Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Rian deur Rian van Heerden

  • 3

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Rian van Heerden

Rian van Heerden is ’n radio- en televisie-aanbieder, skrywer en satirikus van Pretoria. Hy het sy loopbaan by Tuks FM begin en is tans aanbieder van Jacaranda FM se middagprogram, “The scenic drive”. Rian is bekend vir sy omstrede uitlatings wat dikwels in afdankings geëindig het. Hy is ’n toegelate prokureur en het ’n meestersgraad in sielkunde.

Foto: Hanneri de Wet


Opsomming

Rian: 16 dinge wat ek nié moes sê nie
Rian van Heerden

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624081104

Met sy heel eerste verskyning op televisie as hoërskool-laaitie het Rian van Heerden reeds die volk die josie ingemaak. Sedertdien het hy dikwels koerantvoorblaaie gehaal – en is telkens afgedank! – vir sy omstrede uitlatings. In dié boek skryf hy onbeskaamd oor al die goed wat mense meen hy eerder nié moes gesê het nie. Hy maak vir die eerste keer sy hart oop oor sy persoonlike lewe, sy worsteling met gaywees en sy eerste liefdesverhouding. Blatant eerlik, skreeusnaaks, aangrypend.


Uittreksel

Ek was ’n onmerkwaardige kind.

Dis nou as jy enigiemand behalwe my ma en my ouma Tinka sou vra. Ek was stil en teruggetrokke en my ma sou gereeld vertel hoe hulle net ’n hoop ou Huisgenote nodig gehad het om my te vermaak. Blykbaar sou ek net in die hoek sit en die tydskrifte opskeur. Niks merkwaardigs nie, sien? Geen invul van blokkiesraaisels op ouderdom twee of so nie.

Wat dalk wel merkwaardig was, was die feit dat my ma my geboorte oorleef het. Sy het op die (vir die sewentigs) gevorderde ouderdom van 37 besluit om ’n tweede kind hierdie wêreld in te bring en is deur bykans elke dokter gewaarsku dat dit uiters gevaarlik sou wees. Rona van Heerden, vasbeslote soos altyd, het haar egter aan niemand se advies gesteur nie en in die vroeë oggendure van 2 November 1973 is ek gebore.

Hierna was dit, soos die gesegde lui, touch and go met Rona wat eers heelwat later, en steeds kritiek, haar jongste vir die eerste keer gesien het. Sy vertel dat die son op my yl hare geval het met ’n silwer skynsel. Sy het onmiddellik gewonder of dit dalk te wyte was aan ’n tipe haarsproei wat sy in daardie stadium gebruik het. Dekades later sou sy weer oor daardie haarsproei wonder.

’n Bietjie meer daaroor later!

O ja, hierdie gedeelte van boeke soos dié is gewoonlik die gedeelte wat ek persoonlik oorslaan. Ek is daarvan oortuig skrywers gebruik dit net om te voldoen aan die kwota van 60 000 woorde, want wie is dan nou werklik geïnteresseerd in die grootwordjare van enigiemand?

So, ek sal dit alles kort hou, met miskien net hier en daar ’n staaltjie wat my steeds bybly . . .

My pa se naam was Esli. Vreemd, ek weet. Dis ook my tweede naam en kom uit die Bybel. Soos enigiemand weet, is daar duisende name in die Bybel, maar om die een of ander rede het my oupa Van en ouma Tinka daardie naam raakgelees.

Die naam Esli (in die nuwe vertaling “Hesli”) kom voor in die geslagsregister van Jesus (Luk 3:25). Dit het ek eers later agtergekom.

Vir lank het ek vas geglo Esli was een van die draers van die ark.

Waar kom “Rian” vandaan? Wel, die naam van my ouma aan moederskant was Rina en dit was in die jare toe hulle nie seker was of jy die babakamer pienk of blou moes verf nie. Ek neem aan almal wou vreeslik graag ’n dogtertjie gehad het en sy sou die naam Rina gekry het.

’n Dogtertjie het hulle toe nie gehad nie, maar hulle was halfpad reg!

