E (Sussie) Kotze (1933–)

  • 1

Gebore en getoë

Elizabeth Kotze, of Sussie soos sy later bekend sou staan, is op 17 Oktober 1933 op die plaas Langrietvallei in die distrik Hopefield gebore. Op eenjarige ouderdom trek hulle Doornbaai toe, waar sy grootword. Doornbaai is ’n vissersdorpie aan die Weskus waar haar pa, Coenraad Walters, as ingenieur by die kreeffabriek van North Bay Canning Company gewerk het. Petra Müller (Volksblad, 18 Augustus 1993) vertel: "Doornbaai was in daardie tyd totaal afgeslote: ’n vissersdorpie wat om ’n visfabriek ontstaan het, met sy gesig na die koue see. Daar was nie eens ’n telefoon op die dorp nie, kerk net met Pinkster en een maal ’n maand het die vragskip die proviand gebring."

Sussie vertel ook: “Ons was volkome op onsself aangewys. Ons het gelewe uit die see, die veld, bystand van die bure en wat ons self kon prakseer. Dokter was daar nie; siekte was ’n ramp. As die sieke nie met tant Sarah Baard se ou-kennis en kruie reggedokter kon word nie, het die dood voor die deur gestaan.”

Sussie en haar twee susters en broer het neffens die see grootgeword en "dinge soos toemis en stormsee, joppel en Walsiek, bokkem, kreef, perdeklou en veldkool – die dinge wat deesdae legendes op televisie is – was vir hulle alledaagse dinge."

Sussie beskryf haar pa as ’n "vrydenker, ’n man op sy eie soos alle Weskusmense, en [hy] het ’n baie groot invloed in my lewe gehad. Hy was ’n intelligente mens wat sy tyd ver vooruit was. Ek het soms as kind gewens hy wil ook naweke soos ander mans naweekklere aantrek. Maar hy het hom nie aan sulke dinge gesteur nie – flanelbroeke en wit hemde was nie vir hom bedoel nie. Hy het hom eenvoudig in ’n kakiemondering ingeskud en klaar. Maar ek het die feit dat hy so geheel en al onpretensieus was eers later in my lewe behoorlik waardeer.”

Haar ma, daarenteen, was ’n "klein, gedetermineerde vroutjie met twee blink oplettende ogies, en ’n sintuig vir wat netjies en paslik is” – en Sussie het dieselfde gawe. “Ons ma het vir ons laat les opsê. Ons móés werk. Sekuur!”

Sussie vertel verder aan Petra Müller dat daar nog mense was wat kón praat. “Saans aan tafel is daar verslag gedoen met stories wat die voëls, die vis, die golwe, en fabriek en veral die mense aanmekaargeryg het. Stories, die vertaalde werklikheid, was my boek. Ek is baie uitgestuur. Dan loop sit ek op die sandstoepie buite die kombuisdeur, en my ore rank binnetoe.”

Sy het baie skelm gelees en het die kuns vervolmaak; veral Huisgenote, Burgers en Jongspanne wat die poslorrie kom aflewer het. "Ons was gulsig om te lees." En al die lees het haar laat peins en besin oor dinge, en ook het sy gesels oor die wêreld daar buite.

Op Doornbaai was daar gedurende Sussie se grootwordjare nie baie boeke beskikbaar nie en dit het veroorsaak dat sy "leeshonger en onversadig" was, vertel sy aan Petra Müller: “Gevolglik het ek alles gelees wat voorkom: die inhoud van die bruin kas in ons eenmanskool; Ma se Fanny Edens; die doktersboek onder in die skoenekas en die Kinderbybel met ’n kriewelrige sedeprekie aan die einde van elke hoofstuk. Oorweldig deur die oorvloed van ’n volwaardige biblioteek het ek later op hoërskool blindelings gelees; nie altyd ewe oordeelkundig of opbouend nie, suiwer leesgenot. ’n Keerpunt het in my matriekjaar gekom toe ’n onderwyser dié aspek van ons opvoeding onder hande geneem het en iewers vandaan tyd gehaal het om boeke van ’n meer literêre aard as speur- of liefdesromans vir die klas voor te lees.”

Sussie ontvang haar laerskoolonderrig in die eenmanskooltjie op Doornbaai en gaan vir haar hoërskoolloopbaan na Vredendal. Sy is koshuis toe en daar maak sy met leesboeke kennis – meisiesromanses, en ander. Daar begin sy ook briewe skryf, want hulle familie was, en is nog steeds, ’n familie van briefskrywers.

Haar ouers trek later na Lambertsbaai, waar hulle die Kotzes ontmoet het – die Kotzes met ’n seun, Willie, wat tien jaar ouer was as sy – sy was 14 en hy 24. Hy het as klerk gewerk in die winkel van oom Allert de Waal, vertel Petra Müller – dieselfde winkel wat vroeg in die boek Die swerfjare van Poppie Nongena beskryf word.

