Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Gespreksgenoot: ’n brieweboek

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Heilna du Plooy

Heilna du Plooy is gebore in Pretoria en het grootgeword op Bronkhorstspruit en Alberton. Voorgraads studeer sy aan die PU vir CHO en voltooi haar BA Hons en MA aan die Universiteit van Pretoria. Sy behaal die DLitt aan die PU vir CHO met ’n proefskrif oor twintigste-eeuse verhaalteorieë.

Haar akademiese loopbaan begin aan die Universiteit van Pretoria, waarna sy ’n paar jaar lank aan Unisa verbonde is. Die afgelope dertig jaar lank woon s yen haar gesin in Potchefstroom waar sy eers aan die PU vir CHO en daarna aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus professor in Afrikaans en Nederlands en Literatuurwetenskap was. Sy is steeds as ’n senior navorser by die universiteit betrokke.

Heilna is getroud met Andries du Plooy, professor in Kerkreg aan die NWU. Hulle het ’n dogter, drie seuns en vyf kleinkinders. Sy teken graag en skilder in waterverf en olie.

Benewens nasionaal en internasionaal gepubliseerde akademiese werk, het verskeie kortverhale uit haar pen in literêre tydskrifte en versamelbundels verskyn. Sy is ’n vertaler van poësie uit Nederlandse en Engels in Afrikaans, en ook uit Afrikaans in Engels.

Ander publikasies:

Die donker is nooit leeg nie. (Tafelberg, 1997)
In die landskap ingelyf (Protea, 2003)
Die stilte opgeskort (Protea, 2014)
Paaie vir die deurtog (Litera, 2013), ’n bundel met vertalings van vier digsiklusse en reeks van die Nederlandse digter Willem van Toorn.
Die taal van been (Litera, 2015) is haar eerste roman.  
Gespreksgenoot: ’n brieweboek (Litera, 2017).   


Opsomming

Gespreksgenoot: ’n brieweboek
Samesteller: Heilna du Plooy

Uitgewer: Litera Publikasies
ISBN: 9781-920188535

Hierdie lywige bundel van sowat 700 bladsye is deur Heilna du Plooy saamgestel uit briewe van Elize Botha en verskeie skrywers en ander bekendes. Skrywers en digters soos Audrey Blignault, Hennie Aucamp, NP van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, Lina Spies en baie ander het met Botha gekorrespondeer. Party briewe is diep ontroerend, ander laat jou hardop lag en ‘n klompie lees jy herhaaldelik om die besonderse insig daarin. Die briefskrywers skets die klein en groot gebeure in hulle lewens, deel hul menings oor boeke en mense en vertel van die dinge wat hul lewens moeilik of vreugdevol maak. Dit is ’n intieme teks wat by baie lesers byval sal vind.


Uittreksel

Dirk en Marié Opperman

Amosstraat 34
Colbyn 0083
25 Mei 1985

Liewe Marié

Dit was lankal tyd dat ek weer skryf – ek verlang so dikwels om met jou te praat. Ek hoop daar sal tyd voor wees as ek in Junie Stellenbosch toe kom. Ek wil ’n paar dae vóór die Jaarvergadering begin, kom, sodat ek ’n paar
geselssessies kan reël! Deesdae kom ek gans te min in die Suide.

Hierdie briefie wil geen plaasvervanger dus wees vir ’n gesprek nie; eintlik wil ek net sê (en ek weet nie eintlik hoe ek my gemengde gevoelens moet uitdruk nie) hoe dankbaar ek is dat Dirk se naam by die lys van ontvangers van die Gustav Preller-prys gevoeg sal word. Ek wens dat dit veel, veel vroeër gebeur het. Soos ek ouer word, raak ek al hoe meer dikwels bedroef deur die onvolkomenheid van die mens se sisteme en prosesse, en deur sy onvermoë om “volcomelic na der waerheide” te oordeel. Gaan dit goed met jou?

Liefde,
Elize

 

Vrydag 22 Nov. 85

Liewe Elize

A, hier is tog nog een van die mooie notavorms wat ons goeie vriendin Juliana Bouws my lankal present gegee het; ek gebruik hulle snoep: ± vir die elite-elize onder my gerekendes! Het ek so ’n lysie? Nee wat, soos ek aan hulle dink, sien ek hulle maar êrens op die jakobsleer sit, klim of daal, dit wil sê: hemel toe of aarde toe, en beslis nie in my estimasie nie. 

Om my verjaarsdag nog blyer te maak, daag Johan Smuts vroeg gisteroggend by my op (ek het gesê: so vroeg moontlik: ek ry Houtbaai toe om laatlam darem te help in haar allénigheid nuwe huis te be-gordyn, orden, skômaak en so meer). Universiteit gaan nou daardie ou Laerskool Bloemhof beset. Een vertrek wil “hulle” laat inrig as OPPERMANdomein. “Wat van Louws en Kie? Hulle ook?” Nee, net DJO. Sportman (!) Momberg gee dadelik R1 000 vir jaarlikse gedenklesing. Fynproewersgilde het ’n finger in the pie (nogal!) en Rektor-hulle geesdriftig. Wat dink ek? Ek dink niks van gedenklesings nie. Dis dooimans-assies oorgooi van borreltjie na borreltjie. Anti-Dirk. Dirk het verkies: jongmense wat skep; wat gehelp kan word om te skep; wat gekritiseer kan word. 

