Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Ter wille van die vaders deur Marzanne Leroux-Van der Boon

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Marzanne Leroux-Van der Boon

Marzanne Leroux-Van der Boon is gebore en getoë in die Wes-Kaap en het vir jare as Afrikaanse onderwyseres in die Kaap gewerk. Sedert 1993 skryf en vertaal sy voltyds. Sy is veral bekend vir haar romans wat ’n wye reeks etiese en aktuele kwessies aanspreek en onderneem bykans jaarliks ’n reis na Israel saam met die tydskrif Lééf. Dit is hier waar sy inspirasie vir haar Israel-reeks put.


Opsomming

Ter wille van die vaders (Zechut Avot)
Marzanne Leroux-Van der Boon

Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796320841

Henok kry ’n verrassing wanneer sy vrou in Israel kom kuier. Re’uven se pyn oor sy eersgeborene se dood lê nog vlak. Dit laat Marc wonder of hy Adonai nog sal kan liefhê as dit hom sou tref. Hy voel verskeur tussen sy gesin en sy ma met haar eie hartseer in Suid-Afrika. Tog vind hy troos in die wete dat Adonai se weë ver bo ons verstand verhewe is.


Uittreksel

Krakow/Jerusalem
27 Junie tot 2 Julie 2016
21 tot 27 Sivan 5776

Die lugreëling in die vliegtuig is koud. Henok trek die dekentjie hoër teen sy vrou se keel op, versigtig om haar nie wakker te maak nie. Hy glimlag effens, verteder toe hy sien dat sy tóg tekens toon van ouer word. Die blonde, lenige, altyd-jeugdige Sarah het verlede jaar 60 geword. Dit het haar laat besluit om haar onderwysloopbaan aan die einde van die jaar te beëindig. Hy’t geweet dis vir haar geen maklike besluit nie en hy het gewonder hoe dit hul verhouding sou raak.

In die jare sedert hy ontdek het hy is Joods, hy sy beroep in Suid- Afrika opgegee en Israeli kom word het, is hul huwelik aan hewige toetsing blootgestel. Sarah het nie die diepe vervulling verstaan van wat sy Jood-wees vir hom beteken nie. Of in sy liefde vir Israel gedeel nie. Sy het hom verwyt vir sy verslawing, ’n skrille kontras teenoor sy andersins nugter denke. Vir haar was dit ’n absolute bedreiging vir hul rustige getroude lewe van meer as twintig jaar. Sy het dit vir hom duidelik gemaak dat sy géén bedoeling het om in Israel te kom woon nie. Sy het met haar beroep in Suid-Afrika voortgegaan en in hul meenthuis in Kaapstad aangebly asof hy enige dag sou terugkom.

Die gedurige herdenking van die Holocaust in Israel het sy as heeltemal oordrewe beleef. Sy’t selfs die volle omvang daarvan betwyfel. Geglo dit was nie werklik so erg nie. By die Israel/ Palestina-kwessie het sy haar oor die algemeen aan die Palestynse kant geskaar en haar doof gehou wanneer Henok vir haar die ware toedrag van sake probeer verduidelik het. By haar seldsame besoeke het sy haar so ver moontlik by haar eie siening van sake bepaal. Tog het die leefwyse van Chaim en Hadassah, Rivkah se ouers, sowel as dié van Marc en Rivkah self, ’n soort bekoring ingehou wat sy alleen met sinisme kon weerstaan.

In 2015 was sy maar één maal by Henok in Israel en toe net vir tien dae. Hy het selfs begin vrees die einde van hul goeie jare saam was moontlik in sig. Hy het met hartseer getwyfel of sy ooit permanent saam met hom in die knus woonstel in Rehavia sou woon. Dus was hy verbaas toe sy laat weet het dat sy dié somer Israel toe wil kom. Hy het met mening opgeruim, kruideniersware aangevul en blomme gekoop. Toe hy die dubbelbed met ’n nuwe duvetstel oortrek, het hy geweet hoe hy haar die laaste maande gemis het. ’n Blye verwagting, so onverwags dat dit hom verbaas, het in hom posgevat.

Die aand ná haar aankoms was dit Erev Shabbat en uiteraard is hulle na die Cohens se familiesamekoms genooi. Dit sou Sarah se eerste ontmoeting wees met Chaya, Marc en Rivkah se fraai kleinste, wat nou byna drie maande oud is. Én met Re’uven en Shlomit sonder Yaniv, wat ’n paar maande gelede in ’n terreuraanval gesterf het. Dit was vir Henok duidelik dat die verwelkoming van die Shabbat saam met hierdie mense wat die afgelope jaar soveel skakerings van pyn en vreugde meegemaak het, Sarah diep geraak het.

