Donker stroom: Eugène Marais veelsydig, dubbelsinnig

  • 2

Teks Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog
Skrywer Carel van der Merwe
Uitgewer Tafelberg, 2015
Genre Outobiografie: Histories, polities en militêr
ISBN 9780624073420

LitNet Akademies-resensie-essay deur Frederik de Jager


Enigma

Mens vra jou twee verwante vrae oor Eugène Nielen Marais af: Wat is dit aan hom wat so enigmaties is, en hoe het hy so ’n ikoonstatus in die Afrikaanse, en in mindere mate in die Engelse, geesteswêreld gekry? Hoewel hierdie vrae nie aan die wortel staan van Carel van der Merwe se allemintige nuwe boek oor Marais nie, of nie volledig nie, gee hy tog ’n antwoord daarop terwyl hy terselfdertyd die misterie verdiep. Oor meer as vierhonderd bladsye van nougesette ondersoek weerstaan Marais steeds definisie.

ds_eugenemarais2Terwyl alles deesdae gekommodifiseer word, kan mens seker tereg praat van die handelsmerk, of “brand” Marais. Dit genereer immers tot vandag toe nog handel, ’n honderd jaar later, soos byvoorbeeld deur hierdie boek en ’n ander onlangse een. Trouens, is daar ’n ander Afrikaanse literêre figuur oor wie daar soveel biografiese werke gepubliseer is? Van Wyk Louw dalk? Ek het nie ’n opname gaan doen nie, maar sou jy vra oor wie daar ’n eeu later nog geskryf sal word, raak die moontlike antwoorde enigsins gedemp en spekulatief.

Benewens Van der Merwe, wie se boek meteens as die standaardwerk oor Marais en die oorlogsjare moet geld, is daar eerstens die (veertig jaar lank reeds ikoniese) biografie van Leon Rousseau, Die groot verlange (Human & Rousseau 1974, drie uitgawes, en Protea Boekhuis 2005, reeds weer twee uitgawes). Meer onlangs is daar Die handdruk van die dood: die onvertelde storie van Eugène Marais deur Friedel Hansen, 2013. Laasgenoemde boek, self uitgegee, word hier net genoem weens die onlangsheid daarvan; teenoor Donker Stroom staan dit as ’n mindere en swak nagevorste werk waarmee Van der Merwe ook gou klaarspeel. Rousseau ontgeld dit ook op verskeie punte, maar oorleef die kritiek in sy statuur. Langer gelede het F.G.M. du Toit se boek Eugène N. Marais: sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde in 1948 in Amsterdam verskyn, en ’n uitgebreide lewenskets van Marais deur Gustav Preller in Historiese opstelle, 1925. Daarbenewens verskeie studies en artikels.

ds_handdrukOp Marais se suiwer literêre pennevrug kon die hele edifies van hierdie “brand” nie opgerig gewees het nie. Dit is nóg in volume, nóg in gehalte van die eerste orde, en ’n oorgroot deel van sy literêre reputasie is gebou op die gedig “Winternag”, wat Marais self eerste gepubliseer het in sy koerant Land en volk, 1905. Hieraan het Merwe Scholtz ’n aandeel deur die artikel “Herout van die Afrikaanse poësie” in sy byna gelyknamige boek van 1975 – “Winternag” synde die bedoelde herout. Hierdie werk word vreemd genoeg deur Van der Merwe verswyg; al is sy boek nie ’n literêre ondersoek nie, bespreek hy tog wel die interpretasie en oorsprong van die gedig. In verband met die oorsprong lê daar ’n groot verrassing opgesluit wat maar een instansie is van die wonderlik deeglike navorsing en skerp ontledingsvermoë wat Van der Merwe se boek onderlê. Ek kom later hierop terug.

Die sterkste mitologiserende faktor rondom hierdie gedig is egter miskien die vroeë interpretasie daarvan as uitdrukking van die lyding van die Boerevolk tydens die Anglo-Boereoorlog. Alleen die emosionele energie wat hierdie oorlog steeds uitsaai kan die hardnekkigheid van dié interpretasie verklaar, in weerwil selfs, soos Van der Merwe aantoon, van Marais se eie ontkenning daarvan. Ek onthou spesifiek hoe ons dit op hoërskool geleer is.

