Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Goudmyn deur Wilbur Smith

  • 1

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Wilbur Smith

Wilbur Smith is in Zambië gebore en het aan Rhodes-Universiteit studeer. Hy het as rekenmeester gewerk, maar ’n heeltydse skrywer geword toe When the lion feeds (vertaal en uitgegee deur Kwela as Witwatersrand in 2014) in 1964 gepubliseer is. Hy het meer as 30 topverkopers geskryf waarvan altesaam meer as 120 miljoen kopieë wêreldwyd verkoop is.


Opsomming

Goudmyn
Wilbur Smith

Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795708213

Toe Jak Stapelberg die pos van hoofbestuurder van die Sonderkloof-goudmyn aangebied word, weet hy dis te goed om waar te wees. Hy is te jonk en boonop beskik hy nie oor die nodige kwalifikasies nie.

Sy vermoede word bevestig toe Manfred Steyner sy voorwaarde stel: Jak moet doen wat hy vra, sonder teenspraak.

En Jak stem in, want dié kans gaan nie gou weer verbykom nie. As hy net eers die werk het, kan hy Manfred se opdrag mos weier. Nie Jak óf Manfred het rekening gehou met die eintlike magte wat Jak se aanstelling bewerk het nie.

Terwyl dié magte planne smee om die grootste goudmyne te vernietig en die ekonomie omver te werp, is Jak se aandag verdeel. Dit blyk dat ’n sindikaat gouderts uit die myn steel. En dan is daar Tess, Manfred se beeldskone maar gefrustreerde vrou, wat ongeoorloofde begeertes in Jak wakker maak ...

Mag, gierigheid, wraak en begeerte vier hoogty op die goudvelde van die 1960’s in dié Afrikaanse vertaling van Wilbur Smith se gewilde Gold mine.


Uittreksel

Dit het begin in die tyd toe die wêreld nog jonk was, in die tyd voor die mensdom, in die tyd voordat lewe op die planeet ontstaan het.

Die aardkors was nog dun en sag, verrinneweer en verwring deur die geweldige magte van binne.

Wat nou die plat, saamgeperste kors van die vasteland van Afrika is, stabiel en onveranderlik, was toentertyd ’n warboel bergspitse. Dit was bergreeks op bergreeks, opgestoot deur magma uit die dieptes, en weer afgetakel deur swaartekrag. Dit was berge soos wat g’n mens al ooit gesien het nie, dit sou die Himalajas verdwerg het, stapels stomende klip met gesmelte magma wat uit die skeure en gapende wonde sypel.

Dit het van die aarde se kern af gekom, al met die krake en swakplekke in die kors langs, borrelend en kokend, en het gaandeweg afgekoel hoe nader dit aan die oppervlak kom, sodat die minerale wat eerste solied word dieper neerslaan, en dié met ’n laer smeltpunt nader aan die oppervlak opstu.

Iewers in die matelose verloop van tyd het ’n klomp krake in een van die naamlose bergreekse oopgegaan, en daaruit het ’n rivier van gesmelte goud voortgevloei. Wisselinge in temperatuur en chemie het tot ’n natuurfrats gelei – ’n kru, maar effektiewe raffineerproses tydens die lang tog van die aardkern af. Die konsentrasie van goud in die grondmassa was hoog, en dit het by die oppervlak afgekoel en solied geraak.

Dis nie net die berge van daardie tyd wat so groot was dat dit die verstand te bowe gaan nie; die reën- en windstorms wat rondom hulle gewoed het, was ewe onvoorstelbaar.

Dit was ’n hel-landskap waarin die goudveld ontstaan het: skerpgepunte berge wat strak en steil na die wolke reik, wolkbanke swaar van swawelgasse uit die borrelende aarde, so dig dat sonstrale nie daardeur kon dring nie.

Die atmosfeer was swaar van die vog wat later see sou word, so swaar dat dit die rotsgebergte met ’n ononderbroke wind- en reënstorm gekasty het. Die water het in stoom van die warm klip af opgeslaan net om later terug te val.

Met die verloop van miljoene jare het die wind en reën die naamlose gebergte met sy goudbeslag verweer, die ryk erts losgewerk en dit in stroompies en riviere en grondstortings afgevoer in die vallei tussen die een berg en die ander.

