Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Paaiboelie deur Chanette Paul

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Chanette Paul

Chanette Paul het reeds in verskeie genres gepubliseer, maar met haar spanningsromans, wat sedert 2007 verskyn, vind sy werklik haar nis. Die storie staan sentraal, maar vir die ernstige leser is daar allerlei weggesteekte lekkernye wat tussen die verweefde storielyne verpak word.

Toe Jojo Richter haar buiging maak in Siende Blind, Raaiselspieël en Ewebeeld, is Chanette se goeie posisie in die Afrikaanse spanningswêreld bevestig.

Met die Offer-tweeluik – Offerlam en Offerande – maak Chanette haar internasionale deurbraak. Offerlam (Deel 1) is in Nederlands vertaal en baie goed ontvang. Die woorde “verrassend” en “meeslepend” duik telkens in resensies op. Offerlam verkry ook vier sterre in Vrij Nederland se gesaghebbende Detective en Thrillergids wat aan net 7 uit 636 boeke vyf sterre toegeken het. Offerande (Deel 2) verskyn in Mei 2017 in Nederlands.

Offerlam verskyn in 2017 ook in Engels as Sacrificed. Die boek se Amerikaanse regte is verkoop en dit sal in Oktober daar verskyn.

Chanette word geloof vir haar karakterisering, die manier waarop sy atmosfeer skep en die volgehoue spanningslyne in haar stories. ’n Goodreads-leser som dit so op: “Chanette het die vermoë om die leser in te trek en vasgenael te hou, tot die laaste bladsy.”

Benewens die misdaadaspek in haar boeke, is daar ’n deurlopende tema van vroue wat opstaan teen geweld. Hierdie vroulike karakters word sterk geskets. Hulle neem verantwoordelikheid vir hul besluite en groei tot mense met wie die leser kan identifiseer.


Opsomming

Paaiboelie
Chanette Paul
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799385397

Chanette Paul se ondersteuners sal bly wees om te hoor Jojo Richter van Siende blind, Raaiselspieël en Ewebeeld is terug. Hierdie enigmatiese privaat ondersoeker word gehuur om uit te vind wat werklik sewe jaar gelede in die skatryk Eduard Swiegelaar se studeerkamer gebeur het. Hy is daardie dag, ten aanskoue van sy heelwat jonger, sexy trofeevrou, Zaan Mentz, doodgeskiet.

Zaan het ’n redelike rykdom verkry toe haar ouer man dood is, en daarom trek sy in op Crystal Crags, een van die mees eksklusiewe landgoedere in die land. Haar keuse van dié landgoed hang saam met die puik sekuriteit, want sy weet wat in daardie studeerkamer gebeur het, en sy vrees vir haar lewe.

Dit neem egter nie lank voor Jojo en Zaan agterkom dat vreemde goed ook binne die veilige mure van Crystal Crags gebeur nie. Is dit toe te skryf aan die bonatuurlike? Die plaaslike inwoners vertel graag dat die landgoed binne die Duiwelsdriehoek lê, ’n plek waar dinge en mense sommer wegraak.

Die stories loop dik, en hoe dieper Jojo grawe, hoe meer besef sy iets is nie pluis nie.

Terwyl Jojo die geheim van ’n enkele oggend se gebeure ontrafel, dobber die geheime, wat vir langer as ’n honderd jaar op Crystal Crags verswyg is, geleidelik boontoe. Zaan staan skielik in die brandpunt. Hoe lank sal dit neem voor haar veilige blyplek ’n tronk word waaruit sy nie kan ontsnap nie?


Uittreksel

Donderdag, 11 Augustus

Die ontnugtering is pynlik. Sy moes geweet het brosjures lieg. Dat enigiets wat klink asof dit te goed is om waar te wees, inderdaad te goed is om waar te wees.

“Privaat, mooi uitsig, nie in suburbia nie én uitstekende sekuriteit? Nee, lovey, ek dink nie wat jy soek, kry ’n mens meer in Bientangsbaai nie,” verwoord Wena Erasmus Zaan se vermoede. Die eiendomsagent se te donker gekleurde hare is ’n warboel, haar lipstiffie soek die rookvoortjies van haar bolip op. Die swaar grimering verberg nie die meer as sestig somers wat weggekalwer het aan haar gelaatstrekke nie, aksentueer dit eerder.

Zaan kan sien Wena is geïrriteerd al hou sy steeds ’n vriendelike front voor. Sy sou seker ook die hel in gewees het as ’n klant nie van een van die vyf huise wat sy gewys is, hou nie. Nie eens wil ingaan nie.

“Daar word selfs in die grênde sekuriteitskompleks by die Bientangsbaai-gholfbaan ingebreek en gesteel. Nie dat jou huidige budget dit eers halfpad sal maak daar nie.”

