Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: My storie van hoop deur Hykie Berg

  • 1

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Hykie Berg

Hykie is in Pretoria gebore en getoë. Hy gaan studeer drama en het gespeel in reekse soos Egoli, Plek van die vleisvreters, Binnelanders en flieks soos Dis ek Anna. In 2011 wen hy die realiteitskompetisie Survivor South Africa. Hykie is passievol daaroor om mense te help wat in verslawing verval is. Hy is getroud met Melissa en bly in Pretoria.


Opsomming

My storie van hoop
Hykie Berg
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796320551

Hykie Berg was op die kruin van die golf - hy was ’n suksesvolle akteur en in die wêreld se oë het hy alles gehad wat ’n mens kan begeer. Tot op ’n dag dat hy iemand in ’n badkamer op stel dwelms sien gebruik het en hy so hard teruggeval het in sy ou gewoontes dat hy by die dood omgedraai het. Hierdie boek volg hom deur die dwelmhole van Hillbrow, tot in Botswana en uiteindelik waar hy tot stilstand kom, in ’n maksimum-sekuriteitsel in die Weskoppies- psigiatriese hospitaal. Hier kom red God hom van ’n gewisse dood. ’n Verhaal van God se groot genade en ‘n getuigskrif dat Hy nie opgee op ons nie. 


Uittreksel

“My name is Hykie and I am a recovering addict.” So stel ek en duisende verslaafdes oor die hele wêreld hulself voor in die gemeenskap van Narkotika Anoniem (NA). Ons sê “recovering”, want ’n mens is nooit “recovered” nie. ’n Mens kan skoon kom en ’n wonderlike lewe begin leef, maar ’n persoon met die siekte van verslawing sal nooit, ooit weer dwelms of drank kan gebruik sonder dat dit sy lewe oorneem nie. Jy sal dit nooit kan beheer nie. Die enigste oplossing is algehele onthouding.

Verslawing is ’n lewensbedreigende siekte, ’n siekte wat nooit ten volle genees kan word nie. Dit kan egter aangepak, hanteer, by die wortel van die kwaad blootgelê en beveg word. Soos iemand eenkeer gesê het, dit is nie die alcohol wat die probleem is nie, maar die alkoholisme, die “isme” – die siekte wat met alle mag getakel moet word.

Vandag kan ek sê dat ek uit aktiewe verslawing losgebreek het. Dit was beslis nie ’n maklike pad om te stap nie. Dit was die moeilikste ding wat ek in my lewe moes doen: om van heroïen skoon te kom. Dit was ’n geveg wat ek moes aanhou baklei. Elke keer dat ek geval en ’n insinking gehad het, moes ek maar weer opstaan en van voor af begin. My proses van genesing is iets waaraan ek elke dag moet aandag gee en dit bly die belangrikste aspek van my lewe.

Die obsessie om dwelms te gebruik verlaat ’n mens wel indien jy doen wat jy moet om skoon te bly. Ek vind ek kan dit alleen doen deur aandag te gee aan my geestesgesondheid en die manier waarop ek my lewe leef. Vandag het ek ’n lewe, wáre lewe. My lewe het ’n doel, ’n rede en ’n rigting. Voordat ek ’n verslaafde geword het, was ek ook maar net ’n kind – een wat nodig gehad het om te weet: Ondanks my onstabiliteit en rebelsheid sou ander my nog steeds liefhê en aanvaar soos ek is.

Ek het soos baie kinders gevoel ek pas net nie in nie. Ek was anders. Ek was die malletjie in die gesin. Een ding wat my as kind byvoorbeeld verskriklik gefassineer het, was kulkuns. “Kul jou hier, kul jou daar en siedaar!” Martino het my sussie by ons huis kom afneem. Hy was nie net ’n kulkunstenaar nie, maar ook ’n fotograaf. “Hier is hy! In my huis! Martino van die televisie en net die beste kulkunstenaar in Suid-Afrika,” het ek met ontsag geprewel. Ek was geweldig opgewonde.

