Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Stralerjakkers deur Leon van Nierop

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Leon van Nierop

Leon van Nierop is ’n baie bekende radio-, televisie- en romanskrywer. Verder doseer hy rolprentwaardering aan WITS en die Tshwane Universiteit van Tegnologie en is hy ook bekend as rolprentresensent.


Opsomming

Stralerjakkers
Leon van Nierop

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624082941

“Die wêreld is hul speelplek, geld hul vernaamste vriend, maar iewers tussen swier en rykdom lê die luukse van die onontdekte.” Stralerjakkers was destyds ’n radioverhaal-fenomeen wat daagliks ’n halfmiljoen mense vasgevang gehou het, en ’n magdom navrae het Leon van Nierop laat besluit om dit tot roman te verwerk. Rykmanseun Tiaan Reyneke, pas vrygelaat ná twee onskuldige jaar agter tralies, neem sy intrek by sopkombuis-tannie Girly Lubbe se losieshuis in Newlands, Johannesburg. Dan tuimel ou familiegeheime en geraamtes uit die kas wanneer twee uiteenlopende wêrelde bots. ’n Verhaal propvol drama, hartstog en
humor.


Uittreksel

As daardie yskas nog een keer grom! Dit is so ’n diep afsloofgeluid wat haar eksman, Gert Lubbe, se snorke na wiegeliedjies laat klink.

’n Kreun wat diep van agter die yskas se ysterderms kom, soos ’n ou man wat dekades lank al swaar dra aan sy sondes. Langer kan dit nie so aangaan nie! Selfs die losieshuis se inwoners dink al dis ’n

wekroep uit die hiernamaals wat waarsku dat hierdie leierlose land binnekort finaal ineen gaan stort – die bietjie wat nog nie geplunder is nie.

Girly Lubbe se hand kramp van irritasie. Sy strek haar vingers oop en toe, byna soos toe sy destyds die plak Moeggepraat vasgevat het wanneer sy haar dogter Karlien moes tugtig.

Sy bring haar hand met mening op die rooster aan die yskas se agterkant neer – daardie dessitse plek waar die gegrom vandaankom. Dan hoor sy net melkbekers klingel soos die yskas sidder, maar die gegrom hou darem op.

Tot die volgende keer.

Sy gaan sit in die ontvangsarea van haar losieshuis in Newlands tussen Delarey en Sophiatown in Johannesburg. Agter haar pryk die stoere skildery van ’n grysaard, woeste baard in al vier windrigtings, wat uit ’n boek sit en lees terwyl hy die brilletjie op sy neus vasdruk. (Sy is seker dit is die Bybel.) Langsaan is die skildery wat Karlien se eerste kêrel van Girly se losieshuis gemaak het.

Sy het tog so van die jongman gehou, maar Karlien het hom vinnig die deur gewys. Sy het nie ’n clue wat daar verkeerd geloop het nie. Jongmense se geite en nukke was nog nooit haar sterkpunt nie. Sy het in elk geval te veel van haar eie om haar nog oor ander s’n ook te bekommer.

Karlien kla elke keer wanneer sy die skildery sien, maar Girly staan daaroor so vas soos ’n bloekomboom langs ’n Karoo-windpomp.

Dis vir haar tog so mooi, en dis die enigste oorspronklike skildery in die losieshuis naas die een van die Bybellesende vrome.

Bly sal dit bly.

Hier sit sy nou. Nog ’n dag wat RSG se verkeersnuus interessanter is as wat in die parlement aangaan, want Long Street in Newlands, ’n katspoegie duskant haar losieshuis, is gepak met taxi’s.

Partykeer sit sy sommer net op die stoep en kyk hoe selfsugtig die bestuurders optree. Hoe hulle soos opslagkoeëls verbyskiet. En wanneer sy na die superette hier naby loop, sien sy van naderby die gespanne passasiers se gesigte. Dan soek sy in haar roksak na haar pakkie Stywe Fisante – haar paspoort tot rookplesier.

