Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Mentje, kind van Pas-Opkamp deur Irma Joubert

  • 3

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Irma Joubert

Irma Joubert begin eers skryf toe sy einde 2004 aftree ná 35 jaar van onderwys. Vandag is sy een van Suid-Afrika se groot uitvoerprodukte. Beide haar Tussen stasies-trilogie en haar Pontenilo-trilogie, asook die eerste twee boeke van haar oorlogstrilogie, naamlik Immer wes en Mentje, kind van Pas-Opkamp, is in Nederlands vertaal waar dit telkens onder die topverkopers tel. Vier van haar boeke is reeds in Duits vertaal en HarperCollins in Amerika het The girl from the train (Tussen stasies) in 2015 uitgegee en wêreldwyd versprei.

In 2008 is Irma se Tussen stasies een van drie finaliste vir die ATKV-Prosaprys. Anderkant Pontenilo wen in 2010 die ATKV-Woordveertjieprys vir Liefdesromans, dit word in 2014 deur die biblioteekvereniging aangewys as een van die twintig beste Suid-Afrikaanse boeke in die twintig jaar van demokrasie (1994 – 2014). Iin November van dieselfde jaar ontvang Irma die Tuks Alumni-Laureaat, die Universiteit van Pretoria se hoogste eerbewys aan oud-studente.  In 2016 is Immer wes ’n finalis in beide Exclusive Books en Huisgenoot/Tempo se “Roman van die jaar” en dit wen die ATKV-Woordveertjieprys vir Liefdesromans.

Ook buitelands vaar die boeke puik. Kronkelpad verower in 2014 die BCB Publieksprijs in Nederland. In die VSA is The girl from the train in 2016 ’n finalis vir die Christi-awards, ’n buitengewone eer vir ’n vertaalde werk, en word dit deur Logos Books aangewys as die “Best Book of 2015”.


Opsomming

Mentje, kind van Pas-Opkamp
Irma Joubert

Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799385939

Sy is so verskriklik eensaam. So verskriklik bang. Haar hart is verskriklik stukkend. Mentje de Vries, ’n Nederlandse oorlogswesie, beleef die Tweede Wêreldoorlog in al sy genadeloosheid. Eers moet sy onderduik in ’n geheime kamp vol Joodse vlugtelinge, en daarna beleef sy die hel wat die tyd net voor die bevryding voorafgaan, wanneer Britse troepe gestuur word om ’n brug in Arnhem oor te neem.

In hierdie bloedige slag word ’n Suid-Afrikaner, wat deel is van die Britse Leër, gewond en die jonge Mentje red sy lewe. Maar wat word van die wesie? Hoe oorleef ’n alleenkind gedurende die berugte Hongerwinter van 1944 en 1945?

Irma Joubert is ’n geliefde naam in historiese fiksie. Al haar vorige romans was topverkopers en met Mentje, kind van Pas-Opkamp sit sy hierdie tradisie voort. Soos gewoonlik is haar navorsing puik.

Die Pas-opkamp het werklik bestaan. Foto’s is op die internet beskikbaar.


Uittreksel

“But what good came of it at last?”
Quoth little Peterkin.
“Why that I cannot tell,” said he,
“But ’twas a famous victory.”

  • Uit “After Blenheim” deur Robert Southey

Een

Bosveld, 1933

Die son brand uit die wolklose lug neer. Stof dwarrel onder die hoewe van die beeste in die kraal en bly oor die groepie mense hang. Die afslaer se stem dreun voort.

Daar is geen sprietjie gras meer nie. Die veld lê kaal­gevreet, dor gebrand, doods. Die spruit het opgedroog. Eerste keer in menseheugenis.

Tinus staan met sy skraal rug gedruk teen die afgekalkte muur, sy kaal voete stewig geplant in die warm sand. Hy hou sy oë op die kraal, weg van die veld.

Twee weke gelede het hy saam met Oupa deur die hele plaas geloop. Die ganse dag lank, stadig. Sonsaktyd sê Oupa: “Ons het geen keuse meer nie.”

