Digter Petersen en ander gehuldig by Suidoosterfees 2017

  • 0

Elias P Nel (foto: Naomi Bruwer) en Patrick Petersen

Die pad tussen Vredenburg en Paternoster het in Junie 1997 ’n groot gees uit die Afrikaanse letterkundige wêreld geëis. Nou, twee dekades later, word hulde aan die dominee, digter en uitgewer Patrick James Petersen gebring.

’n Byeenkoms word Sondag 30 April tussen 2 en 3.30 nm as deel van Die Burger-Suidoosterfees se Boekeprogram in die Isibaya-lokaal by KunsteKaap gehou. Vriende en tydgenote – onder wie bekende digters soos Diana Ferrus en storievertellers soos Elias P Nel – sal uit Petersen se werk en uit hul eie voorlees en stories oor hom deel.

Ander hoogtepunte van die boekeprogram sluit in:

  • Vrydag 28 April, 3–4.30 nm, “Uit die Afrikaanse huis”: In hierdie gleuf val die kollig op twee onlangs verskene boeke, Ons kom van vêr en Soos familie.

Ons kom van vêr se samestellers van dié boek oor bruin mense se bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans, Michael le Cordeur en Wannie Carstens, sowel as onder andere Franklin Sonn, Conrad Sidego, Marlene le Roux, Charles Beukes en Basil Kivedo, bespreek legendariese karakters uit hul verskillende bydraes.

Net daarna is die letterkundige Ena Jansen, skrywer van Soos familie, aan die woord oor haar verkenning van die rol en betekenis van ongeveer 100 huisbediendekarakters in stadsboeke uit ’n groot deel van die 20ste eeu en daarná. Marva Basson Dhliwayo sal herinnerings deel oor haar ouma wat ’n kok by Kaapse families was.

  • Saterdag 29 April, 1–2.30 nm, “Legends in History Matters”: ’n Gesprek met die geskiedkundige Bill Nasson van die Universiteit Stellenbosch, wat in sy onlangse boek History Matters oor die rol van geskiedskrywing skryf, asook oor figure soos die politikus Bennie Kies, onderwysman Richard Dudley en Abraham Esau, die martelaar van Calvinia.

Nasson se gespreksgenoot is die skrywer en joernalis Max du Preez, ook ‘n rubriekskrywer van Die Burger en Netwerk24. Du Preez se komende boek, Of renegades, romantics and rabble-rousers, is die vierde in sy reeks oor ongewone verhale uit Suid-Afrika se verlede. In die nuutste skryf hy onder meer oor Khoikhoi-leiers soos Ngonnemoa en Dorha, die Moslem-geleerdes wat as politieke bannelinge Kaap toe verban is, hoofman Sekhukhune, Paul Kruger, die bomplanter John Harris, die Iere, Franse en Russe wat saam met die Boere geveg het, en Marikana se Man met die Groen Trui.

Hier is nog inligting oor die Suidoosterfees

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top