Eben Venter (1954–)

  • 0

Gebore en getoë

Ebenhaezer Venter is op 29 September 1954 in die distrik Burgersdorp gebore waar sy pa, Willem-Frederik, ’n skaapboer op die plaas Die Vlei was. Hy erf sy oupa se naam wat in Hebreeus “klip van hulp” beteken.

Eben se liefde en aanvoeling vir woorde het sy oorsprong op Grey Kollege in Bloemfontein gehad en dit is daar waar hy ook begin het om notas te maak, vertel hy aan Johan Myburg: “Ek was gelukkig om Charles Malan as onderwyser te hê. Hy was ’n begeesterde taalonderwyser en mentor. Dit was die 1970’s. En hy het my belangstelling in die letterkunde aangemoedig. Die Sestigers. Breyten en Leroux. Ek onthou hoe Leroux met sy wit Mercedes-Benz en sy donkerbril by die skool opgedaag het. So anders as die ander pa’s.”

Eben se eerste gepubliseerde werk het in Grey Kollege se jaarblad verskyn: ’n kort stukkie oor ’n donkie. In ’n onderhoud op The Wheeler Centre vertel hy dat hy dit vandag nog kan sien: "... in the middle of the page among the other stories. It contained an element of absurdity, just slightly so, of which I was proud. I thought that set it apart from the others."

Hy behaal sy matriek aan Grey Kollege.

Die oorsprong vir sy latere skryfwerk het sy beslag nog vroeër gehad. Sy pa en ander van sy voorgeslagte was baie goeie storievertellers: “Dis ’n Venter-tradisie, die kleurvolle, sensuele manier van oorvertel,” sê Eben.

Eben vertel later aan Wilhelm Grütter (Die Burger, 13 Augustus 1993) dat dit ’n goeie ding was dat televisie Suid-Afrika op so ’n redelik laat stadium bereik het. “Ek sal nooit kleintyd in die winter vergeet nie. As ons nie saans radio geluister het nie, Die Du Plooys van Soetmelksvlei en so, dan was dit Jakkals en Wolf, of sommer stories wat ons self opgemaak het. Dit was maar net hoe dit gehoort het, want my pa was ’n goeie verteller, wat die sonderlinge van ’n ervaring so kon raakvat. Byvoorbeeld die dag toe hulle vir die eerste maal in hulle lewe ’n motorkar gesien het, vertel hy, het hulle agterna aan die wielspore gaan ruik.”

Verdere studie en werk

Na skool is Eben na die lugmag vir sy weermagdiens en is hy ook betrokke by die weermag se aksies in Angola. Hy gaan na die Potchefstroomse Universiteit (nou NWU), waar hy in die teologie studeer. Op die ou end het hy met filosofie voortgegaan en “’n kritiese model is by my tuisgebring, iets wat my gehelp het om afstand te kry van plaaslike en persoonlike probleme,” vertel hy aan Wilhelm Grütter. Hy verwerf uiteindelik sy BA Honneursgraad aan RAU (nou UJ) en sy MA in filosofie aan die Universiteit van Port Elizabeth (nou NMMU). Hy swerf vir ’n jaar oorsee en verhuis na Johannesburg, waar hy as joernalis en kopieskrywer werk.

Oor Eben se eerste bundel politieke kortverhale, Witblitz (Taurus 1986), skryf EC Britz in Die Burger (19 Februarie 1987): “In die ‘Plakboek’ teen die slot van dié verhalebundel haal Eben Venter ene Tracy Faure aan (Reader’s Digest, Kaapstad, September 1985): ‘Violence (...) penetrates my psyche (...) violent images re-echo in my dreams.’ Dié aanhaling sou as motto kon dien van ’n bundel waarin die politieke geweld in Suid-Afrika telkens weerklank vind. Die verhale handel oorwegend oor die traumatiese – en soms stimulerende – uitwerking van die geweld in ons samelewing op wit mense sowel as swart mense. Die vertellings het ’n anti-estetiese karakter. Verfynde en afgeronde kunswerke met ’n verhewe strekking moet ’n mens hier nie verwag nie. Die karakters, die vertelstyl en die taalgebruik is rou, selfs kru. Eben Venter spot enersyds met blankes wie se onverdiende voorregte en onmenslikheid uit die huidige bestel in Suid-Afrika voortvloei. Andersyds soek hy gemene grond tussen eenvoudige, aardse (en soms doodeenvoudig ruwe) Afrikaners en die swartes wat na bevryding streef.

“Terwyl die hortende vertelgang en die ordinêre of kras woordgebruik met die anti-estetiese inslag van die verhale saamhang, maak Venter hom soms aan doodgewone lomphede skuldig. Dit is byvoorbeeld moeilik om ’n mens ’n geluid ‘soos (van) ’n padda wat glasalbasters in sy keel rondrol’ voor te stel. ’n Teks hoef nie ‘mooi’ van inhoud of styl te wees om goed te wees nie, maar dit moet wel goed geskryf wees. Venter kan sy werk verbeter deur hier en daar te skaaf en te poleer, net soos die estetiese skrywers van ouds dit so sorgvuldig moes doen.”

In 1986, net na die verskyning van Witblitz, het Eben gevoel dat hy Suid-Afrika, wat in ’n noodtoestand verkeer het, en ook as gevolg van die algemene politieke milieu, moet verlaat. Hy volg sy ouer broer, wat toe met Clarabelle van Niekerk, die sangeres, getroud was, en emigreer na Australië. Hy vestig hom in Sydney, waar sy broer ’n restaurant gehad het, en was skottelgoed daar. Later verhuis hy na Melbourne, waar hy ’n vennoot word in Wild Rice, ’n restaurant wat hom veral toespits op die bediening van mikrobiotiese voedsel.

Ná ’n publikasiestilte van sewe jaar word Foxtrot van die vleiseters in 1993 deur Queillerie uitgegee. Voor die publikasie van die boek huur Eben ’n huisie in die noordweste van die Ierse Republiek in die Donegal-graafskap vir vier maande se intensiewe skryf na die voorafgaande jare se aantekeninge maak. Daar stap hy, eet, en skryf elke dag vir agt uur lank. Hy stuur die manuskrip aan Frederik de Jager van Tafelberg Uitgewers, wat onmiddellik besef dat hy hier met ’n uitsonderlike boek te doen het.

Volgens Eben werk hy op sy beste in afsondering. Met Foxtrot skryf hy ook baie van sy woede teenoor die politieke situasie in Suid-Afrika uit. Skryf is vir hom terapie. En alles was die moeite werd, want na publikasie en al die gunstige resensies ontvang Eben in 1994 die WA Hofmeyr-prys vir Foxtrot. Die boek word in Duits en Nederlands vertaal.

Oor Foxtrot het Ia van Zyl geskryf: "Uit die roman blyk dit dat die vleiseters hier dui op ’n blanke boeregesin, en dat die gesin mettertyd prototipe word van ’n hele geslag, sal ons maar sê, blanke Afrikaners. Die ‘foxtrot’ van die titel dui op die manier waarop die gesin op krisissituasies reageer. Fokalisator en verteller is Petrus Steenekamp, seun van Hendrik Douw en Iris. Petrus is waarnemer en optekenaar en so wil dit lyk draer van die visie van die (geïmpliseerde) skrywer. Dit blyk mettertyd dat van die gesin dit eintlik net die optekenaar Petrus is wat bewus is van die swartmense op die plaas as mense. Vir die res van die gesin is hulle bloot nuttigheidsartikels waarvan ’n mens, selfs ná jare van getroue diens, oornag ontslae raak as hul teenwoordigheid jou nie meer pas nie.

"Die verhaal van die plaas (Wildeperdehoek) word uiteindelik metafoor vir ’n land waar miskenning eindelik lei tot vergeldende vuur. Dit is nie net nog ’n boek waarin oor apartheid en die korruptheid van die weermag gesanik word nie, want Eben Venter is as skrywer so slim soos die houtjie van die galg. Hy beskik nie slegs oor ’n buitengewoon fyn waarnemingsvermoë nie, maar openbaar ook ’n besonderse skrywersfinesse. Dit is veral die volgehoue ligtheid van sy aanslag, tesame met die gebruik van ’n hele aantal vernuftige skryftegnieke, wat van dié boek ’n buitengewone leeservaring maak, futlose Steenekamps en al. Dit is ’n roman van gestolde bewegings, van hier vat en daar vat doelbewus en in pas met die ligte aanslag."

In Beeld van 6 September 1993 skryf Joan Hambidge: "Foxtrot van die vleiseters is ’n boeiende boek en een wat in sy slotakkoord die gegewe wil ophef. Die Appendiks is nogal snaaks omdat karakters se kommentaar opgeneem word asof hulle werklike mense is. Nie net die wilde perde galop oor Wildeperdhoek nie, maar ook die volgehoue spel tussen werklikheid en fantasie. Wie is herkenbaar? En die bywoorde word inderdaad ingeryg. ’n Beswaar dat die teks nie altyd van hoofstuk ná hoofstuk sluit nie, word egter ondervang deur die feit dat hiér ’n skrywende verteller agter alles sit. En hy laat die leser dans.”

