Duur juwele

  • 0

Ken haar al ’n paar jaar. Van voor sy met die vername man getroud was. Sy het een ryk man begrawe en ’n ander ryke gelos vir die groot magnaat. Liewe goeie mens en sout van die aarde wat die Groot Magnaat met ware liefde versorg het tot ons hom hier bo op die koppie kom bêre het soos sy wense was. Verseg het om hom te laat versorg in die luukste oorde omdat sy net nie kon koebaai sê het nie. En sy was reg, want om hom weg te neem van sy geliefde grond af sou hom net nog vinniger na die graf gevat het.

Oor wie hy was en die miljarde wat hy werd was is al baie gepraat en bespiegel en blaaie vol geskryf. Die mense het met sy heengaan hoeka beduie dat sy nou nog ryker sal wees as wat sy reeds is. Kom toe uit dat die testament bepaal het sy kan een huis kies en genoeg meubels uit die fabrieke om die huis van keuse en buitegeboue vol te maak. En 'n pensioen en 'n trust om die huis van keuse (en glo my daar was honderde) in stand te hou tot sy eendag bo-op hom gebêre moet word. My versoek om seker te maak dat sy wel bo hom gaan lê en so het ons die graf gebou volgens sy wense.

Sy stap nou die dag hier in en soos gewoonlik is die nek en arms en vingers en wat ook al uitsteek behang, alles minimaal en tog smaakvol met, soos gewoonlik die bekende name en die goud en klippe en goeters waarvan sommige vrouens soms droom en meeste manne met beursies soos myne nagmerries het. Ek let op die een betrokke goue ketting om die pols en sê maar niks. Bekyk die dik goud want dit lyk soos die goed wat ek laas gesien het toe die goudsmid doer in die Ooste dit gemaak het en onopsigtelik land in gebring moes word. Want daai kleur goud sien jy nie aldag nie, want dis tog immers die droefland hierdie waar jou vroutjie se hand soms letterlik afgekap sal word daarvoor.

Ek vra haar wanneer sy en die ou man dan in die Ooste was, want hy was lief vir vlieg maar was maar min buite die land en nooit vir inkopies nie. Haar antwoord het my, en sal my vir lank nog van voor af laat wonder oor die mensdom: "Wat? Hierdie ...? Ek het hierdie armband gekoop by die Mall by daai goedkoop plekkie (die naam ontgaan my nou). My minder as R150 gekos. Almal dink omdat ek met een van die rykste mans in die land getroud was my juwele moet alles eg wees ... Ek gaan hulle nie heeltyd reghelp nie ..."

Net daar weet ek waarom almal dink die nagemaakte Rolex wat ek in Kuala Lumpur op straat gekoop het 'n vervalsing is. Al het dit so spoggerig gelyk om my pols al het ek hard anders beduie en dis waarom ek toe maar weer my duur koper-,  leer- en Brass-armbande begin dra het ... Want ten minste sê hulle dit hou die jig weg ...

Groete uit Oesterland

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top