Sussie vertel aan Die Burger (30 Augustus 2014) oor waar sy aan die humor in haar boeke kom: "Moontlik omdat ons van 'buite' gekom het – van ’n plaas in die distrik Hopefield – het die andersheid van die mense ons opgeval. My ma kon hulle lekker napraat, gesigte trek, mimiek.

"Pa, ’n aardse mens, het fyn gekyk. Op ’n ­manier was hy ’n ­kunstenaar wat karikatuur-etse sommerso op ’n stuk bruin­papier gemaak het om ’n gelaatstrek te aksentueer. Bewus daarvan dat hy eksentriek was, het ons ewe lekker vir hom gelag. En het hy dit geniet."

In 1950 matrikuleer Sussie aan die Hoërskool Vredendal.

Verdere studie en werk

Na skool is Sussie na Kaapstad, waar sy ’n sekretariële kursus volg en by Sanlam werk.

In 1954 trou sy met Willie Kotze, die skipper van Lambertsbaai. Hy staan ook bekend as die Lang Skipper, een van die ware legendes van die Weskus. Hieroor vertel sy aan Petra Müller: “Toe hy dertig was en ek negentien, sit ons een Vrydagaand langs mekaar op ’n bankie in die bioskoopsaal na ’n cowboyfliek en kyk. Saterdagaand dans ons in dieselfde saal. Sondag gaan ons kerk toe. Toe gaan wys hy my waar hy grootgeword het, langs die soutpan. Hy beduie waar hul lande was, die hoenderkamp, die land waar hy soggens voor die trekgoed deur die duwweltjies geploeg het. ‘Hier,’ sê hy, ‘het ons rogbrood geëet.’ Deur sy oë en ore het die tekens na my toe gekom, die roep van ’n voël, die skynsel van ’n bok se oog, die soet smaak van die rogkorrel waaruit die angel gewan is. En ek het geweet, dié man kan my maar kry.” Vier kinders word uit die huwelik gebore: ’n dogter, Marlene, en drie seuns, Petru, Hannes en Oostenwald.

Vanaf 1954 tot 1972 woon die gesin op verskeie dorpe aan die Weskus – Lambertsbaai, Walvisbaai en Houtbaai waar Willie skipper op ’n vissersboot was. Hier het die gesin 12 jaar lank gebly totdat Willie as gevolg van sy gesondheid sy geliefde see moes groet. Hulle trek na die plaas Sunnybrooke naby Piketberg, waar hulle gaan boer het. Petra Müller vertel: “Piketberg se berg is ’n soort paradys van aardse groene. Die proteas sleep af op die teerpad. Vrugteboorde marsjeer in die skoonveld tussen bosklowe deur. Die klowe sing van strome. Hier het hulle, wat die sandveld geken het, met die vrugbare swart berg-aarde deurmekaargedraai. Sussie het daagliks met oesplukkers en pakkers saamgewerk.”

Tussen die boerdery deur maak Sussie die vier kinders groot en begin sy saans, eers baie effe-effe, stories vir tydskrifte skryf. Die skrywery was ’n tydverdryf om haar besig te hou toe Willie nog lang tye op die bote besig was. Dit was ook Willie se relase oor sy tye op die see wat die inspirasie vir baie van Sussie se stories was. Aan Petra Müller vertel sy: “Hy was ’n onderhoudende en ’n natuurlike verteller, nie net van sy ervarings op see nie, maar ook van sy gebeurtenisvolle kinderlewe aan die soutpan naby Lambertsbaai.”

Volgens Sussie sal sy nou nie sê sy het die titel "skrywer" in die oog gehad toe sy begin skryf het nie. “Die dinge wat rondom ’n mens gebeur, beïnvloed jou op die ou end. Dis wat my op ’n dag laat besluit het om dit neer te skryf – sonder dat ek eintlik geweet het hoe.” Hoewel sy geen formele opleiding in skryfwerk of letterkunde gehad het nie en hoewel sy van jongs af geweet dat sy wil skryf, het sy nie eintlik geweet waaroor nie.

Martjie Bosman (Taalgenoot, Maart 1986) skryf dat omdat Sussie so ’n ywerige leser was, sy die werke van MER en wêreldberoemde skrywers soos Gorki en Faulkner ontdek het. Hulle het haar gelei tot die besef dat ’n skrywer oor alledaagse dinge kan skryf.

Sy begin toe skryf oor die Weskus en sy mense en die bedrywighede daar – kortverhale en vervolgverhale. Van haar vervolgverhale, Die prys vir Vogelsang (1972), Oggendblom en bitterkalbas (1973), Kielwater (1975) en Die vuurgety (1978), word deur Human & Rousseau in boekvorm gepubliseer.