“Dis daai rugbybaas wat hierdie vissersdorp in ’n rykgat­dorp verander het. En die walvisse het natuurlik die toeriste gebring. Oorsese toeriste met oorsese geld. Misdaad het gevolg, al is dit nie naastenby so erg as daar bo in die noorde waar jy vandaan kom nie. Is jy seker jy wil nie eerder in Birkenshire of Perlemoenbaai kyk vir eiendom nie? Alhoewel, misdaadvry is dit daar ook nie meer nie.”

Vandat sy die eerste keer ’n bemarkingsbrosjure in haar e-pos oopgemaak het met foto’s van huise in Bientangsbaai, het Zaan gewonder hoe dit sou voel om heeltemal weg te breek van Pretoria af en hier te kom woon.

Miskien is dit omdat sy daardie eerste een oopgemaak het dat sy van toe af een ná die ander brosjure gekry het, maar dit het begin voel asof sy hierheen gelei word toe sy dit die no­digste gehad het. Dit was egter nie net die brosjures nie.

“Jy moet hier wegkom, Zaan,” het haar prokureur her­haaldelik gesê. “’n Nuwe begin maak.” Sy het geweet hy is reg. Geweet sy is nie veilig in Eduard se huis nie. Al het sy die alarmkodes en slotte verander. En tog het sy gebly. Tot sy ge­hoor het Hugo gaan van regspan verander. Dit was haar wak­kerskrikoomblik ná sewe jaar in ’n dwaal.

“Is daar in Perlemoenbaai of Birkenshire plekke wat ten minste aan ’n paar van my voorkeure voldoen? Sekuriteit in die besonder?” Zaan probeer die paniek uit haar stem hou. “Ek bedoel werklik goeie sekuriteit.”

“Nou nie sodat jy sal agterkom nie. Die enigste plek met werklik goeie sekuriteit is Creeks Cove, maar dis so ’n ent uit Bientangsbaai uit op pad Birkenshire toe. Nie see-uitsig nie, dis langs die Kortrivier-strandmeer. Maar . . .”

“Ek gee nie om as dit uit die dorp is nie.” Opwinding roer in haar. “Sal ’n mens ’n uitsig op die meer hê?” Haar enigste uitsig die afgelope een en twintig jaar was hoë mure met geëlektrifiseerde drade boaan. Die tuin was mals, maar plant en boom kon nie die hok waarin sy haar bevind het, wegsteek nie. En toe het die gevaar in elk geval nie van buite af gekom nie, maar van binne die familiekring.

“Water is omtrent al wat jy sien, maar soos ek wou sê . . .”

“Is daar ’n huis te koop? Een wat dalk binne my begroting val?”

“Moontlik, en ek weet nie mooi van die prys nie, maar . . .”

“Kan jy my gaan wys, asseblief?” Sy het gedink sy het ’n ruim begroting. Hoe moes sy weet huise hier rond is nog duurder as in die noorde? Dat die pragtige brosjures nie die ware prentjie geskilder het nie. Dat seeuitsig in haar prysklas beteken daar is ’n flentertjie blou van ’n balkon af te be­speur tussen die dakke van honderde ander huise deur. En sy wil juis wegbreek van ’n voorstedelike gevoel. Suburbia bly suburbia, of dit in Gauteng of by die see is.

“Ek kan my begroting rek vir die regte plek.” Wat help die spul aandele wat Eduard vir haar destyds as huweliksgeskenk gekoop het haar in elk geval? Lê net daar. Een dag meer, ander dag minder namate die pryse skommel.

Wena lyk vertwyfeld. Uiteindelik knik sy. “Daar is een huis wat dalk in die mark gaan kom. Ek sal net eers moet hoor of dit nou al beskikbaar is.” Wena kou ’n oomblik aan haar onderlip. Van haar lipstiffie bly op haar voortande ag­ter. Dit duur ’n paar oomblikke voor sy haar slimfoon uit haar handsak haal en wegstap.

Zaan bekyk weer die meenthuis wat Wena haar pas gewys het. ’n Vierkantige stuk siersteen sonder enige atmosfeer. As sy so maklik by die bure se woonkamervenster kan inkyk, is die teenoorgestelde ook waar. En die sekuriteit bestaan uit ’n valhek met elektroniese toegang. Nie goed genoeg nie.

Wena beduie asof die persoon met wie sy praat haar kan sien. Zaan kan nie hoor wat sy sê nie, net enkele flardes woorde. Transvaler. Veertigs. Grênderig. Alleen. Weduwee. Sewe jaar.

Zaan frons. Hoe weet Wena sy is al sewe jaar ’n wedu­wee? Sy het net gesê haar man is ’n paar jaar gelede oorlede, nie dat sy sewe jaar lank probeer vasklou het aan wat nie meer hare was nie. Nee, wat nooit hare was nie. Hulle vriende was Eduard se vriende. Die huis, sy huis en die in­houd van die huis, drie Swiegelaar-geslagte se smaak. Sy kinders haar vyande.

Sy wonder of Hanli al in haar pa se huis ingetrek het. Want dis wat dit altyd was. Haar pa se huis. Haar pa se geld. En Zaan was haar pa se bimbo. Vir Hugo was Zaan sy pa se white trash bitch.