Sy het verlede week opgehou rook toe die minister van finansies, met die kop so kaal dat dit blink nes haar gepôliesjde stoep, al weer die belasting op sigarette opgeskuif het. Maar asof dit nie erg genoeg was nie, gaan suiker ook glo nou belas word.

“Die lewe is reeds so bitter,” het haar oorlede ma altyd gepruttel, “ ’n mens se kos kan nie ook bitter wees nie.” Ook maar goed oorle Ma is nie meer hier nie, want as sy moes sien dat studente deesdae die land regeer – of dan opstokers wat hulleself as studente voordoen! – sou sy gesug het: “Spaar die roede werk nie ten goede!”

Krrrrrr.

Ag, have a heart – daar is dit weer! Die alewige geknor van die yskas. Dit begin as ’n sagte geratel, amper soos wanneer sy eiers klits. Dit herinner haar ook aan die twee lastige loseerders in kamers 1 en 2. Hulle gesels word al hoe harder hoe nader die horlosie se wysers aan slapenstyd kruip; dan raak dit buite beheer van die lekker lag, sodat sy haar hoë polvye moet aantrek en by nommer 1 se deur gaan staan. Dan kap sy vererg met die een polvy teen die deur om hulle stil te maak.

“Hemel, Girly, dit klink of Beëlsebub my kom roep!” kla die jongetjie dan.

“Jong, jou Beëlsebub sal binnekort brand, dan voel jy sommer meer tuis!” raas sy terug.

Die volgende aand begin die gesnater net weer. Gelukkig boer die twee manne in die gimnasium hier naby, dan het sy darem vir twee uur elke Dinsdag- en Donderdagaand rus van daardie testosteroon-brulle. Maar die res van die week klok hulle vroeg in om haar gemoed uit te rafel.

Kaplaks! Kakwaa! kap Girly weer teen die rooster agter die yskas.

’n Ligte siddering trek deur die huis wat haar aan daai grieselfliek The Omen laat dink – die laaste bioskoopprent waarheen Gert haar nog destyds geneem het voor hulle uitmekaar is. Die yskas snik en snater vir ’n oomblik, maar dan is dit asof hy keel skoonmaak en stilte vind iewers tussen sy ysterderms en -plaatjies.

Sy hoop maar net die ou siel werk nog hierna, want sy het nie nou geld vir ’n nuwe yskas nie. Wat maak sy as hierdie een ingee?

Sy draai weg en loop na haar kantoor toe van waar sy die losieshuis bestuur.

“Ag, have a heart!” is al wat sy nou vir haar lessenaar sê wat kreun onder die korrespondensie, rekeninge, klagtes en gemorspos wat daagliks in haar posbus beland. Boonop kry sy gedurig pamflette oor penis enlargements. Om so ’n pamfletjie te moet aanskou nog voordat jy jou oats in het, stel hoë eise aan jou oorlewingsvermoë.

Sy frommel dit nie net op nie, sy skeur dit in tientalle klein stukkies en gooi dit soos confetti in die vullisdrom naby die brullende yskas.

Die tydskrifte waarvoor sy altyd wag, daag nooit op nie, maar dié gemors lê so dik soos suurdeeg in haar posbus.

Haar selfoon bewe. Sy het vergeet om die volume op te draai en sy geniet dit tog so om na “Somewhere My Love” te luister; haar ring-tone. Net Rocco de Villiers speel dit mooier.

Sy antwoord: “Hallo-o-o!”

Girly maak keel skoon. Karlien het haar aangespreek omdat sy glo “te aards” oor die foon klink. Sy het weke lank probeer ontsyfer wat “aards” beteken, en toe eendag besef dit is ’n ander woord vir kommin.

“Ma!” het Karlien gemaan, “sê net ‘hallo’. Doodgewoon en doodnormaal.

En onthou, dis die persoon se óór waarin Ma praat. Ma hoef nie Northcliff toe te skreeu nie.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top