Terug by die woonstel het sy by hom buite op die balkon kom sit. Die nag was swetend warm. Onder hulle was Jerusalem Shabbatstil uitgestrek. Tussen ’n paar wolkslierte het ’n maan wasig aan die horison gehang.

Hy het sy hand uitgesteek en hare daarin geneem. Hy’t die skraal wit vingers in sy groot swart hand toegevou. In ál die jare sedert hulle saam is, het dit hom steeds met ’n soort verwondering vervul.

“Ek is bly jy’s hier,” het hy eenvoudig gesê.

Sy het flou geglimlag. “Dit was vir my hartseer vanaand.”

“Re’uven en Shlomit, ken.”

“Daar is soveel pyn in hul oë. Maar ek was ook vir Marc en Rivkah jammer.”

“Hoekom sê jy dit?”

“Ek kon sien dit was vir hulle swaar om gelukkig te wees met hul nuwe baba terwyl Re’uven en Shlomit ’n kind verloor het.”

Dit het hom laat sug.

Sy was ’n rukkie stil voor sy weer gepraat het. “Maar tog … dit was asof die pyn en die bly-wees op die een of ander manier saamgesmelt het tot één emosie daar by die kerse, die wyn en die challah.”

Hy het geglimlag en haar vingers vlugtig teen sy mond gedruk.

“Dit is die essensie van Jood-wees, Saartjie. In jou diepste pyn kan jy nog die blydskap van Shabbat gewaarword. En in jou groot geluk vergeet jy die pyn nooit heeltemal nie. Dis waarom ’n bruidegom op sy blyste dag ’n wynglas stukkend trap om hom aan die Tempel se verwoesting te herinner.”

Dit was ’n ruk lank stil. Uit ’n aangrensende woonstel kon hulle die fyn note van ’n vioolkonsert hoor. Iewers het kinders gelag.

“Henok …”

“Hmm?”

“Jy wonder seker hoekom ek nou na ál die tyd weer Jerusalem toe gekom het?”

Hy moes grinnik. “Ja, wel.”

“Daar is iets wat ek graag wil doen. Moet doen. Ons saam.”

“Nu?” Hy was onseker oor wat om te wagte te wees.

“Ja,” het sy geknik.

“Nou spreek die woord, dan doen ons dit. Al kos dit ook die helfte van my koninkryk,” het hy roekeloos belowe, want in die skrale lig van die straatlampe was haar oë soos hy haar vroeër geken het: donker skadu’s en haar mond ’n sagte kurwe.

“Ek wil Auschwitz-Birkenau toe gaan.”

Hy het verbaas haar hand laat gaan. “Auschwitz-Birkenau?”

Sy het haar bene opgetrek, haar arms daarom geslaan en weer geknik. “Ek weet dis nie vir jou ’n geheim dat ek nog altyd met die Holocaust gesukkel het nie. Veral die verskriklike ophef wat voortdurend hier in Israel daarvan gemaak word.”

“Never to forget,” het hy ingedagte opgemerk toe sy asemskep.

“Presies. Die ewige gehamer daarop, asof geen ander volk op aarde soveel gely het nie.”

“Waarom is dit nóú vir jou belangrik om dit te weet?” het hy gevra en sy hart het swaar begin klop.

Sy het hom nie onmiddellik geantwoord nie. Maar toe het sy sag gesê: “Omdat ek by jou wil kom bly. Ek … mis jou verskriklik noudat ek nie meer werk nie. Maar …”

“Maar?”

“Maar hierdie … ding kry ek moeilik vat aan. Dis soos ’n klip in my maag wanneer ek daaraan dink dat ek hier sou woon en altyd daaraan herinner moet word. Ek wil graag gaan kyk wat dit dan is wat ’n volk se psige nou reeds meer as 70 jaar nog so kan manipuleer.”

Hy het nie dadelik gereageer nie, want haar woorde het hom seergemaak.

“Sou dit meer as die helfte van jou koninkryk wees om my daarnatoe te neem?” het sy gevra toe hy stilbly.

Die besluit was onmiddellik vir hom duidelik. “Wanneer wou jy gaan?”

“Gou.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top