Vir Eben self is Foxtrot van die vleiseters polities en hoewel die noodtoestand van destyds diep gesetel in die storie is, figureer die diepgewortelde plattelandse familielewe ook sterk. “Ek weet Februarie 1991 is al lankal verby,” sê Eben aan Grütter, “en dinge het oënskynlik verander. Vandag vra mense hulleself af: waaroor het dit nou eintlik alles gegaan? As ek na sommige dinge op TV kyk, kan ek nie glo dis dieselfde SAUK van toe nie. Alles is oper. Aan die vrese het egter niks verander nie. Destyds was dit integrasie, vandag is dit die ekonomiese toekoms. Vandag, soos destyds, was dit moord en doodslag en aanvalle op die paaie. Dieselfde vraag bly: Wat gaan gebeur? Net, dit raak al hoe dringender. En die gerugte wat bydra tot mense se vrese het nie verdwyn nie.

“Maar ek probeer om nie met etikette te werk nie. Ek vertel van die interaksie van mense in ’n [polities] stormagtige tyd, oor mense se grondliggende angste en hul beswerings daarvan. Die geïsoleerde gebeure op so ’n plaas bly maar die mikrokosmos van die groter Suid-Afrika. Ek het lankal aantekeninge begin maak, eintlik vandat ek ná skool in die Lugmag weermagdiens gedoen het. Dit het my jare geneem om oorsee nes te skop, maar die notaboeke is bygehou, iets waaroor ek lank gebroei het, en wat lank gegis het. En in Australië het die afgeslotenheid, die gebrek aan kontak met Afrikaansheid, my omtrent gedwing om te begin skryf. Dit was ’n manier om nog steeds met my eie Afrikaansheid te kommunikeer, om ontslae te raak van my skuldgevoel, en om opnuut Afrikaans-mens-wees te herwaardeer.”

In 1995 keer Eben tydelik terug na Suid-Afrika, huur ’n huis in Prins Albert in die Karoo, waar hy hom weer afsonder, en begin skryf aan Ek stamel ek sterwe. Hy keer terug na Australië, waar hy in ’n internetkafee gaan werk en agt maande spandeer aan die afronding van sy nuwe roman. Sy nuwe roman het vigs as tema, hoewel dit nooit by die naam genoem word nie. Ook vir hierdie roman ontvang hy (in 1997) die WA Hofmeyr-prys. Ongelukkig kon hy nie in aanmerking kom vir die M-Net-prys vir Ek stamel ek sterwe nie, omdat hy ’n Australiese burger is. Die boek word in Nederlands en Duits vertaal.

Willie Burger skryf in Beeld van 17 Februarie 1997 dat Eben se Foxtrot van die vleiseters ’n soort omkering van die tradisionele plaasroman (soos byvoorbeeld die werk van CM van den Heever) was. "Ek stamel ek sterwe het ook die plaas as vertrekpunt, en die ondergrawing van die patriargale stelsel staan weer sentraal daarin. Konstant Wasserman, die ek-verteller, maak ’n ‘sprong vanaf die vleiskultuur tot hier’ (152); vanaf die skaapvleisetende gesin op die plaas, tot in ’n vegetariese restaurant in Australië. Hy gaan nie net Johannesburg toe, soos Johannes Steenekamp in Foxtrot nie, hy vertrek na Australië om ‘weg te kom’. Hy wil homself losmaak van die klein dorpie, van die plaas, van die skuldgevoelens van blankes in Suid-Afrika en veral van sy pa.

"Konstant ervaar ’n soort bevryding in Johannesburg (waar hy voor sy vertrek na Sydney bly) en leef van partytjie tot partytjie saam met Deloris (’n soort moederlike figuur). Hy raak verlief op Jude, ’n Suid-Afrikaanse vrou wat ook in die proses van verhuising na Australië is. Hulle woon saam in Johannesburg en later weer in Sydney. Sy stel hom bekend [sic] aan Shane, die eienaar van ’n vegetariese restaurant in Sydney, waar hy begin werk as skottelgoedwasser, later uitmunt as sjef en selfs as bestuurder waarneem. Hy ontdek dat hy vigs het en sterf uiteindelik met Jude en Shane wat hom tot op die laaste versorg.

“Die sterkste eienskap van hierdie roman is die manier waarop die taal gebruik word. Die somber gegewe van die lyding en sterwe van ’n vigslyer, asook die titel en die donker buiteblad, laat mens ’n swaarmoedige roman verwag. ’n Verrassende ligtheid word egter deur die voortdurende speel met woorde teweeggebring. Teenoor die erns van die lyding en dood van die ek-verteller, skep die taalgebruik soms ’n bykans opgeruimde atmosfeer. (...) Eben Venter se kreatiewe aanwending van taal is veral daarvoor verantwoordelik dat Ek stamel ek sterwe, ten spyte van die somber tema van lyding en dood en die soms uitgerekte beskrywings (soos byvoorbeeld van die vliegtuigrit na Australië), ’n aangename leeservaring is.”

Herman Wasserman het Ek stamel ek sterwe as ’n baie ontstellende boek ervaar. “Dié verhaal, oor ’n Suid-Afrikaanse emigrant wat in Australië vigs opdoen, is soos om ’n sterwende dag vir dag, wankelende treetjie na wankelende treetjie te begelei na die dood. Meer nog: dit is om self te voel hoe jy stukkie vir stukkie sterwe. Want Venter trek sy leser in deur van ’n ek-verteller in die teenwoordige tyd gebruik te maak, wat al belewende (en al sterwende) sy ervaringe en gedagtes karteer.

“Dit is ’n moeilike verteltegniek, maar Venter slaag goed daarin. Maar, hoewel die boek ’n uiters aktuele tema vreesloos in die gesig staar, is dit baie meer as ’n neerdrukkende verhaal oor vigs. Dit is in ’n groot mate ook ’n heimweeverhaal, ’n terugkyk na verlore onskuld, verbygegane dae en 'n bestekopname van ’n land en ’n samelewing waarvan afskeid geneem word. (...)

“Die swaarmoedige tema word egter ook met volop humor aangebied, en toon voorbeelde van Venter se skryfvermoë op sy beste. (...) Die spel met geykte Afrikaanse uitdrukkings, die skryfwyse van gesprekstaal, die verskillende registers, alles getuig van ’n skryftalent wat hom nie laat inperk nie. ’n Pynlik eerlike roman, aangrypend weens sy inherent Afrikaansheid, ongeag die feit dat dit grootliks in Australië afspeel. ’n Vertelling deur iemand wat die taal vaardig hanteer, wat binne liefde en dood nog volop ironie en humor kan hou en wat, te midde van soveel ander dinge, op die einde ook baie sê oor die Afrikaner, die plaas en die ewige hunkering.

“Bladsy 214: ‘Ek wil nog net, as Pa nog net een keer my hand wil vat en my daar na die land onder die damwal toe vat, die land met die vars omgeploegde grond. As Pa my net soentoe kan neem so teen sonsondergang as die dou al vars op die sooie lê, wanneer die hemel donkerder raak ...’ Ysingswekkend vaardig.”

Eben vertel aan Kobus Burger (Beeld, 13 Desember 1996) dat dit vir hom ná die vyf maande se skryf op Prins Albert gevoel het of hy sy eie dood beleef het. “Ek het myself probeer inleef in hierdie persoon. Ek wou uitvind hoe dit voel om jou sig te verloor. Wat ervaar jy as jou liggaam stelselmatig afgetakel word?

“Dit het partykeer gevoel asof ek self besig is om dood te gaan. Dis wat ek van myself gegee het: daardie inlewing. Ek het die karakter gegrond op iemand wat ek geken het. Ek het hierdie persoon redelik intiem leer ken en saam met hom geleef tot en met sy dood. Ek het waarnemings gemaak en as ’t ware aan my eie lyf ervaar hoe die persoon stelselmatig sterwe. Dit is wat ek probeer vaslê het. Ek wou dit graag neerskryf omdat dit so ’n groot impak op my eie lewe gehad het en omdat ek gevoel het hierdie persoon het op ’n ironiese wyse met sy dood vrede gemaak.”

Oor die verblyf op Prins Albert waar hy so intensief gesit en skryf het, vertel hy aan Kobus Burger dat dit goed was om terug te kom na ’n Afrikaanse gemeenskap. “’n Mens raak uit voeling met jou taal. Vir die skryf van die roman het ek notas gebruik wat ek met die sterwe van die persoon gemaak het.

“Die dood is iets wat jy nie spontaan konfronteer nie. Ek het ontsaglik gedetailleerde aantekeninge gemaak gedurende daardie tyd. Ek moes dit weer deurleef. En omdat ek probeer inklim het in hierdie persoon se eie lyf, was dit verskriklik roerend en emosioneel. Soms het dit vir my gevoel of my eie liggaam besig is om uitgeteer te raak. Noudat ek die boek klaargeskryf het, voel ek dit was vir my soos om na ’n terapeut toe te gaan.

