Dis dig, ek weet

  • 1

(en) Jy sê die gediggery vang jou onkant

en dat jy terug wil skryf (al kan jy nie)
om roekeloos en droomverlore
ook woorde staan te maak in hierdie
verskriklike 
vonkende en foutlose liefhê …

maar ek weet jy weet:
dis nie ‘n rymding nie
dalk soms ietwat omarmd
ander kere gebroke
maar meermale is dit ‘n kop- of hartding
en die verskriklike vrees dat ‘n dink verkalk of vergeet
van haar tagikardiese klop

want die lewe is so fut- en kleurloos 
sonder jou in ‘n sin, strofe of sillabe
hunkerings so holrug gery
en sonder die nodige oordrewenheid van ‘n hiperbool
metrums kranklik gekonstrueerd
sonder jou pols daarin
en meermale prosodies ongeïntoneerd

so laat my dan maar toe

die liefde tot vers te hef
(terwyl die grysstof
nog grys
en die stof nog stof)

want anderdag lief liewer liefste
praat my lippe dalk ondergronds
en holte ek nie meer in jou palm soos dit hoort nie

en dan hoop ek:
dat jy bondels verse die hemel in sal stuur
en (dalk) saggies meld:
mazel tov Lieds

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top