Doodstraf

  • 19

Die doodstraf was onder die eerste goed wat met die aankoms van demokrasie tot ’n einde gebring is. Selfs voordat die Grondwet die reg op lewe bevestig het, en voordat die grondwetlike hof dit as ongrondwetlik bevind het om die doodstraf toe te dien, was daar alreeds ’n onwilligheid om mense met die dood te bestraf.

Tog word daar elke keer wanneer daar ’n grusame moord gepleeg word, of die slagoffer van ’n misdryf ’n kind is, met heimwee terugverlang na ’n tyd toe oortreders se lewens van hulle weggeneem kon word. Wraak, al is dit dan nou deur middel van die staat as proxy, was nog altyd een van die magtigste motiveerders vir mense. En so kort voor ’n verkiesingsjaar kan die beroep op populistiese opswepery nie skade doen nie. Dis dus nie verrassend dat beide die IFP en die NFP tydens die debat oor geweld teen vroue en kinders gevra het dat die doodstraf weer ingestel moet word nie. Dis glad nie realisties nie, maar dis seker half te verwagte.

Dis nie heeltemal so maklik soos wat hulle skynbaar dink nie. Om enige bepaling van die Grondwet te verander, is ’n tweederde-meerderheid stemme in die parlement nodig. Die Grondwetskrywers het dit juis moeilik gemaak sodat nie enige politikus die menigtes kan opsweep en oortuig om die grondbeginsels van ons demokrasie te verander nie.

Boonop is die beginsel om staatsgefundeerde moord, want dit is wat die doodstraf is, toe te laat, diep problematies. Wil ons regtig die staat die mag gee om ’n einde aan ons lewens te bring? Vertrou ons die staat so ver, veral in lig van die wyse waarop staatsorgane hul mag misbruik? Kan ons regtig bekostig om ’n diskoers van ’n oog vir ’n oog van stapel te stuur in omstandighede waar die regering alreeds hul blindheid bewys het?

Meer as dit, is ons vertroue in die regstelsel so diep gesetel dat daar nie ’n greintjie twyfel oor regterlike besluite bestaan nie? Regters is ook mense, net soos enigiemand anders, en hulle maak ook foute. Die verskil is net dat hul foute nie reggemaak kan word indien ’n persoon alreeds tereggestel is nie.

Regsgeleerdes weet dat ’n kliënt se straf baie afhang van die voorsittende beampte voor wie hy/sy verskyn, se voorkeure. So byvoorbeeld sal een regter verkies om lewenslange gevangenisstraf op te lê, terwyl ’n ander een weer die doodstraf sal oplê. Teen die tyd dat ek begin praktiseer het, was die doodstraf alreeds net ’n akademiese oefening. Dit is in 1990 opgeskort en toe formeel in 1994 tot niet verklaar. Tog het ons almal geweet van een spesifieke regter voor wie niemand hul kliënte wat van verkragting beskuldig is, wou laat verskyn nie. Hy was ’n regter wat altyd uitstekende, regverdige uitsprake gelewer het. Totdat sy eie dogter verkrag en vermoor is. Daarna het elke verkragter wat voor hom verskyn het, sonder uitsondering, die doodstraf gekry.

Een van die voorleggings wat destyds voor die Waarheid-en-Versoeningskommissie gebring is, was deur Paula McBride. Die statistieke wat sy voorgehou het, was as volg: tussen 1975 en 1985 is knap oor 1 000 mense gehang. Van daardie persone was net 22 wit. Die regters, daarenteen, was almal wit. Haar argument was dat daar ’n besliste rasse-element aan die doodstraf was, en dat dit juis daarom as verdag beskou moet word. Vandag sal die samestelling van die regters anders lyk, maar ek vermoed die persone wat met die dood bestraf word, sal nog steeds meestal swart wees.

Die onderliggende argument wat die doodstrafondersteuners aanvoer, is dat dit misdaad sal verminder. Dis egter nie korrek nie. Heelparty studies het bewys dat swaarder strawwe nie misdadigers afskrik nie. Van veel groter afskrikkingswaarde is doeltreffende polisiëring. Of anders gestel, die wete dat hulle gevang sal word, is groter afskrikking as die moontlikheid van ’n swaar straf indien hulle dink hulle kan wegkom met die misdryf.

Ons land gaan gebuk onder ’n gety van misdade wat toenemend wreder en gewelddadiger word. Dit kan nie ontken word nie. Die doodstraf is egter nie die oplossing nie.

Daar is geen korttermynoplossing nie.