"Tog het die dood ’n blywende effek. Dit het my beswaard gemaak vir jare daarna. Mense sê vir my ek is té ernstig. Dit het my vreeslik ernstig gemaak. Ek vind dit nou nog moeilik om na stand-up comedy op TV te kyk, waarvan daar ’n oorvloed is in Australië. Dis ’n baie gewilde genre. Ek kan dit eenvoudig net nie snaaks vind nie. So, miskien nadat die boek klaar is, kan ek dalk daarvoor lag. Dis nogal ’n las wat ek met my saamgedra het. Jy begryp dit nie. Die persoon sterwe en dit laat jou soort van magteloos. Jy kan dit rasioneel nooit verklaar nie. Jy moet dit aanvaar op ’n meer religieuse vlak.”

Oor die verwysing na “die pes” terwyl dit duidelik is dat dit vigs is, verduidelik Eben aan Kobus Burger dat hy graag net wou praat van ’n terminale siekte. “Ek wou dit meer universeel oordra omdat ek wou gehad het mense moet hierdie menslike wese sien wat worstel met sy dood, eerder as om vooroordele te vel oor die soort siekte waaraan hy sterwe. Ek wou die fokus rig op sy lyding, op al die emosies waardeur hy gegaan het: woede, aggressie, magteloosheid.”

Eben meen dat Ek stamel ek sterwe enig in sy soort in Afrikaans is, aangesien dit in die eerste persoon geskryf is. Hy beskryf dit as "bewussynstroom-styl": “Dis nogal ’n beperkte perspektief. Jy kan nie wegdwaal van Konstant Wasserman se perspektief nie. Jy kan nie skryf oor ander mense se perspektief op sy siekte nie. Jy is die hele tyd besig met sy eie opinies, sy eie waarnemings van mense.

“Dit was vir my ’n uitdaging om die boek te skryf uit hierdie enkele, begrensende perspektief, maar dit gee jou ook die geleentheid om die persoon heeltemal van binne te ontgin. Dit speel in sy gedagtewêreld af en ek dink nie dis al in Afrikaans gedoen nie.”

Eben voel ook dat sy verblyf in Australië die rede is waarom daar nie meer politiek in sy skryfwerk is nie. “Omdat ek vir ’n lang ruk nie meer hier gewoon het nie, was dit net nie meer vir my op die voorgrond nie. Afrikaanse skrywers het jare lank geskryf oor die grensoorlog en apartheid. Ons kan nie aanhoudend daaroor skryf nie.”

In 1999 onderneem hy ’n baie suksesvolle skrywerstoer deur Suid-Afrika om sy nuwe boek, My simpatie, Cerise te bemark.

Hy vertel aan Stephanie Nieuwoudt: "Ek wou na Ek stamel ek sterwe nie weer so intens skryf oor raakpunte in my eie lewe nie. Waar Ek stamel ek sterwe ’n eerstepersoonsvertelling is van iemand wat besig is om van ’n ongeneeslike siekte te sterf (in die werklikheid is my eie broer aan vigs dood), is My simpatie, Cerise ’n meer populêre boek oor ’n Ierse Rooms-Katoliek wat as tuinier by ryk mense in Melbourne werk. Ná die skryf van Ek stamel ek sterwe was my siel redelik in verbande, danksy die skryfproses, maar ek sal seker met die pyn van verlies saamleef totdat ek self doodgaan. Maar ek is klaar gepraat en uitgeskryf oor die onderwerp. Ek probeer hom nie meer herroep as ’n lewende persoon nie.”

Om te probeer om die lyding- en sterfproses beter te verstaan, het Eben hom tot die Boeddhisme gewend om antwoorde te kry: “Ek het geleer dat dit deel is van die lewe om ’n durende bewussyn van die dood in jouself om te dra. Dan word elke moment ’n kosbare oomblik wat jy moet aangryp. Dis iets waarna ek streef. Religie is iets waarmee ek grootgeword het. Ek dink dit hoort so. ’n Kind kan, wanneer hy ouer is en reeds ’n agtergrond in godsdiens het, dinge bevraagteken. My aanklank by die Boeddhisme sluit nie Christenskap uit nie. Ek lees dikwels in die Nuwe Testament. Veral die ou vertaling, want ek hou van die swaar, gedrae taal. Die Bybel spoor my aan om oor die lewe te besin.

“Maar nie die hele Bybel nie. Daar is ’n paar rowwe stukke daarin. Die opdrag om eers na jouself te kyk voordat jy na ander kan omsien, kom voor in die Boeddhistiese sowel as Christelike leer. Die Boeddhisme het my geleer dat ’n mens nie in ’n sterwende se teenwoordigheid moet ween nie. Want jy gee hom nie geleentheid om te gaan nie.

"Om so oortuigend moontlik oor ’n sterwende te kon skryf, het ek as ’t ware binne-in die karakter geklim. Sodat ek as eerstepersoonsverteller werklik die lyding kon ervaar."

Is die feit dat Cerise so dramaties verskil van Ek stamel ek sterwe ’n doelbewuste poging om nog verder afstand te kry van die pynlike gebeure rondom iemand wat sterf? “Dit is seker nog deel van die helingsproses. Ek wil egter graag glo dat ek vernuwend kan skryf. Ek weet nie of ek dieselfde soort roman deur ’n bepaalde skrywer jaar ná jaar wil lees nie,” verduidelik hy aan Nieuwoudt.

Die tuinier in Cerise is geboei deur die doen en late van die rykes van Melbourne, maar hy kan ook nie hul vertoon van hul rykdom verduur nie. Of daar enige ooreenkomste is met sy eie ervaring in Australië, sê hy aan Nieuwoudt: “Kom ons volstaan met ek het oor ’n tyd aantekeninge gemaak van staaltjies wat ’n Ier my in ’n kroeg vertel het. Hy was gefassineer deur Cerise, en dié fassinering het my gefassineer.”

Vir die nuwe rykes het Eben, wat by tye ook ’n kok en spysenier is, klaarblyklik nie veel tyd nie. “As spysenier het ek al op talle van die rykste mense van Melbourne se partytjies beland waaroor ek vrolike en sappige aantekeninge gemaak het. Die Australiërs sê graag hulle is ’n klaslose samelewing, maar die nouveau riche probeer om kunsmatig ’n eie klas te skep. Hulle gaan met alles om asof dit verbruikersartikels is. Kos is nie iets wat hulle voed nie. Dis iets wat aangewend word om ’n bepaalde beeld na buite uit te dra.”

Op ‘n vraag of hy nie dalk te veroordelend teenoor die Australiese gemeenskap is nie, verwys hy na die tuinier Robert Mackie in die boek. “Mackie betrap hom dat hy veroordelend is en dan wend hy ’n poging aan om simpatiek te wees. Hy herken die broosheid van Cerise. Ek hoop ek kan ook simpatiek wees.”

In Beeld van 30 Augustus 1999 skryf Willie Burger dat Eben Venter in My simpatie, Cerise weer eens bewys lewer dat hy ’n "fyn stilis” is: "Die gebeure speel volledig in Australië (en in ’n mindere mate Ierland) af. Die somberheid van Ek stamel ek sterwe is in My simpatie, Cerise gedemp. Ten spyte van die helderder voorblad en ’n veel ligter inslag, is Cerise egter nie ’n skielike ommeswaai na ’n vrolike, sorgvrye Eben Venter nie. Inteendeel, hier is ook ’n dood aan die einde, en die simpatie wat in die titel uitgespreek word, is broodnodig (vir meer as net Cerise).

"Soos in Venter se vorige romans is gesinsverhoudings weer ’n belangrike tema. Nie alleen word die onderlinge verhoudings van die skatryk Cox-gesin deur hul tuinier, Robert, uitgepluis nie, maar ook die invloed van Robert se werkersklasgesin op sy eie lewe word ondersoek.

"Verder word die klasse-onderskeid in die (Australiese) samelewing ook belig: die stinkrykes wat baie hard probeer om hulself as ’n afsonderlike klas te vestig (al is dit met swak smaak wat indruk maak omdat dit duur is) aan die een kant, en die gewone mense aan die ander kant. Soos Cerise dit stel: '[S]ome of us simply are superior' (86). Robert vind in sy bevoorregte, hoogsbetaalde posisie as tuinier van die magtige Cox-familie die geleentheid om binne die hoë ringmure en agter die getinte ruite van die rykes insae in hulle lewens te verkry. (...)

"Eben Venter het met My simpatie, Cerise iets besonders reggekry. Dit is ’n roman wat in die leunstoel gelees kan word en wat die leser enduit sal vermaak, maar mens tog ook met ’n gevoel van droefheid (en simpatie) sal laat. Dit is ook’n roman wat met ’n versigtiger lees steeds meer moontlikhede inhou weens fyner suggesties en verwysings wat jou laat besef dat jy met ’n fyn netwerk te doen het waarin elke oënskynlik onbenullige verwysing vele duidings het."

