Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Heiliger deur Dibi Breytenbach

  • 2

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Dibi Breytenbach

Dibi Breytenbach is ’n regsgeleerde op ’n klein dorpie in KwaZulu-Natal.  Sy werk diep in die maag van die vervolgingsgesag en verkies om nie te veel oor haar werk met die publiek te deel nie. Dit is waarvoor sy stories skryf.

Sy debuteer in 2015 met Saliger, ’n verhaal wat afspeel teen die agtergrond van misdaad en vergelding. Volgehoue spanning, afsku, deernis en onverwagse skoonheid kenmerk haar romans.

Breytenbach volg haar debuut in 2016 op met Vrediger, ’n verhaal wat afspeel teen die woelinge van grondpolitiek in KwaZulu-Natal.

Heiliger is haar derde roman.


Opsomming

Heiliger
Dibi Breytenbach

ISBN: 9780799385212
Uitgewer: LAPA Uitgewers

Hendrik skiet uiteindelik ’n sluwe rondloperhond. Die eerste koeël mis rakelings, maar die tweede is sekuur. Nou is die oud-soldaat in ’n goeie bui. Dit is byna Kersfees en dinge tussen hom en Amalia wil-wil lyk of dit kan uitwerk.

Toe gebeur dit: Die plaaslike speurder, Buthelezi, daag op en slaan Hendrik in boeie. Die klag? Sy buurman se seun is dood en daardie opslagkoeël word verdink.

Dadelik word hierdie insident ’n rasvoorval, want die seun is swart. Die gemeenskap is woedend en die onbevoegde blanke speurder wil wys dat hy nie ’n wit man sal laat wegkom met moord nie.

Hendrik weet hy het die seun nie geskiet nie, maar hoe bewys hy dit?

Die teks is briljant, want so gereeld gebeur dit dat stinkryk mense wegstap van ’n moordsaak op grond van tegniese punte. Die publiek voel dan verraai. Nou gooi Breytenbach die leser in die diepkant in, want ons het simpatie met Hendrik, maar die redes waarom die reg nou skynbaar onreg pleeg teen hom, is presies dieselfde wat ons as gewone sterflinge voor vra wanneer tegniese detail in hofsake ter sprake kom.

Saam met Hendrik beleef ons magteloosheid in die stinkende tronk- en hofselle terwyl die regslui en die polisie kibbel.

Breytenbach is ’n regsgeleerde en met hierdie boek sleep sy die leser saam met haar. Dit is ’n naelbyter, want natuurlik wil almal weet hoe die seun gesterf het. Gaan Hendrik oud word in die tronk?

Stukkie vir stukkie word die gebeure aanmekaar gelas en die reg se tentakels word beleef soos nog nooit tevore in Afrikaans nie.

Dibi Breytenbach se eerste twee boeke was goed. Hierdie een plaas haar onder die voorste krimiskrywers in ons land. Heiliger sal ewe goed verstaan word in plekke soos die VSA waar die onreg van die regsprosesse dikwels afhang van ’n mens se geld, al dan nie.


Uittreksel

Diep gate in die grondpad voor sy nuwe buurman se in­drukwekkende hek dwing Hendrik om spoed te verminder. Die hek met sy dik tralies en lemmetjiesdraad wat taxibaas George Mkhize laat oprig het, lyk asof dit vir ’n militêre in­stallasie ontwerp is. Die heining pas nie by ’n plattelandse plaaswerf nie. Al wat kort, is ’n wagtoring.

Die werf is stil.

Hendrik skud sy kop. Oom De Wet, sy voormalige buur­man, sal in sy graf omdraai as hy sien wat van sy grondjie geword het. Sy hek was altyd vir almal oop, want dié ou wewenaar het gehou van geselskap. Hendrik se mondhoek vertrek. Om die hoewe voor sy oë te sien verander in ’n plek wat al hoe meer soos ’n konsentrasiekamp lyk, is pynlik. Behalwe die hek word die eiendom ook omring deur ’n hoëkwaliteit- elektriese heining.

Vir die soveelste keer verwens hy die ou oom se emi­grantekinders.

Ná die ou kêrel se afsterwe het hulle die stukkie grond met onbetaamlike haas aan Hendrik se nuwe buurman verkoop en van toe af het Hendrik net moeilikheid. Volgens die laas­te hofstukke wat sy buurman op hom laat beteken het, hou Hendrik se skietbaan en geweersmedery ’n gevaar vir die taximan se agtjarige seun in. Die skietbaan moet skuif.

Hendrik sug. Vroeg in die nuwe jaar gaan hulle hof toe, want hy weier om te trek.

’n Beweging op die effense hoogte tussen die twee hoewes trek sy aandag. Hendrik skreef sy oë. Die geel hond draf skaamteloos in die helder dag oor die kaal veld. Vir die eerste keer kan Hendrik behoorlik sien hoe die dier lyk. Geel­vaal vel span soos ’n nagedagte oor die hond se geraamte en sy spits gesig herinner aan dié van ’n jakkals. Die brak se voorkoms is egter misleidend, want daardie motgevrete lyf bedek ’n sluwe vyand wat nie onderskat moet word nie. Die hond is doelgerig op pad na Hendrik se werf.

