Dramaskryfskool by US Woordfees

  • 0

Die ATKV bied van 5 tot 7 Maart 2015 tydens die US Woordfees in Stellenbosch ’n skryfskool aan vir nuwe, jong en opkomende dramaturge.  Vir drie dae lank sal daar aan dramatekste geskryf en geskaaf word.  Onderwerpe wat bespreek sal word, sluit in: genre en styl, storielyn, karakterisering en dialoog, asook opvoerbaarheid.  Tydens praktiese werksessies sal kursusgangers nuwe tekste skep.  

Die kursusleiers is Pierre-André Viviers (beste nuutgeskrewe Tienertoneelteks 2012 en 2014, Anderkant nêrens se mense, Droombos), Johann Smith (beste nuutgeskrewe Tienertoneelteks 2008 en 2011, draaiboekskrywer vir 7de Laan, skrywer van oa Simfonia, IntussenIN en ONSkuld) en Tina Kruger (mede-skrywer van die film Leading Lady, die jeugdramareeks Sterlopers en die dramareeks Getroud met Rugby 5, asook skrywer van toneelstukke soos Slotte en Grendels, NX Brieweboks en Kaaskenades).

Hennie van Greunen (van Wordsmith’s Theatre Factory, skrywer van Tjello(esie) en Violin(ce), Lara Smit: Boernooi, Blougat, Lyf, Anna se Engel, Oorlog, Die Hangkas Haas, Die Laaste Aand, Junkiedrome, Café Boerlesque, K, gly en Jong Dames Dinamiet, asook vertaler van formaat) en Wim Vorster (skrywer van Skimmespel, Waterman, Terugkere, Kruispad, Smeltkroeg en Pretpark, asook outeursregadministrateur en bibliotekaris by DALRO vanaf 2000 tot 2010) sal as gassprekers lesings aanbied.

Koste vir die skryfskool beloop R980 per persoon – dit sluit die kursusmateriaal, middagetes en ligte verversings in.  

Alet Steenkamp, tienerboekskrywer wat in 2014 die skryfskool bygewoon het, beskryf dit as “een van die beste skryfskole wat ek bygewoon het. Die terugvoer en kommentaar op my teks het dit baie waardevol gemaak”,  Nog ’n kursusganger sê: “Ek sal elke jaar kom, dis hoe verrykend dit was.”

Kom, skep ’n nuwe teks met behulp van kundige leiding en praktiese wenke!

Stuur ’n e-pos na lizaneb@atkv.org.za of skakel 011 919 9078 vir meer inligting.
Die sluitingsdatum vir inskrywings is 13 Februarie 2015. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top