Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Alles begin met Anna deur Annemari Coetser

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Annemari Coetser

Annemari Coetser se debuutroman Oop kaarte is in 2006 gepubliseer. Die boek was ’n finalis in Sanlam en Insig se Groot Romanwedstryd. Daarna het Langverlof (2008) en Aan die windkant (2009) gevolg. Vlis met vlerke, ’n jeugroman, verskyn in 2010 en Die kamer langsaan in 2012. Annemari skryf ook graag kortverhale en kinderverse.


Opsomming

Alles begin met Anna
Annemari Coetser

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798176170

Dis 1934. Poppie Nienaber is 21 jaar oud, en sy werk in die Haberdasheryafdeling in Mr Cristal se algemene handelaar op Bethlehem. Saam met haar ouer sussie, Anna, woon hulle in tant Nelie se losieshuis in die straat af, en haar broer Jannie kom kuier gereeld op ’n Sondagmiddag, sedeprekies en al. Poppie weet daar is geheime in die familie waarvan sy niks weet nie, en dat Sussie Anna dinge van haar weghou. Party goed onthou sy vaagweg, soos haar ma wat staan en strykwerk doen, die skroeireuk van ’n stryklaken wat hang in die lug. Dis wanneer Poppie besluit om haar eie potjie te gaan krap op Senekal dat dinge stadig in plek begin val. En dis hier waar sy die spoorwegklerk Frikkie Bredenkamp ontmoet ...

Alles begin met Anna is losweg gebaseer op die skrywer se eie familiegeskiedenis. Die roman vertel ’n roerende verhaal oor drie geslagte heen, van voor die Anglo-Boereoorlog tot die aanloop en gebeure van die Tweede Wêreldoorlog.


Uittreksel

’n Regte ou droëntydsvoëltjie
Bethlehem, Mei 1935

“By wie leer ’n mens dan om lief te hê as jy nie ouers het nie?” Faan lig ’n rooiblonde wenkbrou. Hy haal die pyp uit sy mond en wuif met die steel in Poppie se rigting.

Poppie antwoord nie. Sy sit, knieë opgetrek, met haar rug teen ’n boom. Faan se baadjie hang aan ’n tak bokant haar. Kort-kort roer ’n ligte wind deur die boom en waai die baadjiemoue rond asof ’n onsigbare persoon onhoorbare musiek dirigeer. Dis irriterend, nes Faan se pogings om haar te ontleed.

Wat sal hy doen as sy dit met hóm doen? Kyk hoe sit-lê hy op sy een elmboog, sy lang bene op die reiskombers uitgestrek. Kyk hoe maer is hy, ’n regte ou droëntydsvoëltjie. En dink hy dalk sy yl snorretjie onderstreep die belangrikheid van sy aristokratiese neus? Eendag gaan sy hom dit nog vra.

“Poppie?”

“Hmm?”

“Ek het ge-. . .”

“O ja, die liefde. Ek weet tog nie, Faan. Eeue van nou af sal argeoloë miskien op my geraamte afkom. Dan kan hulle dit ontleed om te sien watter invloed ’n gebrek aan liefde op ’n mens se beendere het.” Hy glimlag net en skud sy kop.

“Ag, man!” sê sy. “Mens leer seker maar by ander mense? My eerste aand in die weeshuis toe ek vreemd en bang was, het ’n dogtertjie met haar koue voete by my in die bed kom klim en my ’n storie vertel. My ousus pamperlang en piep my op. Sy probeer steeds om my ordentlik groot te maak. My een broer probeer my die hemel in preek. Die ander een wys niks, maar . . .” Sy trek haar skouers op. “Miskien werk dit nie. Ek is nie juis liefdevol nie.”

Hoekom stel hy enigsins in haar of haar kinderjare belang? Hy is net ’n vriend. ’n Gawe maat weliswaar, maar sy het hom skaars twee maande gelede by die Christelike Strewersunie ontmoet. En tog, sy het hom pas vertel hoe oom Louis van Rooyen hulle een koue oggend by die Charlotte Theron Kinderhuis hier op die einste Bethlehem kom aflaai het.