Lees ook:
Breyten Breytenbach se versamelde toesprake – Parool/Parole
Video: Bekendstelling van Donker Stroom
Skaduwee in die kollig: Carel van der Merwe gesels oor sy jongste roman

Dit is miskien daardie selfde energie wat die skryf en publiseer van ’n boek soos hierdie een deur Van der Merwe moontlik gemaak het, hoewel die skrywer self impliseer dat dit eintlik nuuskierigheid is wat hom gedryf het. Die verhaal van hoe die boek ontstaan het word ’n integrale deel van die boek self, en die speurtog waarlangs dit vertel word, is een van sy leesplesiere. Dit is soos ’n los rafel waaraan die skrywer getrek en wat hy bly uitryg het tot daar ’n tamaai netwerk van konneksies na vore getree het – of liewer na vore gebring is. Die orde wat die skrywer uit ’n chaos van feite, leidrade, geheime, misleidings en gewoon leuens geskep het, is om die minste te sê indrukwekkend.

Geskiedenis is altyd morsig, maar mens verkies jou geskiedskrywing ordelik. Dat die ordening van gebeure vanuit ’n sekere oordeel moet uitgaan, of dit nou bedoeld of onbedoeld is, is ’n onvermydelike risiko. Van der Merwe is so ewewigtig as wat mens seker kan wees, maar hy dra nietemin in mindere mate by tot die apologetiese literatuur rondom Marais, en bygevolg sy “brand”.

Maar afgesien nog van Marais se skryfwerk en die durende stukrag van oorlog was Eugène Marais as persoon klaarblyklik ’n charismatiese, enigmatiese en uiteindelik tragiese mens – almal bydraers tot ikoonstatus. Van der Merwe bring afdoende bewys van die effek wat die man op mense gehad het. Van die hoogste Britse staatslui tot die gesofistikeerde sosiale kringe van fin de siècle-Londen het hy mense met sy intelligensie en sjarme beïndruk. “Finest flower of civilisation” is die soort beskrywing wat sy geselskap geïnspireer het (bl. 86).

ds_gustav_prellerGustav Preller het waarskynlik die meeste gepoets aan Marais se beeld as volksheld, en nie sonder flinke hulp van Marais self nie, wat Preller in onderhoude vir sy lewenskets gevoer het met halwe waarhede, verswyings en leuens – as mens nie wil aanvaar dat Marais se geheue hom in die steek gelaat het nie. Van der Merwe betrap sowel Marais as sy biograaf op selektiewe omgang met feite. Onder meer plaas Preller vir Marais aan die hart van die Tweede Taalbeweging, terwy hy in werklikheid maar ’n randfiguur daarvan was, en hy verswyg ’’n kortstondige terugkeer van Marais uit Londen pas voor die uitbreek van die oorlog om hom te weer teen kritiek dat hy nie vir die republiek kom veg het nie.

En dan is daar die feit dat Marais in 1936, op die ouderdom van 66, brandarm en ’n jammerlike skadu van homself, sy eie lewe geneem het. Literêre selfmoorde het ’n manier om tot langlewendheid by hul slaggoffers te lei.  Daarvoor sorg ons voyeuristiese fassinasie met die daad wanneer iemand self daardie deur oopforseer wat nog vir ons almal moet oopgaan. Dink aan Ingrid Jonker, Sylvia Plath, Virginia Woolf … daar is meer. Van der Merwe bemoei hom met die oorlog en sy nadraai tot 1907 en gaan net kursories en saaklik na Marais se einde op die Prellers se plaas naby Pelindaba. Rousseau se vertelling hieroor, daarenteen, is gedetailleerd, dramaties en aangrypend.

ds_vroueskrywersDaar sien ons Marais aan die eindpunt van sy verslawing aan morfien, wat vir hom beide fisieke en geestelike salwing moes wees en wat uiteindelik sy foltering geword het. Terwyl Rousseau Marais meer volledig in die konteks teken van die kultuur van destyds wettige dwelmmiddels, merkeer Van der Merwe eerder stadia in sy verval, wanneer hy self – gereeld – laat weet dat hy ongesteld is, of wanneer ander dit vermeld, of berig dat hy nie geskik lyk vir wat ook al van hom verwag word nie.

So het ons dus oor die afgelope eeu ’n prentjie gevorm van ’n gefolterde genie, charismatiese gespreksgenoot, skerp waarnemer, passievolle stryder vir geregtigheid, en daarby digter, skrywer, taalstryder … dit wil sê die durende “brand” Eugène Nielen Marais.

Maar, soos ek aan die begin sê, die antwoord op die een vraag word terselfdertyd weer die oorsprong van ’n ander: Wie is hy en hoe ’n man? Van der Merwe se werk bring onvermydelik ’n minder gunstige beeld van Marais uit die newels as Rousseau, en nie net omdat hy ’n meer kliniese forensiese instrument aanlê as sy voorganger van veertig jaar nie.

