Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Op pad deur Dana Snyman

  • 3

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Dana Snyman

Dana Snyman is bekroonde skrywer met ’n rits topverkopers agter sy naam. Hy skryf gereeld vir Die Burger, Beeld, By en veral Huisgenoot, waar hy sedert 2014 feitlik eksklusief werk. Dié tydskrif, die grootste in Suid-Afrika, het hom talle nuwe volgelinge besorg. Dana is ook aktief op sosiale media en het meer as 5 000 volgelinge op Facebook.


Opsomming

Op pad
Dana Snyman
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624077176

Dana Snyman sien dinge op sy eiesoortige, aweregse manier. In deel een is hy op pad saam met die TV-span van Op pad met Dana. Soos hulle die land deurkruis op soek na stories, beleef Dana nie net die lief en leed van die mense met wie hy gesels nie, maar ook sy eie innerlike reis. Hy kom huistoe met ’n optelhond – en met ’n nuwe manier van kyk. In deel twee kyk hy rugby. In kroeë, township-huisies, saam met oom Frik du Preez en Joost van der Westhuizen. Snaaks, skerp en onthutsend eerlik.


Uittreksel

Deel I: Dieper die binneland in

(Aantekeninge oor ’n reis)

“I was silent. Because so many others have kept silent, the temptation is great to shift the blame onto the collective guilt, or to talk about oneself only figuratively in the third person: He was, saw, did, said, he kept silent.”

– Günter Grass

 

Vir so ver jy ry, sien jy die armoede en die swaarkry. As jy dit wil sien.

Jy sien dit aan die plakkershutte buite die Paarl en aan die spesiale aanbieding in die slaghuis op Rawsonville: “Varkkoppe! Slegs R18 stuk!” Jy sien dit aan die ry mans op die sypaadjie oorkant die Golden Valley Casino by Worcester, party met ’n verfroller of ’n waterpas in die hand, wagtend om weggevoer te word na ’n los werkie iewers.

Jy sien dit aan die gaar, ou bakkie wat duskant De Doorns links van die geel streep aankruie, skuins-skuins, swaar-dra-al-aan-die-een-kant, met ’n vrag vuurmaakhout op. Vir die armes is vuurmaakhout nie braaihout nie. Op bakkies en donkiekarre en kruiwaens, in gesteelde winkeltrollies en agterop fietse word hout gekarwei.

In die kafee op Touwsrivier ontdek jy ’n mens kan R5 se lugtyd koop. R5 se lugtyd? Genoeg vir twee SMS’e? Of een vínnige oproep na jou familie in die Oos-Kaap? Jy ontdek ook daar is ’n mark vir ’n pakkie grondboontjies van R3, en vir ’n enkele sigaret – ’n loose draw teen R1,20 stuk. En jy hoef nie ’n Bic-wegsmytaansteker weg te smyt nie. By die Good Times Shop op Laingsburg kan die Chinees agter die toonbank dit vir jou hervul – teen slegs R2,50.

By die One Stop kom staan ’n man by jou, kaalvoet, met ’n koeldrankkrat in die hand. In die krat is ses klein hondjies, pas gespeen. Die pa is glo ’n pit bull, die ma ’n staffie. “Net dertig rand enetjie, my lanie.” Honde, oral sien jy die honde. Maer honde met skelette en sekelsterte. Brakke. Mongrels. Die room van die skuim.

Aan die lengte van die ry by die Lotto-toonbank in die winkel op Leeu-Gamka sien jy dit. Oor die radio hoor jy dit: ’n 1989-Ford Escourt se ratkas en ’n Sodastream te ruil vir kontant, sê ’n RSG-stem. Stuur tog kos en klere vir die gesin wat in ’n hoenderhok op ’n plot buite Nigel woon, pleit ’n ander een.

Duskant Beaufort-Wes staan hy langs die pad met ’n skugter duim in die lug. Elias Sangweni. Hy is op pad Kimberley toe. “Ek’t by die pad gewerk,” sê Elias, “maar toe kap hulle ons af.” By Elias hoor jy ’n woord wat arm mense dikwels gebruik: skorro-skorro. ’n Skorro-skorro is ’n gedaan, maar moedige ou kar, soos daardie bibberende bakkie met die vrag hout duskant De Doorns.

Beaufort-Wes is vol afgekapte mense. Hulle wag op die straathoeke en voor die kliniek en op Simunye Cash Loans se stoep.

Jy lees dit in die nota teen Checkers in die hoofstraat se kennisgewingbord: “Een paar koedoehorings te koop. R30. Bel Ben.”

