Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Brand deur Peet Venter

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Peet Venter

Peet Venter se eerste roman, Die Alleenlopers, is reeds in 1979 gepubliseer. Daarop volg ’n verdere nege werke, meestal speurrillers, maar ook geskiedkundige verhale, asook ’n aantal kortverhale in verskeie bundels, almal gepubliseer deur JP van der Walt / LAPA Uitgewers. ’n Verskeidenheid kort- en vervolgverhale verskyn ook in Keur. Venter was aan ’n raadgewende ingenieursfirma in Pretoria verbonde. Hy woon tans op sy plaas in die Dinokeng-bewaria.

Lees meer oor Peet Venter in sy ATKV|LitNet-Skrywersalbum.

Foto: verskaf


Opsomming

Brand
Peet Venter

Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799386141

Hoë politici sweer saam om Suid-Afrika in ’n diktatorskap te dompel. Die armes het genoeg gehad en kom in opstand. Die land brand.

Sagte kolonisasie, noem party mens dit. Staatskaping noem die media dit.

Mense vir wie Thys Krige omgee, kry seer. Kort daarna word hy deur internasionale agentskappe genader om te help, want ons korrupte president speel in die hand van buitelandse moondhede met imperialistiese ambisies. Die tentakels daarvan is al so diep in die struktuur van mense in sleutelposte, dat niemand meer seker is wie betrokke is en wie vertrou kan word nie.

Die diknekke word ryker. Die armes krepeer.

Die prez weet sy einde is naby. Hy soek ’n rede om ’n noodtoestand af te kondig.

Thys se speurwerk kom of ’n afgryslike ontdekking af... Hy vermoed traangas word gedokter met dwelms om mense heeltemal berserk te maak. Is mieliepap, die stapel van die armes, volgende?

Brand is ’n donker, skokkende verhaal, veral op emosionele vlak. Peet Venter het min genade vir sy leser. Dié boek bied oplossings, maar nie spookasemeindes nie.

Brand is die vyfde boek in die Thys Krige-reeks. Dieper as die bloed, Ou bloed, Waar boosheid broei en Plasenta is die eerste vier.


Uittreksel

Een

Maandag

Xavier Bruyns se selfoon lui toe hy oppak om huis toe te gaan.

“Ja, meneer White?”

“Skinner het twee oproepe gemaak na ’n selfoonnom­mer wat nie in die stelsel is nie, Meneer. Ek het dit getrace. Dit behoort aan ’n Matthys Krige.”

Die naam skud ’n bitter stukkie van Bruyns se verlede uit ’n broeiende sluimering wakker. Maar synde ’n man wat sy lewe op objektiwiteit skoei, is hy versigtig vir oor­haastige aannames. Daar is vir seker etlike Matthys Kriges met selfone in die land en meer as een in Pretoria.

“Ek het sy besonderhede getrek,” sê White. “Sy ID en woonadres.”

“Stuur dit asseblief vir my. Waaroor het hulle gepraat?”

“Krige het nie geantwoord nie. Skinner het ’n boodskap gelaat dat Krige hom dringend moet bel. En die Kellerman-vrou het . . .”

“Meneer White.”

“Ja, Meneer?”

“Dis neerhalend om na ’n dame te verwys as hierdie of daardie vrou. Ons weet haar naam is Liesl en dat sy on­getroud is. Dus sal juffrou Kellerman, of selfs Liesl, gepas wees as ons van haar praat.”

“Ja, Meneer. Sy het ook ’n SMS vir Krige gestuur dat sy dringend met hom moet praat.”

“Nog iets?” Ná hy ’n wyle gewag het dat White voort­gaan, maar dit nie gebeur nie.

“Nee, Meneer.”

“Dankie, meneer White. Hou Krige se nommer in die stelsel. Ek is op pad huis toe. Laat weet my môreoggend as daar verdere verwikkelinge is.”

“Goed, Meneer.”

“Enige vordering met Skinner se brandmuur?”

“Ons probeer nog, Meneer.”

“Probeer harder.”

“Ja, Meneer.”

“Stuur asseblief Krige se besonderhede nou dadelik vir my.”

“Goed, Meneer.”

Bruyns sit sy selfoon neer, skakel sy rekenaar weer aan, wag.

White se Engelse aksent slaan maar swaar deur, maar hy waardeer die man se pogings om goeie Afrikaans met hom te praat. Miskien is dit ’n gedeelde rebellie teen die voortdurende subtiele herinneringe daaraan dat hy en White, as verteenwoordigers van die bruin en wit minderheidsgroepe, noodwendig verdra word in ’n oorwegend swart werksomgewing. Maar selfs rassisme met vlerkies en ’n harpie kan nie daarby verby kom dat daar sekere sleutelposte in Staatsveiligheid is waarmee nie gemors kan word nie. Soos Hoof van Intelligensie en Hoof van IT.