Om die gety te swaai, om die keerpunt te stuit, kos harde werk. Dit benodig leierskap wat die koue feite van ons ongelyke samelewing in die gesig kan staar en met oplossings vorendag kan kom. Ons het nie op die oomblik hierdie leierskap nie, en selfs met die opposisiepartye is daar te veel foutlyne om te verwag dat hulle die nodige leierskap aan die dag kan lê.

Op die minste het ons nodig om indringend na ons polisiediens te kyk. Polisiebeamptes is swak besoldig, ontoereikend toegerus, en word met die minimum-opleiding in die veld in gestuur. Voeg hierby wisselvallige leierskap, voorskrifte wat gedurig verander en openbare betrekkinge wat veel te wense oorlaat, en die resep vir ’n ramp is daar. Ons verwag van ons polisiebeamptes om werk van hoogstaande gehalte te lewer, maar hulle is van die swaksbetaalde lede van die staatsdiens. Hulle toerusting is verouderd. Daar is nie naastenby genoeg polisiebeamptes nie. Boonop is die gebiede met die hoogste misdaadsyfers dikwels die swakste beman, terwyl die sg rykmansareas ’n oorvloed aan polisiebeamptes het.

Korrupsie in die polisie moet ook uitgeroei word – maar om dit te doen, moet korrupsie in die politiek en op alle vlakke in die samelewing uitgeroei word. Ons moet werk maak daarvan om ’n polisiediens te bou wat nie gebruik word om politieke geskille te besleg nie, maar wat waarlik daarop fokus om misdaad op onpartydige wyse die hoof te bied. Eers dan kan ons begin bou aan ’n polisiediens met integriteit en ’n waardige reputasie.

Daar moet ook werk gemaak word daarvan om strukturele ongelykhede in die samelewing die hoof te bied. Dringende aandag moet aan opvoeding gegee word, van graad R tot op tersiêre vlak. Hier gaan dit nie net daarom of onderrig gratis is nie. Is onderrig toeganklik? Is die beskikbare onderrig van hoogstaande gehalte? Word leerkragte toegerus om gehalte-onderrig te bied? Opvoeding is die enkele groot gelykmaker in die samelewing, en tog is die skole in die armste gebiede dikwels ook die swakste toegerus. Ons kan eenvoudig nie meer bekostig om skole te hê waar kinders buite, onder bome onderrig ontvang nie. Ons kan nie ’n situasie bekostig waar NPO’s hof toe moet gaan om die Departement van Onderwys te verplig om boeke aan skole te voorsien nie. Ons kan nie ’n situasie bekostig waar boeke in stoorkamers gehou word en nooit die skole bereik nie.

Selfs in 2017 is daar nog kinders wat in onveilige omstandighede lang afstande moet aflê om by hul naaste skool uit te kom. Burokratiese rompslomp laat ’n situasie waar die departement skole wil sluit, terwyl daar landswyd ’n tekort aan skole en onderwysers is.

Daar moet meer en beter werksgeleenthede op alle vlakke oopgestel word – iets wat weer eens saamhang met beter opvoeding. In my eie dorp sien ek elke dag jong mans en vroue doelloos ronddwaal. Daar is geen werk in hierdie resessie nie, en daar is ook geen hoop dat werksgeleenthede sal ontstaan nie. Boonop is daar hierdie onrealistiese verwagting dat die geringste werk met die vetste salaris beloon sal word.

Die kultuur van afhanklikheid van die staat vir handouts moet gestop word. Mense moet trots in hul eie vermoëns geleer word. Hulle moet leer dat hulle kan vorentoe gaan en nie hoef te wag vir ’n staatsprogram om die redding te bring nie. Mense moet geleer word dat Michael Jackson-geld nie ’n oplossing vir geldelike probleme is nie.

Dan is daar behuising. Die druk op die informelebehuisingsmark is ongelooflik groot. Nie net word groot getalle mense in klein gebiede ingeprop nie, maar die gehalte van behuising, en die infrastruktuur in daardie gebiede, is algeheel ontoereikend. Daar is tekorte aan water, elektrisiteit, mediese dienste en skole. Boonop is al daardie gebiede ver van werksgeleenthede, met onveilige en onbetroubare openbare vervoer as die enigste manier om daar te kom.

Al hierdie tekorte sou dalk nog aanvaar kon word indien daar duidelike pogings van regeringskant was om lewens te probeer verbeter. Dit gebeur nie. Die regering gebruik eerder skreiende onreg op siniese wyse om hulself en hul kamerade te help aan staatsfondse en om in beheer te bly. Droogtehulp kom nie by boere uit nie. Tenders vir bouwerk word toegeken aan persone met geen bou-ondervinding nie maar hope politieke kontakte in die regte plekke.