Hy het nie toe verstaan nie.

Nou verstaan hy.

Eenkant sit die bywoners: die man ineengedoke, hui­lend. Langs hom sy vrou, seekoeilyf met dom oë. Ook sy huil. Versukkeld.

Tinus kyk weg. Hy wens hulle wil loop. Na hul eie huis toe gaan. Daar bly.

Êrens in die Groothuis is sy ouma. “Ek gaan hierdie dag nie oorleef nie,” het sy vroegoggend gesê. Haar lippe was dun en wit, haar stem plat.

Net hy en sy oupa bly regoprug kyk. Sy oupa sit langs hom op ’n kombuisstoel, kerkpak blink gepres, dooie pyp in die growwe hande. Sy nek is maer. Stokstertmeerkat.

Die afslaer vee die sweet van sy speknek af en veil die maer beeste op, sommer almal gelyk.

“Hoekom bie die mense nie?” vra Tinus. Die klank kom te hard en te hoog deur. Sy stem laat hom soms nog in die steek.

“Niemand het weiding nie.” Sy oupa se stem bly sterk. “Die Jode wag, een van hulle sal wel later die hele boel teen ’n appel en ’n ei koop.”

Eenuur bring sy ouma koffie en brood. “Kom tog in die huis in. Dis so warm hier buite.”

“Ek bly,” sê sy oupa.

En hy: “Ek bly.”

Hulle pak die laaste paar goed op oom Grootgert se wa: katels, eetgerei, kookware. Die tente. Kombuistafel en vier stoele. Trommel met die klere en linne. Die Bybel bo in die trommel.

Byna soos vir ’n nagmaalnaweek op die dorp.

Van anderkant die leë kraal sien Tinus hulle aangesuk­kel kom. Die bywoners. Die man dra ’n verslete koffer in die een hand, in die ander sy musieksak, onder die arm is ’n geraamde prent vasgeknyp. Die vrou dra ’n bondel bed­degoed op haar kop. Nes ’n wasvrou.

“Trek hulle ook saam?” vra Tinus.

“Hoe anders?” antwoord sy oupa en trek die riem stywer oor die koperkatel.

By die vendusie verlede week het Tinus hom erger as ooit geskaam vir hulle. Hy was die hele tyd bang die suk­kelaar van ’n bywoner kry weer ’n aanval. Hy kon sien die mense van die distrik wag daarvoor. Dis waarvoor hulle hier was. Nie om te koop nie. Om te sien hoe tuimel trotse ou Marthinus van Jaarsveld en sy hovaardige ou vrou van die troon af.

Om hulle te verstaar aan die man wat soms skreeuend die veld in hardloop. Die simpel Simon.

En om te skinder oor die seun wat die familienaam dra. Oor hom, Marthinus Daniël.

By die plaashek klim hy van die wa af. Vir oulaas voel hy die warm Bosveld-sand onder sy voete. Vir laas tuur hy oor die veld waarin hy grootgeword het.

Hy maak die plaashek toe en stap na die wa. “Hierdie plaas sal ek terugkoop, eendag,” sê hy hard. “Oupa, hoor my: Ek sweer voor God, Buffelspoort sal weer aan die Van Jaarsvelds behoort.”

Twee

Vierhouten, Nederland, Julie 1943

Die somerson bak warm op hulle rûe neer. Die gras is lank en dik en lowergroen, kos vir die beeste deur die lang wintermaande wat wag. Met vaste ritme swaai haar pa die lang kapmes heen en weer, heen en weer. Mentje hark die gesnyde gras op hope. Dit ruik soos gekneusde kruie en vae peperment.

“Waar is jou hoed?” vra haar pa sonder om op te kyk. “Vanaand is jy weer rooi verbrand.”

Ai tog, haar hoed. Sy vergeet dit altyd.

Die volgende oomblik breek ’n onaardse kabaal huis se kant toe los.