Dit is egter as kortverhaalskrywer dat Sussie op die voorgrond tree in 1982 met die verskyning van Halfkrone vir die nagmaal. Die meeste van hierdie verhale het oor ’n tydperk van 18 jaar in verskeie tydskrifte verskyn voordat dit in boekvorm uitgegee is. Die bundel word in 1983 met die Eugène Marais-prys bekroon. “So ’n boek is ’n groot werk. Al die verhale was nie goed genoeg nie, en ek het ’n hele klomp oorgeskryf. Dit het my baie uitgeput, en ek wil graag nou ander aanpak, maar so ’n boek is ’n lang proses en dit bly so lank met jou. Dan was daar nog die onsekerheid of dit gaan slaag. Nou is die boek taamlik suksesvol, maar ’n mens moet realisties wees. My jongste het glad vir my gesê: ‘Ma kan nou maar weer normaal raak!’” vertel Sussie aan Sarie Cloete (Die Burger, 27 Mei 1983).

Haar gesin het haar op daardie stadium nie baie aanmoediging gegee nie, maar haar man het haar tog met praktiese feite gehelp: “Hy is ’n baie fyner waarnemer as ek. Veral met die seegoed is die vissers gou-gou by as jy ’n fout maak.” Met haar seestories moes Willie help met die agtergrond sodat niemand ’n vinger na haar kant kon wys nie.

Halfkrone vir die nagmaal het André Brink (Rapport, 19 Desember 1982) laat sê: “Here, maar dis ’n mooi boek!” Hy skryf ook: “[V]an die verhale handel (...) oor die doodgewoonste mense in die doodgewoonste situasies, geplaas teen die Kaapse Weskus, boerstories en skydestories, aardstories, maar elk vertel in ’n taal so gedronge van lewenskrag en kleur dat mens partykeer wil hyg van vreugde.”

Hans Ester skryf in Zuid-Afrika van Mei 1983: “Deze verhalen bevattenen een schat aan observaties uit de praktijk van het leven en de beeldende taal van alledag. Maar hun betekenis gaat ver uit boven een epische verpakking van regionale Westkaapse bijzonderheden. In laatste instantie is de vertelster op zoek naar een zin, tenminste naar een verband in het geheel van oppervlakkig gezien losse menslijke ervaringen.”

En Hennie Aucamp skryf in Die Vaderland van 28 Januarie 1983: “Ek ken min skrywers in Afrikaans wat die ding so volledig in sy dinglykheid aankyk as E Kotze in Halfkrone vir die nagmaal. In verhaal na verhaal, selfs die minder geslaagdes, is dít wat jou slaan: die byna mistieke vermoë om dinge te laat praat met die leser. [...] ’n Wonderlik en geseënde skryfster soos E Kotze mag nooit voel dat sy Literatuur moet maak nie. Wat sy skryf, is dit meesal – en oënskynlik spontaan.”

Sussie se tweede bundel kortverhale, Silt van die aarde, verskyn in 1986 en weer word dit hoog aangeslaan. Fanie Olivier (Transvaler, 9 Desember 1986) skryf dat dit in hierdie verhale die gewone mense, die sout van die aarde, is wat op deernisvolle wyse voor ons kom staan. “Maar dit is ook die souterigheid van mens-wees, van die seelug en van die soutpanne self wat in die titel opgesluit lê. [...] Daar is min dinge in Silt van die aarde wat ’n mens by die lees nie ontroer nie. Dat dit gebeur sonder groot vertoon of letterkundige truuks, is ’n bewys dat haar eerste werk geen gelukskoot was nie.” Vir André Brink (Rapport, 14 Desember 1986) is dit die taal: “En hoe lees mens nie agter die taal aan nie. Want daar is bloedmin Afrikaanse skrywers wat ’n gewestelike taal só kan hanteer dat dit nie net jou tone laat opkrul van lekkerlees nie, maar dit ook in sin op sin in die diepste betekenis van die woord openbarend is. [...] Silt van die aarde [is] ’n stimulering en ’n verkwikking van die gees.”

Met die verskyning van Halwe hemel in 1992, ses jaar na haar vorige bundel, bevestig Sussie haar statuur as een van die voorste kortverhaalskrywers in Afrikaans. Petra Müller skryf (Volksblad, 18 Augustus 1993) dat dit verhale van sweet en bloed is wat sy vertel, van taai mense wat soveel geleef het dat hulle dit kan waag om soms met profetiese woorde te praat. Sussie tel die klank van daardie soort oerpraat op en sit haar sinne sekuur en helder langs mekaar neer – ’n kuns van gees en oorleg. Sussie vertel self dat die verhale gaan oor elke mens se verwagtinge en die teleurstellings en ontnugtering wat dikwels volg.

Ria Smuts (Skrywers en Boeke, 15 April 1993) meen dat Sussie se storiewêreld aards en realisties is. “Sy het dieselfde talent as die volkse vertellers van alle tye: hulle kyk goed, luister fyn en het soveel fantasie dat hul vertelsels egter as die werklikheid is. [...] E Kotze, moenie dat ons weer sewe jaar wag nie.” Tom Gouws (Beeld, 22 Maart 1993) beskou haar as een van die min geseënde vertellers van ons vasteland. “Dis ’n deurleefde hand wat hier die indelibelpotlood vashou en versigtige drukletters maak – rustig, lokaal en realisties sou jy miskien durf om te sê. Maar duidelik ’n hand wat weet dat onder die verhaallyne en ingekleurde detail van die smoet getekende wêreld daar oneindig veel is wat woel, wat ongesê bly, wat terg, wat diep ontstel én bevredig.”