In ’n stadium het Eben op ’n stuk “bosgrond” in Melbourne gewoon, waar hy hom heeltemal kon afsonder en net kon skryf. “Dis vir my wonderlik om te skryf. Ek kan nie dink dat ek meer vervul sal voel in enige ander werk nie. Vanweë my afsondering, sien ek nie baie mense nie en daar is weinig dinge wat my aandag van my skryfwerk aftrek – daar is nie vermaak en verleidings by my voordeur nie. Die stilte gee my die geleentheid om dinge te verteer en te verwerk. Ek weet nie hoe mense in die stad hul eie lewe kan verwerk nie.”

Hy en sy lewensmaat open ’n tuisrestaurant, The Long Table at Redhill, in Melbourne, waar hulle een maal per maand sestien tot agtien mense onthaal. Hulle het die restaurant in Augustus 2003 verkoop. “My passie vir kosmaak is tot niet,” het hy aan Stephanie Nieuwoudt vertel. “Dit neem ’n mens se hele lewe oor as jy ’n restaurant bedryf. Ek droom al ek het nie genoeg lamsboud om aan die gaste voor te sit nie.”

In November 2003 keer hy terug na Suid-Afrika om sy pa, Willem-Frederik, tydens sy siekbed by te staan en uiteindelik te begrawe. Sy tagtigjarige ma, Maureen, gaan bly op Jeffreysbaai. Hy vestig hom tydelik weer op Prins Albert. En die afgelope paar jaar woon hy saam met sy lewensmaat, Gerard Dunlop, in Lismore, Nieu-Suid-Wallis aan die ooskus van Australië.

Gedurende April en Mei 2005 bied hy klasse in kreatiewe skryfwerk aan by die Adam Mickiewicz-universiteit in Pole, asook by die Skool van Neerlandistiek aan die Palacky-universiteit in die Tsjeggiese Republiek. Hy is ook genooi om in 2007 etlike maande in Wassenaar in Nederland te vertoef as inwonende skrywer by die Netherlands Institute for Advanced Studies in Literature.

In 2000 keer Eben terug na die genre van sy eerste boek, Witblitz, naamlik die kortverhaal, met die publikasie van Twaalf, wat volgens Hennie Aucamp opnuut bevestig dat Eben ’n fyn-ontwikkelde “sintuig” vir die kortverhaal het.

"Die eerste groot verrassing van die bundel is dat die verhale telkens so toeganklik is – en met 'toeganklik' word vir geen oomblik 'fasiel' bedoel nie, want daarvoor het die meeste verhale ’n geestelike onderlaag wat deurskyn deur die storielaag. In enkele verhale is daar ook wat James Joyce 'die epifaniese oomblik' genoem het.

"Hiervan is die slotverhaal ’n aangrypende voorbeeld. Die titelkarakter, Leo, voel sy dood nader, en op ’n winternag gaan stap hy vir laas deur sy dorp Burgersdorp. Op sy winterreis kom hy, soos sy naamgenoot in Ulysses, talle mense teë, veral swart mense. Bowenal kom hy homself teë. Herinnerings oorval hom, en dan volg dié beduidende sin: 'Leo sê hardop vir homself dat hy nie nostalgie het nie, geen verlies ervaar nie.'

"Dis in 'Leo' en ander Burgersdorp-verhale dat mens opnuut besef hóé sterk Eben Venter by die Burgersdorp-skool aansluit, skryf aangaande; by die Postmas en Van der Walts voor hom, en bowenal by Jan Lion Cachet, wat Sewe duiwels en wat hul gedoen het geskryf het. (...)

"Wat nóú by Venter deurkom, is ’n bewustheid van die tragiek van die menslike kondisie. Hy kyk die ontstamde wit man en die bedroë swart man met ewe veel nugterheid en ja, soms erbarme, aan.

"Die bundel Twaalf laat die vermoede ontstaan dat die era van Exile Literatur (ballingskapsliteratuur) in Afrikaans begin het. Dis opvallend dat die sterkste verhale in Twaalf deur die bank in die teken van afskeid, vertrek en aanpassing staan. Die beste verhale in die bundel beteken ’n verryking van die Afrikaanse verhaalskat, maar dis die gedrae 'Leo' wat hom onmiddellik as ’n moderne klassiek aanmeld."

In Julie 2003 het Eben na Suid-Afrika gekom om sy roman Begeerte te kom bemark en het hy beplan om teen die einde van daardie jaar vir minstens ’n jaar na Suid-Afrika terug te keer.

"Ná byna twee dekades in Australië," skryf Stephanie Nieuwoudt, "is Eben nog onteenseglik Suid-Afrikaans. Hy praat Afrikaans wanneer hy kan in die vreemde en verlang terug na die landskappe in Suid-Afrika.

Eben vertel self verder: “Ek is in 1986 weg uit Suid-Afrika. Dit was in die tyd van die noodtoestand, toe daar uit protes oop ruimtes in koerante gelaat is omdat sekere inligting nie gepubliseer kon word nie. Ek is opgeroep om in die townships ’n weermagkamp te gaan doen. Dit was ’n valse noodsaak; iets waaraan ek my nie wou steur nie. Ek voel nie ek het iets verkeerds gedoen deur die land te verlaat nie.

“My emigrasie was ’n suiweringsproses. Die afstand het onder meer my bande met my ouers versterk. Dit bied jou die vermoë tot vergifnis. Netelige dinge word net netelige dinge. Van ’n afstand sien jy die belangrike dinge raak. Daar was konflik tussen my en my ouers, maar dit was oor die Suid-Afrikaanse situasie. Ek glo nie dit was meer of minder as wat daar tussen ander kinders en hul ouers is nie.

“Met Foxtrot van die vleiseters het ek baie van dit wat negatief is aan die Suid-Afrikaanse situasie uit my uitgeskryf. Om te skryf is terapie.”

Begeerte (2003), wat in 2004 met die WA Hofmeyr-prys bekroon word, speel in die Oos-Kaap af. Dit vertel die verhaal van ’n vrou, Madelein, wat ondanks haar man, Bill, se ontrou, steeds aan hom verbind bly.

“Dis my eerste roman waarvan die karakters nogal ver van my eie lewe staan," vertel Eben aan Stephanie Nieuwoudt (Volksblad, 5 Julie 2003). “Daar was minder wroeging as met my ander werk, maar ek het ook harder gewerk aan Begeerte. Ek het drie jaar lank navorsing gedoen.”

Op aanbeveling van die digter en boekeredakteur Petra Müller het hy die klassieke Medea, deel van die Oresteia-trilogie, gelees. “Die boek gaan uiteraard ook oor verlies. Medea vermoor haar kinders om wraak te neem op haar man en Madelein probeer haar fetus aborteer.”

Op ’n vraag van Nieuwoudt of die boek en Bill se houvas op Madelein nie iets sê van die patriargale oorheersing in die Suid-Afrikaanse samelewing nie, antwoord Eben: “Ek het nog nie aan dié moontlikheid gedink nie, maar elke leser moet sy eie afleidings maak.”

Oor die temas van vergifnis en versoening gee hy toe dat dit gelees kan word as ’n metafoor vir die situasie in Suid-Afrika. "Die titel van die boek het hy gekry uit die mite van Psige en Eros. Toe Psige die eerste keer deur ’n pyl uit Eros se boog getref is, is sy dadelik gevul met begeerte – soos Madelein, wat haar lewe lank betower was deur Bill. Eros het gesê Psige mag nooit sien hoe hy lyk nie, maar toe sy wel een aand in lamplig sien hoe hy lyk, het sy sy diepste wese ontbloot. Madelein slaag egter nooit daarin om Bill werklik te verstaan nie. Sy het altyd die begeerte om hom en sy optrede te verstaan. Begeerte as seksuele spel is regdeur die boek aanwesig. Dis baie belangrik in albei die karakters se lewens.”

Eben het die verhaal gekry by ’n vrou wat dit aan hom vertel het, maar hy wil nie verder hierop uitbrei nie. “Dis te sensitief. Wat sy my vertel het, het ’n storie geword waaraan ek bygeborduur en ook weggeneem het.”

Net soos in sy vorige boeke waarin die tema van verlies te vinde is, is dit ook in Begeerte ’n onderliggende tema: "Ek kan nie van die verliestema wegkom nie. Agterna gesien is verlies ook verrykend. Dis deel van die menslike bestaan.”

Willie Burger (Beeld, 11 Augustus 2003) skryf as volg oor Begeerte: “Madelein is tot Bill aangetrokke, juis deur dié eienskappe wat dit vir hom onmoontlik maak om getrou te wees. Haar huiwering om háár begeerte uit te leef, lei daartoe dat dit 'skeef loop tussen hulle': 'Tussen hulle twee het sy gekom: met haar weiering, haar kop, haar eie wil.'