“Jou bliksem.” Hendrik trap die versneller dieper in. ’n Halwe kilometer verder draai hy af op die kort tweespoor­paadjie na sy huis toe. Op die oog af is alles rustig, net soos hy dit gister gelos het. Die koei, skaap en donkie vreet ongestoord aan die voer in die groot kamp langs die waenhuis. Hendrik byt sy onderlip vas terwyl hy met sy een hand die knip waaraan al sy sleutels hang van sy gordel loswikkel.

Dis tyd.

Sy vreedsame diere gaan nie verder deur die geel hond gemolesteer word nie. Hy trek onder die yl skadu van die groot avokadopeerboom in. Ook dié boom kry swaar in die droogte. Hy klim haastig uit die bakkie. Toe stap hy vinnig na die waenhuis en deaktiveer die ingewikkelde alarmstel­sel wat die vuurwapens en binnenshuise skietbaan moet beskerm.

Hy kyk vlugtig of hy die geel hond kan sien, maar die waenhuis versper sy uitsig. Sy diere is salig onbewus van die aankomende gevaar. Die koei staar met groot Jersey-oë en droom en die skaap het die voerbak gelos om aan ’n droë bossie te kou. Hendrik sluit die waenhuis se deur oop en skakel die ligte aan. Wit lig spoel deur die groot vertrek wat netjies uitgelê is in bane en afskortings. Drie lewens­grootte teikens van aanstormende terroriste staan netjies opgestel, gereed vir die dorpskuts wat daagliks hulle pis­toolskietvaardighede hier slyp.

Hy stap na die groot inloopkluis en pons sy sekuriteits­kode in die elektroniese paneelbord teen die muur. Daar is baie vuurwapens in die kluis, want Witteberg lê op die rand van die Zoeloelandse bosveld en baie jagters laat hulle gewere buite die jagseisoen versien. Die slot se stewige binnewerkinge gly geluidloos oop en Hendrik trek die swaar staaldeur na hom toe.

Hy voel met sy vingerpunte tot hy die kluis se ligskakelaar vind. ’n Neonbuis flikker-flikker en in die koue lig sien hy sy eie geweer netjies teen die muur staan, weg van dié van sy baie kliënte. Die .308 is ’n vertroude vriend. Dit het hom nog nooit in die steek gelaat nie. Hy laai die geweer vinnig met drie patrone wat hy van ’n rak bokant sy kop afhaal. Toe sluit hy die kluis agter hom toe, haak die bos sleutels terug aan sy gordel en stap doelgerig deur die waenhuis na die sipres­bome wat sy werf begrens. Sy oë gly oor die vaalgeskroeide veld.

Daar.

Die hond staan stil in die laagte tussen die twee hoewes. Hendrik staar fronsend voor hom uit. Dooie grond maak dit moeilik om die afstand na sy teiken te takseer. Toe kyk hy vlugtig na sy buurman se werf. ’n Geel plastieksak flap-flap aan die wasgoedlyn wat bokant ’n digte granaatbos uitsteek. Die jakarandaboom langs die wasgoedlyn se blaarlose kruin wieg heen en weer in die warm wind. Dit is die enigste teken van lewe. Hendrik maak seker dat daar niemand in sig is nie, nie op George Mkhize se werf nie en ook nie op sy eie hoewe nie. Hy gaan dalk nie weer die geleentheid kry om van die dier ontslae te raak nie, maar roekeloos is hy nie. Uiteindelik lig hy die geweer na sy skouer. Deur die teleskoop is die hond se oë blink in sy skerp gesig en kwyl drup in toue by sy bek uit.

Hendrik wonder of die hond dol is. Dit is baie moontlik, in dié deel van die wêreld. Hy haal die geweer oor. Die slot klik gerusstellend in die loop. Vanaand gaan sy diere rustig slaap. Die hond lig sy neus en snuif-snuif in die warm lug. Toe draf hy voort met sy skewe tred. Die geweerloop beweeg in pas met sy teiken. Hendrik mik op die klein holte onder die keel, tussen die voorbene. ’n Wit vlek span soos ’n teiken oor die vel wat hart en long bedek. Weer gaan staan die hond, voorpoot in die lug. Kan die dier hom sien? Hendrik se vinger verstyf om die sneller en hy druk dit saggies soos wat hy geleer is.

Die skoot klap.

Stof slaan agter die hond op en Hendrik kan die zoemgeluid van metaal hoor wat teen ysterklip kets.

Mis. Hy het te hoog gemik.

Die hond vries momenteel in sy spore, sy ore gespits. Hendrik haal weer blitsig oor en toe die dier begin hardloop, lê hy aan en skiet in een vloeiende beweging. Dié keer is dit raak. Die skielike stilte wat volg, is oorverdowend. Hendrik laat sak die geweer en staar vir ’n oomblik bloot oor die veld.