Waterwyfie en ander woestynverhale word vyf jaar na Halwe hemel gepubliseer en ook dié bundel word deur die kenners aangeprys. Louise Viljoen skryf in Volksblad van 1 Junie 1998: "Dit is nie ’n swaarmoedige bundel nie en  humor, skalksheid en skunnigheid is deel van die realiteit. Dit is ’n heel besonderse bundel: suiwer, onsentimenteel, subtiel, en, soos daar van een van die karakters in die bundel gesê word, 'eindeloos wys'.” Vir

Rykie van Reenen (Insig, Maart 1998) is die verhale met "groot mensekennis en nog groter erbarming, plus ’n lawende skeut lag, gebou uit die harde lewens en hartstogte van die vissermense en sukkelboere van die onherbergsame stuk wêreld tussen die mondings van die Breë- en Grootriviere".

LS Venter (Rapport, 8 Maart 1998) beskryf Waterwyfie as ’n "groot leeservaring", nie net as kontreiliteratuur nie, maar ook as ’n boek wat in die geheime van die menslike hart delf.

Wat vir Joan Hambidge (Die Burger, 21 Januarie 1998) van E Kotze se werk uitstaan, is haar "subtiele aanslag" en haar uitbeelding van ’n vroeëre wêreld wat die meeste hedendaagse lesers nie meer ken nie.

In April 1989 is Willie oorlede, en vir Sussie was dit ’n geweldige slag, veral toe dit saamval met haar ma se afsterwe na Alzheimer-siekte en haar suster se breinkanker.

Jare na Willie se dood kon Sussie uiteindelik oor haar verlies skryf en verskyn Die slag van die breekbrander in 2000. Hierin skryf sy haar storie oor die eensaamheid wat sy na Willie se dood ervaar het en haar aanpassing by die lewe sonder hom. In Beeld van 16 Oktober 2000 beskryf Gretel Wybenga Slag van die breekbrander as ’n "waardevolle toevoeging tot die Afrikaanse rouliteratuur, maar 'waardevol' is ’n te neutrale woord vir hierdie meesleurende boek oor lewe en dood, oor die fyn-fyn drade van menslike verhoudings, oor ons innige verbintenis aan dié aarde waarop ons blote bywoners is. Sussie maak van Willie se lewe ’n storie en wil daarmee sê dat die storie ons verskansing teen die tydelikheid is."

Hanlie Retief (Rapport, 24 Januarie 2001) sien dit as ’n liefdesverhaal op vele vlakke - dié tussen man en vrou, gesinne en families, vir die see en die grond, en liefde vir die genot wat geput kan word uit werk. "Dis ’n verhaal oor die lewe en al die onbeantwoorde vrae, oor die belewenisse van vreugde en hartseer – en dood – wat elkeen van ons, as mense, aanmekaar bind. Dis ’n boek wat ’n mens uiteindelik moeilik toemaak.”

Op LitNet skryf Linda Rode: "Die slag van die breekbrander is nie net ’n uitsonderlike elegie vir ’n afgestorwe geliefde nie, maar ’n ode aan die lewe self, veral die lewe sáám; en dis ’n besondere milieubeeld van die son- en soutgebreide wêreld wat die basis van E Kotze se verhaalkuns uitmaak. Dis selde dat lesers so ’n eerlike blik in die lewe van ’n geliefde skrywer gegun word."

Soos alreeds gesien is, is Sussie nie ’n skrywer wat kort-kort ’n bundel publiseer nie. In 2007, tien jaar na die vorige een, word haar volgende bundel, Die wind staan oos, deur Tafelberg Uitgewers uitgegee. Die vyftien stories in die bundel bevat twee soorte verhale – die eerste is stories oor die Weskus en in die latere stories word verskillende soorte mense teenoor mekaar gestel: deftige stedelinge en gevoelige, goeie, kontreimense.

Susanne Harper (Beeld, 8 Mei 2007) beskryf E Kotze as "’n woordmeester" en sê dat Die wind staan oos ’n lekkerleesboek is waarvan die meeste lesers sal hou.

In Die Burger van 21 Mei 2007 skryf Jaybee Roux dat die boek "vibreer met sinne en frases wat lank in jou kop sal draal omdat dit so mooi en ráák is".

Nog iets wat Sussie na Willie se dood alleen moes doen, was om huis te koop, en hierdie keer vir net een. In Vrouekeur (12 Januarie 2001) vertel sy aan Maretha Maartens hoe moeilik dit was: "Ek het vier maal verhuis en dit is simbolies van die eensame swerftog van gees van elkeen wat ’n geliefde verloor het. In ’n huurhuis in Moorreesburg huil ek met ’n verdriet sonder perke, buite verlatenheid om; in ’n huis wat ek op Vredenburg laat bou het, baklei ek teen swak vakmanskap, die reën en die westewind. My volgende staanplek is ’n eenheid in ’n meenthuiskompleks, maar die geraas van musiek en honde is vir my net een te veel." En toe kom Velddrif en word die vissersdorpie aan die Bergrivier vir haar ’n tuiskomplek. Sy sê: “Hier op Velddrif het die vrede my oorval.”