“Bill en Madelein se harde werk om ekonomies op die been te kom, haar vrees om deur Bill gekul te word en sy ontrouheid, vernietig Madelein en die leser se romantiese verwagtings. Bill se aanhoudende gejag na vroue (sy ontrouheid begin heel gepas tydens 'n jagtog) en sy weiering om deur enige vrou ‘vasgevang’ te word en die effek daarvan op Madelein, speel af teen die agtergrond van geleidelike veranderings in die land se (politieke) geskiedenis.

“Die Oos-Kaapse omgewing word, soos in Venter se ander werk (bv in Twaalf ), helder opgeroep. Die vergange, romantiese onskuld van die voor-oorlogse Oos-Londen kry op byna weemoedige wyse gestalte. Die geskiedenis van die regeringsprojekte om besproeiingsplasies te Vaalharts vir oorlogsveterane beskikbaar te stel, die tuislandbeleid en die geldmaakgeleenthede wat opportuniste daarin raaksien asook die skynheilige rasvooroordele van die tagtigerjare, vorm ’n interessante agtergrond.

“Waar die politiek aanvanklik slegs agtergrond is (“Sy het hom mooi deurgekyk: die bakleiery oor die politiek is maar sy manier, en hare, om mekaar in die bed te kry. ’n Voorspel en ’n aanhitsery, niks meer nie.”), speel dit algaande ’n belangriker en selfs deurslaggewende rol in die twee hoofkarakters se lewe.

“Een van die opvallendste aspekte van die roman is die karakterisering. Venter kán oortuigende karakters skep, met humor en met deernis vir hulle swakhede (soos Konstant in Ek stamel, ek sterwe, die sterwende ou man in Twaalf, Cox en Cerise in My simpatie, Cerise).

“Perspektiefwisseling word goed benut en die beskrywings van sekere tonele met humor en fyn registrering van emosionele ondertone in die taalgebruik het al kenmerkend van Venter se werk geword. Talle van hierdie onthoubare tonele het (soos in sy vorige romans) met etes of onthale te doen en verteenwoordig telkens belangrike keerpunte (die ete op die trein, Madelein wat die ander hoewebewoners se aandete onderbreek, Bill wat sy ‘gesin’ aan huis in Oos-Londen onthaal, Bill se onthaal vir die buitelandse besoeker).

“Die ritme van Venter se prosa en sy woordkeuse dra by tot die oortuigende oproep van ’n vergange era. Sentimentaliteit word deur die bedrieglike ligtheid van vertelling vermy. Die volgehoue intensiteit van Ek stamel, ek sterwe ontbreek miskien, maar die roman is ’n stewige bydrae tot Venter se oeuvre en verryk die Afrikaanse vertelkuns.”

Eben se volgende roman, Horrelpoot, word in 2006 gepubliseer. "Prins Albert in die Groot-Karoo aan die voet van die Swartberge is die plek waar ek kwarantyn gevind het," het Eben aan Johan Myburg vertel. "Dis waar ek ’n huis gerestoureer het en vir ’n paar jaar vertoef het. Dit is ook die plek waar ek Horrelpoot geskryf het. In isolasie."

Behalwe die huis op Prins Albert het hy nog altyd ’n aanklank vir Australië, waar hy 17 jaar gewoon het. “Die lot van ’n emigrant is dat jy nêrens tuis is nie,” sê hy.

Maar hierdie "lot" waarvan Eben praat, is dít wat hy nog altyd tot voordeel van sy skryfwerk ingespan het, en dalk was dit hierdie afstand en die feit dat hy in die 1980's en 1990's nie in Suid-Afrika was nie, wat gelei het tot sy ander blik wat hy op die gebeure in Suid-Afrika gegee het. "Miskien was dié afstand juis nodig om ’n boek soos Horrelpoot die lig te laat sien; om die onsegbare onder woorde te bring. Want, die inhoud van dié jongste boek is die soort goed waaroor mense nie wil praat nie,” gee hy toe.

“Miskien is dit deel van mense se oorlewingsdrang om dié soort goed nié te wil verwoord nie. Dis beter om dit nié te sê nie, want hoe ­verwoord jy dit met die wete dat jy hier moet bly? Nie almal is in ’n ­posisie om die land te verlaat nie. En nou het ek dit gesê. Dis uit en gedaan. En nou kan ek aangaan.”

Johan Myburg meen dat Horrelpoot se tema die gesamentlike ("kollektiewe") vrees is (of "erfvrees", om Eben se woord te gebruik) teen die agtergrond van ’n geplunderde Suid-Afrika en word alles ’n ­nagmerrie wat waar geword het.

Myburg skryf verder oor die roman (Volksblad, 29 November 2006): "Marlouw en sy suster, Heleen, woon in Melbourne. Hulle het Suid-Afrika jare gelede verlaat. Heleen se seun, Koert, wat ook in Australië grootgeword het, keer terug na die familieplaas buite Maitland (die naam wat tydens die vestiging van Burgersdorp in die Oos-Kaap vir dié dorp oorweeg is) en vestig ­hom daar as ’n soort 'koning'. Die raakvlakke tussen Venter se ­roman en Joseph Conrad se Heart of Darkness word reeds in die name van die karakters duidelik.

"Marlouw se reis na die plaas is meteens ook ’n reis na binne. En dis waar die donkerte dalk des te ­drei­gender word. As 'emigrant' het Venter immer sy oor op die grond gehad. Wat in die land gebeur het, het hy ­op­gevang – in die media, in gesprekke, tydens ­etlike besoeke."

Nadat Eben weer vir enkele jare in Suid-Afrika gewoon het, het hy weer die landskap begin waardeer en het hy weer gewoond geraak aan die manier waarop mense praat en die kern van die gemeenskap, verduidelik hy aan Myburg: “Ek het in Prins Albert gesit, en soos ek skryf, het die goed waaroor ek skryf, gebeur. Daar was op ­daardie tydstip juis berigte oor die ­begraafplaas in Victoria-Wes wat ­ge­vandaliseer is. ’n Groot deel ­daarvan is verwoes. En daar was die kragonderbrekings.”

Een van die elemente in die roman wat die leser die meeste sal onthuts, is juis hierdie "goed wat gebeur", en dit is waarop lesers reaksie gaan toon. En dit is hierdie aspek wat Eben aangespoor het om navorsing te doen, onder meer oor die amigdala, die klein, amandelvormige nukleus in die brein wat sy eie geheue van vrees en vreespatrone het. “Ek het die jongste navorsing oor die onderwerp bekom. Heelwat daaroor nagelees. En natuurlik ook ­Con­rad noukeurig gelees. En ­Chinua Achebe se kritiek dat ­Conrad rassisties was in sy uit­beelding van mense.”

Dit was nog altyd duidelik dat Eben se intensiteit een van sy karaktertrekke is, ook dat ’n mens hom as ’n ernstige persoon sou kon opsom. Wanneer hy oor Horrelpoot praat, kom ’n mens agter dat dit nie in ’n ommesientjie geskryf is nie, skryf Myburg: “Ek het die afgelope twee jaar of wat meer gelees as in ’n lang tyd. Met gespitste aandag. En weer ­onder die indruk gekom van die waarde van klassieke werke. Alles is as ’t ware klaar gesê. En ek verstaan nou ook meer en meer van die romankuns; die geskiedenis van die narratief. Ek begin die struktuur van die roman ­beter begryp.

“Of dit goed is om al dié goed ­intellektueel te begryp, weet ek nie. Ek dink nietemin dat as ek skryf, ek dit uit die derms wil doen.” 

Om “uit die derms te skryf” is ­immer ’n eienskap van Venter se skryfwerk. Hang dit saam met sy waarnemingsvermoë? wou Myburg weet. 

“’n Mens leer aan om skerp te kyk, te luister en te ruik. Omdat ek die sensasie, of eerder die manier waarop ek die sensasie ervaar het, ­maklik vergeet, maak ek aan­tekeninge. Spesifiek van die manier waarop ek dit in woorde ervaar het.” 

Vir Johan Myburg word hierdie talent om klein besonderhede in Afrikaans raak te vat, besonder goed in Horrelpoot geïllustreer en word dit so mooi uitgebeeld dat dit ’n tweede lees regverdig.

In 2009 verskyn Eben se Santa Gamka. Die agtergrond vir die roman is die Karoo waar die mense nog nie die impak van die "nuwe" Suid-Afrika so aan die bas voel nie. Hier bly Lucky Marais, ’n "huurknaap". Sy wêreld het vir hom te warm geword en nie eers sY gevatheid of sy voorkoms gaan hom red nie. Net ...

