Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Liefde op Petit Paris deur Frenette van Wyk

  • 1

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Frenette van Wyk

Frenette van Wyk het van kleins af stories geskryf en op skool uitgeblink in kreatiewe skryfwerk. Dit was altyd haar droom om eendag ’n boek te skryf.

Aanvanklik het sy onderwys studeer en ’n honneursgraad in Latyn verwerf, waarna sy onderrig gegee het in Latyn, Frans en Engels.

Haar skryfloopbaan het in alle erns in 2006 begin toe haar eerste romanse, Kruisvaart na liefde, deur LAPA Uitgewers vir publikasie aanvaar is. Sy het sedertdien reeds twintig romanses geskryf, waaronder Vlinderdraai, Vuurvliegie, Boergonje bruid en Maskerdans.

Liefde op Petit Paris is haar eerste SuperRomanza.

Benewens skryf en lees sluit haar liefdes ook in tale, diere en om te reis. Sy is ’n CATHSSETA-geregistreerde nasionale toeristegids en woon in Pretoria saam met haar man, Etienne, en hulle jongste seun, Sasha. Haar oudste seun, Zander, is getroud met Charmonix.


Opsomming

Liefde op Petit Paris
Frenette van Wyk

Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799387131

In die ou Kaap de Goede Hoop stap ’n jongmeisie aan wal ná die vervolging van Protestante in Frankryk. Omdat Royale op die seereis haar ouers verloor het, is sy nou ’n weeskind in ’n land wat sy nog nooit gesien het nie. Die goewerneur wys Aragon as haar voog aan, ook ’n Hugenoot wat vroeër aan die Kaap ’n nuwe begin kom maak het.

Aragon is gekant teen Royale se liefde vir balletdans – dié ydele vermaak wat aan Louis die Veertiende se hof so modieus is – en wil haar nie toelaat om kontak met jongmans te hê nie. Dit is egter nie al wat Royale hinder nie, want sy weet nie waarheen met haar romantiese gevoelens vir haar voog nie, en die swaard van ’n huwelik met sy neef hang oor haar kop.

Boonop is dit ook nie net Royale wat besef wat ’n onweerstaanbaar aantreklike man Aragon is nie! Die ander vrou, Amalia, het boonop ’n dodelike wapen: Die plaas Petit Paris, waarop Aragon boer, behoort aan haar...

Profitez du livre!


Uittreksel

Een

Royale lig die soom van haar rok en trippel die houttrappe tot op die dek vinnig op. Sy stap tot teenaan die reling van die skip. Effens uitasem vee sy haar hare en die sout seesproei uit haar gesig, hou haar hand as sonskerm bo haar oë en kyk stip voor haar uit.

Die manjifieke prentjie van die suidpunt van Afrika, haar nuwe tuiste daar voor op die horison, is allesoorweldigend.

Haar hart voel skielik so lig soos die seemeeue wat in wye draaie hier bokant hulle deur die lug sweef. Die hartseer en onsekerheid van die reis lê ver agter haar.

Sedert die dood van albei haar ouers gedurende hierdie seereis, en vanweë seestorms en hittegolwe, was sy dikwels in die bedompigheid van ’n klein kajuit hier op die skip vasgekeer. Ná maande lange horisonne wat onseker en grys voor haar uitgestrek het en die ewige suur gesig van Kaptein Kees de Rijten wat haar voortdurend dopgehou het, kan sy die belofte van vryheid nou oor die blinkblou water na haar hoor roep. Vryheid om haar hart te volg.

Drie salvo’s kanonvuur salueer die Zeeland se aankoms.

Sy wuif uitbundig in die rigting van die land wat nou vinnig naderkom toe sy die rook teen die berg die lug in sien trek.

“Juffrou De Touillon, ons wag vir jou.”

Sy wil die rotsgrys berg daar voor, majestueus afgeëtsteen die oggendblou lug, nog bekyk en bewonder, maar swaai dadelik om. Sonder om in kaptein Kees se rigting te kyk, skarrel sy tussen die matrose deur oor die dek. Hy gaan dit nie regkry om nou weer haar uitgelate gemoedstemming te demp met sy ontevredenheid en kritiek oor haar gedrag nie.

Die skril fluitjie van die bootsman wat hier reg by haar begin skree, doof gelukkig die res van sy ongeduldige bevele uit.

