Drie vroue en ’n meisie: ’n onderhoud met Hans du Plessis

  • 1

Drie vroue en ’n meisie
Hans du Plessis

Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799386110

Skrywers oor hul nuwe boeke: Hans du Plessis gesels met Naomi Meyer oor Drie vroue en ’n meisie.

Hans, baie geluk met die verskyning van jou boek, Drie vroue en ’n meisie. Waar kom die titel van hierdie boek vandaan?

Dankie, Naomi. Die titel het sommer net gekom omdat dit die verhaal vertel van vier geslagte vroue van Varkensfontein, distrik Rysmierbult buite Potchefstroom, en die jongste is nog ’n meisie en ’n moderne student, dus sy is die meisie, terwyl die vroue al óf dood óf oud is. En Vier vroue het nie opwindend geklink nie ...

Vertel my asseblief die storie in jou eie woorde.

Die storie is regtig deur ’n vriendin – ongelukkig nie ’n jong student nie – van ons vir my en my vrou vertel vir die waarheid: ’n Skotse delwer en sy vrou kom in die twintigerjare van die vorige eeu soek na diamante op die delwerye van Rysmierbult. Die Skotse vrou sterf pas na die geboorte van haar eerste dogter wat in pleegsorg kom van een van die arm boere in die omgewing, maar die pleegma sterf en die pleegpa trou weer met ’n gebreklike vrou wat die Skotse kind soos ’n Aspoestertjie laat werk. Uit radeloosheid trou die Skotse dogter dan, teen heftige teenkanting, met ’n ryk boer se sieklike seun, wat ook gou sterf. Sy trou dan, oorhaastig met die ou wat die dorsmasjien bedryf en hulle trek stad toe met drie kinders. Een hiervan is dan die derde vrou van die storie en sy beland in die weeshuis. Dit is die kinderhuiskind se dogter, die vierde vrou, die meisie, wat vir ons die storie van armoede en vernedering kom vertel. Hiervan moes ek ’n roman maak.

En vertel my asseblief wie is die vroue, en wie is die meisie. En hoekom.

Ek dink dit blyk uit die vorige antwoord. Die moderne meisie moet in die opsigtelike liefdesverhaal van vandag pas.

Die boek handel nie net oor karakters nie; landskap is ook ’n karakter. Jou taalgebruik skilder die omgewing, wat saamhang met klimaat: “Waar die somer jou onder skreiende applous van sonbesies jou na die Ceylon van karige karee verban.” En: “Waar die winter, soos ongeërgde bure, jou verneder en liefdeloos kaal buite in die swartryp los.” Waar speel jou boek af? En watter seisoen spreek die meeste tot jou, die skrywer?

Vir my is die natuur, die skepping, nog altyd ’n karakter, eintlik ’n medemens wat jou slyp. Die verteller is juis self ’n boorling uit die omgewing van die roman en ’n jong skryfkunsprofessor wat die letterkunde ken en wat kan aansluit by Afrikaanse poësie, en dus redelik natuurlik kan aanhaal uit bestaande gedigte om hom te help om die Noordweshoëveld te beskryf – liries en nostalgies as hy wil. Die somer is die “gelukkiger” dele van die roman.

Skotland is ook ’n tema in die boek. Wil jy hierop uitbrei? En hoekom Skotland?

Skotland is waar die delwer en sy vrou in die werklikheid vandaan gekom het. Dit het ook met die Europese wortels van die Afrikaners te doen. Daarom is haar naam Amléth, wat dui op die Oud-Noorse sage waarop Shakespeare sy Hamlet grond. Die tweede geslag vrou is Cathy, al minder vreemd. Die derde vrou is Katrina en die meisie se naam is die heeltemal Afrikaanse Katryn.

Op die omslag staan daar “vooroordeel is die een sonde wat niemand onaangeraak laat nie”. Aan watter vooroordele het jy gedink terwyl jy die boek geskryf het? Enige inspirasie op hierdie terrein, of iets wat gebeur het wat jou hieraan laat dink het toe jy die boek geskryf het?

Natuurlik het die vriendin se vertelling my laat dink, want vir die werklike mense wat karakters in die boek word, was die vernedering van vooroordeel en stereotipering die kern van wat hulle wou laat oorvertel. Ek het self grootgeword in ’n woonbuurt waarop mense kon neersien, en ek dink my minagting vir minagting kom van kleins af.

Jy skryf oortuigend oor vroulike en manlike karakters. Kom dit vir jou vanself? Hoe dink jy jou, as skrywer, in die skoene van ’n man of ’n vrou in oor wie jy skryf?

Is dit nie maar ’n natuurliker manier van doen nie? Ek dink as ’n mens lief is vir mense en vir gesels, is dit ’n spontane ding om in ander mense se koppe of harte of skoene te kan klim. Ek hoef nie verlief te wees om ’n liefdesverhaal te skryf nie, en, dankie tog, ek hoef nie ’n moord te pleeg om ’n speurverhaal te skryf nie. Dalk is die skryftalent om impulsief te kan skryf, belangriker as die talent om intellektueel te verstaan? Ek verstaan talent nie, maar ek verwonder my oor die genade daarvan.

Om twee temas uit te lig: Jou boek handel oor delwers, en dit handel oor oorlog en sy nalatenskap. Hoe het jy jou navorsing gedoen?

Eers wyd gelees, met die ou mense gaan praat en toe, met die hulp van die vriendelike mense by ons museum, rondgery en die ou delwerye en ou delwers gaan besoek. PG du Plessis en sy vrou Marie het dekades in die omgewing gebly en die geskiedenis en die agtergrond geken. Ek kon ou notules van die VLU kry, want Marie se ma was al sedert die veertigerjare die VLU se sekretaresse in die Rysmierbult-distrik. Die huidige eienaar van die plaas Varkenskraal is ’n vriend van ons en ek kon op die plaas rondloop soos wat ek wou. Tussen die rêrige kleims.

Vertel my van Varkensfontein, ’n plek waarvan mens nie sommer die naam sal vergeet nie!

Die plaas se oorspronklike naam, vandag nog, is Varkenskraal, glo omdat die wilde varke lief is vir die rosyntjiebosse. Omdat die plot fiktief is, het ek die romanruimte Miersehoop en Varkensfontein genoem. Onthou jy die varke van Animal Farm?

Jy skryf in baie variëteite van Afrikaans. Hoe beleef jy dit verskillend, hoe is dit vir jou dieselfde, die Afrikaans in al sy gedaantes? En jy skryf ook prosa sowel as poësie. Wat kom vir jou die mees natuurlike, of wat is vir jou lekker en wat is uitdagend aan al hierdie verskillende maniere van taal?

Seker omdat ek in my siel ’n taalkundige is en uit direkte navorsing weet dat daar net een Afrikaans met baie tonge is, is dit vir my seker amper natuurlik om die taal in die boek by die mens in die boek te sit, want hierdie deeltjies is almal krummels van dieselfde korsie. Lekkerste genre? Die prosa, want ek voel dit sonder om dit te bedink. My genade is maar my woorde. Of is my woorde my genade?

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top