Drome is inderdaad wonde

  • 0

Bron: pubs.sciepub.com

In 'n tafereel nes
Sewe dae by die Silbersteins
is daar 'n party met mans gepikkewyn.
Ek is 'n gas, ongenooid,
drink van die sjampanje en wyn
op 'n ronde tafel, als gerangskik
soos dekstoele op die Titanic
(onthou dit is net 'n droom).
Die gasvrou sien ek nie;
haar man wel. 'n Ander vrou
sonder 'n herkenbare gesig
lewer kommentaar op hierdie gedig,
wat sy troebel vind. Ek verlaat
die party, ongesiens en by 'n hotel
langs hierdie viering
lê daar 'n mat met vreemde patrone.
Ek het ‘n dieremasker op;
niemand het my gewaar nie.
Toe ek die gedig wil terugneem
na die plek van oorsprong
waarsku my vriend:
"Oppas, die vers
het jou vingerafdrukke op."
Die hele nag lank kwel dit my.
Aan wie behoort hierdie gedig?
Aan my of aan my surrealistiese droom?
Daar is geen drome nie, net nagmerries
staan teen 'n muur geskryf.

 

Joan Hambidge

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top