Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Gister is verby deur Juanita Aggenbach

  • 1

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Juanita Aggenbach

Juanita Aggenbach is in 1976 gebore. Sy verwerf honneursgrade in sielkunde aan die Universiteite van Pretoria en Stellenbosch en ’n honneursgraad in Kriminologie, waarna sy as sielkundige berader en kriminologiedosent werk. Haar derde roman is in 2016 vir ’n ATKV Woordveertjie benoem. Juanita woon in Durbanville met haar man en twee dogters.


Opsomming

Gister is verby
Juanita Aggenbach

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798176323

’n Deernisvolle verhoudingsroman oor borskanker en die invloed daarvan op verhoudings. Nadine se wêreld stort in duie wanneer ’n doodgewone doktersafspraak ’n skrikwekkende vonnis oplewer. Skielik moet sy nie net borskanker se onmenslike aanslae op haar gesondheid, menslikheid en vroulikheid leer hanteer nie, maar ook die reaksies van hul vriendekring en haar man, Pierre. Maar ook Pierre voel magteloos. Hy soek desperaat na antwoorde en begin stelsematig sy plek in hul verhouding bevraagteken. Hoe het hulle onderskeie rolle binne hulle huwelik verander? Sal hulle ooit eendag ouers kan wees?

Hoe leer Nadine en Pierre om mekaar weer opnuut te ondersteun? In Gister is verby wys Aggenbach hoe geliefdes, te midde van talle strukelblokke, kan groei en saam sterk kan word.


Uittreksel

Die muurhorlosie in die sonarvertrek tik in duidelike slae die sekondes af.

Nadine sluk. “Kan ek net eers my man bel?”

Dokter Neethling vang die sonar-tegnikus se oë voor hy simpatiek na haar kyk. “Natuurlik.”

Met snel gedagtes en trae hande trek Nadine die bra en bloes wat sy in die aantrekhokkie gelos het aan. Haar hart klop angstig in haar ore. Sy sit haar handsak oor haar skouer en stap nikssiende tot by haar motor in die parkeerarea.

Die motor is warm van die heelmiddag se staan in die son.

Sy draai die venster af en bel vir Pierre wat bly klink om haar stem te hoor.

Die groeiende vrees vir die draaikolk wat haar intrek kry die oorhand en sy snik ’n groet uit.

“Wat gaan aan? Was jy in ’n ongeluk?”

“Die ginekoloog het my vir ’n mammogram gestuur en . . .”

Nog ’n snik smoor verdere woorde.

“Nadine?”

Sy vee haar nat hande aan haar broek af. “Hulle wil ’n biopsie doen. By ’n chirurg. Nou.”

“Ek is op pad.”

Nadine kyk na die foon wat skielik stil in haar hand geword het. Pierre is op pad, eggo dit terwyl sy die venster weer toedraai en terugstap hospitaalgebou toe, na ’n onbekende dokter Van Zyl toe wat haar haar bloes en bra laat uittrek.

“Kom ons begin by die begin,” sê dokter Van Zyl. “Het jy enige trauma, soos ’n harde stamp op jou bors gehad?”

Nadine hou die dun jurkie wat hy haar gegee het om haar mee te bedek toe waar sy op die ondersoekbed sit. Dokter Neethling het dieselfde gevra voor hy haar vir die mammogram gestuur het. “Nie wat ek kan onthou nie. Kan ’n stamp so iets veroorsaak?”

“Trauma van die bors veroorsaak nie kanker nie, maar dit kan lei tot vetnekrose in ’n gebied waar die weefsel beseer was. Die vet in die selle word dan vrygestel in die weefsel en veroorsaak ’n inflammatoriese respons wat as ’n knop gevoel word. Jy kan maar plat lê, asseblief.”

Sy maak haar oë toe toe hy die bietjie bedekking wegneem.

“Ek gaan eers doodspuit. Dis gevoelig, ek is jammer.”

Skok stol in haar keel toe sy die eerste brandsteek langs haar tepel voel. Nog ’n steek laat haar die laken in haar linkervuis vasgryp.

Nog ’n keer. En weer. Dis sigaret-teen-die-vel-dooddruk-seer. Sy is uitasem toe die naald ’n vyfde keer haar liggaam binnedring.

“Doen jy al die biopsie?”

“Nee, ek spuit nog net dood. Ek is jammer, ek weet dis seer.”