Toe stap hy deur die grasstoppels na die plek waar die dier geval het. Gruis en gras knars onder sy skoene. Die hond lê op sy sy in ’n kaal kol tussen die polle en aan die glasige oë en die bloederige massa op die ribbekas kan Hendrik dadelik sien dat hy dood is. Dit is goed. Hy verag mense wat diere laat ly.

Van naderby lyk die hond nog slegter as deur die koue oog van die teleskoop. Hy is brandsiek. Kol-kol slaan kaal vel deur die yl hare op die maer lyf. Die dier is deurtrek van bosluise wat in sy lieste en ore saamgekoek sit. Hy lyk soos die woestynhonde van Mosul in die provinsie Nineve. Dié stad se naam is ook onder ’n nuwe bedeling verander. Hen­drik het op dieselfde plek as die Bybelse Jona gewerk, en ewe teësinnig. Daar is nog steeds so baie heidene in Nineve as destyds, waarskynlik afstammelinge van dieselfde blik­sems wat die ou matroos moes gaan kersten.

Vir ’n lang oomblik staar hy na die dier se stil karkas en draai uiteindelik om. Die natuur moet sy gang gaan. Die hond sal met verdrag terugglip tot die stof waar almal vandaan kom. Tot dan is sy reste ’n fees vir die klein aasdiertjies van die veld.

Hy het die hond, sy skaap en mot en roes ’n guns gedoen, dink Hendrik. Hy kyk vinnig of iemand die hond van die huis se kant af kan sien. Die waenhuis versper egter enige siglyne. Hy sien ook steeds geen beweging op George Mkhize se werf nie.

Amalia mag nie weet nie.

Sy hou nie daarvan dat hy probleemdiere skiet nie. Vir haar is alle diere geregtig op dieselfde genade. Hulle het tog nie gekies om hier te wees nie. Daarby bekommer sy haar dat hy iemand kan raakskiet.

Sy predik alewig vir hom daaroor.

“Mense loop rond, Hendrik,” hoor hy haar stem in sy gedagtes. Hy glimlag skeef. Haar intense besorgdheid grens aan neurose. “Netnou is hier iemand wat jy nie gesien het nie in die gras of agter ’n boom. As jy hom per ongeluk doodskiet, is daar moeilikheid. Gróót moeilikheid.”

Sy behoort teen hierdie tyd van beter te weet. Enigie­mand wat op sy grond rondloop sonder sy toestemming, loop in elk geval die risiko om geskiet te word. Hy weier om ’n plaasaanvalstatistiek te word.

***

Buthelezi staan onder die avokadopeerboom by sy bakkie en wag.

“Kom ons gaan hoor wat hy wil hê.” Hendrik vat Amalia se hand en saam stap hulle na die speurder toe. Hoe vin­niger hulle hoor wat hy te sê het, hoe vinniger gaan hulle hom van die werf af kry.

“Is dit Sara?” vra Amalia toe hulle langs die kort, stewige speurder tot stilstand kom. “Het julle iemand gear­resteer?”

“We have a big problem.” Skaduwees versluier Buthelezi se oë.

Amalia frons en skud haar kop. Die beweging laat haar merkbaar verbleek en Hendrik sit sy hand onder haar elmboog. “Watse probleme?” Haar stem is nog warm en dik van slaap.

“George Mkhize se seun Thabani. Iemand het hom geskiet.”

’n Bus ry op die grondpad langs Hendrik se hoewe verby en verdrink Buthelezi se woorde in sy dreuning.

“George Mkhize van langsaan?” vra Hendrik met ’n frons toe die voertuig in die verte verdwyn.

Die speurder knik.

“Die kind is agt jaar oud. Wie sal hom nou wil skiet?” Hy verstaan nie.

’n Lang stilte is die enigste antwoord.

“Dit is verskriklik,” sê Amalia uiteindelik. Haar vingers klem om Hendrik s’n en aan haar stemtoon kan hy hoor dat die nuus haar ontstel het. Blerrie Buthelezi, dink hy wrokkig. Dit is die tweede keer vandag dat hy haar omkrap.

“Is hy dood?” vra sy sag.

Buthelezi knik en vee met sy hand oor sy gesig.

Hendrik knip sy oë. In die hele wye wêreld, in al die tale van die kosmos, is daar niks droewiger as ’n dooie kind nie.

Die speurder draai na Hendrik. “Die kind het daar onder die boom by die draad gespeel terwyl meneer Mkhize in die huis besig was,” sê hy in Engels terwyl hy na George Mkhize se werf wys. ’n Blaarlose jakarandaboom troon bo­kant die huis se swart nok uit. Die wasgoedlyn nestel knus teen die digte granaatbos wat die agterplaas begrens. Toe wys Buthelezi met ’n breë gebaar na Hendrik se weikamp met sy diere en die waenhuis en die dooie hond daar ver. “Hy sê iemand het twee skote van hier af geskiet.”

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top