Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Pelgrimshoop deur Ronel Nel

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Ronel Nel

Ronel Nel het ’n digbundel op haar kerfstok: en die here het foto’s geneem oor vanderbijlpark, uitgegee deur Protea Boekehuis, en was op die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys. Sy het haar MA in kommunikasie en joernalistiek deur Boston Universiteit in die VSA behaal. Nel skryf sedert 1988 voltyds as vryskutjoernalis vir publikasies soos De Kat, Insig, Beeld, Taalgenoot, Rapport, Weg!, Wegbreek, Sawubona en Getaway. Sy is tans verantwoordelik vir rooi rose se boeke-, kuns- en vermaakafdeling. Sy is ook ’n gereelde rubriekskrywer vir Beeld-koerant en het drie kinderboeke vir die Departement van Onderwys geskryf.


Opsomming

Pelgrimshoop
Ronel Nel
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799383119

Dit gebeur selde dat iemand ’n nuwe perspektief kan oopskryf op ’n ou tema.

Die hoofkarakter, Hannah de Witt kom uit ’n half-Joods, half-Afrikaanse familie van Pretoria af op die fiktiewe dorpie Pelgrimshoop in die Laeveld aan. Dit is 1956, nie ’n maklike tyd vir mense soos Hannah wat andere aanvaar vir wie hulle is en haar nie aan die vooroordele van haar tyd steur nie.

Sy het hierheen gekom as leermeesteres van ’n ryk perdeboer, genaamd Elias Bart. Hy is aanvanklik vir haar ’n enigma. Hy is nors en terughoudend, maar dit is ’n skans waaragter hy sy groot geheim bewaar, besef Hannah mettertyd. Terwyl sy vir hom die skatkis van wetenskap, musiek en die letterkunde ontsluit, leer sy op haar beurt van hom wat dit beteken om verknog te wees aan die grond en diere, van wat dit beteken om net ’n paar mense aan jou kant te hê in die aangesig van brutale vyandigheid van die kleindorpse gemeenskap. En in Elias leer sy wat liefde is en hoe versigtig dit hanteer moet word.

Hoewel die roman in 1956 afspeel, is die kwessies soos blinde vooroordeel jeens alles wat “anders” is vandag nog net so relevant.


Uittreksel

Hoofstuk Drie

Vliet Vorster skreef sy een oog en kyk met ’n berekende kilte bo-oor die bol van sy bier na die maan se kant toe.

Hy lig die glas en korrel tussen die gelerige vloeistof deur; klein lugborrels maak hul stadig los van die glas se rand en glip na bo. Die maan gloei dofgeel deur die bier. Hy lek sy bonkige voorvinger nat, druk dit in die skuim om die bol te laat sak en vat twee, drie lang teue. Hy smak sy lippe en lek die laaste bietjie skuim om sy mondhoeke af.

“Dis vandat daai anderster twee hier aangekom het dat alles so hotkant toe neuk,” beduie hy verbete aan die groep om hom.

 Kareltjie van As knik sy kop stadig op en af, sluk-sluk en maak ’n instemmende, positiewe geluid. Hy dink sigbaar dit is nie te sleg nie.

“Hotkant is lekker!” Hy lag. Sy groot maag beur teen die kakiehemp, en ’n straal sweet loop teen sy nek sy kraag binne. Hy kam met sy vingers die hare van die een kant van sy kop af oor na die ander kant om sy effense bles te verdoesel.

“En ek hou van Bart,” sê hy op sy blote manier. “Hy’t my nog niks gedoen nie.”

Vliet elmboog hom so eenkant toe, tot buite aanhoor.

Die ander drie hou Vliet stip dop. Soek nog verdere tekens ter bevestiging van die groot wantroue in die lug.

Vliet sien die vertwyfeling. Effens, maar daar.

“Nee magtig, manne. Danie, Swarrie, Chris... Mens kan mos sien! Dis g’n Christene daardie nie. Kyk maar net hoe trek daardie vroumens aan. Die ene donkerte. Alles is swart. Nes ’n weduweespinnekop.

“En die man, hy’s die ene ritteltits. Met sy brilletjie en boeke onder die arm, op en af snuffelend in ons dorp. Snaakse lappe om sy nek. Sulke stywe broeke. Ek het hom selfs nou die dag gesien met so ’n vreemde pap hoed op sy kop.” Hy snork. Duidelik minagtend. “Vroumensmannetjie daardie, seg ek julle.”

“Wie is hulle nou eintlik? En wat doen hulle hier?” vra Danie onskuldig. “Hulle is darem nog baie kort hier, mens weet nog nie eintlik wat...”

Maar hy word in die rede geval.