Namate die klip afgekoel het, het die water langer en langer bly lê voordat dit verdamp, en het dit in die vallei opgedam en ’n meer gevorm, ’n binnelandse see.

Die stormwater van die goue berge af het in hierdie meer gestroom, met klein spikkels van die geel metaal daarin wat saam met sand en kwartsgruis op die bodem neergeslaan het, waar dit tot ’n soliede plaat saamgepers is.

Oor duisende jare heen is die goud van die berge af geskuur, weggevoer en op die meerbodem neergelê.

Toe, soos wat elke tienmiljoen jaar of wat gebeur, het die aarde ’n tydperk van geweldige seismiese woelinge ondergaan. Die grond het geskud en gekantel soos wat die een geweldige aardbewing ná die ander dit teister.

Een verskriklike slag het die meerbodem van kant tot kant laat kraak.

Dit het leeggeloop en die sedimentvlakke het verbrokkel. Fragmente daarvan is herwaarts en derwaarts gevoer, en massiewe klipvlakke van baie kilometer wyd het op hulle rante gekantel.

Weer en weer het aardbewings die grond getakel en geskud. Die berge het gekantel en inmekaargestort. Hulle het die vallei waar die meer eens was, gevul en die plate vol goud begrawe onder swaar rots wat alles onder hulle verbrysel.

Daardie siklus van seismiese onstuimigheid het verbygegaan, en derduisende jare het verloop. Die vloede en groot droogtes het gekom en gegaan. Die wonderbaarlike vonk van lewe het ontspring en bly brand deur die tyd van die monsteragtige reptiele, deur tallose vertakkinge van evolusie tot digby die middel van die Pleistoseen-tydvak, toe ’n aapmens – Australopithecus – ’n buffel se dybeen langs ’n rotsuitstulping oplig en dit as ’n wapen gebruik, ’n stuk gereedskap.

Australopithecus het in die middel van die plat, songebakte plato gestaan wat agthonderd kilometer in alle rigtings strek tot by die see, want die berge en mere is al lankal weer platgevee en begrawe.

Agthonderdduisend jaar later het een van Australopithecus se verlangse, maar direkte afstammelinge op presies dieselfde plek gestaan met ’n stuk gereedskap in sy hand. Die man se naam was Harrison en die werktuig was meer gesofistikeerd as sy voorsaat s’n – dit was ’n prospekteerder se pik van hout en metaal.

Harrison het gebuk en gekap aan die uitstulping van rots wat bo die droë, bruin grond van Afrika uitsteek. Hy het ’n stukkie klip losgewikkel en orent gekom met die fragment in sy hand. Hy het dit boontoe gehou om die son te vang en het teleurgesteld gebrom. Dit was ’n oninteressante stuk konglomeraat met swart en grys are. Sonder veel hoop het hy dit  voor sy mond gehou en daaraan gelek, voordat hy die nat oppervlak weer teen die son gehou het – ’n ou prospekteerkunsie om die metaal in die erts beter te laat vertoon. Sy oë het geskreef van verbasing toe klein goue vlekkies in die klip vir hom vonkel.

Die geskiedenis onthou net sy naam, nie sy ouderdom of herkoms nie, nie die kleur van sy oë of hoe hy gesterf het nie, want binne ’n maand het hy sy kleim vir tien pond verkoop en verdwyn, vermoedelik op soek na iets wat hy as ’n werklik noemenswaardige vonds beskou het.

Dit sou hom gebaat het om eerder aan daardie kleim vas te hou.

In die tagtig jaar van toe af tot hier in die laat 1960’s is ’n geraamde vyfhonderdmiljoen onse fyngoud uit die goudvelde van die Transvaal en Oranje-Vrystaat gedelf. Dis maar ’n fraksie van wat onder die grond oorbly, en wat eendag nog wel uit die aarde gehaal sal word. Want die manne wat op die Suid-Afrikaanse goudvelde delf, is die geduldigste, mees toegewyde, vindingrykste en hardkoppigste van die vuurgod se hele gebroedsel.

Hierdie massa edelmetaal is die grondslag waarop ’n lewenskragtige jong nasie van agttienmiljoen mense se rykdom gebou is.

Tog bly die aarde traag om sy skatte prys te gee – mense moet dit met gesukkel en geweld van hom afrokkel.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top