Politici blaas rassewantroue aan met opruiende toesprake wat skynbaar as enigste doel het om aandag van hul eie tekorte af te lei. Dis nie realisties nie. Ons plaas mense onder voortdurende druk om te oorleef, ons blaas haat aan, ons onderwerp mense aan onmenslike situasies met swak hanteringsmeganismes, en dan is ons verbaas dat hulle onmenslik optree.

Is dit ’n verskoning vir wat in ons land gebeur? Nee. Is dit verontskuldiging vir die wreedheid, die dierlikheid waarmee geweld gepleeg word? Glad nie.

My pleidooi is wel dat ons erken die "ons vs hulle"-retoriek is die maklike uitweg. Veel moeiliker is om te erken dat daar heelwat strukturele werk en nasiebou gedoen moet word voordat ons samelewing gaan verander.

Dit is moontlik. Ons hoef maar net te kyk na Rwanda vir inspirasie. Hulle het in ’n dekade hulself omskep van ’n land in die midde van burgeroorlog tot een van die nasies in Afrika wat die leiding op baie vlakke kan neem. Hulle is nie uitsonderlik nie. Ons het óók eenmaal die mantel van reënboognasie, hoop van Afrika gedra.

Die bereidwilligheid onder mense is daar. Die basiese, inherente goedheid van die oorgrote meerderheid van ons mense bestaan. Ons moet net vergeet van politieke leiers om die begin te maak, en dit self doen.

Nkosi sikelel’ iAfrika.

  • 19

Kommentaar

  • In die VSA waar swartes die minderheid is: "black youths, who make up 16% of the youth population, accounted for 52% of juvenile violent crime arrests, including 58% for homicide (moord) and 67% for robbery.” By contrast, the only categories where white youths surpassed blacks were in liquor law violations and driving under the influence." Crime Stats Alarm Black Leaders (USA). http://americanfreepress.net/crime-stats-alarm-black-leaders/
    Die wêreldlande met die hoogste moord syfers per 100 000 bevolking is oorwegend swart meerderheid lande asook ander bloed gemeng met swart. Suid-Afrika staan negende op die lys van 191 opgestelde lande. Lesotho met amper nul wit bevolking staan sesde op die lys. Die eerste Wes-Europese land nl België staan 136ste met Finland 139de daarna; Frankryk 157de; Engeland 164de. Die rede dat die VSA op 92de staan, is juis as gevolge van sy hoe persentasie swart bevolking wat sy posisie beïnvloed. http://www.indexmundi.com/facts/indicators/VC.IHR.PSRC.P5/rankings.
    In SA is die provinsie met die hoogste moordsyfer die Wes-Kaap en die veiligste met die laagste moordsyfer is Limpopo. Africa Check https://africacheck.org/factsheets/factsheet-south-africas-201415-murder-and-robbery-crime-statistics/.
    Die oorspronklike hoofrede vir die afskaffing van die doodstraf is juis die verleentheid vir die nuwe swart regering om te erken dat moord onder eie geledere selfs onder die wit regering, geensins na wense was nie. Hulle sou eerder dit laat propageer dat wittes bevooroordeeld teenoor swartes was in die handhawing van die doodsvonnis.

    • In Suid Afrika: Prisons race shock." However, the coloured population was incarcerated at a rate of almost 651 per 100 000 people. This was almost twice the imprisonment rate of the African population, which was 342 per 100 000 people in 2007. "White and Indian populations were incarcerated at the same rate of around 60 per 100 000 people." Verklaar dit moontlik hoekom die Wes-Kaap die hoogste moordsyfer in die land het?
      http://www.iol.co.za/news/south-africa/prisons-race-shock-426802

      • Chris Marnewick SC

        Die teregstellings-registers wat die Departement van Justisie gehou het (1902 tot 1994) en wat by die Landdroskantoor in Pretoria op die klerk van die hof se rakke te sien is dui op 'n soortgelyke wanbalans. Die aktiwiteite van die Kaapse bendes het die gevolg gehad dat dosyne van hulle lede elke jaar gehang is, soms ses tot agt op 'n dag, en tot soveel as 50% van die totale teregstellings in 'n jaar.

    • Chris Marnewick SC

      Die feite oor die doodstraf soos dit in SA toegepas is, is so ongemaklik dat ek dink my kommentaar sal nie gepubliseer word nie.

      • Chris.

        Dit is jammer dat ons oningelig gaan bly, en aan persoonlike spekulasie oorgelaat word wat jy hierbo bedoel. Jou feite sou vir die leser seer sekerlik interesant gewees het.