Bewegende teiken

ds_grootverlange’n Forensiese talent is inderdaad nodig om op Eugène Marais se spoor te bly. Hy was ’n leuenaar van formaat. Soos Van der Merwe dit stel, hy het soms “pleinweg gelieg”.  Dit was asof hy by voorbaat sy biograwe van sy spoor wou afgooi, indien nie sy spore heeltemal wou doodvee nie. Dit is wat Rousseau in soveel woorde sê. Behalwe vir ’n paar feite en heelwat bespiegeling loop die spoor vir Rousseau in Londen grotendeels dood, en hy verklaar in Die groot verlange: “Tensy ontdekkings gemaak word wat mens jou op die oomblik [d.w.s. 1974] kwalik kan voorstel, sal dit vir altyd onmoontlik bly om ’n samehangende relaas van Marais se vyf jaar in Londen te gee” (bl. 108 in die Protea-uitgawe). In ’n aanteking by hierdie (vierde, 2005-) uitgawe haal hy homself aan uit sy latere boek Die dowwe spoor van Eugéne Marais (Ibis-Pers 1998) waar hy oor sy aanvanklike vermoede van feitefoute in Die groot verlange skryf: “Dit was […] ’n onnodig beskeie siening, wat ek na die kontrolewerk van 1998 nie meer huldig nie.” Daarmee volstaan hy ook.

Vir Carel Van der Merwe was dit, in sy eie woorde, soos aas wat voor hom gedobber het. En nie net dit nie. Om na ’n ander metafoor te spring: Hy kom in die proses af op wat mens ’n brandende lont kan noem met ’n bom aan die ander ent. Die aanleiding was ’n navraag by die Inner Temple in Londen, die instituut waarheen Marais in 1897 is om in die regte te studeer. Hulle stuur hom twee getuigskrifte oor Marais, wat ’n inskrywingsvereiste was.

ds_jockEen van die twee was deur Percy FitzPatrick, wat ’n groot rol in die Zuid-Afrikaanse Republiek gespeel het en ’n sleutelfiguur was in die Jameson-inval van 1896 en die oorlog van 1899–1902. Hy is ook die skrywer van Jock of the Bushveld, wat vandag nog voortleef, onder meer in ’n geanimeerde rolprent, en van The Transvaal From Within, ’n voorbeeld van anti-Boerepropaganda in sy kruuste vorm. Rousseau haal net op een plek vir FitzPatrick waarderend oor Marais aan, maar hierdie getuigskrif het Van der Merwe laat vermoed iets groters was aan die gang. Toe begin hy krap. In in ’n boks by die National English Literary Museum in Grahamstad kom hy af op ’n brief van Marais aan iemand by die destydse mynmaatskappy Wernher, Beit & Co. waarin hy oor ’n vertaling skryf en dan verwys na iemand genaamd Milner.

ds_lordmilnerVan Preller en Rousseau se Afrikanerheld na FitzPatrick en Alfred Milner, aartsimperialiste en ‑drywers van die oorlog teen die Boererepublieke is ’n verbysterende sprong. Die ontdekking hiervan is die grootste enkele meriete van Van der Mewe se boek, en dit is uit sy poging om dié kloutjie by daardie oor te bring dat die boek dus sy ontstaan het.

Dit het spoedig geblyk dat ’n ander Milner ter sprake was as die Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika en latere goewerneur van die Transvaal- en Oranjerivierkolonies, maar dit het Van der Merwe se speurdersinstink genoeg geprikkel om uiteindelik af te kom op langdurige korrespondensie tussen Marais en lord Alfred Milner, wat nie net verraai dat hulle mekaar ontmoet het nie, maar dat Marais nou saam met Milner gewerk het in sy pogings om die Boeregemeenskap met hul lot onder die Britse regime te versoen.

En dis nie al nie. Marais onthul ook ’n ontmoeting tussen Marais en lord Joseph Chamberlain, die Britse minister van kolonies, ’n posisie wat hom volgens sommige die magtigste man in Brittanje gemaak het, gegee die globale ryk onder sy administrasie. En wat nog meer merkwaardig is van dié ontmoeting is die feit dat Chamberlain Marais ná afloop daarvan vra om ’n memorandum op te stel van die idees wat hy hom meegedeel het. En daar eindig dit ook nie. Chamberlain stuur die memorandum na Milner met ’n aanbeveling dat Milner punte daaruit oorweeg in sy bestuur van die twee nuwe kolonies. Marais word nou adviseur oor landsbestuur op die hoogste vlak.

