Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Hans steek die Rubicon oor deur Rudie van Rensburg

  • 1

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Rudie van Rensburg

Rudie van Rensburg is in Bloemfontein gebore. Hy begin sy loopbaan as joernalis by Die Volksblad, was medestigter en uitgewer van Bloemnuus, en later redakteur van Die Ekonoom. In 1987 verhuis hy Kaap toe. Rudie se skilderye is opgeneem in versamelings in Suid-Afrika en oorsee. Sy romans is Slagyster, Kopskoot, Judaskus, Pirana en Kamikaze.


Opsomming

Hans steek die Rubicon oor
Rudie van Rensburg

Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801471

Hans loop op 90 nié met ’n loopring nie. Sy orige kinders maneuvreer hom vanuit hul tuistes oorsee uit sy lekker ou huis en in Huis Madeliefie in, maar Hans skop nog kliphard, en gou lei hy ’n ouetehuisopstand teen die onhoudbaar drakoniese matrone. Dis daggakoekies, ontkleedansers en vet sports net waar jy kyk in hierdie hoogs komiese roman oor oudword op eie terme.

"’n Anargis in ’n ouetehuis. Loslit-humor op sy heel beste – Rudie van Rensburg bewys met hierdie skreeusnaakse roman dat die lewe lekker kan skeefloop vir hulle wat oumensies vlak kyk." – Kerneels Breytenbach


Uittreksel

’n Verwelkte blom.

Dís hoe Hans vir homself in die spieël lyk. Als is verdor, verlep en verskrompel – van sy stroewe gelaat en krom skouers tot sy hangborste en uitgesakte maag.

Hy beskou sy gesig van naderby. Die kepe op sy voorkop lê ingeryg soos jaarringe op ’n boomstomp, sy oë skreef onder woeste wenkbroue, ingesonke wange beklemtoon sy prominente kake.

Hy tree ’n meter terug om hom van kop tot toon te beoordeel.

Sy oë skeer oor sy plankdun beentjies. Hoe hulle hom nog regop hou, kan ’n navorsingsprojek vir anatomiestudente word. Hy skud sy kop afkeurend terwyl hy die geheelbeeld gadeslaan. Die praalhuis van sy eertydse sportmansjare is nou ’n murasie.

Een wat sy kinders voetstoots aan die ouetehuis gesmous het. Met al die sigbare en onsigbare gebreke van ’n negentigjarige sal hy vandag verwelkom word as die nuutste inwoner van Huis Madeliefie, oftewel “ ’n juweel vir ons skatkamer van oumensies”, soos die brosjure dit stel.

Gisteraand het hy die fout gemaak om deur die brosjure te blaai. Dít nadat hy soos ’n gees deur die huis gedwaal het. Hy wou afskeid neem van sy standplaas van die afgelope halfeeu, maar sonder die meubels wat die afslaers vroeër opgelaai het, was die vertrekke onbekend en afsydig.

Die eens indrukwekkende ingeboude houtrakke in die studeerkamer het skeletterig teen die muur vertoon. Hul boekbinnegoed is al die vorige dag gepak om verskeep te word na verskillende vastelande en eilande, waar sy kinders en kleinkinders dit ter gedagtenis aan hom sal uitstal . . . en seker eendag sal wegsmyt.

Die huis was ’n dolleë dop, gestroop van herinneringe waaraan hy vir oulaas kon vashou. Dit het ’n mistroostige donkerte oor sy gemoed laat sak. Hy is sleepvoet kamer toe, waar sy bed, bedkassie en hangkas met die lang spieël die enigste oorskot is wat vandag saam met hom na sy beknopte kamertjie in die ouetehuis trek.

Die brosjure het op die bedkassie gelê, nog verpak in die plastiekomhulsel soos dit ’n maand gelede by hom afgelewer is. Desperaat om sy neerslagtigheid te verdryf, het hy die glansblad uitgehaal en oopgeslaan.

Hy sug en maak die hangkas se deur toe. Help nie om met ’n aalwynpil in sy kies daaroor te loop nie. Dis sy eie skuld dat hy hom blootgestel het aan daardie burokratiese lektuur. Die rits kleingeestige reëls het hom in koue sweet laat uitslaan. In sy hele volwasse lewe het niémand nog vir hom voorgeskryf hoe laat hy moet bad, eet, ontspan of slaap nie.

Nou is dit te laat om daaroor te kerm.

Hy het onder groepsdruk geswig toe sy kinders in Desember op hom toegesak het – Carla en haar kroos uit Vancouver, Ben en sy aanhangsels uit Christchurch, en alleenloper Willem  it Melbourne. Sy oudste, Mara, kon weens haar heupvervanging nie uit Tokio kom nie.