Albei se koppe ruk op. Mentje sien die skrik in haar pa se oë, net vir ’n oomblik. “Lê plat, Mentje, agter die hoop gras. En bly doodstil hier tot ek jou kom haal,” sê haar pa en begin hardloop.

“Pappa?”

“Val plat!” roep hy oor sy skouer. “Ek is nou-nou terug.”

Sy sak af en kruip op haar maag tot agter die hopie gras. Met haar kop diep ingetrek, krul sy in ’n bondeltjie en knyp haar oë styf toe. Die hopie gras wat sy bymekaargehark het, voel baie klein.

Sy verstaan nie wat aangaan nie.

Stemme klink op van die huis se kant af, woedende stemme wat skree. Sy druk haar ore toe, sy wil nie hoor nie. Selfs deur haar toegedrukte ore hoor sy die baba skree en skree.

Wat het gebeur? Het die baba seergekry? Of die seuntjie dalk? Kon hy teen die leer afgeval het?

Erger nog: brand? In die skuur?

Haar hart begin saamtrek. Pappa was juis bang vir ’n kers daar tussen die hooibale. “Liewe Here, moenie dat ons huis aan die brand raak nie. En pas vir Pappa op.”

Dis helder oordag, wie sal nou ’n kers aansteek?

Dalk het die bul weer uit sy kamp gebreek? Soos twee jaar gelede, toe Pappa byna . . .

Nee. Nee, dit kan nie weer gebeur nie.

Of het die soldate gekom? Sy wil nie so dink nie, maar sy was heeltyd nog bang die baba begin huil wanneer die soldate kom eiers of melk haal.

Sy probeer helder onthou. Die baba het tog begin skree eers nadat die kabaal by die huis uitgebreek het? Ja, beslis, ja. So, dit kan nie die soldate wees nie.

Of kan dit? “Here, moenie dat die soldate gekom het nie. Asseblief, moenie. Bewaar ons van die bose. Amen.”

Sy was nog nooit bang vir die soldate nie. Vandat die oorlog begin het, was die soldate in die strate van Nunspeet, selfs in Vierhouten. So onderlangs het sy hulle dopgehou as sy skool toe stap, meestal aan die ander kant van die pad gaan loop wanneer sy hulle sien aankom. Maar bang vir hulle was sy nooit nie.

Toe verander alles. Toe die Friedmans by hulle kom in­trek het.

Een aand, sommer uit die bloute, sê haar pa: “Mentje, ek wil iets met jou bespreek.”

Dit was ’n koue wintersaand vroeg in die jaar voor haar verjaardag, toe sy nog nege jaar oud was. Haar pa het nog ’n stomp in die bek van die stoof gedruk en in sy gemak­stoel gaan sit, sy bene lank uitgestrek, sy voete reg voor die warm stoof. Buite het die wind ysig koud gewaai.

“Reg van die Noordpool af,” het Mentje gesê en vir haar pa ’n kommetjie koffie geskink. Sy het ’n glas warm melk gedrink.

Pappa het aan sy koffie geproe-proe. Sy het geduldig gewag.

“Die Friedmans moet by Kamp Westerbork aanmeld,” het hy uiteindelik gesê.

’n Onseker gevoel het in haar bors begin opkruip. Die Friedmans ken sy nie, sy weet net haar pa laai daagliks kanne melk by hulle winkel in Nunspeet af. Maar ’n seun in haar klas se ouma is die vorige jaar weggestuur na Westerbork en van toe af het hulle nog niks van haar gehoor nie. “Pappa, wat gebeur as mense na Kamp Westerbork gestuur word?”

Haar pa het eers met sy vinger in sy baard gevroetel. “Niemand weet presies nie. Hulle word waarskynlik na een van die Duitse arbeidskampe in die ooste gestuur.”

“Dit is nie ’n goeie ding nie?”

Pappa het sy kop geskud en na die stoof bly staar.

In haar het die onsekerheid groter gegroei. ’n Vermoede het begin posvat. “En Pappa wil die Friedmans help?”

