hulle ouers kry, 'n hoër advies kry, en wanneer jy eers 'n vmbo-advies het, vat dit 'n baie lang pad om op te stoot universiteit toe.

Een van die maniere om dit teen te werk, is meer "breë brugklasse". Die brugklas is die eerste, of op sommige skole selfs die tweede, jaar van die hoërskool waarin die leerders kennismaak met die nuwe sisteem waarin hulle is. In 'n breë brugklas is vmbo en havo of havo en vwo in hierdie eerste jaar/jare nog saam in een klas. Eers aan die einde van die jaar word besluit op watse vlak die leerder presteer en of die leerder dalk 'n hoër vlak kan doen as wat die vroeëre  advies voorgestel het. Dit werk baie meer motiverend vir leerders wanneer hulle weet hulle het die kans om te groei.

Buiten bevindinge wat die rapport waaroor Ingrid die artikel skryf, toon: Is daar enige voorstelle van hoe die situasie in Nederlandse skole weer 'n verbetering kan toon?

Ten opsigte van kollegas uit vergelykbare lande moet Nederlandse leerkragte gemiddeld baie meer uur klas gee terwyl hulle relatief juis minder verdien. Bowendien word die omvang van die klasse nie kleiner nie, maar groter, wat die druk alleen maar opvoer. Almal stem saam die werkdruk vir dosente móét verlaag word. Maar wie moet al die ekstra ure dan opvul wanneer daar 'n groot onderwyserstekort is in die land? Dalk lê die antwoord in deeltydse dosente. Deskundiges uit die besigheidswêreld wat twee dae in die week by die bank werk en twee dae in die week wiskunde aanbied aan tieners. 'n Voorwaarde is dan natuurlik wel dat deeltyd ook regtig deeltyd moet wees en nie 'n verkapte voltyd waarby leerkragte tot diep in de aand nog huiswerk moet nakyk nie.

Buiteperspektief op tale in die onderwys

’n Taalplan vir Afrikaanse skole: ’n reaksie

Het gaat niet goed met het onderwijs in Nederland

  • 1

Kommentaar

  • Solet Scheeres

    Een van die maniere waarop probeer word om die onderwystekort aan te spreek is deur sg “zijinstromers”. Ek is so 'n geval. Ek het op 50jarige leeftyd ‘n pos as Engelse onderwyser by ons plaaslike skool gekry op grond van my “native speaking ability” maar ek moes ook dadelik begin studeer vir ‘n onderwysbevoegdheid. Nou hou ek drie dae ’n week skool en studeer ek een dag ’n week aan die HAN in Nijmegen vir tweedegraads docent Engels. Dit is pittig maar ook baie inspirerend. Ek geniet die vryheid om self te kan beslis hoeveel dae ek wil werk! Daar is baie onderwysers wat net twee of drie dae ‘n week skoolhou en dit is natuurlik baie anders as in Suid-Afrika.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top