Die hele spul het net een agenda gehad: om hul gryse vader te hervestig in ’n “plek van veiligheid”. Dít omdat sy bemoeisieke bure die kinders agter sy rug gebel het oor die inbraak ’n maand gelede toe hy deur ’n rampokker besteel is. Genadiglik het hy deur die hele drama geslaap, maar as hy wakker was, sou daar bloed gevloei het. En dit sou nie sýne gewees het nie.

“Met daardie houding is Pa beslis ’n kandidaat om een van die moordstatistieke in hierdie land te word,” het Ben gepreek.

“Beter as om deur ’n aardbewing aan jou einde te kom,” het hy na die Kiwi gekap, waarop ’n stortvloed verontwaardigde uitroepe gevolg het.

Elkeen van sy goed geformuleerde argumente oor waarom hy in sy huis gáán aanbly, is deur die Verenigde Nasies geveto – eenparig. Die hoofgesante het op ’n ouetehuis-verkenningsending vertrek, terwyl die kleinkinders hom by die huis moes “kalm” hou. Met hulle gebroke Afrikaans en vreemde aksente was dié eerder ’n bron van irritasie, sodat hy hom teruggetrek het na RSG op sy transistortjie.

Ná ’n week van intensiewe onderhoude met al wat ’n ouetehuismatrone in die Kaapse Skiereiland is, het Huis Madeliefie met die steun van Nieu-Seeland, Kanada en Japan (Mara is telefonies gebreinspoel) ’n oorweldigende meerderheid behaal oor Australië se keuse, Huis Lentegeur. Suid-Afrika se aansoek om in die huis aan te bly, is tot bedorwe stem verklaar en minagtend van die tafel gevee.

Sy eie vlees en bloed, wie se doeke hy kleintyd omgeruil het en vir wie hy later ’n oortrokke bankrekening moes aangaan om hulle ’n geleerdheid te gee, het hom soos ’n weggooiding op die vullishoop gewerp.

Hy trek sy hemp aan en maak die knope stadig vas. Spook in die sittende posisie om sy broek aan te kry. Sy yl hare stryk hy met ’n handpalm plat voor hy sy kaal voete in die slip-ons druk. Op sy ouderdom is die afstand tussen hand en voet te groot om sokkies te oorweeg.

Die twee tasse langs die bed ontstig hom. Dis die laaste bevestiging dat hy nou op die afdraand is – en dit met die brieke los. Onherroeplik op pad na sy eindbestemming, waar hy sy laaste asem in ’n bedompige kamertjie gaan uitblaas.

’n Troostelose vooruitsig wat hom laas nag lank uit die slaap gehou het.

Die groot tas is gepak met winterklere, die kleintjie het somerklere en sy belangrikste besittings in. Hy tel dié steunend op en sit dit op die bed neer, rits die tas oop om ’n laaste keer seker te maak als is in wat moet in.

Sy tandeborsel en tandepasta is saam met sy skeergoed in ’n Checkerssak toegedraai en sy bloeddrukpille is in ’n houertjie gemerk “Viagra”. Hy het dit verlede week tydens sy oggendwandeling in die straat opgetel en het besluit dis ideaal om die personeel van Huis Madeliefie op hol te jaag. Dalk kan hy só vir hom ’n summiere skorsing uit die plek bewerkstellig.

Sy ID-boekie lê langs die paspoort wat hy twee jaar gelede moes kry toe hy onwillig in Vancouver gaan kuier het. Hy het eers walgegooi dat die tuin sal verdor as hy so lank weg is, maar Carla het iemand gereël om te kom natlei. Die paspoort sal hy nie weer nodig kry nie. Om deur so ’n uitmergelende vliegtuigrit te moes worstel na ’n land wat in die kloue van die Ystydperk vasgevang is, was nie sy idee van pret nie. Dit het hom ’n eed laat neem om nooit weer die Afrika-vasteland se son te verlaat nie.

So ’n jaar of wat gelede, vóór die inval van die Verenigde Nasies, het hy ’n wenslys opgestel van plekke wat hy nog wil besoek. Die Etosha-panne, Victoria-waterval, Serengeti Nasionale Park en nog ’n paar ander. Maar met die lastige galblaasoperasie wat tussenin gekom het, het dit toe nooit gerealiseer nie. Nou sal dit seker net ’n droom bly.

Hy rits die tas toe, tel dit af en gaan sit op die bed. Dis nou tienuur. Die ouetehuis het laat weet hulle kom sy trek halfelf haal, waarna die tehuis se bussie hom met sy bagasie sal oppik.

Dit voel kompleet soos die oordeelsdag.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top