Petra Müller (Volksblad, 18 Augustus 1993) skryf dat daar in Sussie se skryfwerk twee verskillende landskappe duidelik te bespeur is: die see en die berg. Die see was nog altyd in haar bloed en die berg het sy van naderby leer ken toe sy en Willie na Piketberg verhuis het. Sy  het met haar skryfwerk lank rondgetas, op haar oorwoë manier, en skaars die oorvloedige lof van kritici geglo. “Daar is mense wat Sussie se verhale kontreikuns noem: ek is een van die Kotze-lesers wat daaroor baie driftig word. Sy het haar lank gelede uit die kontrei in die universele ingeskryf. Dáár bestaan haar verhale, oop en stralend, ’n belangrike stuk van ons gesamentlike selwe wat sy teen vergetelheid bestendig het. ’n Mens moet daaroor nadink: sy’t geen formele letterkundige opleiding gehad nie, en sy hou haar ver van teorieë daaromtrent. Hoe’t sy so op haar eie so ’n goeie skrywer geword? vra mense my soms. Maar bekyk haar lewe. Hoe kon sy nie?”

Ná ’n stilswye van bykans 20 jaar op die gebied van romanskryf publiseer Kwela in 2009 Toring se baai, ’n storie oor ’n plek aan die Weskus: ’n baaitjie met ’n lamlendige kreeffabriek, ’n jettie en ’n klein nedersetting. Dit speel af tydens die Tweede Wêreldoorlog en die plattelandse tydsgees word uitstekend weergegee, skryf JB Roux op LitNet.

Dit is egter nie soseer die plek wat die hoofrol speel in die roman nie, maar die inwoners: Kerneels Koch, die winkelier; Sieber, die bestuurder van die inmaakfabriek; juffrou Dippenaar, die skooljuffrou; en die wasvrou Marija. "Kinders en grootmense en amper-grootmense; die bruin mense en wit mense en die klomp wat in die Gaat loop nesmaak het. Dit is ’n uiteenlopende spul wat saamgebind word deur hul afhanklikheid van die see en wat elkeen op sy eie manier swaarkry."

Roux gaan voort: Die mooi kant van die boek lê in Kotze se karakterisering en legendariese verbeeldingsvermoë. Maar daar is een swakheid in die boek en dit is dat daar geen struktuur is om van te praat nie. Veral in deel II is daar toenemend die gevoel dat die boek nêrens heen op pad is nie. Daar is nie veel intrige nie en al wat die leser laat aanhou lees, is Kotze se byna hipnotiese vermoë om lesers geïnteresseerd te hou in mense en hul dinge, al gebéúr daar nie veel in hul armsalige lewens nie. Die geheelindruk is dieselfde as met kortverhaalbundels soos Die wind staan oos: tegnies is die boek nie geslaag nie, maar ’n mens bly diep dankbaar vir die voorreg om dit te kon lees."

Vir Jeanne Goosen (Rapport, 22 Desember 2009) was Toring se baai haar Afrikaanse boek van 2009. "Kotze gee ’n intieme blik op die inwoners se lewe, hul taalgebruik en die eenvoud van die karige bestaan. Haar uitbeelding van die inwoners sleur mee en getuig van ’n intellektuele sowel as emosionele begrip van haar karakters.

"Die tyd is die hede, vandag, en twee susters wat hul grootwordjare aan hierdie Weskus-vissersdorpie deurgebring het, bring ’n besoek en kyk terug. Die meeste van die inwoners is dood of het weggetrek. Alles het verander. Die vissershuisies is gesloop en vervang deur glaspaleise en ander moderne bousels. In die naam van vooruitgang is alles gemoderniseer. Ironies vier misdaad ook nou hoogty.

"Die taal wat aan daardie deel van die Weskus gepraat word, is nie net in die kol en kleurvol nie, maar die argaïese taalgebruik verhoog ook die waarde van die roman. Dit op sigself is genoeg rede om die werk aan te skaf en kennis te neem van hoe Afrikaans in daardie jare gepraat is – en soms nou nog deur ouer inwoners aan die Weskus. Toring se baai dien dus ook as ’n soort argief van die taal. Ook is die streekkennis van hierdie skrywer en hoe sy met haar materiaal omgaan, verstommend. Lank nadat jy die roman klaar gelees het, bly dit jou by."