’n Geharwar en lawaai breek hier om haar aan boord van die skip uit. Voete dreun oor die dek. Die ankertou rol krakend af en die maspale kreun. Die matrose se diep, eentonige sang terwyl hulle die seile intrek en begin vou, klink vir haar na ’n begeleidende orkes vir die lied wat haar eie hart vanoggend sing.

Sy lig haar rok weer tot ’n onbetaamlike hoogte bokant haar enkels en koes rats uit die pad om die spul geharde seemanne se warm asems en geswete lywe te systap.

“En waar is jou skoene, juffrou De Touillon?” Dis weer kaptein Kees hier agter haar. Hy kan sy ongeduld vanoggend weer glad nie verbloem nie.

Maar kan hy nie besef wat ’n belewenis dit vir haar is om vandag aan wal te stap in die land wat haar nuwe tuiste is nie? Kan hy nie vir een oomblik net dink dat sy gespanne en onseker, en ook nuuskierig en opgewonde voel oor alles wat skielik op haar hier in die Kaap de Goede Hoop wag nie?

Sy drafstap met ligte, kort treetjies terug na haar kajuit toe om sy grimmigheid te ontsnap en om van die ergste opwinding wat haar so meegesleur het, te laat ontlaai.

Haar voet skuur oor die plankvloer, maar sy kreun net in die hardloop van die naaldeprikkie deur haar stukkende kous.

Sy stamp die kajuitdeur oop. Eers toe sy dit weer agter haar toedruk en daarteen leun, haal sy kalmer asem.

So haastig was sy om die uitsig daarbo te gaan besigtig toe sy die roep van ’n matroos uit die kraaines hoor, sy het net haar rok oor haar kop gegooi. Daar was nie nog tyd om haar steweltjies ook aan te trek nie. Dit sal haar egter nie veel baat dat sy haar beste uitrusting aangetrek het om die goewerneur van die Kaap te ontmoet, as sy sonder skoene by Die Kasteel opdaag nie.

Sy kyk om haar rond. Dis die laaste keer dat sy hierdie beknopte ruimte met sy muwwe houtreuk betree het. Hier het sy menige dag op haar kouse haar balletpassies wat sy skelmpies by maître Gabelois in Parys geleer het, bly oefen. Al het haar pa haar belet om te dans en al het kaptein Kees haar die ruimte op enige van die skeepsdekke ontsê om haar passie uit te leef, het sy hier in die kajuit vir haar ’n balletrok gemaak en voor ’n denkbeeldige gehoor haar eie balletopvoerings gehou, nes dié wat sy gehoor het koning Louis in sy paleis aanbied.

Sy druk haar voete in die steweltjies en ryg dit toe. Die markiesin van Luzignan se brief druk sy voor by haar rok in. Sy bekyk eers weer die robynring aan haar vinger. Die voorletters J.M. daarop gegraveer, is ook dié van die markiesin van Luzignan, Jeanne de Mollet. Toe trek sy haar handskoene haastig aan soos dit haar betaam, maar ook om die ring vir nuuskierige oë te verberg.

Sy is gereed vir die toekoms wat vir haar wag en draf weer by die deur uit. Op die dek druk sy verby die ander passasiers tot voor by die reling. Sonder die hulp van kaptein Kees of enige ander offisier spring sy in die langboot en maak haar tuis in die voorstewe.

Toe hulle land toe begin vaar, kyk sy na die gesigte rondom haar.

Oom Marcel du Bois hou sy twee dogtertjies se hande styf vas. Hy en sy vrou, tante Madeleine, het hulle nogal ontferm oor haar hier op die skip.

Nader aan die land bekyk sy die groepies mense wat hulle staan en inwag. Daar is nie ’n siel wat daar op die kaai vir haar wag nie.

Wat is daar wat in hierdie vreemde land op haar wag?

Waarop kan sy hoop? Is haar toekoms dalk so ongenadig soos die kettings van die verlede?

Sy byt haar onderlip vas om nie weer te begin huil nie.

Die reis op die skip was vol ontberinge waaraan sy nie meer wil dink nie.

Al wat sy wil saamvat vorentoe is goeie herinneringe en gelukkige tye.

Haar trommeltjie wat sy gisteraand al ingepak het, bevat net enkele besittings.

Haar ma se kosbare troupand en ’n pêrelhalssnoer het sy aan die binnekant van die rok vasgewerk en dit juis vandag aangetrek om dit veilig saam met haar te hê wanneer sy die skip verlaat.