Verder haal Van der Merwe ruim aan uit langdurige en uitgebreide korrespondensie tussen Marais en FitzPatrick wat, soos die Milner- en Chamberlain-korrespondensie, blykbaar aan Marais se vorige biograwe heeltemal verbygegaan het. Op die heel minste kan dit dui op die mate van sukses waarmee Marais sy spore doodgevee het, maar aan die ander kant is dit ook die resultaat van verbete en verbeeldingryke navorsing, iets wat die skrywer ryklik demonstreer.

Marais jok verskeie kere oor sy ouderdom. Hy vertel die onwaarheid dat hy aan die oorlog van 1880–1881 deelgeneem het toe hy tien was. Hy loop ’n fyn lyn tussen sy dikwels belyde patriotisme en sy waardering vir en samewerking met sy Uitlandervriende in hul stryd teen Paul Kruger, Marais se bête noir. Onder meer hou hy vergaderings met Uitlanderleiers met ’n versinde mandaat van die ZAR-regering. Hy verkondig dat hy na Londen is om medies te studeer en deur sy vriende omgepraat is om hom liewer as advokaat te kwalifiseer. In werklikheid het hy hom onmiddellik by die Inner Temple vir regstudie ingeskryf. In sy aansoekvorm lieg hy oor sy kwalifikasies (geen tersiêre studie nie) en oor sy pa se beroep. Hy stuur uit Londen vals berigte van sy merkwaardige vordering deur na Land en volk; in werklikheid druip hy meer as een keer of gaan skryf hy nie sy eksamens nie. Hy skep tuis die vals indruk dat hy ’n reeks briewe aan The Times in Londen geskryf het om die anti-Boerepropaganda teen te spreek. Hy verkondig dat hy tydens die oorlog onder paroolvoorwaardes in Londen leef, maar dit was na alle waarskynlikheid, soos Van der Merwe oortuigend redeneer, net ’n rookskerm vir die feit dat hy nie teruggekeer het om saam met sy mense te veg nie. Om dieselfde rede, skat Van der Merwe, lieg Marais oor die datum waarop hy tot die Londense balie toegelaat word: Hy maak dit veel later om te verduidelik hoekom hy eers toe die oorlog byna verby was, teruggekeer het na Suid-Afrika.

Aan die einde van sy tyd in Londen raak hy deur ’n rare sameloop van omstandighede deel van ’n ekspedisie om ammunisie en mediese voorraad via Mosambiek na die vegtende bittereinders in Noord-Transvaal te smokkel. Hy gee soveel weersprekende weergawes van hierdie verhaal dat die leser wil duisel by die lees van Van der Merwe se stilweg dodelike uiteensetting daarvan. Die toppunt van Marais se selfwaan is seker dat hy homself op een plek vir die leier van hierdie ekspedisie uitmaak, terwyl Van der Merwe min twyfel laat dat hy die ekspedisie eers op die boot deur die Suez-kanaal en onderweg na Beira teëgekom het.

Daar is nog meer leuens. Maar waarom sou Eugène Marais so speel met die waarheid? Dit is ’n ryk veld vir bespiegeling. In die vooroorlogse jare by Land en volk het hy blykbaar geen probleem daarmee gehad nie om vir sekere opinies wat hy nie onder sy eie naam as redakteur wou publiseer nie, ’n fiktiewe karakter genaamd Afrikanus Junior te gebruik. Hy het daarmee weggekom, hoewel op ’n keer naelskraap. Dalk is dit waar hy vertroue gekry het in sy atletiese vermoë om feite te systap en mense ’n rat voor die oë te draai. Dalk het hy die gevaarlike spel geniet – dit vermoed mens in ieder geval by die lees van sy volgehoue balanseertoer tussen die Uitlanders en later Milner aan die een kant en sy patriotiese beeld aan die ander kant.

Vds_percyan der Merwe maak ’n goeie saak daarvoor uit dat sy onderwerp geskerm het teen die regverdigbare aantyging dat hy nie sy deel gedoen het om die ZAR te verdedig teen die aggressor nie. Hy het immers verskeie kere verklaar dat hoe sterk hy ook al teen Kruger se regering gekant is, hy die republiek met al sy krag sou verdedig. In latere jare skryf Preller ’n ongemaklike brief aan FitzPatrick om te vis wat laasgenoemde alles oor Marais sou kwytraak in die memoires wat hy aan die skryf was. Die benoudheid was klaarblyklik dat die man waarhede oor sy en Marais se politieke en vriendskaplike verbintenis sou openbaar wat Marais se geloofwaardigheid en agbaarheid kon kelder.