In Beeld van 28 September 2009 meen Leon Rousseau dat Toring se baai nie net ’n roman is nie, maar ook ’n stuk sosiale geskiedenis. "Die leser ervaar diegene wat in die oorlogsjare na die Afrikaanse uitsendings op die Duitse sender Zeesen luister, dié wat weens Duitsgesindheid geïnterneer word, dié wat met 'rooi lissies' in Noord-Afrika of Europa gaan veg, dié wat saam met die opbloei van die plaaslike visbedryf welvarender word nadat die toevoer van geblikte vis van Noorweë, Kanada en Japan weens die oorlogjare lank onderbreek word. Uiteindelik ook die waar word van ’n voorspelling dat die see nie sal kan byhou met die groot toename in beroepsvissers nie.

"Kotze kies selde kant. Haar karakters is mense, goeies en slegtes, OB’s en Sappe, verkragters en vromes, dronkes en nugteres, wittes en bruines. Toring se baai bied ’n besonderse leeservaring."

In 2011 verskyn Hoogty, ook by Kwela. Die skryf van Hoogty was ’n baie vinniger proses as met Toring se baai.  Met die eerste een was een hele venster in haar blyplek beplak, “helemaal toegeplak, met papiere en insidente wat ek so een vir een moes afmerk. Hierdie een (Hoogty) was ... asof hy vir my ingegee is, asof hy net gevra het om neergeskrywe te word. Ek het presies geweet wat my te doen staan, nêrens gehuiwer nie ... Snaaks, nè, veral as jy dink ek het destyds partykeer drie maande aan ’n kortverhaal geskryf!” sê sy aan Johan van Zyl (Die Burger, 30 April 2011).

“Oor sekere dinge en veral die redenasies wat die karakters gehad het, moes ek partykeer bietjie dink, hier en daar ’n geleerde vra. Maar ek’s soos daai tannie wat, toe sy uitvind wat sielkunde is, gesê het: ‘Maar my magtie man, ek pas dit dan al my hele lewe lank toe.’”

Die saadjie vir Hoogty – of Sy-kant na die wind, die werktitel wat sy gebruik het – is al geplant toe sy in die jare sewentig, tagtig en negentig bekendheid verwerf het met haar kortverhaalbundels.

“Ek het daardie jare al sulke duine voor my gesien,” sê sy aan Van Zyl. “Duine – dis ál wat ek destyds in my gedagtes gesien het, maar ek het toe reeds geweet dis ’n liefdesverhaal wat daar afspeel. Toe Toring klaar was, het ek besluit nóú gaan ek sit om hom neer te skryf.”

Die meisie op die voorblad ken Sussie nie. “Ek hoop nie ek gaan in die moeilikheid beland nie ... dis vermoedelik een van die vele meisies wat Willie, my oorlede man, vóór my gehad het; dit is een van vier foto’s van haar wat ek in sy viskatrolboksie gekry het. Jy weet, destyds as Willie en sy vriende vir die dag saam met die klompe meisies af see toe is, het hulle ’n kerkpak aangetrek! Dis hy wat my geleer het jy maak nie ’n kerkpak skoon nie – die wit seesand doen dit vir jou!

“Willie het altyd gesê as hy sy voet op ’n skuit sit, is hy ’n ander man as die een wat ek ken. Ek onthou hoe een van die dronkies op die kaai eendag van hom gepraat het as ‘die lang, dun dônner met die rooi jersey’. Maar Willie het hom seker uitgewoed op see, want by die huis was hy die bedagsaamste, vreedsaamste man. Hy was verskriklik populêr onder die meisies. Hy was nie net ’n baie aantreklike man nie, maar ook ’n baie beminlike mens.”

Ook met Hoogty, soos met ander stories, het Sussie gaan soek na die stories (onvergeetlike vertellings) wat Willie aan haar vertel het. Hoogty se motto - "When shall we set sail for happiness ..." - is aan Willie opgedra; hy "wat die ongelooflikste stories kon vertel van sy jeug, sy jare op en langs die see, sy jagtogte. Hy kon dit so onophoudelik, so absoluut onderhoudend, laat uitkom, amper soos rolprente en baie boeiend, sonder om ooit vervelig te raak.”

Hoogty is ’n liefdesverhaal wat afspeel aan die Weskus in die 20ste eeu. Helena, of Hillie Burre, het probeer ontvlug van haar pa en die eenvoudige lewe van die vissersdorpie Vollemink. Sy was skaam vir haar pa wat haar ma onderdruk het, maar besluit tog om terug te keer na Vollemink om haar ma en boetie te gaan help. Terug op die dorpie besef sy dat sy nooit regtig die see en die wêreld met sy natuurskoon agtergelaat het nie. Die visser Auret kom in haar lewe en dit veroorsaak ’n tweespalt in Helena: Moet sy terugkeer na haar werk en Chris of moet sy in Vollemink agterbly?

 

"Pragtige beskrywings van die see en die duine versier die roman. Tog word dit nooit soetsappig nie. Die gewoontes van die mense in ’n vissersgemeenskap, maar ook die gebruike van die veertiger- en vyftigerjare van die vorige eeu in Suid-Afrika word uitgebeeld (soos die geblomde rok, hoëhakskoene en haarstyl van die meisie op die sepia-voorblad reeds weerspieël)," volgens Susanne Harper (Beeld, 16 Mei 2011).

