Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Terreur in Kaboel deur Hannelie Groenewald

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Hannelie Groenewald

Hannelie het haar MBChB-graad aan die UP voltooi. Sedertdien werk sy in die privaatpraktyk. Sy en Werner is in 1990 getroud. Twee kinders is gebore uit hulle huwelik: Jean-Pierre en Rodé. Ten tyde van die aanval op hulle was die kinders onderskeidelik 17 en 15 jaar oud. Werner en Hannelie was 24 jaar getroud. Hulle was meer as 11 jaar in Kaboel.

Foto: verskaf


Opsomming

Terreur in Kaboel
Hannelie Groenewald

Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796320469

Geroepe om te gaan werk in Afganistan trek die Groenewalds uit Pretoria Kaboel toe. Elf jaar later word Werner, Jean-Pierre en Rodé in ’n wrede terreuraanval vermoor. Hannelie bly alleen agter. Hoe gebeur so iets met mense wat in gehoorsaamheid geleef het, oortuig van God se beskerming? Hannelie Groenewald se openhartige verhaal is ’n merkwaardige getuienis van ’n lewe in geloof, van God se liefde, genade, en die krag van vergifnis. Sy wys dat enigeen kán opstaan uit die as.


Uittreksel

11 September 2001.

Die twee torings in New York het saam in vlamme opgegaan.

Ek was besig in die studeerkamer toe iemand my bel en sê ek moet na die nuus op die televisie kyk. Ek onthou hoe ek in afgryse gestaan en kyk het hoe die twee groot Boeings deur die torings ploeg en in reuse-vuurballe disintegreer. Ek het gesien hoe mense, wanhopig om van die lekkende vuurtonge weg te kom, vanuit die boonste verdiepings na ’n gewisse dood spring.

Nooit het ek kon droom dat hierdie tragedie die inleiding tot ’n nuwe hoofstuk in ons lewe sou wees nie.

Ons lewe was in daardie stadium baie gelukkig, vervullend en relatief eenvoudig. Ons het in een van die gegoede voorstede van Pretoria gewoon. Ek het lang ure gewerk deur by verskeie noodeenhede in die stad te locum. Die betaling was goed, en ek het altyd aan die einde van ’n lang skof daarna uitgesien om huis toe te gaan en saam met my gesin te ontspan.

My beroep as dokter het my nie genoeg tyd gegun om as predikantsvrou deel te word van die verskillende bedienings van die megakerk waar Werner predikant was nie. Die gemeente het egter nie regtig ’n behoefte aan my hulp gehad nie, want hulle kon genoeg personeel aanstel om al die bedienings seepglad te laat funksioneer. Daar is nie baie van enige van die predikantsvroue verwag nie.

Werner het die grootste deel van die dag by die kerk deurgebring en laatmiddag die kinders by die gemeente se kleuterskool gaan haal, gewoonlik net betyds voor toemaaktyd. Saans het hy na onbetrokke en enkellopende lidmate uitgereik en mense met die evangelie bedien wanneer daar ook al ’n geleentheid opgeduik het.

Ons was gelukkig en tevrede in die nimmereindigende rotresies waaraan ons elke dag saam met miljoene ander mense deelgeneem het. Ons het probeer om ons klein ryk op te bou en onsself en ons vriende met ons materiële besittings te beïndruk. Terselfdertyd het ons probeer om sout en lig te wees daar waar ons geplant is deur empatie met minderbevoorregtes te hê en uit te reik na die behoeftiges wat ons pad gekruis het. Dit klink nou idillies.

Nie een van ons was sendinggeoriënteerd nie. Die sendingveld was vir super-Christene. Vir die avontuurlustiges. Vir dié wat spesiale toegang tot God se troon het. Ons was eenvoudige mense en het verkies om God en mense op eenvoudige maniere te dien. In daardie stadium het ons nog nooit eens ’n 10:40-vensterland* besoek nie.

Op ’n dag het Werner egter by die huis gekom en voel-voel gesê: “Liefie, ek oorweeg dit om op ’n kort uitreik na Pakistan te gaan. ’n Uitreikgroep van die kerk gaan binnekort Pakistan toe en ek wil graag saam met hulle gaan. Sal dit reg wees met jou? Natuurlik sal dit wonderlik wees as jy sou kans sien om saam te gaan.”

Werner het skielik ’n knaende behoefte ervaar om dié land te gaan besoek om só met meer insig vir Pakistan en sy mense te kon bid. Dit was iets wat al ’n geruime tyd op sy hart was. Ek het woordeloos na hom geluister, en nooit sou ek kon droom hoe hierdie aankondiging van hom ons lewe vir ewig sou verander nie. Ek het ’n rukkie lank nie te veel oor sy besluit gedink nie. Ek wou nie.

Vinnig het die tyd vir sy vertrek aangebreek. Met ’n loodswaar hart het ek saam met Werner en die span lughawe toe gegaan en die hele tyd gewens hulle was al terug. In die lughawekapel het hulle my gevra om die span aan God se versorgende hand van seën en beskerming op te dra en vir hulle uitreik te bid. Ek het daar op my stoel gesit, stom, nie in staat om ’n woord te uiter nie. My hart het ’n paar slae gemis. Ek was nog nooit regtig gemaklik daarmee om hardop voor mense te bid nie, en ek kon dit ook nie toe doen nie. Die onsekerheid van ’n reis na hierdie gevaarlike land het my skielik oorweldig. Op daardie oomblik het ek besef ek wou Werner nie laat gaan nie. Wat as hy nie terugkeer nie? Met ’n bewerige stem het ek begin bid, maar in die helfte van my tweede sin het my woorde opgedroog terwyl ek teen die trane geveg het. Ná ’n ongemaklike stilte het iemand in die span tot my redding gekom en verder vir die span gebid.

Die laaste reëlings is bespreek en toe het almal hulle baadjies en sakke bymekaargemaak, opgewonde en vol afwagting oor die nuwe avontuur waarop hulle sou vertrek. Gereed vir die Here om vir hulle die pad aan te wys.

My hart was swaar. Diep binne-in my het ek geweet my verhouding met God was nie wat dit veronderstel was om te wees nie. Ek het geen begeerte gehad om saam met Werner te gaan nie, en ek het so skaam gevoel omdat ek nie vir die span kon bid nie. Ek kon nie God se stem hoor soos al die ander nie.

Tien dae later het Werner en sy groep teruggekeer en die reünie was wonderlik. Ek het vir ons plek by ’n eksklusiewe restaurant bespreek om my man se terugkeer te vier. Nadat ons ons kos bestel en ons glase vol rooiwyn geklink het, het hy diep in my oë gekyk. Sy grys-groen oë was skielik vol trane.

*Lande in die Oostelike Halfrond wat tussen 10 en 40 grade lê, met hoë sosio-ekonomiese uitdagings en min of geen toegang tot die evangelie nie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top