FitzPatrick het laat weet dat Marais niks het om te vrees nie. Hoewel hy sy memories nooit voltooi het nie, was daar – miskien amper teleurstellend – weinig verwysing hoegenaamd na Marais in die boek wat wel ná FitzPatrick se dood in 1931 verskyn het.

Van der Merwe gaan kortliks in op ’n moontlike sielkundige verklaring, pseudologia fantasia, waarvolgens iemand ’n innerlike en soms onbewuste neiging het om kompulsief te lieg. In Marais se geval, doen Van der Merwe aan die hand, kan dit wees vanweë ’n ongelukkige mengsel van skaamte- en skuldgevoel oor sy nederige agtergrond, onstabiele gesinslewe, gebrek aan geleerdheid en die feit dat hy nie aan die oorlog deelgeneem het nie. Hy wou homself in ’n gunstiger lig stel.

Hy het ook verskeie kere feite uit ander mense se lewens aan homself toegedig, wat myns insiens kan dui op ’n ander sielkundige kondisie. As mens kyk na hoe hy gedy het in die uitgelese geselskap van mense wat in werklikheid vyande van sy land was, lyk Marais soos ’n politieke verkleurmannetjie.

Wat ook al sy motiewe, indien Marais gemeen het hy speel sy Engelse vriende tot sy eie voordeel, dit wil sê om sy sukkelende koerant in kapitaal te hou, is dit ook moontlik, soos Van der Merwe sê, dat hulle hóm eerder in hul koloniale ambisie gebruik het as ’n “mak boer” – ’n nuttige dwaas. Die skrapse verwysing na Marais in FitzPatrick se memoire, iemand wat hy as sy goeie, selfs intieme vriend beskou het, is ’n jammerlike aanduiding daarvan. En wiens brood men eet …

Dit kan dus wees dat Marais, omrede van die herhaalde lenings wat hy gebedel het by Wernher-Beit en FitzPatrick, hom blind gehou het vir laasgenoemde se oorlogstokery in die laaste jare van die negentiende eeu. Hy het inteendeel bly glo FitzPatrick is ’n vredemaker. By dié se afsterwe nog skryf hy in Land en volk so ’n rol aan hom toe.

ds_wonderwerkerMarais was iemand vol innerlike teenstrydighede en dit is waarom sy spoor so rondspring. Ten diepste, egter, was daar ’n onpeilbaarheid by hom. In Katinka Heyns se film Die wonderwerker laat draaiboekskrywer Chris Barnard vir Marais sê: As ek in myself kyk, sien ek niks. Beide Marais en Rousseau haal hom aan waar hy aan Preller skryf:

Al die slegte goed kan maar wag tot ek dood is … So als U sê is die lewe ’n mosaiëk van herinneringe, – vir my ongelukkig meestal pynvol als ek my bewustheid ooit toelaat om in die donker stroom in te duik.

Vandaar dan die juiste titel van Van der Merwe se boek.

 

Hou jou vriende naby en jou vyande nog nader?

Ek het reeds verwys na die fyn lyn wat Marais geloop het tussen die Uitlanders van die jare negentig en wat hy gesien het as sy patriotiese plig teenoor die republiek. Laasgenoemde was allesoorheersend by Marais. Sy haat vir Paul Kruger en sy regering was so fel dat dit lyk of dit hom blind gemaak het vir enigiets anders. En hy het al sy energie, asook al sy geld, in die stryd gewerp om Kruger uit die kussings gelig te kry.

ds_paulkrugerHy het sy polemiese wapen goed gekies deur op die jong ouderdom van 21 ’n aandeel in die koerant Land en volk te bekom. (Nog ’n leuen was dat hy die koerant gestig het.) Sy buitengewone welsprekendheid en sy passie het hom ’n aktivis-joernalis van formaat gemaak, en seker en gewis was hy ’n doring in die vlees vir Kruger. Daar is ’n hele geskiedenis van oor en weer lasteraksies tussen hulle twee. Die feit dat die stoere, onbeweeglike Kruger meer as een keer die moeite gedoen het om Marais aan te val of te antwoord, dui daarop dat die ou man hom ernstig opgeneem het.