"Lesers met ’n geïdealiseerde weemoed oor hierdie tyd sal die boek baie geniet. Ook die taalgebruik, ’n lieflike Sandveldse Afrikaans eie aan die omgewing en helfte van die vorige eeu, is self ’n akademiese studie werd. Almal wat die skrywer se vorige werk geniet het, sal ook hierdie roman geniet en lekker daaraan kan lees."

Ampie Muller skryf in Die Burger van 16 Mei 2011: "Min mense kan die Weskus in al haar verskynings, deur al die ­seisoene en weersomstandighede, die land sowel as die see, so goed en indringend beskryf soos Sussie Kotze. Dit is opnuut duidelik dat sy elke faset van die lewe op die Weskus in die fynste besonder­hede self meegemaak het.

"Só is Frost die fabriekbestuurder van die visfabriek op ­Vollemink (oftewel Flaminke-baai) nie ’n vreemdeling vir haar nie, want haar pa was ’n senior ­figuur ­(ingenieur) by die kreef­fabriek in Doringbaai en jy kan doodseker wees dat sy ­figure soos die ­befoeterde ou Jasper (Jas) ­Burre (Burger) 'So dwars soos ’n ­donnerse deur' self geken het."

In aspekte van Auret en Helena se verhaal mag sommige getroude lesers hul eie huwelik weerspieël sien. Vir Stoffel Cilliers (Volksblad, 24 Mei 2011) skryf Sussie Kotze "met ’n lewenswysheid wat op wye ervaring berus en ’n universele kleur aan haar skryfwerk gee. Die rustigheid van die verteltrant gee ’n uitsonderlike bekoring aan die roman. Nêrens laat die skrywer haar aanjaag nie.

"Sy gebruik selfs nie tradisionele tegnieke soos naelbytslotparagrawe vir hoofstukke om die spanningslyn te versterk nie. Sy boei eerder voortdurend met fyn beskrywings, detail van tientalle situasies, karakters en voorwerpe. As ervare skrywer borduur sy rustig voort, bladsy ná bladsy. Só betrek sy die leser onwillekeurig by haar verhaal van liefde, swaarkry en bittere ontbering aan die onherbergsame Weskus. Die leser geniet die storie, omdat die skrywer dit kennelik geniet het om dit te skryf. Dit was asof sy nie van haar karakters wou afskeid neem nie. Enkele bladsye van die einde af flits sy nog terug na Helena se babadae.

"Taalkundiges kan die boek maar net vir sy seemansterminologie lees. Woordeboekmakers sal ure lank vrugbaar hierin kan ronddelf. Uit watter hoek hierdie veelkantige roman ook al gelees en geniet word, die skrywer moet bedank word. Sy vertel haar verhaal op haar eiesoortige, rustige wyse en bied só ’n verrykende, genotvolle leeservaring wat lank in die geheue van talle lesers sal voortleef."

Deesdae bly Sussie in ’n aftree-oord in die noordelike voorstede van Kaapstad, waar sy in die winter wanneer dit vroeg donker raak, “soos ’n pompdonkie al in die rondte stap op die terrein”, vertel sy vir Johan van Zyl. “Ek is nie eintlik ’n rondloper nie, en in hierdie plek stap jy buitendien nie agter die mooi aan nie. Jy stap omdat stap stap is en omdat ’n mens darem moet uitkom en ’n bietjie oefening kry. Dis ’n hééltemal ander soort stap as langs die see of in die veld.”

Tydens die Woordfees van 2013 is ’n profielaanbieding van Sussie Kotze aangebied, met Petra Müller en Nèlleke de Jager wat haar werk en lewe in oënskou geneem het.

In 2014 stel Suzette Kotzé-Myburgh ’n keur uit Sussie Kotze se kortverhale saam onder die titel Diepsee. Hieroor skryf JB Roux in Die Burger van 30 Augustus 2014: "Die onaangename waarheid is dat Kotze se laaste drie bundels nie eens amper die verbluffende vernuf openbaar waarmee die verhale in haar eerste twee bundels geskryf is nie. Die skrywer wat so beïndruk het met haar instinktiewe begrip vir die kortverhaal as vorm en haar vermoë om lewe en swaarkry met min woorde omvattend weer te gee, het op enkele uitsonderings na verval in die skrywer van futlose, anekdotiese verhale.

"Die uitdaging aan Kotzé-Myburgh was om desondanks al vyf bundels te betrek in ’n samevatting wat Kotze se grootsheid bevestig en terselfdertyd haar vergeetbare verhale vergete laat bly. Die eindresultaat is ’n pragtige boek wat doeltreffend hulde bring aan ’n skrywer wie se beste werk dalk nooit oortref sal word nie."

