Droogte

Dit is droog. Vader van genade, dit is dróóg. In die dertig jaar wat ek boer het ek nog nie só ’n erge droogte beleef nie. Die son kom rooi en warm op in die ooste en soos hy sy pad deur die dag na die weste vind, word hy warmer en genadeloser. Dit word ’n wit verblindende lig wat op die aarde neerbrand en alles verskroei en soos ’n dors bees die water uit die gronddam suig, jy kan amper sien hoe sak die water. En wanneer hy by die weste kom na sy reis deur die hemelruim, hang hy rooi en warm bokant die horison asof hy nie genoeg skade aangerig het nie. Wanneer hy wel besluit om te gaan rus vir die nag koel die aarde nie af nie. Dit is meer leefbaar, maar dit koel nie af nie.

Dit is nou ’n paar jaar wat die weer besig is om te verander; dit word laat koud met warm dae tussen in, óf die somer kom vroeër met koue dae tussen in. Maak nie saak of die winter laat is en of die somer vroeg is nie; dit krap die natuur deurmekaar. Aan die begin van die vroeë somer het hier so ’n paar stofnat buitjies kort opmekaar uitgesak. Na die min reën van verlede jaar het die natuur wakker geskrik; die saad het ontkiem en die opslag het lowergroen gestaan. Die diere het hulle knuppeldik gevreet en daar was vreugde. Die ramme het begin werk, soos die Skepper dit beplan het, en die ooie het begin uier maak.

Die lug was na hierdie paar buitjies skoon en blou – wolkloos. En as die wind opgesteek het, was dit uit die weste. Warm en skroeiend. Die son en die westewind saam was genadeloos. Van die veld het daar niks oorgebly nie, behalwe vir ’n paar bossiegeraamtes wat versteend met hulle droë takkies in die lug staan en smeek het.

Die skape het nie meer veld toe geloop nie. Hulle het heeldag om die waterkrip gelê. Eers het hulle my geïgnoreer, maar nou dat hulle begin lam loop hulle na my toe en blêr beskuldigend terwyl die swak, pasgebore lammers blêrend en val-val agter die ooie aankom. Party ooie maak die pasgebore lammers skoon, kyk na my en blêr voordat hulle die lam net so los en wegloop. Hier en daar pomp ’n lammetjie aan ’n uier – eers verwoed en dan al swakker – totdat hy verward en moedeloos die droë speen los.

Ek het baie gebid en sommer net met God gepraat. “Here,” het ek gesê. “Sien U dat die skaapooie na my toe kom vir hulp, of kom beskuldig hulle my dat ek nie my werk doen nie? Dit maak nou nie saak of hulle my beskuldig of hulp vra nie, maar so kan dit nie aangaan nie. U het my, die mens, oorsiener of voorman oor hierdie diere gemaak; dit staan so geskrywe in Genesis. En die ooie weet dit, anders sou hulle nie na my toe kom nie. Maar Here, hoe moet ek my werk doen as U nie U deel doen nie? As dit nie reën nie, is daar nie veld is nie en as daar nie veld is nie, is daar nie kos vir U skepsels nie.”

My gebede en pratery met God het nie veel gehelp nie. Die lug het skoon en blou gebly, behalwe vir die son wat verwoestend elke dag sy pad, ekstra stadig en bloedrooi, deur die blou lug sy weg na die weste baan. Van die ooie was nou só swak dat hulle nie meer opgestaan het nie; die lammertjies het wees en blêrend bymekaar vertroosting gesoek; ander het net gevrek.

Ek het weer met die Here gepraat: “Here,” het ek vir Hom gesê. “U het my oorsiener oor hierdie diere gemaak. Soos ek dit verstaan, staan ek vir U in wanneer U nie hier is nie en dit lyk nie vir my U is hier nie. Here, ek gaan môre die lammers se kele afsny, want só kan dit nie aangaan nie. Van die ooie bly al staan, maar hulle het nog ’n kans. Die lammers het geen kans nie.”

Ek het daardie môre vroeg opgestaan en na die lammers geloop en hulle een vir een keel-af gesny. Later het daar oral lammers gelê wat in hulle eie bloed roggelend vrek. My broekspype en my skoene, my hande en die mes was later rooi van die bloed. Ek het later ophou tel, maar ek het meer as driehonderd lammers geoffer. Die ergste was dat die ooie na my gekyk het sonder om ’n geluid te maak; sonder verwyt in hulle oë. En ek was naar. Ek het my daardie aand meer as eenkeer gewas, maar ek kon nie skoon kom nie.

Daardie nag het ek wakker geword en gehoor hoe die kareeboom se tak liggies teen die sinkdak skuur. Ek kon dit nie glo nie. Ek het my asem opgehou, want ek het gedink ek verbeel my, maar toe hoor ek weer die ligte skuurgeluid en ek het geweet die noordewind begin waai.

Ek het vroeg opgestaan. Die noordewind het liggies gewaai en die son het nie so rooi opgekom nie. Maar die lug was nog skoon en blou. Die son was nie só genadeloos nie en het vinniger na die weste gereis. Daardie nag het die kareetak harder teen die sinkplaat geskuur.

Ek het weer vroeg opgestaan en die noordewind teen my gesig gevoel – dit was vriendelik. Ek het na die son gekyk wat minder kwaad lyk. Ek het opgekyk na die skoon blou lug. En toe kyk ek na die noorde waar die reënwolke en die uitkomste vandaan kom en op die verste horison in die skoon blou lug was ’n wolkie so groot soos ’n man se hand.

Kommentaar

  • Dr Jannie Botha

    'n Eerlike en aangrypende beskrywing van wat droogte eintlik beteken. Ons, stedelinge, wil hê die damme moet vol wees, maar ons verstaan nie die nood van mens en dier wanneer 'n wolkie so groot soos 'n man se hand nog nie sigbaar is nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top