Die roman het die WA Hofmeyr-prys en die M-Net-prys in die Afrikaanse kategorie verower. Dit is uitgesonder vir die vernuwende taalgebruik daarin. In haar resensie vir die Hofmeyr-prys sê Louise Viljoen: “Vir my gevoel slaag Venter nie net daarin om Lucky (’n rentboy op ’n Karoodorpie) se perspektief oortuigend vas te vang nie, maar ook om ’n besondere soort Afrikaans met sy vertelling vas te lê.”

“Ek is tevrede met dié boek,” sê Eben aan Johan Myburg. “Nou moet ’n mens maar wag en sien hoe dit ontvang word.”

Die kritiek wat Venter vroeër uit sommige oorde op Horrelpoot gekry het (onder meer dat dit somber, distopies, apokalipties en Afro-pessimisties is), het nie ongemerk verbygegaan nie. “Ek was nie daaroor verbaas nie, maar dit was nietemin besonder fel in sommige gevalle. [...] Ná Horrelpoot wou ek ’n post-apartheid-boek skryf. Dalk ligter, dalk meer ‘toeganklik’.” 

En die soeke na ’n "ligter" boek het neerslag gevind in Santa Gamka met Lucky as hoofkarakter. Uit die openingsin – wat Eben 70 keer oorgeskryf het omdat dit vir hom baie belangrik is dat die eerste woorde van ’n roman moet tref – weet die leser dadelik dat Lucky ’n bruin man uit die postapartheid era is.

Dit is ook die eerste van Eben se romans waar sy lang verblyf in Prins Albert so ’n prominente rol speel – nie net as gevolg van die aardrykskundige beskrywing nie, maar ook ten opsigte van die taal wat in die roman gepraat word.

Eben het deur die jare baie doelbewus fyn na die mense van sy dorp en omgewing se praat- en taalgebruik te luister. Hy het notas gemaak en ’n woordeboek opgestel van gesegdes, woorde en uitdrukkings wat eie is aan die mense van die Groot Karoo, skryf Johan Myburg in sy artikel oor Santa Gamka (Beeld, 5 November 2009).

Dit is dan ook te danke aan hierdie noukeurigheid dat Lucky se karakter nie in ’n stereotipe verval nie – hy bly ’n kind van sy omgewing en word nooit ’n karikatuur nie. Eben het te veel respek vir sy karakters om so iets te laat gebeur: “Dit was vir my belangrik om die verhaal te vertel in Lucky se taal en woordeskat. Om op dié manier as’t ware onder sy vel te kom.”

Die leser word nie net geneem na die wêreld van die mense wat in modderhuise in die Karoo woon nie, maar Venter verryk tegelykertyd die Afrikaanse taal deur die gebruik van soms argaïese gesegdes en ongewone taalgebruik.

Myburg gaan voort: "Soos in Horrelpoot is die stryd teen toenemende domheid ('dumbing down') ’n sentrale motief in Santa Gamka. En daarmee saam ’n doelgerigte strewe na sin en betekenis. Dit weerspieël dalk ’n deel van Lucky se ingesteldheid: om weg te kom van ’n wêreld waarin alkohol seëvier (die wêreld van sy pa) en ’n soeke na ’n lewe met beter gehalte. En liefde."

Die verhouding tussen pa en seun is iets wat Venter interesseer. “Ek beplan om in my volgende boek dié tema te ontgin. Daar is net sulke verrassende elemente in om mee te werk.”

Vir Neil Cochrane is Santa Gamka ’n "lewenskragtige toevoeging tot die Afrikaans prosa", en vir EKM Dido ’n “literêre juweel”.

Vanaf 2007 tot ongeveer 2011 het Eben in die By-byvoegsel tot Saterdag se Die Burger, Beeld en Volksblad ’n rubriek geskryf wat as sy Stoney-stories begin het en later sy Brouhaha­-rubriek geword het. Dit was verreweg die gewildste in By. SMS’e van lesers het weekliks ingestroom: “Ek hou so baie van Eben Venter se Stoney-stories. Hy doen méér om begrip en selfs bewondering van die gehate Oz by ons rotsvaste ek-sal-nooit-emigreer-Suid-Afrikaners te vestig as enigiets of iemand anders.” En: “Eben Venter se woordkuns is soos ’n oase in die By-woestyn.”

In 2010 is ’n keur uit sy allerbeste Stoney-stories, ’n handvol onverbeterlike resepte met sy verstommende Brouhaha-vertellings as bonus uitgegee. Jeanette Ferreira (Beeld, 1 November 2010) skryf: "Venter kry dit reg om in die rubrieke/verhale betrokke te wees sonder om in die spieël te kyk, en dit wil gedoen wees. Verdraagsaamheid jeens alles en almal wat anders is, is eintlik nie die enigste woord nie. Hy stel intens belang in mense en hul manier van doen en hy verwonder hom aan hulle. Heelwat van hierdie stukke is trouens helend, veral vir geïrriteerde en desperate Suid-Afrikaners.

"In Brouhaha sien die leser dit is wel moontlik om jou gevoelens te lug, selfs om jou bloedig te vererg, sonder om ’n ander mens te verkleineer. Aan aartsgesonde sinisme ontbreek dit nie, aan diepgewortelde venyn wel. Verwag wêreldvreemde karakters, huilsnaakses, behoewendes, dapperes, hulpsoekendes, geliefdes, deernisvolles, eksentriekes, asook junkies en funkies. Verwag kortom mense wat jou anders na jouself en jou wêreld laat kyk: hoe anders is jy, hoe anders is ek, maar ons is saam in die ding. Daarbenewens word die leser beloon met spanning en onverwagte wendings. Met stóries. Dit is ’n lieflike boek, in vorm en inhoud, deur ’n buitengewoon begaafde skrywer."

Eben se jongste roman is Wolf, Wolf, wat in 2013 gepubliseer is. Dit is in 2014 met die kykNET Rapport Boekprys vir fiksie bekroon. Die Engelse weergawe was op die kortlys vir die Sunday Times-fiksieprys in 2014.

In haar commendatio vir die kykNET Rapport­-prys skryf Louise Viljoen op LitNet dat Wolf, Wolf ’n "sterk en ontstellende roman is waarin die verwikkelde verhoudinge tussen ’n groep karakters geplaas word teen die agtergrond van ’n eietydse Suid-Afrikaanse stadslandskap. Die roman se sentrale karakter, Mattheüs Duiker, is ’n komplekse persoonlikheid: hy is selfgesentreerd, kompulsief, verwend, naïef en as gevolg daarvan besonder kwesbaar in die verhoudings met sy vader, Benjamin, sy minnaar, Jack, en die Kongolese vlugteling Emil Youlou, wat in sy kitskosonderneming vir hom werk.

"Die roman is ’n indringende ondersoek na die sentrale karakter se interaksie met die verskillende persone in sy lewe, veral die verhouding met sy vader, vir wie hy versorg op sy sterfbed en op wie se uiteindelike aanvaarding hy as gay man hoop. Alhoewel dit aanvanklik mag lyk asof die roman afstuur op ’n positiewe en versoenende einde tussen vader en seun, blyk dit ’n illusie te wees. Die gevolg van Benjamin se finale verwerping van sy seun is die snelle afloop tot by ’n uitsiglose slot waarin Mattheüs letterlik alles verloor wat hy gehad het en totaal ontredderd gelaat word.

"Op die persoonlike vlak teken die roman iemand wat as gevolg van sy beskermde agtergrond, relatiewe bevoorregting en onttrokkenheid van die werklikheid volkome onvoorbereid is op die realiteite van ’n land waarin sluheid, korrupsie, uitbuiting en bedrog so algemeen is dat die lewe ’n oorlewingstryd geword het. Tegnologiese vernuwing, die internet en sosiale media verwyder Mattheüs, en ook Jack, nog verder van die werklikheid en neem hulle ’n vervreemdende hiperrealiteit in eerder as om hulle toe te rus vir uitdagings waarmee hulle gekonfronteer word.

"Op kollektiewe vlak is die roman – soos talle ander tekste in die Afrikaanse letterkunde – ’n verkenning van Afrikaners se aansprake op ’n lewe in Afrika en die geldigheid van hulle aannames. Die “wolf, wolf”-gegewe met sy apokaliptiese assosiasies en intertekstuele geskiedenis in Afrikaans word op ’n besonder veelduidige wyse gebruik om die spanning in die roman op te bou en uiteindelik tot ’n ontnugterende klimaks te bring. Die onskuldige kinderspeletjie ontaard in ’n tragedie waardeur die verskillende dierefigure in die roman terugwerkend nuwe betekenis kry.

"Met hierdie roman toon Venter weer eens dat hy nie huiwer om die kilste moontlike scenario’s van hulle leefwêreld vir sy lesers te teken nie. Net soos Horrelpoot is Wolf, wolf ’n roman waarvan die weerklank nog lank in die Suid-Afrikaanse letterkunde sal bly nagalm."

Eben erken teenoor Johan Myburg dat Wolf, Wolf die boek is waaraan hy die lekkerste geskryf het. Hy was twee jaar lank voltyds besig met die skryf van dié roman. “Dis dié boek waaraan ek sonder skroom geskryf het, sonder om myself terug te hou, te sensureer of in te perk.”