Marais was daarvan oortuig dat Kruger korrup en onbevoeg was, te ongesofistikeerd om ’n moderne land te bestuur wat aan die begin staan van sy oorgang van ’n agrariese na ’n industriële ekonomie. Die ontdekking van die rykste goudare in die wêreld was ’n onwerklike meevaller en terselfdertyd ’n onoplosbare politieke probleem vir Kruger. Die Uitlanders se aansprake op regte en hul maneuvreerdery het hom gedryf tot sy bekende uitroep teenoor Milner by ’n ontmoeting tussen hulle in Bloemfontein: “Dis nie stemreg nie, dis my land wat jy wil hê.”

Dit het Kruger en die koterie van vriende en familie binne sy kring van patronaatskap egter nie verhinder om hulleself ruim te help aan die geldelike voordele van politieke mag oor ’n goudproduserende staat nie. Die president, volgens Van der Merwe se omrekening in vandag se waarde, het ’n rojale salaris van sewe miljoen rand getrek en volgens Land en volk ’n boedel van R140 miljoen nagelaat. Maar die brandendste kwessie was Kruger se konsessiepolitiek.

Volgens die wet het die staat lisensies vir monopolieë uitgereik. Sammy Marks, Kruger se vriend en die skenker van die bekende standbeeld van hom op Kerkplein, het die drankkonsessie bekom. Die mynbase het gekla die drank ondermyn arbeid en produktiwiteit. Die dinamietkonsessie, ook aan iemand naby aan Kruger, het die dinamietprys die hoogte laat inskiet sodat dit te duur geword het om die myne te bedryf. Die konsessie om water uit die Vaalrivier aan Johannesburg te lewer het gegaan na Frikkie Eloff, Kruger se skoonseun, wat die konsessie teen ’n gawe wins van dertig miljoen rand verkoop het.

’n Dam op Kruger se plaas gebou deur die departement van openbare werke, ’n pad oor sy plaas … ’n neerdrukkend bekende prentjie vorm by die leser, en ’n moeitelose vereenselwiging met Eugène Marais in sy onvermoeide persgeveg teen die owerheid.

ds_landenvolkDie intensiteit van Marais se joernalistieke aktivisme kan mens laat vermoed dat hy ’n stem roepende in  die woestyn was, maar in werklikheid was daar ’n sterk progressiewe element in die Transvaal, en Land en volk ’n invloedryke koerant. Invloedryk genoeg, ten minste, vir Marais se Engelse vriende soos FitzPatrick en Milner om enduit daarop te reken om hul gesigspune te bevorder. Die progressiewes was polities georganiseer rondom generaal Piet Joubert, wat Kruger in die presidentsverkiesing van 1893 byna verslaan het. Marais was oortuig die stemtelling was bekook.

Marais se joernalistiek het hom in ’n posisie gestel (of hy het homself daar ingewurm) om ’n brug te probeer slaan tussen die eise van die Uitlanders en wat volgens hom die belange van die ZAR was. Sy aanvoeling in vriendskap was om hom by die progressiewes te skaar, onder meer in die Pretoria Club, waar Engels- en Afrikaanssprekendes sosiaal ontmoet het. Sy gesprekke, korrespondensie en inderdaad vriendskap met mense soos FitzPatrick, of sy sakevennoot Peter Falconer, of later Milner, moet vir hom soos ’n toevlug gewees het. Mens kry by nóg Rousseau, nóg Van der Merwe die indruk dat hy deur persoonlike ambisie verteer is, dus het hy hierdie verbintenisse waarskynlik nie ter wille van opwaartse mobiliteit vertroetel nie. In ieder geval was hy tuis in die geselskap, soos die reaksie van die high society waarna hierbo verwys is, suggereer. Marais se ambisie het eerder gelê in die bereik van politieke doelwitte.

Voor die oorlog was sy doel om die Krugerbewind uit die kussings te lig, selfs al sou dit beteken dat die Uitlanders moes oorneem. Tydens en ná die oorlog was dit om sy landgenote te orreed dat hulle heil nie lê in weerstand teen die Britse bewind nie, maar in aanvaarding en samewerking. In beide gevalle is die interesse van die Britte in Marais se doen en late in die oog lopend. Marais se oorwegings, daarenteen, bly altyd ’n spel tussen twee pole. Hy is begerig vir wat die Britte en uitlanders hom (en die land) kan bied, naamlik bevoegde administrasie – altyd ter wille van die ZAR. Aan die ander kant het hy ’n broertjie dood aan imperialiste soos Cecil John Rhodes. Dit is merkwaardig dat Marais nooit agterkom in welke mate sy vriend FitzPatrick gemene saak maak met Rhodes, of in watter mate Milner een van hulle was nie.