Sy het nooit ontken sy het met Eduard, veertien jaar haar senior, oor geld en gerief getrou nie, maar dit was nie die enigste rede nie. Eduard was vir haar die pafiguur wat haar nooit voorheen beskore was nie, iemand om haar te men­tor in die fyner dinge van die lewe, in te wy in die soort lewe waarvan sy altyd gedroom het, maar veral iemand wat haar kon koester en beskerm.

En hy het haar beskerm. Uiteindelik met groot koste – emosioneel en andersins – ook teen sy kinders. Maar net tot op ’n punt, want teen haarself kon hy haar nie beskerm nie.

Sy het sy kinders van hom vervreem, maar nie moedswil­lig nie, nie omdat sy wou nie. In die begin het sy hulle guns probeer wen. Dalk op die verkeerde manier, maar sy het probeer. Tot sy agtergekom het Hugo kyk haar nie nét met minagting aan nie.

Daarna het sy haar van albei kinders onttrek. Dit was nie regverdig teenoor Hanli nie. Zaan weet dit. Sy kan jonkheid pleit. Sy is maar sewe jaar ouer as Hugo, nege jaar ouer as Hanli.

Sy kan baie ander dinge ook pleit, maar op die ou end is daar net een ding wat tel: Sy is skuldig aan Eduard se dood.

Wena wuif haar na haar motor toe. Sy sit al agter die stuur toe Zaan inklim.

“Goed. Ek kan jou gaan wys. As die plek jou aanstaan, is daar egter ’n hele rigmarole wat gevolg moet word voor jy eers toestemming sal kry om ’n aanbod te maak, nè. Mense wat in Creeks Cove wil inkoop, word streng gekeur. Maar kom ons gaan kyk maar net eers of jy belangstel voor ek jou onnodig opsaal met al die dinge.”

Wena se bestuurvermoëns laat Zaan wens sy het eerder

met haar eie motor gekom, maar dié staan nog by die gas­tehuis waar sy oorslaap. Wena het gesê dit sal dinge net be­moeilik as hulle met twee motors rondry.

“Hoe het jy geweet ek is al sewe jaar ’n weduwee?” vra Zaan, meer om haar aandag af te lei van die kort volgaf­stande wat Wena op die besige pad uit Bientangsbaai uit handhaaf as enigiets anders.

Wena kyk vlugtig na haar. “Hoe nou, lovey?”

“Ek het net gehoor jy sê iets van weduwee en sewe jaar.”

“Nee, donner, ek het nie geweet nie. Dis sewe jaar gelede sedert die vorige eienaar . . . daar weg is.”

Verbeel sy haar of wou Wena iets anders gesê het? “Hoe bedoel jy weg?”

Wena roer haar skouers en verander onnodig van rat toe sy verby ’n stadiger motor skiet. “Die huis het sewe jaar leeg gestaan, maar Estian het daarna omgesien. Dis nie verwaar­loos nie.”

“Estian?”

“Estian Roth. Hy is die eienaar van Crystal Crags, ’n land­goed wat by Duiwel-se-snoet aan weerskante van die pad tussen Bientangsbaai en Birkenshire lê. Creeks Cove is die deel van die landgoed wat aan die meer se kant van die pad lê. Daar is vyf huise. Villas, noem hy dit. Aan die bergkant van die pad lê die grootste deel van die landgoed. Dis waar Estian bly. In Crystal Manor.” Sy verminder spoed.

“Hier begin die landgoed nou. Alles agter die wildwerende heinings is Estian s’n. Sy oupagrootjie het die plek in die vroeë 1900’s gekoop en die oorspronklike Crystal Manor gebou. Estian se oupa het verder aangebou in die 1940’s en die pa het later nog verbeterings aangebring. Nuwe badkamers en so. Estian het ook glo daaraan laat werk, maar sedert hy die septer daar swaai, het bitter min mense nog die Manor gesien. Dis ook nie sigbaar van die pad af nie.”

Wena beduie na ’n gebou aan die linkerkant in ’n inham buite die wildwerende heining en trek die motor ietwat onver­skillig van die pad af. “Dis ook Estian s’n. ’n Padstal en galery.”

“Maar dis . . .”

Wena lag. “Nee, dis nie ’n murasie nie. Estian het dit maar net geverf dat dit so lyk.”

Zaan kyk weer mooi. Wena is reg. Dis ’n doodgewone, langwerpige gebou met ’n stoep voor en ’n prieel daaroor. Of dit sou gewees het as die buitemure nie driedimensioneel beskilder was om te lyk asof stukke pleister afgeval en dele inmekaar gestort het nie. Op die symuur lyk dit asof daar ’n gat deurgebreek is en mens binnetoe kyk na ’n toonbank, ’n tafel met vier stoele waarvan een omgeval het en rakke met padstalitems daarop uitgestal. Spinnerakke hang in die hoeke en ’n verslete gordyn hang voor ’n gebreekte venster. Alles illusie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top