Martino wys toe vir my ’n toertjie. Ná daardie dag het ek die toertjie oor en oor geoefen. My nuutgevonde belangstelling in kulkuns het my gedryf om ’n towerboks met toertjies wat ek op ’n TV-advertensie gesien het van oorsee af te bestel. Die dag toe ek daardie boks vol toertjies by die poskantoor gaan haal het, bly een van my opwindendste kinderherinneringe.

(Dit en natuurlik toe ek my eerste 50cc-motorfiets gekry het toe ek in graad nege, daai tyd standerd sewe, was.) Al my ouers se kuiergaste moes altyd na my toertjies kyk. Ek kon nie wag om elke toertjie met enigiemand wat ek teëgekom het te deel nie. Ek het my broer en suster behoorlik mal gemaak. Sonder die wete dat ek eendag ’n akteur sou word, het ek reeds toe al mense begin vermaak. Ek was geensins ’n pro nie, maar ek het dit geniet.

Ek het grootgeword in Lynnwood, Pretoria, in ’n ouerhuis wat geen tekort aan geld en luukshede gehad het nie. Soos enige ander huisgesin was daar probleme, maar ’n mens deal mos maar daarmee soos die tyd verloop – of so het ons gedink. Daai tyd was dit normaal om enigiets wat skande of vernedering vir die familie sal bring, onder die mat in te vee en te hoop en bid die probleem gaan weg. Vir baie jare het ek geglo ons familie is absoluut uniek wat ons uitdagings en familietwis betref. Ek het gedink daar is iets fout met ons almal, altans met my. Dit kon nie verder van die waarheid af gewees het nie. Vandag weet ons dat baie gesinne eintlik inherent disfunksioneel is. Al verskil is die omvang of graad van disfunksionaliteit.

Wanneer kinders in ekstreme disfunksionele gesinne grootword, leer hulle nie hoe om op ’n gesonde manier aan pyn uiting te gee nie. Oormatige streng beheer van kinders, projeksie van innerlike konflik vanaf ouer na kind of omgekeerd, emosionele manipulasie, asook die onvermoë om kwesbaar te word en persoonlike verantwoordelikheid te aanvaar vir eie besluite en dade beskadig die ouer-kindverhouding.

Almal het probleme, almal het issues. Dit kan tot lewenslange letsels lei wat herhaal word indien die kind nie die ongesonde siklus van die gedrag stopsit nie. Indien een party wel besluit om werklik die siklus van generasiebande of -gebruike te verbreek, veroorsaak dit gewoonlik ongelooflike konflik tussen ouer en kind. Die verhouding word onherstelbaar indien opregte vergifnis nie plaasvind nie. Dit is wat ek ook in ons eie gesin sien gebeur het.

My ma was en is nog steeds ’n beeldskone vrou. Sy was joolprinses saam met Jana Cilliers en het mans behoorlik oor hul voete laat val. Dit was nog altyd vir haar belangrik om mooi na haar voorkoms om te sien. My ma was ’n ruk lank in haar lewe ’n onderwyseres, maar weens ’n hele klomp rugoperasies kon sy nie meer vir lang ure op haar voete staan nie. Die pyn was net te ondraaglik. Boonop het een van die dokters wat op haar rug geopereer het erg drooggemaak: hy het haar linkerbeen se senuwee per ongeluk afgesny. Die gevolg was lewenslange ongemak en pyn, en dit het natuurlik ’n sneeubaleffek op haar lyf gehad.

Die een probleem het gelei tot die ander, die een operasie ná die ander het gevolg. Tog was sy ’n voltydse mamma en het alles in haar vermoë gedoen om my, my jonger sussie, Magrikie, en my ouer broer, Nielen, behoorlik groot te maak.

Sy was streng en kwaai, maar ook opreg en liefdevol.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top