Myburg (Beeld, 14 Mei 2013) skryf oor die boek: "Met die uitdaging wat Eben by die aanpak van ’n nuwe boek voor oë het, het hy vir die karakters elk ’n eiesoortige stylstem gegee: die pa, Benjamin, dikteer briewe op ’n ou Philips-bandopnemer; Jack, Mattheüs se vriend, maak Facebook-inskrywings; en Sissie, Mattheüs se suster wat buite Laingsburg op ’n plaas woon, beperk haarself tot ’n stem aan die ander kant van ’n telefoonlyn. In meer as een opsig is Wolf, Wolf ’n hoogtepunt, met die betekenis van kulminasiepunt, in Venter se skryfwerk. So asof die dekorstukke die afgelope 20 jaar of wat vir dié nuwe boek reggeskuif is."

Jare lank het Venter se vriende en sy landgenote in Australië nie toegang tot sy skryfwerk gehad nie. Ek stamel ek sterwe (2005) is wel later vertaal as My Beautiful Death, en Horrelpoot (2006) is in 2008 vertaal as Trencherman. “Dit was met die uitreiking van Trencherman dat ek besef het as ek weer ’n boek uitgee, moet dit gelyktydig in Afrikaans en Engels beskikbaar wees. Maar vir die eerste keer voel ek na ’n skrywer, nie noodwendig ’n Afrikaanse skrywer nie. Op ’n manier is dit ’n manifestasie van Wolf, Wolf as ’n kulminasiepunt."

Wat tema betref, sluit Wolf, Wolf aan by Ek stamel ek sterwe, waarin Konstand Wasserman as jong man Suid-Afrika verlaat en sy voete vind in Australië, ’n kontinent waarmee sy ouers nie bekend is nie.

In Wolf, Wolf is die hoofkarakter Mattheüs elke dag in sy swak-geventileerde en -verligte kamer besig om op die internet na pornografiese webwerwe te soek en dit is ’n wêreld waarmee sy blinde pa nie bekend is nie. Die leser leer Matt, soos sy vriend Jack hom noem, van die begin af ken as ’n gay man, en Jack en Matt se verhouding dra nie die pa goedkeuring weg nie. Maar as lesers verwag dat daar in Wolf, Wolf gewroeg word oor homoseksualiteit, moet hulle weer dink. Eben verduidelik: “Ek wou by die punt uitkom waar ’n mens goed kan beskryf soos dit is. Sonder om eers te moet verduidelik.”

Johan Myburg skryf verder: "En sonder om dit te moet verduidelik, ontwrig Venter standaard- of normatiewe sienings – onder meer dié van patriargie en genderrolle – deur die skep van ’n identiteit sonder ’n essensie, à la queer-teorie.

"Die skroewe waarop Benjamin Duiker se godsdienssin – sy manlikheid geskoei op dié van Cary Grant en Errol Flynn – en sy plek as heer van die herehuis gevestig is, word losgewoel. Tussen die pa se weergawe van manlikheid en die onverbloemde seksualiteit van Mattheüs staan dié van oom Hannes, Benjamin se broer. Uit ’n vorige geslag word sy onuitgesproke homoseksualiteit verbeeld as dié van ’n dandy.

"Hoewel die verhaal dié is van ’n seun se verhouding met sy kwynende pa, is dit die rol van gay kinders, seuns én dogters, wat as primêre versorgers na hul ouers moet omsien, wat Venter in die oog het.”

“Dis opvallend hoe Sissie, die dogter wat ’n mens sou vermoed na haar pa sou omsien, afstand behou en verskonings voorhou soos die plaas en die kinders se ballet en wat nie al nie,” sê Eben. “Dis juis so dikwels die gay kinders wat, ondanks die feit dat hul ouers nie hul leefstyl goedkeur nie, na ’n terminale ouer omsien. Dit is wat ek ook wou uitwys."

Vir Myburg beeld Eben al hierdie dinge soos gewoonlik uit met sy "verhoogde vorm van waarnemingsvermoë".

"So is daar in Wolf, Wolf aanduidings van hierdie vermoë om klein besonderhede raak te vat in taal. So mooi dat jy dit weer móét lees. Meer nog, op so ’n manier dat ’n mens aan die woorde wil begin snuif," skryf Myburg.

Eben is bly dat die Afrikaanse en Engelse weergawes van Wolf, Wolf gelyktydig verskyn het. “’n Eerste vir NB Uitgewers. Die boek is op Amazon beskikbaar en word ook as e-boek bemark. Op dié manier is Wolf, Wolf vir my ’n hoogtepunt en ’n deurbraak.”

Wolf, Wolf is al onder meer beskryf as ’n dieptastende kyk op die verhouding tussen pa en seun, asook op ’n man wat ontredderd is omdat hy baie min dinge uit die verlede kan neem wat hom sou toelaat om aan te pas by ’n vinnig veranderde lewensbestel. Die verhaal is intens en ontstel die leser, maar dit is terselfdertyd ’n "meesterlike ontrafeling van die dun lyn van gevoel". Wolf, Wolf plaas Venter op die toppunt van sy uitsonderlike vermoë as romanskrywer.

Izak de Vries skryf op LitNet dat Wolf, Wolf maklik lees en ’n spannende roman is. "Dit is ook ’n komplekse teks, ryk aan snydende kommentaar op die hedendaagse samelewing. Die roman ondersoek ’n middelklas wit gesin se lewe, maar dit vra heelwat vrae oor ’n aantal kwessies wat ons samelewing tans bedreig." 

Wolf, Wolf is onder dieselfde titel in Engels vertaal en is sy eerste roman wat in Australië sowel as in Engeland gepubliseer is. Evan Ritchie het gemeen dat een van die kerntemas in Wolf, Wolf die "problematic cultural manifestations of 'masculinity'" is en gewonder of Eben ’n oplossing vir hierdie probleem in die toekoms sien.

Eben het geantwoord: "In Australia, a lot of men are gay, or married with children, or single, and they’ve become emancipated and free and easy and open about themselves and about their emotions and about being physical with other men or with their sons without it necessarily being sexual. I’ve seen and experienced these men in South Africa as well, but because I don’t live there permanently, I don’t have that constant opportunity to observe. I think men are moving on, or at least some men. I do frown upon some men in politics at the moment, but I won’t mention names." (http://popculture-y.com/2015/02/eben-venters-wolf-wolf)

Nog ’n roman ná Wolf, Wolf?

“Ek weet nie. Ek dink die roman is gedoen. Wat ek wel oorweeg, en ek het ’n paar idees, is ’n erotiese werk wat oor genres spoel. Dit sou my aandag kon boei.”

Venter is intens bewus van die armoede wat ’n mens in die Karoo, en spesifiek op Prins Albert, aantref. “Jy is altyd baie kwaai gekonfronteer met die arm mense in hierdie dorp, want jy leef naby hulle. Ek het ook so ’n deeltjie daarvan ingeskryf in [Santa Gamka]. Waar ek in daai supermarktou staan, kom iemand agter jou en hy koop ’n sakkie meel en suiker en ’n brood. En dan hoor ek hoe praat hulle: Die meel het nou opgegaan en die kookolie het opgegaan – dit het alles opgegaan. Maar jý koop feta en ... jy weet ... ek sal nooit daarvan kan ontslae raak nie. Dit is ’n tipe van ’n wit skuld, of wat jy dit ook al wil noem. Of miskien is dit my Christelike opvoeding.

“Ek sal nooit van daai bewussyn ontslae kan raak nie. As ek in Australië aankom en so afklim in Sydney, dan is dit vir my ’n soort van ’n verlígting byna. Dan dink ek: kan ek net vir ’n rukkie ontsláé raak van al hierdie bagasie in Suid-Afrika en mense wat áltyd oor politiek ... dit is onvermydelik. Ek kan onthou as kind op my oupa-hulle se plaas. Ons het altyd Sondae daar gaan kuier. Dan sit ons so op die stoep. Solank as ek kan onthou, as kind, het mense in my familie oor politiek gepraat en oor die situasie in die land.”

Hy onthou hoe mense dáái tyd al gesê het hulle weet nie wat van hierdie land gaan word nie. En mense sê dit nou steeds. “Weet jy wat? Ek dink dit gaan nooit verander nie. Dit is eintlik ook op ’n manier vir my die fassinasie. Dit is hierdie land van wonders en wonde. Breyten het dit vreeslik mooi gesê: Dis ’n psigologiese hel in ’n fisieke paradys,” sê Eben aan Murray la Vita.

La Vita praat met Eben oor hoe die tekstuur van ’n gemeenskap in taal tot uiting kom.