  • Met hierdie hele misplaaste konsep van "Reg tot Lewe", laat dit my terugdink toe die hartchirurg, Chris Barnard op TV dit bevraagteken het dat die "Reg tot Lewe" net aan gepamperlangde moordenaars in tronke van toepassing is, maar geensins op onskuldige geaborteerde babas nie.

  • Tronke is reeds oorvol, waarom, want misdadigers weet hulle kan maar voortgaan en sal NIKS OORKOM NIE. Om te redeneer dat die doodstraf GEEN EFFEK SAL Hê NIE, gee my die idee dat die skrywer onderliggend 'n vrees het vir die "idee van doodstraf" eerder as wat bereik kan word daardeur. Dat ons sit met korrupte en onbeholpe mense in ons parlement en dwarsdeur die land is nie te betwyfel nie, maar om net met die toestand voort te ploeter is ook dwaas. Die skrywer probeer 'n mooi prentjie skets wat nie realisties is nie! Aarde toe kom en bietjie rondkyk wat om haar aangaan en bewus maak van die stryd wat die blanke in ons land ervaar, sal haar dalk lig gee!

  • Chris Marnewick SC

    In die loop van die navorsing wat ek vir Shepherds & Butchers (Umusi 2008) vertaal as In die Laksman se Skoot (Protea 2016) gedoen het, het ek SA en ander lande se doodstrafbeleid, regsbeginsels- en metodiek deeglik bestudeer en onder andere die volgende afleidings kon maak:
    1. Dit is nie moontlik om 'n rasionele debat oor die onderwerp te voer nie want elke persoon kom daar aan met sy of haar persoonlike morele of geloofsoortuigings.
    2. Dit is 'n mite dat die apartheid-regering dosyne vryheidsvegters gehang het. Die getal is so min as 10 of 12. En almal is gehang vir moorde wat elders ook so be-oordeel en gestraf sou word.
    3. SA beleef tans so ongeveer 50 moorde per dag. Dit is die slagoffers. By elke moord - my ondervinding - is daar gemiddeld 2 of 3 daders betrokke; dus so 100 tot 150 per dag. Om die doodstraf slegs op slegs 'n derde van hulle toe te pas, is doodeenvoudig nie prakties uitvoerbaar nie. Gaskamers? Masjiengewere? En wie moet hierdie vuil en traumatiserende werk namens ons ons doen?
    4. Paula McBride se statistiek vertel nie die hele storie nie. Toe, soos nou, het die meeste moorde binne die swart en gekleurde gemeenskappe plaasgevind. Die hangsyfers het so min of meer die bevolkingsaamstelling weerspieël.
    5. In die praktyk - waarvan ek deel was as advokaat en regter - is moorde in die swart gemeenskap maklik vir onbenullige redes afgewentel na strafbare manslag toe; so asof 'n laer standaard van swart persone verwag is. Nie so met wit beskuldigdes nie.
    6. Daar moet ernstige twyfel wees ten opsigte van die bevoegdheid van sommige regters om hierdie soort van werk te doen, siende dat die ANC die aanstellings beheer en orals sy kaders ontplooi of hulle nou bekwaam is of nie. Die beginsels wat in doodstrafsake betrokke is of kan wees is ook sodanig dat die regter liefs vlot moet wees in Engels en Afrikaans, en in staat moet wees om Nederlands, Duits, Latyn en selfs Frans te kan lees.
    7. Laastens: SA sit met 'n regering wat selfs van binne sy sterkste ondersteuners as korrup en onbevoeg beskou word. Om vir so 'n staat die bevoegdheid te gee om op 'n wetlike basis 'n individu se lewe te neem is so goed soos massa selfmoord.
    My persoonlike oortuiging is dat die opsetlike neem van 'n lewe ALTYD verkeerd is, hetsy by wyse van die doodstraf of vrugafdrywing. Tog ...

    • Chris
      Dankie vir u gebalanseerde respons wat verdere insig van u persoonlike ondervinding en beskouing vir ons inlig. Tereg, die argument vir of teen die doodstraf is ewewigtig oor die algemeen, en wat jy hierbo sê: "SA sit met 'n regering wat selfs van binne sy sterkste ondersteuners as korrup en onbevoeg beskou word. Om vir so 'n staat die bevoegdheid te gee om op 'n wetlike basis 'n individu se lewe te neem is so goed soos massa-selfmoord." is 'n bitter pil, veral vir myself wat sterk standpunt inneem ten gunste vir die doodstraf, om te sluk.