White se e-pos kom deur. Hy maak die aanhangsel oop, kyk na die foto op die ID. Die einste Thys Krige wat hom sy regsloopbaan gekos het. Skinner wil dringend met hom praat. ’n Onverwagte wending. Eienaardig hoe strikke soms deur die sameloop van omstandighede gestel kan word sonder dat mens ’n vinger hoef te verroer. Geduld is ’n lonende ding.

Hy tel sy selfoon op, skakel.

“Middag, Xavier.”

Om sy naam uit die man se mond te hoor laat Bruyns se kopvel kriewel. Die warmte in die groet walg hom. Synde self ’n meester van pretensie, ken hy dit wanneer hy dit hoor of sien.

“Thys Krige. Wat is sy betrokkenheid by Skinner?”

“Skinner het hom gewerf ná hy uit die speurdiens be­dank het. Hoekom?” Die elokusie is tog so perfek. Die la­gie vernis wat die leuen van ’n prulwerk bedek.

“Sy naam het opgeduik. Skinner wil dringend met hom praat. Vind uit waaroor.”

“Xavier, ek het vir jou gesê ek wil niks verder met die ding te doen hê nie. Ek het al die inligting wat ek het vir julle gegee. Laat my nou net met rus, asseblief.”

“Dit werk nie so nie. Daar is nie omdraai vir jou nie. Dis ’n bed wat jy opgemaak het, nou moet jy maar daarin slaap. Vind uit wat Skinner van Krige wil hê, of ek en El­vira gaan drink tee by jou vrou.”

Bruyns verbreek die verbinding, skud sy kop. As ’n man nie sy gat uit dinge en sy ding uit gate kan hou nie, moet hy maar vir hom kry.

Hy skakel sy rekenaar af, vat sy aktetas en loop.

*

Krige se kop wil bars en hy voel naby aan ontplof. Elke mens het ’n toleransiegrens en hy staan met sy tone op syne.

Vier volle ure van sy lewe om wal te gooi vir sy beleg­gings omdat een man die ekonomie tot op die rand van ’n afgrond gesleep het. Nie dat hy dit andersins meer kon­struktief sou benut het nie. Dit gaan oor die beginsel.

Een van daardie dae.

As dit maar een dag was. Dit is nie, want daar is nie skouerophaal en sê môre sal dit beter gaan nie. Sy lewe het vasgeval in ’n groef van daardie dae. Die een dag ná die an­der. En so sal dit aanhou solank die storie met Karen onop­gelos bly. Dis die spilpunt waarom alles draai en vasknoop hier binne-in hom soos ’n rol doringdraad wat al hoe sty­wer opgewen word.

Die spreekwoordelike klippe in die pad is een ding. Jy rol dit maar weg soos jy dit teenkom. Maar die ding met Karen is soos ’n berg wat snot sweet. Hy gly as hy net daarna kyk.

Hy onthou sy selfoon het tydens die vergadering ’n paar keer vibreer. Hy haal dit uit sy sak en onthou hy moet die hysbak se knoppie druk as hy wil hê die ding moet hom kom haal. Vyf en twintig verdiepings se trappe is nie ’n opsie nie. Nie met so ’n hoofpyn nie.

Hy druk die hysbak se knoppie en maak sy selfoon wakker. Twee oproepe van Skinner en ’n SMS. Bel my dringend. En ’n SMS van Liesl. Moet dringend met jou praat!

Liesl is nie een wat uitroeptekens gebruik net omdat daar ’n knoppie voor is nie. Sy gebruik nie eens uitroeptekens wanneer sy praat nie. Wat beteken haar dringend­heid moet dringender wees as Skinner s’n. Sy is ’n be­sonderse mens. Skinner se susterskind. As kind wees en verlam gelaat in ’n motorongeluk. Skinner en sy oorlede vrou, wat kinderloos was, het haar aangeneem en groot­gemaak. Wat hy vir haar voel, lê dieper as empatie met haar omstandighede.

Hy druk 4.

“Haai, Thys.” Sag.

“Hallo, Liesl. Wat...?”

“Thys, jy moet my help.” Gedemp, asof sy haar hand bak om haar mond en die telefoon het sodat iemand an­ders nie moet hoor nie.

Die enigste iemand anders daar is Skinner. Wat beteken Liesl wil nie hê Skinner moet hoor sy praat met hom nie. Wat ongewoon is, want Liesl is nie een wat dinge ag­ter mense se rûe doen nie, allermins agter Skinner s’n.

“Wat is verkeerd? Moet ek soontoe kom?”

“Nee, moenie.” Haastig. “Het De la Rey al...?”

“Liesl?” Skinner se stem op die agtergrond.

“Ja, oom Jack?”

“Is dit Thys?” Nou duideliker.

“Ja.”

“Sê vir hom ek bel hom oor ’n minuut terug.”

“Oom Jack sê hy sal jou terugbel, Thys.” Die verbinding gaan dood.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top