Ek stel voor ’n permanente LABORIE waaraan (Gideon Scheepersgedagtig) wit, bruin en swart kan weerkaatsend flits lat hulle bars, en kyk of hulle in ’n jaarlikse LABORIE kan verskyn. Met bekroning? Verskyning moet klaar as sulks gereken word. Verse kan al elders, maar ongebundel verskyn het: ’n ± Prestige performance. 

Ek lag mos lankal oor die frase: ons grootste lewende digter. En toe sterf Dirk. En nou lê hulle die lyke langs mekaar:

Eugène Marais: die maere
Louis Leipoldt: die manlief
Totius: die beperkte dualis
V d Heever: deinende dienaar
Visser: te jolly en dounkêr
Eitemal: as tolk van/aan volk verknog/verkneg
Doepels: allerhande hoepels onder koppels en goeters
Wyk Louw: adres vernaam by Aangeroepte Faam
Uys: So blerrie uit en tuis
WEG Louw: vol pose en Rose


 

Audrey Blignault

Genevaweg 68
Kampsbaai 8001
13 Julie 1981

Liewe Elize

                              And I am homesick
After mine own kind that know, and feel
And have some breath for beauty and the arts.
Aye, I am wistful for my kin of the spirit … my soul
They that come mewards, bearing old magic.

Dankie, dankie uit my hart, dat jy altyd mewards kom, bearing old magic. Jou middernagtelike brief vir my verjaardag is ’n kleinood. Ek lees dit weer en wéér. Altyd die begrip vir wat met my gebeur, altyd die omgee oor hoe dit my raak.

Dankie vir jou verjaardagwens vir my. Ek het só gewens dat jy die dag hier kon gewees het. Dit was so ’n mooi, gelukkige dag vir my. Marié het van Richardsbaai af gekom en self vir haar vliegkaartjie betaal met geld wat sy verdien het. Toe gee ons ’n kaas-en-wyn-ete vir ’n groepie vriendinne. Attie se bydrae was boontjiesop en drie soorte poeding en tien bottels witwyn en tien bottels rooiwyn. My ou Maria se dogter – die een wat met die Noor getroud is – het samoesas kom maak wat ons by die sop geëet het. Heerlik was dit ook: En dan ’n Kanaänse verskeidenheid van kaas om jou hart aan op te haal. En die hele huis vol blomme.

Maar waar was jy om ons vriendin Lina te sien! My stem het letterlik weggeslaan toe Lina hier instap. Ek moes aan Browning se woorde dink: “He who blows thro’ bronze, may breathe thro’ silver.” Lina was ’n silwer naaldekoker, die silwer van die eerste lig. Só pragtig dat dit amper onwerklik was. Nee kyk, Lina het daardie uitrusting soos ’n gedig geskep en net so oortuigend afgerond. Tot by die fyn grys skoene. ’n Glansryke verskyning op my verjaardag.

Nog ’n onverwagte vreugde was May Hillhouse se heildronk op my. May wil nooit praat nie en daar staan sy op en sy stel ’n heildronk op my in! Die liewe ding! Ek is so bly dat sy weer beter is nadat sy lank siek was. Sy skilder al weer. Anna Böeseken en Juliana Bouws het saam ’n skildery van haar gekoop en ruil dit nou tussen mekaar uit: drie aande Anna, drie maande Juliana.


 

Hennie Aucamp

’n Paar jaar gelede was daar ’n verjaardaggeleentheid vir Johan Degenaar met sy sestigste. Sy “teks” was: ’n mens word mens deur mense. En toe kom hy met ’n variasie: ’n mens word vriend deur vriende. Jy word “opgelei” tot vriendskap deur jou vriende. En wat ’n opleiding had ek nie in vriendskap nie, van dr. Con af, oor Ernst, TaMiem, dr. Anna de Villiers, Audrey, jy – die lys begin my beskaam, want dit klink na ’n who’s who in the world of arts & literature. Sekerlik het die meetsnoere vir my in lieflike plekke geval.

(Dit het begin reën. Die moeraseik het die afgelope week sy allerlaaste blaar verloor, en die Kaap lyk soos hy moet lyk. Het jy al Karel S se beskrywings van die winter-Kaap in Afskeid en vertrek onder oë gehad? Elke soortgelyke paragraaf ’n “nat” Pieter Wenning!)

Jou eerste brief aan my is gedateer 18/2/65 en begin só: “Beste mnr. Aucamp …” En uit jou briewe lei ek my lewe af, en ook joue. En later word “beste” “liewe”. En mag dit so bly.

Die formaat van jou briewe het verander. Die nou A4, wat baie makliker geliasseer kan word as die kleinformaat-briewe van vroeër. In ’n stadium had jy, uitdagend, ’n pienk blommotief bó in die linkerhoek van jou briewe. Pienk of grys. Where have all the flowers gone?

Maar die mens ín die briewe het deur “al die woes krakele” dieselfde gebly. Om Van Melle aan te pas: “met haar siel in haar”.

Jou briewe aan my, my briewe aan jou, het kwelvrae gebring. Was alles ’n hersenskim gewees: die gedagte aan ’n eie taal, kultuur, letterkunde? Ek aanvaar nie so ’n siening nie. Ek het mens geword in en deur Afrikaans. Ek het my hoogste ekstases in Afrikaans bereik. Ek verstaan die skaamteen skuldgevoelens van die jongeres, maar jy gaan nie ’n verlede kanselleer deur heidens te offer wat nie gevra word nie. Solank jy skel, boete doen, huil in Afrikaans, ís Afrikaans nog. En wie weet het hy juis trane nodig om opnuut tot wasdom te kom? Blood, sweat and tears.

Wag, voor ek soos Patience Strong revisited klink, groete aan jou en die joune.

Hennie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top