Dwarsklap deur Piet Matipa: ’n resensie

  • 1

Dwarsklap
Piet Matipa

Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776091102

As Dwarsklap voedsel was, sou die smaak net as umami beskryf kon word: op die oog af eenvoudig, maar met ’n komplekse, ryk, diep nasmaak wat jou bybly lank nadat jy die laaste bladsy omgeblaai het.

Die bundel is ’n keur van die bekroonde skrywer Piet Matipa se Beeld-rubrieke. Elkeen van die 21 rubrieke is as ’n hoofstuk ingedeel. Sy aanslag is humoristies, en by tye kon ek net skaterlag vir hoe hy situasies beskryf. Matipa deins nie terug daarvan om omstrede situasies te konfronteer nie, altyd met deernis en daardie kom-ons-lag-vir-onsself-inslag wat so kenmerkend van sy rubrieke is.

Misdaad en die effek daarvan op die slagoffer is ’n tema wat herhaalde male onder die loep kom. Dan is daar ook rubrieke oor die onderwysstelsel, ontgroening, seksualiteit, die taxibedryf, korrupsie, en die (lagwekkende) gevolge van drankmisbruik, om maar net ’n paar te noem.

Die goue draad wat die rubrieke bind, is Matipa se liefde vir Afrikaans. Een rubriek, beslis een van my gunstelinge in die bundel, “Die tong se dans in Afrikaans”, spreek die onderwerp direk aan. Sy verwondering oor en bewondering vir die taal slaan egter oral deur in sy kleurvolle en verbeeldingryke gebruik van woorde, die manier waarop hy vars beelde oproep, en sy geesdrif om in Afrikaans te skryf. Dis louter vreugde om te ervaar hoedat hy die taal ’n paar nuwe passies leer.

Dwarsklap is bemark as die werk van ’n skrywer wat jonk, swart, gay en Afrikaans is. Dit doen die bundel ’n onreg aan. Dis soveel meer, en ek hoop regtig dat potensiële lesers nie afgeskrik word nie, want hierdie bundel het soveel om te bied. Matipa skryf dalk uit die perspektief van ’n persoon wat aan daardie beskrywing voldoen, maar elke rubriek spreek ook universele temas en ervarings aan. Met elke hoofstuk kan die leser iets herken wat haar net kopknikkend laat saamstem.

Dit beteken nie dat die bundel sonder probleme is nie. Daar was een of twee rubrieke wat my laat wonder het wat die kriteria vir insluiting was. Die rubriek waarmee die bundel open, “Misdaad, jou moer!”, was hopeloos te lank en kon gebaat het by strenger redigering. “Geagte Rugbyondersteuners” het gesukkel om ’n sinvolle sentrale gedagte weer te gee en het ’n andersins hoogstaande bundel verswak. Ek sou dit eerder op die ashoop gooi, en 21 rubrieke publiseer net as daar dan niks anders was om in die plek daarvan te plaas nie. Hierdie is egter die twee uitsonderings wat bevestig hoe heerlik leesbaar die res van die bundel is.

Die rubriek wat die umami vir my die heel beste versinnebeeld, is Matipa se brief aan die verskillende stelle ouers wat hom moes versorg in die kinderhuis, “Liewe Kinderhuisouers”. In onderhoude en in die bundel self dring Matipa daarop aan dat hy gelukkige ervarings in die kinderhuis gehad het. Op die oog af is dit ook die boodskap in hierdie rubriek, maar ’n bietjie dieper nadink laat die leser met ’n heelwat meer komplekse begrip van wat die lewe kan wees vir ’n kind wat aan die stelsel oorgelaat word.

So ook “Kan ek ’n student bly?”. Na die laaste paragraaf moes ek eers die bundel neersit, diep asemhaal en iets anders gaan doen terwyl ek dit oordink.

Die versoeking is daar om die bundel in een sitting te verslind, omdat dit so leesbaar en vermaaklik is. My advies? Moenie. Lees dit een hoofstuk of rubriek op ’n slag. Laat die inhoud marineer. Dit sal die leeservaring soveel meer betekenisvol maak.

Matipa se besondere gawe is om moeilik verteerbare waarhede met humor te verpak. Met hierdie bundel dra hy beslis daartoe by om die skat van Afrikaanse denke te verbreed.

Ek beveel dit graag aan.

  • 1

Kommentaar

  • Goeie resensie, Bettina. Ek wil nou vir Dwarsklap gaan koop. Hoe die boek bemark is het my eers afgesit.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top