“Meneer Friedman het ’n neef in Engeland wat besig is om te reël dat die hele familie daarheen kan kom. Ek het aangebied dat hulle by ons kan kom bly tot hulle wegkom.”

“Onderduik,” het Mentje die woord gebruik wat sy al by die skool gehoor het.

Haar pa se kop het vinnig na haar gedraai, sy oë waak­saam. “Ja, wel. Onderduik, ja.”

Dit gaan nie werk nie, ons huis het net een slaapkamer, het Mentje gedink. Wanneer sy twaalf is, sê Pappa altyd, sal hy vir haar ’n eie kamertjie aanbou. Maar sy was nog nege en het saam met haar pa in die kamer gebly. “En waar gaan hulle slaap?”

“Ja, e . . . miskien kan hulle op die solder vir hulle slaap­plek inrig. Ook bedags daar bly as hulle onveilig voel.”

“Op die stal se solder?” Sy was totaal verstom. “Op met die leer? Waar ons die hooibale stoor?”

“Ons kan die hooibale skuif om ’n soort versperring aan die voorkant te maak,” het haar pa met sy hande beduie. “Dan sal ’n mens van die stal se kant af niks behalwe bale sien nie.”

“Maar mense kan tog nie daar slaap nie?”

“As die nood druk, kan mens baie dinge doen. Dis rede­lik warm daarbo, dis ook belangrik.”

Dit is seker waar, ja, het Mentje gedink. Die stal is vas aan die huis, amper deel van die huis met net ’n muur wat die kombuis van die stal skei. Op dié manier hou die stoof ook die diere dwarsdeur die winter lekker warm.

“En dis net tydelik, tot hulle Engeland toe kan gaan.”

“Ja-a.” Dit gaan nie werk nie, het sy gedink. Pappa het ’n wolkekop, sy is die een wat helder dink, sê ta Lenie altyd.

Pappa kon sien wat sy dink, want hy ken haar net so goed soos sy hom ken. “Mentje, dis ons naaste, hulle het ons nou nodig. Dis ons Christelike plig om die mense uit liefde te help.”

Die barmhartige Samaritaan, het Mentje onthou. “Ja, Pappa.” So met ’n sug in haar stem, sodat haar pa agterkom sy weet eintlik beter.

“Ons het genoeg kos op die plaas om hulle ook vir ’n paar weke te voed. Niks gaan regtig verander nie.”

Ai, tog. “Dis nie waar nie. Alles gaan verander. Pappa weet dit.”

Hy het sy growwe hand oor hare gevou. “Jy word te vin­nig groot, my doggie.”

Gmf. Nogal, nè? “Ek is al in die vyfde klas, onthou.”

Hy het haar ’n oomblik lank verbaas aangekyk en sy kop effens geskud, byna asof hy haar nie geglo het nie. “Dis waar, nè? Mentje, niemand moet weet die Friedmans kom hier bly nie, hoor?”

“Ja, ek weet.”

Daardie aand het Mentje lank en ernstig gebid dat die liewe Here tog vir die Friedmans ’n beter plek sal vind om weg te kruip. Dis nie dat sy wil verbyloop soos die priester en die Leviet nie, het sy vir die Here gesê. Dis net dat dit vir hulle baie sleg sal wees op die solder, die liewe Here weet mos self hoe lyk dit daar.

Maar in haar hart het sy geweet eintlik is sy net nie lus dat vreemde mense in haar en Pappa se huis kom woon nie.

Die Here het dit seker ook geweet.

Die Friedmans het die volgende aand arriveer.

Mevrou Friedman het jonk gelyk, amper soos die mei­sies in die sekondêre skool op Nunspeet. “Goeienaand, ek is Daniela.” Selfs haar stem was jonk.

By haar was ’n baba en ’n seuntjie. Agter haar het me­neer Friedman ingekom, toegepak onder komberse.