“Was daar dan nie ander familie na wie julle kon gaan nie?” por hy verder. “Ek dog dan ons Afrikaners sorg vir ons eie mense.”

“Weet jy wat het Dog gemaak?” vra sy snipperig, en kry dadelik spyt. “My ma het net een broer gehad en sy was vervreemd van hom en ook van haar pa,” verduidelik sy. “Ons grootouers aan my pa se kant van die familie was al dood.”

Sy en Faan was vanoggend kerk toe en hou nou piekniek in Pretoriuskloof. Die Jordaanrivier kabbel gesellig oor die klippe en dis ’n sonnige herfsmiddag. ’n Dag vir sit en twak praat. Sy wil op die reisdeken afskuif tot op haar rug. Met die son op haar gesig, arms onder haar kop, wil sy suutjies wegdommel.

Maar Faan het die manier om in jou nersderm te krap tot hy alles uit jou getrek het. Hy is negentien, terwyl sy pas twee-en-twintig geword het. ’n Nat-agter-die-ore-kêreltjie met sproetgesig en rooiblonde hare; dis net die pyp wat ’n sekere waardigheid aan hom verleen. Tog laat sy indringende vrae en soort-van-wysheid hom ouer as sy jare voorkom.

“Is jou storie nou klaar?” vra hy.

“Dis nie ’n storie nie, hoor! Alles wat ek jou tot dusver vertel het, is die heilige waarheid.”

’n Rooigetinte herfsblaar wapper van die boom af en land op die reisdeken langs haar. Sy rol dit in ’n stywe rolletjie op, maak dit weer oop en stryk dit glad. Sy is seker onregverdig teenoor Faan. Hy is skynbaar een van daardie rare wesens wat meer daarvan hou om te luister as om te praat.

Miskien moet sy hom maar van haar grootwordjare vertel. Dit sal dalk goed wees om weer vir haarself die feite agtermekaar te kry, want daar is gate in die verhaal. Sy sweer Sussie Anna steek iets vir haar weg. Maar as sy uitvra, lag haar suster dit altyd weg.

Sy trek die piekniekmandjie nader en maak dit oop. Faan se ma het ’n bottel gemmerbier ingepak. Sy sukkel om dit oop te kry.

“Gee vir my,” sê hy.

Hy draai die prop los, vou ’n bordedoek oop en haal twee glase uit.

Die gemmerbier bruis en stoot op toe hy vir hulle skink.

Sy proe daaraan en smak haar lippe. “Heerlik. Weet jy hoe gelukkig jy is? Eintlik is jy ’n bedorwe brokkie, Stefanus! Jou ma maak seker elke dag jou bed op, nè? En ek wed as jy saans tuiskom, sit jy net aan en eet jou trommeldik.”

Hy breek ’n ligte windjie op. “Skuus tog. My geboorte was maar net ’n gelukkige toeval, hoor. Maar ek sal elke dag ’n minuut lank ’n gewyde stilte hou, as jy wil. Uit medelye vir jou.”

“Ja, ou Slim Jannie Smuts. Tel net ten minste elke dag jou seëninge.”

Hy lig haar hand van die kombers op en hou dit vas, vat om die beurt aan elke vinger. “Só tel ek my seëninge: Nommer 1, jy. Nommer 2, my ma se kos. Nommer 3, my kamer. Nommer 4, jy. Nommer 5, jy.”

“Ag, jy’s stuitig.” Sy trek haar hand uit syne. Haar maag knor; die oggenddiens was lank. “Dis tyd om kos in jou mond te kry, dat jy kan ophou twak praat.”

Faan moet tog nie dink sy gee hom aanleiding nie. Dis die laaste ding wat sy wil doen. In die groot geheel van wat sy met haar lewe wil doen, pas Faan nie in nie. Ook geen ander man nie. Nie nou nie, en miskien nooit. Altemit word sy nog soos Sussie Anna: onafhanklik, sterk, ’n bekwame vrou. Haar suster het nie ’n man in haar lewe nodig nie, so lyk dit.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top