Van der Merwe volg Marais se bewegings, sy korrespondensie en beriggewing oor hierdie hele tyd soos ’n hond ’n bloedspoor volg. Min ontsnap aan die skerp lig van sy speurwerk, al is dit, soos alle geskiedenis, ’n morsige, verwarrende besigheid met aktiwiteite aan verskeie fronte op enige gegewe oomblik. Hy konstrueer op vernuftige wyse die pad van sy vertelling tussen al hierdie spronge in tyd en lokaliteit, sy dit langs die politieke as Johannesburg-Pretoria of Transvaal-Engeland.

Ons sien Marais soos ’n vlinder promisku rondflap tussen al hierdie partye en belange. Sekerlik is dit nie Van der Merwe se doel om hom as ligsinnig uit te beeld nie, want hy is ’n waarlik ernstige mens. Daar is in Rousseau en Van der Merwe ewe min getuienis van humor by Marais. Hy was ’n forsende, soekende siel met ’n opregte belangstelling in ’n Renaissance-wye verspreiding van dinge, van die spiritisme tot die Egiptologie tot sy meer bekende natuurkundige ondersoeke tot die politiek en joernalistiek. Van der Merwe bemoei hom met laasgenoemde twee, waar ons wel vir Marais aan die speel vind, hoewel die gevaarlike soort speletjies waarvan hy blykbaar gehou het.

ds_transvaalMarais vertaal en publiseer byvoorbeeld die manifes van eise wat die Uitlanders opgestel het, maar ontken dat dit is om hulle saak te bevorder. Daarenteen verswyg hy die vooraf kennis wat hy dra oor die Jameson-inval en beskuldig agterna die doeane- en speurdienste van nalatigheid. Hy publiseer waninligting oor die wapentuig waaroor die Uitlanders beskik, al weet hy wat die korrekte feite is. Hy het verskeie geheime ontmoetings met die Uitlanders se Reform Committee en gee agterna verwarrende weergawes van sy bewegings. En die blote feit dat die Reformers hom vertrou en sien as een van hulle, maak sy optrede verdag. Hy waag hom op die reeds genoemde dun ys van ’n fiktiewe briefskrywer om sy punte te stel en sodoende pro-Uitlanderaanklagte vry te spring. Hy doen mee aan die uitlek en publiseer van die “Great Deal”, ’n dokument van hoogs geheime voorstelle waarin die ZAR-regering verskeie toegewings maak om op die laaste minuut ’n oorlog te probeer vryspring. Die lekkasie doen mee aan die induiestorting van alle onderhandelings, en oorlogsverklaring volg. Tydens sy tyd in Londen doen hy mee aan 'n Nederlandse vertaling van FitzPatrick se reedsgenoemde boek The Transvaal From Within en wend 'n tragikomiese poging aan om van die ergste swartsmeerdery van sy landgenote daarin getemper te kry.

Niks hiervan dui op die vurige patriostisme wat Marais aan die ander kant bely nie. Van der Merwe gee hom uiteindelik wel die voordeel van die twyfel. “Aan Marais se opregtheid kan daar nie getwyfel word nie, al mag daar vrae wees oor wat hy beoog het” (bl. 230). Elders, op bladsy 296–299, doen hy ’n bietjie harde redeneerwerk om sin te maak uit die feit dat Marais, nog onderweg met die Oos-Afrika-ekspedisie, aan (vyand) FitzPatrick daaroor skryf. Van der Merwe lê, toegegee, deurgaans in sy boek dodelike logika aan die dag om die gapings te vul wat sy navorsingswerk nie kon nie. Die vraag wat hy homself egter nie vra nie, is of Marais altyd mooi reg wys was, of hy te alle tye geweet het wat hy doen, en of daar by hom nie net te veel verskeurdheid tussen lojaliteite was om onder die dwang van logika tot rus te bring nie.

Pas na sy aankoms in Londen in 1897 skryf Marais ’n merkwaardige brief aan sy vriend Charlie Pienaar in Pretoria waarin hy sy walging aan die imperiale hoofstad nie kan onderdruk nie. Hy sê onder meer:

We shall live to see retribution overtaking the Destroyer of Liberty, maybe we shall be able to strike a blow at the falling harlot & remember the blood of our people which she has poured out like water. (bl. 82)

Hy sou later van deuntjie verander, maar die teenstrydigheid in sy houding is onthutsend. Daarby is sy opmerking nie sonder ’n goeie skoot hubris nie, iets wat vyf jaar later in ’n ander brief, volgens Van der Merwe, tot ’n manies-depresiewe ondertoon eskaleer. Marais skryf aan ’n ander vriend in Londen, Jim Taylor, oor die afwagting van sy terugkeer na Suid-Afrika:

I’m just burning to get back now. I feel the good I can do much like the prophets of old must have felt a divine call. I see it all before me like an inspiration […] and I have the utmost confidence in myself. (bl. 204)

In die konteks van sy hele hooggestemde, waaghalsige en uiteindelik tragiese lewe is dit myns insiens in orde om te vra of Marais nie, al was dit net soms, bloot net die kluts kwyt was nie.

