Drie vrae aan Joanne Alexander: Wenner van Kuier, LAPA en PEN Afrikaans se kortverhaalkompetisie

  • 0

Joanne Alexander is gister aangekondig as vanjaar se algehele wenner van Kuier, LAPA en PEN Afrikaans se kortverhaalkompetisie.

_MG_9067

Joanne Alexander ontvang die prys by Japie Gouws. Foto: Naomi Bruwer

Alexander het gewen met haar verhaal “Meester”. Sy sal R5 000 ontvang, die skryfskool bywoon en haar verhaal sal ook in Kuier gepubliseer word.

Drie vrae aan Joanna Alexander

Hallo Joanna, baie geluk daarmee dat jy die Kuier | LAPA | PEN Afrikaans-kortverhaalkompetisie gewen het. Vertel ons lesers asseblief wie jy is?

Ek's 48 jaar oud, getroud met Neil, en 'n ma van drie: twee dogters en een seun. Die oudste dogter is 'n dokter en reeds getroud (geen kleinkinders nog nie); my seun is derde jaar by UCT en doen chemiese ingenieurswese, en die jongste dogter is tweede jaar by UV, waar sy bestekopmeting doen.

Ek's oorspronklik van Upington, maar woon vir die afgelope ses jaar in Bloemfontein, waar ek onderwys gee (by Heatherdale Sekondêre Skool). Ek is vir altesaam 26 jaar al 'n taalonderwyser. So ek't maar altyd 'n liefde vir Afrikaans gehad, wat ek by my ma geërf het. Ons het grootgeword met boeke, biblioteke, lees en nogmaals boeke. Dis vandag nog vreeslik moeilik vir my om van selfs 'n tydskrif ontslae te raak.

Vertel ons van jou wenverhaal “Meester” – wat was jou inspirasie?

"Meester" is een van my eerste stories wat ek ooit geskryf het. Dis amper tien jaar oud. My inspirasie vir al my stories kry ek gewoonlik uit die daaglikse lewe, dingetjies wat deur die loop van 'n dag rondom my gebeur, en uitdrukkings, want dit prikkel dan iets in my kop, of liewer my hart, want ek skryf uit my hart en nie noodwendig uit my kop uit nie. En dan bou ek maar my stories daaromheen. Op dié stadium is ek nie meer seker wat presies daardie storie geïnspireer het nie, maar ek wou definitief die "stilte" wat rondom daardie spesifieke aspek geheers het, of dalk nog steeds heers, uitlig.

Vertel ons van die lewe ná “Meester” – wil jy nou 'n boek skryf? Of gaan jy by kortverhale hou?

Dis die tweede keer dat ek die algehele wenner van die Kuier-kompetisie is, so ek begin nou glo dat ek dalk wel talent het. Ek dink enige skrywer se droom is om uiteindelik 'n boek te skryf. Of ek soveel talent het, weet ek nie. Maar deel van die wenprys is 'n skryfslypskool wat ek gaan bywoon. Dalk sal ek die "tools" daar bemeester om dan so 'n projek aan te pak. As taalonderwyser het jy natuurlik nie tyd om so 'n projek aan te pak nie, maar die toekoms sal maar leer. Op dié stadium het ek plus-minus 20 kortverhale, en ek sal maar sien wat ek daarmee gaan doen.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top