’n Man met ’n glimlaggende pres. Jacob Zuma op die borskas kom staan buite die Royal Lodge voor jou, met ’n emmer in die hand. “Kan ek die bakkie se ruit was, meneer?” In die emmer dryf ’n verflenterde lap in modderbruin water.

Op die sypaadjie naby die verlate stasie sit ’n tante by ’n tafeltjie wat sy uit ’n leë koeldrankkrat en ’n stuk Masonite prakseer het. Sy verkoop elf piesangs, agt tamaties en drie en twintig Cadbury Eclairs. Wat sou haar daaglikse opbrengs wees?

Jy sien dit aan die keppie wat naby Drie Susters in die middel van die N1 lê. Oral in die land sien jy keppies in die pad lê. Jy kan vir jouself sê: “Dis maar net ’n simpel keppie.”

Maar dis meer as net ’n keppie. Dis ’n klein tragedie wat hom afgespeel het: Daardie keppie was op iemand se kop, moontlik ’n werker agterop ’n bakkie. Toe waai die wind die keppie van daardie iemand se kop af, verby grypende hande, en stemme wat dalk roep: “Stop! Stop!” Dalk het die bestuurder van die bakkie gedink: “Fok dit, daar’s nie nou tyd vir stilhou nie.” Dalk het die een sonder die keppie vir homself gesê: “Die bliksem, sy dag sal kom.”

En die mense agterop bakkies, oral sien jy hulle, in die son en die wind, of ingeprop onder ’n kappie, en hulle kyk na jou.

Langs die N1 staan party vir jou en wag: ’n Man met ’n hoopvolle tienrandnoot in die hand. ’n Vrou met ’n baba op die heup en ’n verband om die kop. ’n Seun in ’n paar uitasem Adidas-tekkies, veterloos en roemloos. Die skoene, oral sien jy dit aan die skoene. Die gewese treindrywer op Nelspoort se bleekblou Stokie-pantoffels.

“Net R56,” kla hy met dik enkels. “Dis al wat ek uitkry nadat my medies af is.” Nerfaf rooi hakskoene wat swik-swik onder ’n meisie met ’n Brazilian Lace-pruik op die kop, swik-swik op pad na ’n vragmotor by die afdraai na Matjiesfontein, swik-swik na nog ’n R70 vir ’n blow job of nog R120 vir ’n full house.

Jy ruik dit aan die wind wat van die townships se kant gewaai kom.

Knaend kom dit na jou toe: Bedelhande voor John Donaldson se boekwinkel op Richmond. Bedelhande voor die Trans Karoo-drankwinkel op Touwsrivier. Bedelhande elke dag, die handpalms na bo: “Net ’n tweerandjie, my lanie. Net ’n broodjie, oubie.” Asof die verkleinwoordjies die las vir jou ligter moet maak. “My kind is siek, meneer. Nog niks vandag geëet nie, meester. No job. Three children, sir. Asseblief, my kroon. Asseblief, baas.”

Die desperate stemme. Die leë gesigte. Die wanhoop.

Soos ’n goeie hond agtervolg dit jou ál dieper die binneland in.

 

Laat die Sondagmiddag ry ons Hanover in die diep Karoo in. Ons oornag in ’n gastehuis in Darlingstraat oorkant die NG kerk. Kamer no. 3. Bed. Bad. Toilet. Koffie. Cremora.

Die dakwaaier karring die droë, bedompige lug om en om in die rondte, en ek is lus vir ’n stywe whiskey. Met soda. Baie ys. Maar die bottel Jameson – ek het ’n nuwe bottel op Touwsrivier gekoop – onder my bakkie se sitplek is leeg, en Hanover se kroeë is op ’n Sondag gesluit.

  • 3

Kommentaar

  • Erik Van der Straeten

    Günter Grass schreef wel in het duits en niet in het engels. Gebruik de originele duitse tekst of vertaal hem in het afrikaans (en niet in het engels).

  • Herman van Wyk

    Die onbeteulde aanwas. Mense behoort die keuse tot aborsie en geassisteerde selfbemagtiging tot selfdood te hê. Dit is mensonterend om so te lewe en ek sal nie so wil lewe nie. Dit breek jou af tot heeltemal niks en jy kan nie daarvan herstel nie. Sommige van hierdie mense is egter geestessiek en kan nie werk of so ‘n besluit neem nie. Die oorbevolking van die aarde is nie volhoubaar nie en volslae armoede en om voortdurend honger te wees en te bedel is erger as die dood, maar dit behoort elkeen se eie keuse te wees. Maar ja, dit breek mens se hart met die besef dat jy nie daai mense kan help om welaf te wees nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top