Déjà vu

ds_eugenemarais’n Volledig onbedoelde newe-effek van Van der Merwe se boek is die neerdrukkende herkenning van teenswoordige werklikhede in ’n eeu gelede se dinge.

Daar is ’n korrupte president, kompleet met verbeterings aan sy eiendom uit die staatskas gefinansier, ’n buitelandse rekening van dertig miljoen rand en ’n falanks van familie en vriende in sy administrasie en met eersteklaskaartjies op die soustrein.

Daar is die stryd van die pers teen die owerheid en die handige aanklag dat die pers nie objektief is nie, maar die heerser tot ’n val wil bring. Terselfdertyd is daar wel geldige vrae oor persetiek en die onafhanklikheid van die pers. Land en volk se eienaar en finansier vir ’n goeie deel van sy bestaan is die mynhuis Wernher-Beit.

Daar is die verswarende omstandigheid dat die mynhuise reeds van die begin af gedy het op die uitbuiting van goedkoop swart arbeid. Een van die kwessies waaroor die Britse regering uiteindelik namens die Uitlanders oorlog toe gegaan het, is die ZAR-regering se onvermoë om die myne vinnig genoeg van swart arbeid te voorsien.

Daar is die verengelsingsbeleid van Milner wat sy skaduwee tot in die 21ste eeu werp. “English must prevail,” skryf hy reeds voor die oorlog, en dit maak hy sy taak sodra hy goewerneur van die twee voormalige Boererepublieke word. Die plan, nou verweef met die hervormings van die onderwys wat hy wil invoer, werk egter nie mooi uit soos hy wil nie, selfs met die ondersteuning van Marais, wat goedgelowig Milner se gerusstelling daaroor aanvaar.

Twee dinge werk teen Milner se oogmerke: die opkoms en vinnige toename van private Christelik-Nasionale skole, en die politiek in die Verenigde Koninkryk. Hy besef hy sal die verkiesing van die Liberale Party nie polities oorleef nie, en bedank in 1905.

Winternag

1905 is ook die jaar waarin die “herout van die Afrikaanse poësie” in Land en volk verskyn. Hoewel Van der Merwe sy fokus met opset tot Marais se joernalistiek en die politiek beperk, maak hy ’n merkwaardige en oortuigende ontdekking oor die oorsprong van hierdie gedig wat by elke literêre navorser verbygegaan het. En dit ’n gedig wat in ’n stemming honderd jaar later bo uitgekom het as die bekendste in Afrikaans.

Ter wille van die spesiale plesier wat hierdie paar bladsye in Van der Merwe se boek die leser bied, by al sy ander rykdomme, verswyg ek liewer wat die skrywer gevind het. Ek het reeds genoem dat hy heeltemal afwyk van die hardnekkige ortodoksie wat ’n skepping van Gustav Preller is en waarvolgens die gedig die Boere se lyding tydens die oorlog verwoord. En terwyl daardie siening lankal reeds gerepudieer is, wys dit hoe steeks ’n emosionele verklaring bo bewese feite kan vassteek.

Ná Van der Merwe se boek kan daar nie meer veel wegkruipplek oorbly vir halwe waarhede en volle leuens, vir wensdenkery en onvoldoende navorsing nie. Nie oor Marais se liefdeslewe wat Rousseau aan bespiegeling oorgee en Friedel Hansen heeltemal aan die bisarre uitlewer nie. Nie oor Marais die volksheld wat in groot mate ’n skepping van Preller is nie. Nie oor enige tydperk in Marais se lewe, soos die jare in Londen, waaroor nuwe inligting vir Rousseau onvoorstelbaar is nie. Sy deeglikheid en sy vermoë om feite te orden en interpreteer plaas hom in ’n ander klas.

Die groot verlange staan onverminderd as ikoniese boek oor ’n ikoniese figuur. Wat nou verander het, is dat jy nie Rousseau sonder Van der Merwe kan lees nie. Dit is ’n manjifieke stuk werk.

ds300

 

  • 2

Kommentaar

  • Frederik, jou resensie van Carel se boek is in die kol.

    Sy feite en navorsing in die (Marais) verband is asemrowend.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top