Eben Venter kokhalsend na die Geliefde Land

  • 0
 
 
Eben Venter se Suid-Afrika van die toekoms is, met apologie aan Winston Churchill, ‘n nagmerrie binne in ‘n skrikbeeld, toegedraai in ‘n angsdroom. Uit sy nuutste boek Horrelpoot blyk egter dat sy apokaliptiese visies klaar besig is om waar te word: lees gerus Dr Philip du Toit se The Great South African Land Scandal ter toeligting.

In hierdie troostelose, hartverskeurende toekomsblik van die Geknelde Land (wat minus omtrent al wat blanke is) ril Venter telkens vir die “nag wat met die dooie kleur van lood” oor hom neersyg.

Marlouw, die hoofkarakter in die boek, is woonagtig in Australië en word deur sy suster gevra om haar seun, Koert, in Suid-Afrika op te spoor en terug te bring na Australië.

Koert is ver heen. Korpulent. Bly saam met drie swart gesinne in hulle ou plaashuis. Is een van die min blankes wat nog oorgebly het. Die ander het die land verlaat of is uitgemoor. Die wittes wat oorgebly het, is laer as die armblankes van destyds. Hulle het geslepe geword. Die wit rotte van Afrika.

Koert het heeltemal verword. Sy taalgebruik het agteruitgegaan. Hy praat ‘n sort fanagalo-agtige Afrikaans, gemeng met Engels en Duits.

Marlouw moet tot op Fidji kom om ‘n vlug na Suid-Afrika te neem. SAL voldoen nie meer aan die standaarde van die Internasionale Lugvaartorganisasie nie en word sy land se lugruim geweier.

In Suid-Afrika is geen sentrale regering meer nie. Dollars en sindikate regeer. Alles is op. Hoe dieper jy die binneland inry, hoe skaarser raak dinge. Die roltrapbande by die lughawe werk nie. In die strate voel jy die “trae, bloedarm krag van die mense”. Vier uit elke vyf mense het Die Virus.

In hierdie “haglikheid sonder gelyke” het die bome eerste gesneuwel. Vir brandhout gebruik, aangesien elektrisiteitstoevoer nie meer betroubaar is nie. Daar het niks van die hospitale oorgebly nie. Die NG kerk het staal- en lemmetjiesdraad omheining en word as weeshuis vir straatkinders gebruik.

Soos hy nader ry na hul familieplaas – lank reeds in swart besit – hou hy sy hart en asem vas teen die verskrikking van die kaalheid: “Daar is, God vergewe die byl, geen enkele boom meer oor nie”.  Net een windpomp werk nog en die skape is in ‘n verskriklike toestand.

Die veld is vertrap, die watertafel is laag, alles tot op die nerf toe verrinneweer. As hy sy skok uitspreek oor die verwaarloosde honde, sê Mildred, sy gasvrou en eertydse bediende: “Jy sal nie die honde vet voer soos julle altyd op hierdie plaas gemaak het nie, skaapvleis en sous in hulle bakke tot die sous op die stoep mors…”

Die toneel waar Marlouw ‘n wit vroueruiter in die veld raakloop, is buitengewoon roerend. Omdat daar so min blankes oor is, het die gebruik van Afrikaans baie agteruitgegaan. Die vrou vra hom om ‘n sin te maak met die woord “minnekoos”. Sy teengrappie: “Sê ‘n bietjie sjibbolet”.

Terloops, minstens twee woorde wat Venter besig, is nie meer in die nuwe HAT nie: minnekoos en kokhals: In die 1988-weergawe kom die woorde nog voor:

Minnekoos:  Vry, liefkoos

Kokhals:  Op die punt wees om te braak, braakbewegings maak.

Ek het nie gehou van Koert se verwysing na die “heart of darkness” op bladsy 254 nie. Bietjie ooreksplisiet as jy my vra. ‘n Setfoutjie of wat het hom voorgedoen. Maak egter geen fout nie, hierdie is ‘n kragtoer. Daar kan moeilik vanjaar iets beter verskyn.

‘n Vriendin van my loop met Eben Venter-frases in haar kop rond. Hierdie een (dink sy) uit My simpatie, Cerise: “Die tyd sluip skelm agter my rug verby”. Ek sal volstaan by die aangrypende laaste hoofstuk in die boek wat ek byna woord vir woord kan onthou.

Klara Majola

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top