Klein Rian was verslaaf aan boeke. Die gogga het dalk met daardie Huisgenote gebyt. Hy het in sy verbeelding saam met die Uile en die Hardy Boys rondgehang, en wie het dan nou werklike vriende nodig gehad as jy ’n verbeelding gehad het?

Hy was vir ’n ruk baie mal oor rugby en het albums vol foto’s en uitknipsels versamel, grotendeels omdat hy ’n crush gehad het op Naas Botha en Danie Gerber.

Dit was egter iets wat hy vir homself gehou het, alhoewel sy pa baie tevrede was met sy lewendige belangstelling in enigiets anders as boeke.

Ons het baie getrek. Ai, so tipies.

Ek het maar altyd aan die kinders by die nuwe skool vertel dat ons agter die skape aan getrek het, maar die eintlike rede was dat my pa maar gesukkel het om ’n werk as korttermynversekeringsmakelaar te behou. Hy was ’n alkoholis, maar die nice tipe wat nooit sy hand vir sy vrou of kinders gelig het nie. Ek blameer hom ook nie daarvoor nie. As ek sy geskiedenis gehad het, was ek beslis ook ’n alkoholis.

Jy sien, hy was in die motor toe sy jonger broer, Mardo, verongeluk het en is deur sy ouers daarvoor die skuld gegee. Ek was byvoorbeeld by een middag toe ouma Tinka baie gefolterd vir hom gesê het: “Dit moes jy gewees het.”

Dit was egter nie nodig dat hulle hom blameer het nie, hy het dit self gedoen. Richelieu sou hom kortstondig van daardie aand laat vergeet.

Ek was in heelwat laerskole voordat ons in Randfontein beland het. Daar was twee laerskole in Vereeniging, een in Rustenburg, een in Lichtenburg, en uiteindelik het ons in ons avo-groen huis in Randfontein ingetrek.

My pa was in daardie stadium weer werkloos met my ma wat (weer eens) die pot aan die kook moes hou. Esli het egter steeds elke dag aangetrek vir werk en die trein Johannesburg toe gevat, waar ek seker is hy maar die dag op ’n bankie in Joubertpark deurgebring het. Hy wou net nie gehad het ons moes weet dat hy al wéér sy werk verloor het nie.

My ma was toe werksaam by mnr. Hürkens, die Duitse eienaar van die Total in West Porges en het gereeld gesorg dat ou Hürkens vir ons ’n Yogi Sip in sy yskassie aanhou vir wanneer ons ná skool met ons BMX’e daar gestop het. Met “ons” verwys ek na my en my ouer broer (ook gedoop “Mardo”), wat nie eintlik tydens ons skoolloopbane met mekaar gepraat het nie. Soos broers of susters wat min in ouderdom verskil maar doen.

In elk geval, om ons inkomste aan te vul het my ma besluit om bedsokkies te begin hekel. Dit was dan my taak om hierdie bedsokkies by die plaaslike biblioteek te probeer smous.

Dit was my eie idee aangesien ek baie tuis gevoel het tussen daardie honderde boeke. ’n Vreemde selfvertroue het oor my gespoel elke keer wanneer ek die koel gebou binnegestap het.

Kort voor lank was die bedsokkies ’n topverkoper (R5 sonder tossels en R5,50 met tossels) en kon ons ’n klein bietjie asemskep. Afgesien van die ekstra inkomste is ek ook gedwing om met vreemde mense te kommunikeer, wat my baie met my ontwikkeling gehelp het. Dit was broodnodig.

Ek vertel altyd vir mense, met my tipe geskiedenis was daar werklik net twee keuses: reeksmoordenaar of die vermaaklikheidsbedryf.

  • 3

Kommentaar

  • Willie van Aswegen

    Rian se gemaklike TV-aanbiedinge gepaardgaande met stoute oë en ironiese glimlaggie en altyd spitsvondig, vind aanklank in hierdie uittreksel uit sy nuutste (eerste?) skryfwerk.
    Lekker loslitlees wat ontspanning waarborg.

  • Colette Pretorius

    Ek sien nou sommer geweldig uit om die boek onder oë te kry. Rian is 'n vreeslik interressante mens. Hoogs intelligent en oulik. Sy skryfstyl is baie vloeiend en gemaklik. Dankie baie vir die uittreksel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top