“Dit is wat my aangetrek het na Prins Albert, en dit is nou al so te sê tot niet deur die gentrifikasie in hierdie dorp. Dit is ’n tweesnydende swaard. Want aan die een kant het dit natuurlik enorme ekonomiese ontwikkeling gebring. Maar daardie mense wat dáái woorde ge-coin het en die pragtige dialek van daai mense wat in die laat sestigerjare uit Gamkaskloof, uit Die Hel uit ... hulle het byna almal Prins Albert toe getrek. Daar is baie min van daardie mense oor. Die inkommers, van wie ek ook een is, maar verál die Engelse inkommers, kan nie daardie dialek verstaan nie. Hulle kan ook nie hóór dat dit ’n anderse Afrikaans is as wat ék byvoorbeeld praat nie.”

Oor ’n boek wat sy lewe verander het, skryf Eben (Beeld, 17 Julie 2000): “Vrydae ná bobbejaanskool het my ma ons met die stofpad uitgery plaas toe. Die hitte op die bonnet en op die bossieveld was so fel dat die skape en die klippe en die hemel spierwit geword het. As ons gelukkig was, het ons boonop ’n stofstorm raak gery. Dan het visuele ervaring van die wit hitte gestaak. Net fynstof in neusgate en oorskulpe, selfs binne-in die kar, om my mee besig te hou.

“Ek sê gelukkig, want dertig jaar later én op ’n ander kontinent het van daardie stof en klippe en witwarm hitte slegs ’n nostalgiese bekoring oorgebly.

“En so kon ek dus maklik die stof-hitte beruik en betas toe ek hierdie sin in Bruno Schulz se The Street of Crocodiles (die Engelse vertaling [van die oorspronklike Poolse Sklepy cynamonowe – Kaneelwinkels]) lees: ‘Market Square was empty and white-hot, swept by hot winds like a biblical desert.’

“Hierdie dun boekie van dié Poolse skrywer (1892–1942), hy het slegs twee boeke geskryf, reken ek onder een van my tien bestes. Schulz was ’n sielige alleenloper op sy dorpie Drohobycz, deesdae deel van Rusland. Van die kleinburgerlikheid en die verstikkende roetine en die geestelike leegheid, die sprinkane en stofstrate en Cinnamon Shops alkant van die markplaas het Bruno Schulz ’n poëtiese herskepping gemaak.

“Die primêre persoonlikheid en inspirasie agter hierdie herskepping was Schulz se vader. ‘Only now do I understand the lonely hero who alone waged war against the fathomless, elemental boredom that strangled the city (Drohobycz). Without any support, without recognition on our part, that strangest of men was defending the lost cause of poetry.’

“Twee ander faktore dra by tot die misterie en romantiek, ek weifel nie om dit te sê, van Schulz as skrywer en kleindorpenaar. Op ’n sekere Novemberdag, 1942, stap hy terug huis toe, brood onder die arm, toe ’n Gestapo-offisier en self bewonderaar van Schulz se kuns, hom aansien vir die verkeerde persoon en die skrywer gevolglik doodskiet.

“Kafkiaans, en gepas daarby. Want Schulz het gedurende sy kort lewe op vaal Drohobycz dit ook reggekry om Die verhoor van Kafka in Pools te vertaal. En ja, Schulz se magiese, soms sado-masochistiese, tekeninge wat ek eers gedurende my eerste besoek aan Pole volkome ontdek het.

“‘We were inclined to underrate the value of his sovereign magic, which saved us from the lethargy of empty days and nights,’ skryf Bruno Schulz oor sy vader. Vir my is dit van toepassing op sy eie prosa.”

Daar is baie ander boeke wat ’n beduidende invloed op Eben uitgeoefen het, maar vir hom het al JM Coetzee se vroeëre werke ’n vromende invloed op sy skryfwerk gehad. "His storytelling, his outsider characters, the implied reference to classical works in his stories, his mastering of rhythm and tone and above all, his sparsity: every single word counts." ("Working wirh words")

Vir Vrouekeur wou Jacomien van Niekerk by Eben weet hoe hy in staat is om sy aanvoeling vir Afrikaans te behou en so goed in Afrikaans te skryf as hy feitlik net Engels hoor. Vir hom is dit maklik, sê Eben, aangesien hy by die taal hou waarin dit vir hom die maklikste is om die storie te vertel. "Ek probeer byhou, hou woorde en uitdrukkings by in my private woordeboek, kyk of ek iets nuuts daarmee kan maak, byvoorbeeld die lang, dralende sinne waarmee Mattheüs homself uitdruk, dis ’n nuwe ding vir my daardie. As ek in Engels skryf, en ek maak soms so, kom die storie nie vanself nie. Die hart en bloed, die grein en grint van ’n karakter: Hoe dit voel as jy pas aan die dooie hand van jou vader gevat het, kom uit in Afrikaans."

Van Niekerk het in haar onderhoud aan Eben gevra wat hy die meeste geniet wanneer hy in Suid-Afrika is en wat hy die langste sal onthou van sy boektoer met Wolf, Wolf.

"My betrokkenheid by elke situasie, by die mense en op hul beurt, hul betrokkenheid by my. Die varsheid van ervarings, visueel of hoe ook al, juis omdat ek nie elke dag hier rondloop nie. En die geborgenheid wat kom met dié dat ek met soveel dinge intiem bekend is. In Bloemfontein het my goeie vriendin, ’n boorling van die stad kan jy maar sê, my gehelp om in ’n liederlike, baie bedrywige, effens riskante, maar tegelykertyd vriendelike buurt tussen die hoofposkantoor en die stasie ’n tradisionele Lesotho-kombers te gaan koop. Senna Morena, 90% wol, 10% katoen. Snoesig soos lamsore. Daardie kombers was my vrypas op alle lughawens totdat ek die lug in is terug hierheen. Werkers en reisigers oral het dit erken, geëien as iets van hulle, iets sags en innigs en dierbaars. Hulle wou dit graag met my deel. Ek kon dit met hulle deel. Só het ek die land verlaat: verheugd en ontroerd." (Vrouekeur)

Hoe maak 'n mens tyd om te skryf?

  • "Die obsessie. Ek raak obsessief met ’n storie. Op reis of in die kleinhuisie of selfs as ek ’n koolkop van die rak af lig, kry ek idees wat tot daardie storie behoort. By die huis skryf ek die vars idee op ’n kaartjie en plaas dit terug op sy plek in die boks. As ek die gedagte nie dadelik neerskryf nie, vergeet ek dit. En as ek nie obsessief oor die storie is nie, vervaag hy. 
  • "Die prioriteit. Ek máák tyd om aan my storie te werk. Soms word daar van my vereis om my plig na te kom: te kook of ’n brief te skryf, ’n verjaardagoproep te maak of ’n depressiewe mens te gaan besoek, maar ek bly by my prioriteit. Dis selfsugtig, maar die enigste manier hoe ek iets aan lesers kan teruggee.
  • "Vernuwing. Ek probéér om elke storie nuut te maak. Te sorg dat elke sin wat ek skryf, nuut voorkom, ten minste vir myself. Ek moet myself bly boei, anders tap al die lewe uit my skryfwerk uit."

PublikasiesPublikasies

Publikasie

Witblitz

Publikasiedatum

1986

ISBN

0947046070 (sb)

Uitgewer

Emmarentia: Taurus

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Foxtrot van die vleiseters

Publikasiedatum

1993

ISBN

0624032051 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

WA Hofmeyr-prys 1994

Vertalings

  • Duits, vertaal deur Stefanie Schäfer, 1996
  • Nederlands, vertaal deur Riet de Jong-Goossens, 2002

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ek stamel, ek sterwe

Publikasiedatum

  • 1996
  • 1999
  • 2005 (klassieke uitgawe)

ISBN

  • 1874901511 (sb)
  • 079580010X (sb)
  • 0624042723 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Queillerie
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

WA Hofmeyr-prys 1997

Vertalings

  • Nederlands, vertaal deur Riet de Jong-Goossens, 1998
  • Engels, vertaal deur Luke Stubbs, 2006

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

My simpatie, Cerise

Publikasiedatum

1999

ISBN

0795800045 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Twaalf

Publikasiedatum

2000

ISBN

0795800126 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Begeerte

Publikasiedatum

2003

ISBN

0624041603 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

WA Hofmeyr-prys 2004

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Horrelpoot

Publikasiedatum

2006

ISBN

0624044629 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Engels, vertaal deur Luke Stubbs 2008

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Santa Gamka

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780624048138 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • M-Net Letterkundeprys in Afrikaanse kategorie 2010
  • WA Hofmeyr-prys 2010

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Brouhaha: verstommings, naakstudies en wenresepte

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780624049043 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Vertellings en sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wolf, wolf

Publikasiedatum

2013

ISBN

  • 9780624054993 (sb)
  • 9780624055006 (e-boek) 

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

kykNET-Rapport Boekprys vir fiksie 2014

Vertalings

Engels, vertaal deur Michiel Heyns, 2013

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 ’n Keur van artikels oor en deur Eben Venter beskikbaar op die internet:

Artikels deur Eben Venter beskikbaar op die internet:

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top