Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Spertyd deur Elsa Joubert

  • 2

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Elsa Joubert

Elsa Joubert is op 19 Oktober 1922 in die Paarl gebore. Sy wen die WA Hofmeyr-, CNA- en Louis Luyt-prys vir haar invloedryke roman Die swerfjare van Poppie Nongena (1978). Haar magistrale roman Die reise van Isobelle (1995) is met die Hertzog-prys bekroon.


Opsomming

Spertyd
Elsa Joubert

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624084327

Hierdie boek is die voltooiing van Elsa Joubert se outobiografiese drieluik wat ingelei is deur ’n Wonderlike geweld (2005) en Reisiger (2009). Dit fokus hoofsaaklik op die skrywer se latere jare, in die aftreeoord in Kaapstad waar sy nou al geruime tyd woon, maar haar belewenis van die hede en onlangse verlede word onlosmaaklik vervleg met herinneringe aan veel verder terug, alles geteken met die kenmerkende woordvaardigheid van een van Afrikaans se mees gevierde skrywers.


Uittreksel

Hulle sê jy sak terug na jou wortels wanneer die winde van tyd jou liggaam en jou gees begin skeeftrek. Die vernouing wat tyd bring. Die verminderde beweeglikheid. Verstarring van die gees. Die aflê van die ou, vertroude norme. Byna sê ek die aflê van drome.

Op ’n fisieke vlak: die beperkings aan beweging wat chronies foutiewe ledemate jou bring. Om ’n onbekende paadjie te stap is moedswillig. ’n Stoel in ’n vreemde se sitkamer is ’n konfrontasie.

’n Rit in ’n vreemdeling se motor is ’n drama. ’n Afdraai van die teerpad op ’n sinkplaatpad is ’n katastrofe. Self bestuur, ’n eie motor, is ’n herinnering wat al lank agter die kim weggesak het. En die siddering, die vibrasie wat die vliegtuig in versnellingsrat op jou ganse gebeente afstuur, is nie meer vir my nie. My laaste rit van Johannesburg na Kaapstad het ek heelpad staande oorleef.

Al pad wat met minimum angs aangepak kan word, is die pad na die verlede.

Ek het al twee keer dié pad gevat, maar daar lê nog baie.

Die arme ou Pêrel, weer ’n keer.

Nee. Nie die “arme ou” Pêrel nie. Geboortedorp. Dorp wat in skelheid en grootte en detail en kleur en emosionele houvas elke stad waar ek later gebly het, in my herinnering troef en soos ’n fungus aan die hele doek van my geheue klou. My ma het sewe-en-neëntig jaar oud geword. In die Pêrel. Byna ’n eeu se verbintenis. Noudat al die baie ander stede wat ek leer ken het – in Afrika, Europa, die Amerikas, die nabye en verre Ooste – in die geheue begin verlep, begin die Pêrel soos ’n dier wat gehiberneer het, wakker word en oorneem.

Groen stokkie met die dun, klam, wit wondjie waar die takkie afgeskeur is van die bas; nat, swart grond waardeur die stokkie grou; klein, donker watertjie wat in die gaatjie gron begin blink. Stert op die grond, koue wat deur die nat broek klim, arms wat optel en wegneem, “hou op so mors”. Maar die water wat uit die moddergaatjie opwel, dít vergeet ’n mens nooit.

Lenie op die treetjies van haar kamer in die winterson, al winterson wat die groot, hoekige huis ooit kry, haar hare aan die uitborsel. Dat die hare, soos wat ek dit vandag leer noem, in ’n Afro om haar kop uitstaan. Maar in haar doodkis, in die sitkamer van die niggie se huis op die Rug, waarheen hulle in die vyftigerjare verskuif is, het sy so klein en veraf op die wit satyn gelê, soos ’n besoekstertjie uit ’n ander, veraf wêreld, dat ek nie wou glo dis sy nie . . . Die haartjies plat soos ’n kappie om haar kop. Die witgewerkte hande op die bors. Hoe het ek altyd geskrik as ek die binnekant van ons bediendes se hande sien, die ingange tot ’n wêreld wat skielik voor my opdoem, verskriklik, angswekkend, ’n wêreld waarin ek skielik halsoorkop ingedompel word, ’n wêreld waarin alles wat is, nie meer is nie. Ek skree. My ma kom sleep my weg. Wat soek jy altyd in die bediende se kamer? Lenie, jy moenie lat sy jou so kom pla nie. Sy pla my nie, missies.

Die wit binnekante van bruin mense se hande.

Daar was vier lotte draers vir haar kis. Om die beurt. Eers van die sitkamer die huis uit na die lykswa wat wag. Toe is dit ander hande wat die blink handvatsels, nog warm van die vorige draers, raakvat en die kis so ’n bietjie stamperig uit die lykswa trek en tot by die begraafplaashek dra. Weer het hande oorgevat waar die rou paadjie uitswenk, en dis hulle wat die kis stadig en met sorg geplaas het op die groen bande wat na die ewigheid lei. Hulle het toe teruggestaan, hoed in die hand, kop geboë, kleingeboude mans met fyn gelaatstrekke.

H.W. Morton het in sy reisboek In Search of South Africa geskryf: In the streets of Paarl you see many men with French faces, though they don’t speak French. They are dark of skin, slightly built.

Ons het gedink hy praat van mense soos my pa, maar nou weet ek dis ook hulle, die bruin mense, ook afstammelinge van die Franse Hugenote, van wie hy gepraat het. En ons het dit destyds nooit raakgesien nie.

Ons sing “Veilig in Jesus’ armen, sag aan sy hart gedruk . . .”

Waar kom my trane vandaan? Hulle loop oor my wange. Die klein gesig en die stokou liggaampie sak af, die kis word toegegooi.

Ek voel weer die vrees wat my beetgepak het toe ek ’n kind van agt was: Is dit nodig dat al daardie swaar, klam, rooi grond so onverbiddelik op haar neergestort word? Hier op die bult sal daar nie hiënas wees om haar uit te grawe nie. Ek weet daardie swaar, klam grond, swart kleigrond van die vallei, gaan op my ook neergestort word. Ek het dit geweet vandat ek agt jaar oud was. Miskien is my trane nie vir Lenie nie.

  • 2

Kommentaar

  • Sakkie Spangenberg

    Vreemd hoedat 'n boek in jou hande spring. Verlede Sondagoggend (12 Nov) sit ons op die Kaapstadse lughawe en wag vir ons vlug terug Gauteng toe. Ek loop oudergewoonte 'n draai in die boekwinkel en sien Elsa Joubert se boek raak; neem dit in my hande en begin piklees. En net daar gryp haar vertellings oor haar jeugervarings van die CSV en van haar verskeie bekerings my aan. Ek koop die boek en toe ons op OR Tambo land, was ek halfpad deurgelees. Wonderlike vertellings oor haar ervaring van oud word; van herinneringe aan 'n tyd toe die wêreld anders gelyk het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top