Sy klem haar kake saam en kry eers ordentlik lug in haar longe toe hy ná die sesde keer die inspuitnaald eenkant sit.

“Ons gaan ’n trucut-biopsie doen.” Hy tel ’n dik naald op.

“Hiermee verwyder ons ’n strooitjie weefsel uit die knoppie in jou bors en stuur dit na ’n patoloog om te bepaal of dit kankerselle bevat. Is jy reg?”

Toe die dikker naald deur haar vel breek, gryp sy die laken met haar linkerhand vas en draai haar kop na die muur toe.

Pierre blaas gefrustreerd sy asem uit toe die parkeeraanwyser beduie dat al die plekke gevul is. Die hartklop wat in sy keel hamer, het nog nie bedaar vandat hy Nadine se oproep gekry het nie.

Verwoed maak hy ’n driepuntdraai en stuur die motor na die dakparkering verste weg van die hospitaal se ingang. Hy parkeer skeef in die eerste oop plek en sluit die motor met die afstandbeheer toe hy al ’n paar treë daarvan weg is.

Daar is niemand by die ontvangstoonbank nie. Die klerk by die fotostaatmasjien neem ’n ewigheid om om te draai van waarmee sy ook al besig was.

Hy tik met sy vingers op die toonbank. “Ek soek na die ginekoloog by wie my vrou was.”

“Hier is vier ginekoloë by ons.” Sy kyk oor haar bril na hom.

“Het u dalk die dokter se van?”

“Nee.”

“Ek skakel hulle sommer gou. Wat is u vrou se van?”

“Duvenhage.”

“U vrou was by dokter Neethling,” sê die klerk toe sy die foon neersit. “Sy is nou by dokter Van Zyl, die chirurg. Volg net die gang, draai regs en weer regs, sy spreekkamer is aan die linkerkant.”

“Dankie.”

Pierre haas hom die gang af. Hy het geweet daar is fout. Die eerste keer toe hy bloed op Nadine se bra gesien het, het hy vir haar gesê om by ’n dokter uit te kom.

Maar toe weet sy mos beter, wil vir hom vertel dis weens haar baie oefening. Watse snert.

Die vrou by die chirurg se ontvangs lyk of sy reeds opgepak het vir huis toe gaan. “Middag, meneer. Kan ek help?”

Hy laat rus beide sy hande op die toonbank. “Ek hoor my vrou is by dokter Van Zyl. Nadine Duvenhage?”

Die vrou knik. “Sy behoort nie meer lank te wees nie. U kan gerus sit.”

Hy kies ’n sitplek in die verlate wagkamer en tel die boonste van die stapel tydskrifte op. Hoe lank neem ’n biopsie? Wat behels ’n biopsie?

Blindelings blaai hy deur die tydskrif. Maak dit toe en sit dit neer. Wie probeer hy bluf?

“Ons is klaar.” Dokter Van Zyl lyk verlig toe hy die naald neersit. Nadine vou die jurk oor haar borste toe. “Wanneer kry ek die uitslag, dokter?”

“Ons behoort jou teen môre al te laat weet.” Hy trek die handskoene van sy hande af. “Gaan nou huis toe en ontspan. Jy het ’n lang middag agter die rug.”

Om haar bors wat so seer klop te lawe skuif Nadine dieper onder die water in. “Ek moes ná die mammogram werk toe bel om die middag af te vra. En dít drie weke nadat ek daar begin het.”

Pierre leun oor om nog warm water in die bad te tap. “Het jy vir hulle gesê hoekom?”

“Ja. Hannah het net gesê: ‘You gotta do what you gotta do.’”

“Ek is seker hulle sal nie ’n issue hê nie.”

Sy vee met haar nat hande oor haar gesig. “Ek kan nie gló wat vandag gebeur het nie. Hier gaan ek vir my gewone jaarlikse ondersoek ginekoloog toe en om met dokter Neethling te praat oor ons met ’n gesin wil begin. Toe kry ek nie eens kans om hom te vra oor die Pil wat ek vandag wou los nie.”

“Hy het duidelik belangriker dinge gehad om te hanteer.”

Pierre begin sy lyf inseep, ’n seker teken dat hy nie verder daaroor wil praat nie.

Sy steek haar hand uit om aan hom te raak. “Ek is jammer.”

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top