Die brief van die markiesin van Luzignan, haar ouers se vriendin, is ook veilig hier voor in haar rok en beskerm teen die seesproei wat kort-kort oor haar waai.

Sy het al baie gewonder wat daarin geskryf staan, maar dis nie aan haar gerig nie. Dis vir iemand wat sy nie ken nie, ene monsieur Aragon le Roux. Sy sal dit vir die goewerneur moet gee en hoor wat hy sê.

Die robynring wat haar ma ook by die markiesin gekry het, dra sy ná haar ma se dood nog al die tyd aan haar vinger, veilig onder die handskoen weggesteek. Sy ken die markiesin van geen kant af nie, maar sy het hierdie ring vir haar ma gegee, en sy kan seker nou daarop aanspraak maak, dit ook as ’n soort erfporsie beskou.

By die landingsplek help ’n amptenaar in ’n uniform haar uit die langboot klim.

“Welkom hier in die Kaap van Goeie Hoop, Juffrou.” Hy hou haar hande in syne totdat sy stewig op haar voetestaan.

“Dankie, Monsieur.” Dit voel skoon aardig om weer vaste grond onder haar voete te voel.

“Guillaume du Preez.” Hy buig galant. Hy het hoë wangbene en ’n langerige, sterk gesig. Sy blou oë kyk net te lank in hare. Sy kyk verleë af.

“Aangename kennis,” sê sy tog vriendelik voor haar vingers uit syne gly.

Ander passasiers in die landingsbootjie verg sy aandag en sy kan ’n entjie wegstap om op haar eie weer tot verhaal kom.

Terwyl hulle bagasie en andere goedere – nuwe teekoppies en eetserviese vir die goewerneurswoning, wynvaatjies vir die wynboere op die plase – ook aan land gebring word, kom een van die ander amptenare met ’n passasierslys in sy hand nader.

Hy lees die passasiers se name en merk dié af wat aan land gekom het.

“Henri Francois de Touillon?”

“Dis my pa,” antwoord sy. “Hy het gedurende ’n storm op pad hierheen oorboord geval en is in die ysige see begrawe.”

Hy maak ’n nota.

“Marié Anabelle de Touillon?”

“My ma. Sy is gedurende die reis aan griep oorlede en sy is ook in die Atlantiese Oseaan ter see begrawe.” Die knop in Royale se keel word al hoe dikker. Dis nie lekker om weer aan daardie hartseer te dink nie.

Die amptenaar maak weer ’n nota op sy lys.

“Royale Françoise Anabelle de Touillon.”

“Dis ek.” Haar stem is hees.

Die amptenaar maak ook ’n aantekening langs haar naam.

“Is jy dan ’n weeskind, Juffrou?” kom vra Guillaume du Preez besorg vir haar, en sy simpatieke blik troos haar weer so ’n bietjie. “Is daar niemand anders wat oor jou toesig het nie?”

“Kaptein Kees de Rijten het daardie taak deeglik op hom geneem daar op die skip, maar . . .” Maar waarheen sal sy nou gaan? Sy en haar ouers sou hier ’n nuwe lewe begin het ná die vervolging van Protestante in Frankryk, maar nou het sy nie regtig ’n heenkome hier nie.

Wat as sy nou na ’n weeshuis toe gestuur word? Haar hart begin onrustig klop toe die moontlikheid tot haar deurdring. Tog net nie ’n weeshuis waar sy van voor af reëls moet gehoorsaam en toegesluit word nie.

Ek sal na myself kyk, wil sy die amptenaar verseker. “Ek wil die goewerneur asseblief spreek,” sê sy egter dringend.

  • 1

Kommentaar

  • Frenette van Wyk

    Goeiemôre
    Dankie vir die eerste slukkie liefde op Petit Paris. Dis wonderlik om te lees!
    Ongelukkig en jammer dat daar 'n paar foute in die uittreksel hierbo voorkom. Die foute kan dalk 'n paar voornemende lesers 'n bietjie afskrik om die boek te koop.
    Ek kritiseer nie gewoonlik spelling en taalfoute nie, maar in hierdie geval is dit my eie boek. En ek wil maar net laat weet die finale produk is foutloos en die boek wat gedruk is, het nie daardie foute nie. 🙂
    Groete

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top