  • Pieter Haasbroek

    Elders hierin reageer ek op Johann Rousseau se grafskrif vir die vermoorde Johann Botha. Elke dag verneem ons van nog meer moorde: onmenslik-gewelddadige gruweldade. Dit laat die versugting dat die regering die doodstraf moet terugbring, sterker opklink. Selfs in die parlement.
    Die afskaffers van die doodstraf argumenteer dat onskuldiges dalk die straf sal kry. Die doodstraf is 'n wrede, vernederende, onmenslike straf. Die staat behoort nie vergeldend op te tree nie. En dan is daar diegene wat oortuig is dat die doodstraf nie moordenaars sal afskrik nie.
    Ek sal toegee dat daar in enige gemeenskap psigopate leef, wat nie deur die doodstraf afgeskrik sal word nie. Die meeste moordenaars is egter nie psigopate nie. Hulle moor omdat die voordeel wat hulle daaruit put, die moontlike koste daarvan oorskrei. Die slagoffer kan nie teen hulle getuig nie. Hulle kan wegkom met hul buit, of tevrede dat hul luste bevredig is. En word hulle gevang ('n skrale moontlikheid,) en verhoor, is die kans op 'n ligte vonnis goed.
    Die doodstraf sal enige een wat moord oorweeg, tweemaal laat dink. Die koste sal dan - onvermydelik - enige voordeel oorskrei.
    In Suid-Afrika het die regering, onder aansporing van die afskaffers, en bes moontlik ook op grond van politieke oorwegings, verkies om moord 'n goedkoop opsie te maak.
    Terselfdertyd beteken dit ook, toenemend, dat dit die doodstraf privatiseer.

    • Chris Marnewick SC

      Ek hou by my argument dat (1) die debat oor die doodstraf bemoeilik word deur die uiteenlopende geloofsoortuigings en lewens- en wêreldbeskouings van die deelnemers aan die debat; en (2) dat die doodstraf in SA om praktiese redes onuitvoerbaar is. Jy noem die daaglikse tol van moorde, Pieter, en ons weet dat dit so 50 beloop. Daar is geen land wat daardie getalle teregstellings elke dag jaar in en jaar uit kan hanteer nie. En dit is sonder om in ag te neem dat by elke moord so tussen twee en drie moordenaars betrokke is.
      Ek gee toe dat 'n mens talle oortuigende argumente ten gunste van die doodstraf kan opper, maar 'n mens kan nie by die praktiese probleme verbykom nie. So terloops, ek het in my navorsing nie 'n enkele SA-saak (1902 tot 1989) raakgeloop waar 'n totaal onskuldige persoon gehang is nie.

  • Pieter Haasbroek

    Ek grond my aanbeveling op 'n eenvoudige ekonomiese beginsel: 'n kostestyging ontmoedig, terwyl laer koste as 'n aanmoediging dien. In Hobbes se natuurstaat, waar straffeloos gemoor kan word, "life is nasty, brutish and short." Hierteenoor gebruik 'n regstaat sy swaardmag om te straf.
    Chris, dit hoef nie "elke dag jaar in en jaar uit" 150 moordenaars tereg te stel nie, want net die moontlikheid daarvan sal die meerderheid van hulle afskrik.
    Hoegemaak as Suid-Afrika egter nie 'n regstaat het nie? Die swaardmag kan dan misbruik word. Hoe verhoed ons dit? Die Grondwet keer dit dalk tans nog, maar lewer die slagoffers uit aan die genade van die bloedlustiges.
    Dit is waarom ek 'n privatisering van die doodstraf voorstel.

    • Chris Marnewick SC

      Ek is bevrees dat ek nie met jou saamstem oor die afskrikkingswaarde van die doodstraf nie. Dit nie hoe ek dit in die praktyk ondervind het nie. Ook nie in die navorsing (ses jaar) wat ek gedoen het nie.

      En jou argument beaam juis wat ek voorheen voorgehou het, naamlik dat dit nie moontlik is om 'n rasionele debat oor die doodstraf te voer nie weens die uiteenlopendheid van die deelnemers se geloofs- en ander oortuigings. Quot homines, tot sententiae, as ek die Latyn reg onthou.

  • My sentiment is eens met jou argument hierbo. Net vir inligting. Waar jy sê: "want net die moontlikheid daarvan (teregstelling) sal die meerderheid van hulle afskrik," word teenbewys deur feite deur die VSA FBI en soortgelyk mbt ander state aangegee, dat state wat teregstellings handhaaf, hoër moordsyfers toon. Sien die volgende skakel synde een van vele om my stelling te bevestig.
    https://deathpenaltyinfo.org/deterrence-states-without-death-penalty-have-had-consistently-lower-murder-rates

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top