Publikasies:

Publikasie Die prys vir Vogelsang
Publikasiedatum
  • 1972
  • 1989 (grootdruk)
  • 2005 (grootdruk)
ISBN
  • 0798102411 (hb)
  • 0795918526 (hb)
  • 1415003564 (hb)
Uitgewers
  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief
  • Parklands: Jacklin
Literêre vorm Roman
Pryse toegeken Geen
Vertalings Geen
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet -

 

Publikasie Oggendblom en bitterkalbas
Publikasiedatum
  • 1973
  • 1989 (grootdruk)
  • 2004 (grootdruk)
ISBN
  • 0798103329 (hb)
  • 0795916809 (hb)
  • 1415002371 (hb)
Uitgewers
  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief
  • Parklands: Jacklin
Literêre vorm Roman
Pryse toegeken Geen
Vertalings Geen
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet -

 

Publikasie Kielwater
Publikasiedatum 1975
ISBN 0798106425 (hb)
Uitgewers Kaapstad: Human & Rousseau
Literêre vorm Roman
Pryse toegeken Geen
Vertalings Geen
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet -

 

Publikasie Die vroue van Kores: ’n spel oor die lot van mense
Publikasiedatum
  • 1978
  • 1989 (Grootdruk)
  • 2005 (Grootdruk)
ISBN
  • 0798108436 (hb)
  • 079591850X (hb)
  • 1415003181 (hb)
Uitgewers
  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief
  • Parklands: Jacklin
Literêre vorm Roman
Pryse toegeken Geen
Vertalings Geen
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet -

 

Publikasie Halfkrone vir die nagmaal
Publikasiedatum
  • 1982
  • 1984
  • 1988
ISBN
  • 0624016749 (hb)
  • 0614021270 (sb)
Uitgewers Kaapstad: Tafelberg
Literêre vorm Kortverhale
Pryse toegeken Eugène Marais-prys 1983
Vertalings Geen
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet -

 

Publikasie Boetie-Jan se skilpadnes
Publikasiedatum 1984
ISBN 062402024X (hb)
Uitgewers Kaapstad: Tafelberg
Literêre vorm Kinderverhaal
Pryse toegeken Geen
Vertalings Geen
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet -

 

Publikasie Tweeluik
Publikasiedatum 1984
ISBN 0798116323 (hb)
Uitgewers Kaapstad: Human & Rousseau
Literêre vorm Roman
Pryse toegeken Geen
Vertalings Geen
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet -

 

Publikasie Silt van die aarde
Publikasiedatum 1986
ISBN 0624023982 (hb)
Uitgewers Kaapstad: Tafelberg
Literêre vorm Kortverhale
Pryse toegeken Geen
Vertalings Geen
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie Halwe hemel
Publikasiedatum 1992
ISBN 0624031853 (sb)
Uitgewer Kaapstad: Tafelberg
Literêre vorm Kortverhale
Pryse toegeken Geen
Vertalings Geen
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie Waterwyfie en ander woestynverhale
Publikasiedatum 1997
ISBN 0624036103 (sb)
Uitgewer Kaapstad: Tafelberg
Literêre vorm Kortverhale
Pryse toegeken Geen
Vertalings Geen
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie E Kotze-omnibus
Publikasiedatum 1999
ISBN 0624037649 (sb)
Uitgewer Kaapstad: Jasmyn
Literêre vorm Romans
Pryse toegeken Geen
Vertalings Geen
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie Die slag van die breekbrander: outobiografies
Publikasiedatum 2000
ISBN 0624038572 (sb)
Uitgewer Kaapstad: Tafelberg
Literêre vorm Outobiografie
Pryse toegeken Geen
Vertalings Geen
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie Die wind staan oos
Publikasiedatum 2007
ISBN 978062404503X (sb)
Uitgewers Kaapstad: Tafelberg
Literêre vorm Kortverhale
Pryse toegeken Geen
Vertalings Geen
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie Toring se baai
Publikasiedatum 2009
ISBN 9780795702877 (sb)
Uitgewer Kaapstad: Kwela
Literêre vorm Roman
Pryse toegeken Geen
Vertalings Geen
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie Hoogty
Publikasiedatum 2011
ISBN 9780795703140 (sb)
Uitgewer Kaapstad: Kwela
Literêre vorm Roman
Pryse toegeken Geen
Vertalings Geen
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie Diepsee. Saamgestel deur Suzette Kotzé-Myburgh
Publikasiedatum 2014
ISBN 9780624069881 (sb)
Uitgewers Kaapstad: Tafelberg
Literêre vorm Kortverhale
Pryse toegeken Geen
Vertalings Geen
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Elizabeth Kotze beskikbaar op die internet

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2015-04-09

Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za

  • 1

Kommentaar

  • Kobie van Dyk

    Ek woon/werk in Ghana en het Sussie ontmoet by die bekendstelling van Hoogty by die aftree-oord Andante in Kuilsrivier.

    Ek is versot op haar boeke;  dit bring baie heimwee na my grootwordwêreld naby Lutzville en ek ken al die plekke waarvan sy in haar boeke skryf, asook baie van die mense.

     

    Ek sal baie graag met haar in e-pos-kontak wil kom.

     

    Baie warm Afrika-groete

     

    Kobie van Dyk

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top