“Nee wragtie, ek weet nog nie. Maar ek gaan uitvind. En, sal ek die graagste wil weet, wat soek hulle op daardie man se plaas?”

Daardie man, Elias Bart. Vliet Vorster se nemesis. Sy aartsvyand. Sy objek van haat en veragting.

Vliet is die rykste boer in die omgewing.

Sy stuk aarde is die grootste. Sy gesaaides staan die hoogste en hul perde het nog altyd die meeste pryse gewen. Sy oupa se beeste wei die steiltes uit, staan dik in verwagting seisoen na seisoen. Beste vleisprys op die mark.

Nog altyd.

Die Vorsters van Pelgrimshoop is soos die De Villiers’s van Franschhoek of die Malans van die Waterberge, verseker hy homself weer.

Vliet Vorster se ougrootjie het nog destyds die heel eerste hoekpaal op hierdie berg geplant. Dit moes nie te lank ná die Groot Trek gewees het nie, selfs al met die swartwaterkoors langs. Of dalk met die goudstormloop en so, toe hulle hier in die veld aangekom het. Die einste ossewa waarop die Vorsters noorde toe getrek het, staan uitgestal in die tuin voor sy plaashuis.

Met sy eie vereelte hande het Ougrootjie klip gegrawe, saam met die outas van die omgewing. Self sy huis teen die rant gebou. Klip vir klip gestapel. Houtrame gekap en gesny. Deure gebeitel. Banke, katels en stoep uit eie hand gesnede.

Grootjie het begin skoonmaak, die aarde voorberei vir die diere wat sou kom.

Oupa Herklaas het die drade gespan. Hy en sy spanne het die beeste aangeja van die suide af. Destyds nog.

Saam het hulle die bome uitgekap en nog lande aangelê.

Hulle het eerste, heel eerste, hulle kleim op hierdie stuk land afgesteek.

President Kruger het later vir nog van die verloopte boere stukke van hierdie onherbergsaamheid toegeken.

Almal het gedink die Vorsters gaan vou. Hulle het nie.

Die Vorsters en die land is sinoniem.

Sinoniem. Vir alle tyd wat hier in die Laeveld nog bestaan.

Totdat die Barts hier aangekom het. Die verdomde Barts. Elias Bart se verdronke oupa, Bartel Bart, en sy dreksel van ’n nasleepsel. Bartelheim, het hy die plek durf noem. Asof hulle nog altyd hier was.

Hulle het niks aan die land getem nie. Niks gedoen om Afrika, hierdie vervloekste, wilde kontinent in toom te kry nie.

Net die perde aangeskaf. Hulle wild en onwillekeurig laat trek, deur die rante en kortgras. En toe die jonge gebore is, is hy toegelaat om met die perde te doen wat hy wil. Weke lank weggeraak, teruggekom slegs met die eerste reent. Die verdomde Barts het al wat ’n Vorster-perd is op die landbouskoue begin klop met pryse as stoetperde en wat nog. Pronkers sonder oorsprong of agtergrond.

’n Mengelspul.

Drek. Hulle is drek. Bartelheim se mense is die agterent van die os. Drek.

 

Dit is ’n bedeesde Laeveldnag toe die maan onttrek.

Die takke van die akasias reik verskrik die lug in. Krieke tjirp al hoe flouer, hou toe opeens op.

Koeie loei soos teen sononder. ’n Paar bokke blêr, begin aanstap krale toe. Die voëls kwetter soos net voor die oggend breek. Dit sweet meegaande uit.

Toe is daar doodse stilte.

’n Groen grysheid – ’n donker koevert.

’n Verskuilde lig, donker wat ongemaklik huiwer, blonde lewe wat stadig wegkruip.

Die donker is tasbaar. Dig, soos ’n dik kombers wat oor jou oë gegooi word.

’n Totale eklips.

Vliet, saam met die dorpse mense in Die Oog, die plaaslike krip, sien dit saam. En ril effens.

“Ek sê vir jou. Dis daardie verdomde swart spinnekop en haar slaphoedaanhangsel wat hier kom neuk het. Saam met daai Bart. Dis heksery. Soos hierdie wegse maan nou.

“Hulle is nie goed vir ons kontrei nie.” Vliet lyk kwaad, bekommerd en effe gespanne.

Die vierstuks om hom lig hul glase. Stem mompelend saam.

Iemand knik sy kop in instemming.

“Jy’s reg, Vliet. Hulle het hierdie dooie maan gebring.”

Die ander drie klik “tja” met die tonge teen hul verhemeltes.

“Op die mooie, dooie nag,” sê Kareltjie.

Vliet kyk hom met ’n barsoog klein.

Niemand sien hoe Alfred Kabena in die kombuis waar hy skottelgoed was, skewekop staan en luister na hul gesprek nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top