Aan al die Friedmans se klere was die groot geel Dawid­ster vasgewerk as teken dat hulle Jode is. Alle Jode moet dit dra, weet Mentje, selfs die babatjie. Dis een van die wette wat Duitsland in Nederland ingebring het.

Die eerste aand reeds het Mentje gewens hulle wil weggaan. Dit is sekerlik ’n vreeslike sonde, maar sy kon nie help nie, dis hoe sy gevoel het.

Sy was kwaad vir haar pa. Dis seker ook sonde want mens moet jou ouers eer. Maar dan is dit haar pa self wat haar sonde laat doen. Al twee die sondes.

Haar pa het die Friedmans met die leertjie opgehelp sol­der toe. “Ek dink hulle is gemaklik vir die nag,” het hy gesê en toe eers, lank ná aandete, huisgodsdiens gehou. Hy het lank en ernstig gebid, maar Mentje het nie regtig gehoor wat hy sê nie. Toe hy amen sê, het sy doodstil bly sit.

“Mentje?”

“Dis nie vir my lekker dat hulle hier is nie.”

Haar pa het geknik en sy arms oopgemaak. “Kom sit by my.”

Sy het haar gesig teen sy bors vasgedruk. Sy groot hand het om haar kop gevou, sy ander arm het haar styf teen sy harde lyf gekoester. “Ek weet, Mentje, ek weet. Dit sal nie vir lank wees nie, ’n week of twee,” het hy lomp probeer troos.

Maar ’n week of twee het twee maande geword, vier maande, later ses. Maande waarin sy meer en meer besef het hoe gevaarlik dit is om Jode weg te steek.

En nou dit?

Nee, dit kan nie die soldate wees nie, probeer sy haarself oortuig. Ons sou die soldate se motorfietse gehoor het. ’n Mens hoor die motorfietse van ver af aankom. Sy lê fyn en luister. Hoor sy ’n trok? “Here?”

Nee, dit kan enige voertuig wees wat in die grondpad af ratel.

Die son kruip stadig aarde se kant toe. Dis stil, sy hoor nie eens die beeste of die hoenders nie.

Haar lyf raak al hoe ongemakliker, haar heup is deurgelê op die kortgekapte gras agter haar skuilplek. Sy roer ef­fens, maar dit voel nie regtig beter nie. Moet sy uitkruip en probeer kyk wat aangaan? Al het Pappa gesê sy moet doodstil bly lê tot hy terugkom?

Sy bly lê, lank bly sy lê. Haar pa kom nie.

Die geur van varsgesnyde gras steek in haar neus vas, krap in haar keel af. Verstikkend byna. Sy bid en bid, tot die liewe Here seker moeg is vir haar biddery. Want sy sê net dieselfde ding oor en oor: “Asseblief, bring vir Pappa terug.” Sy kan aan niks anders dink om te bid nie.

Haar arm is doodgelê, haar voete kriewel van die stillê, ’n lastige vlieg loop op haar gesig rond. Sy is te bang om te roer. Sy wag dat haar pa haar moet kom haal. Hy sal kom, hy het gesê hy sal.

Die son begin sak, die gras word klam onder haar.

En haar pa kom nie.

  • 3

Kommentaar

  • Ek het absoluut al hierdie skrywer se boeke gelees en is versot op haar. Ek wag nog net vir Mentje, dan later wie weet wanneer, die derde een in die trilogie.

  • Irma Joubert skryf baie oulik. Haar werk is egter nou nie vir die deskundige, pedantiese of leerstellige indiwidu nie, of die voorstander van dogmatisme of 'n puris nie; maar wel pragtig ligte en vermaaklike Afrikaans, met interessante temas, vir die persoon wat net wil ontspan en genot put uit lees. Die aantrekkingskrag en vermaaklikheidsfaktor van haar skryfwerk word bewys deur die talle vertalings daarvan wat reeds vertaal is in tale so divers soos Amerikaanse Engels, Hollands, en Duits. Ek hou van haar skryfwerk as geheel; en die temas en geskiedkundige strominge wat sy op subtiele wyse daarin vassmee.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top