Die leser

  • 1

Philip, die bestuurder, sit ’n hoenderburger voor hom neer. Die borde is dieselfde as altyd en die burger lyk presies soos hoe Franci se ma dit gemaak het.

“Wanneer jy klaar is, kom asseblief na die toonbank. Ek het iets baie belangrik vir jou.”

Louis knik. Sou die hospitaal vir hom vorms wou stuur om in te vul?

Die burger is lekker. Vroeër kon hy dit gewoonlik net die aand voor chemo geniet. Die aand ná die tyd kon hy dikwels skaars na kos kyk.

Die roketblare kraak en daar is ’n soeterigheid in die sous, presies soos Franci se ma dit gemaak het. Die slaptjips smaak ook dieselfde. Hy moet baklei teen die trane. Laas toe hy dié burger geëet het, was Franci langs hom. Haar knie het die hele tyd teen syne gedruk.

Agter hom praat die vrou van die prostaatman nog eenstryk met die vlekkiesman. Dit word welkome agtergrondgeraas vir die gedruis in sy eie kop.

Sy is dood. Dood. Dood.

Net toe hy besig is om die laaste bietjie sous met ’n tjip op te skep, kom ’n donkerkopmeisie ingestap. Sy is lank en skraal en haar hare hang tot onder ’n toppie wat net-net iets van haar maag wys.

Die bestuurder in sy plakkies trek galant ’n stoel vir haar uit en toe hy sien Louis se bord is leeg, neem hy dit en beduie, met ’n baie effens kopknik, in die rigting van die toonbank.

Louis stap agter Philip aan.

“My partner was weg met die kluis se sleutel, anders het ek dit al vir jou gegee toe jy gekom het. Dit kom met liefde van Franci se pa en ma.”

Genugtig. Franci se leertas, die een waarin sy altyd haar boeke gedra het.

“Binne-in is hulle nommer. Hulle wil vreeslik graag met jou praat. Bel op die landlyn. As jy in jou kamer kom, buzz 9. Dan kontak ek hulle. It’s on the house. Jy hoef nie te betaal nie.”

Louis is verstom.

Die trane begin nou loop. Philip haal ’n boks papiersakdoekies te voorskyn. “Hulle praat nog baie oor jou. Asseblief. Bel. Vir hulle. Bel sodra jy in die kamer kom. As jy dan verder daaroor moet gesels, buzz my. Ek is heelnag beskikbaar.”

Wanneer laas het hy gehuil? Gelukkig lyk Philip gemaklik met ’n ander se trane.

Louis tel die sak op. Dit ruik na leer, maar daar is tog iets van Franci. Iets wat so vaag is hy kan dit nie vasvang nie. Sy moes seker ’n deodorant gebruik het, maar hy kan nie meer haar reuk onthou nie.

Hy knik na Philip en stap na kamer 5.

Die oomblik oorweldig hom.

Eers sy asem skep, dan bel.

Versigtig maak hy die gespe los. Binne-in is ’n skryfblok, met haar pa en ma se nommer op. Bel ons asseblief. Baie liefde, oom Jans en tannie Retha.

Daar is ook ’n CD in. Hy lig dit uit die sak. Nat King Cole’s Greatest Songs.

Die pakkie is sag en in rooi papier toegedraai. Dit voel soos ’n T-hemp.

Louis sluk sy trane en bel 9.

Die bestuurder sê: “Sit gou neer, ek sit jou deur.”

Oomblikke later lui sy foon. Hy tel op. Dit lui nog ’n klompie kere voor Franci se ma optel en begin huil toe sy hoor wie dit is wat praat. Sy roep haar man. “Ek sit jou op luidspreker, Louis.”

Die oom se stem is nog formeel, maar hy klink baie ouer. Franci was hulle enigste kind.

“Sy was vreeslik lief vir jou, Louis. Dalk besef jy dit nie, maar ons het elke liewe dag in Frankryk gehoor hoe sy jou mis,” vertel haar pa.

Nou tjank Louis ook.

Uiteindelik beloof hy om by hulle te gaan kuier op Bronkhorstspruit sodra hy later vanjaar op Tuks se kampus kom studeer.

“Het jy al die pakkie oopgemaak?” vra haar ma.

“Nee, Tannie. Nog nie. Ek wou eers bel.”

Die tannie sug, trek haar asem in en sê: “Sy het een vir jou en een vir haar gekoop. Sy het ... hoe sal ek sê ... sy wou regtig romanties raak met jou.”

Die tannie bly stil en sê dan skielik, asof dit moeilik is: “Ek en oom Jans het toe besluit ons gee albei vir jou. Eendag gaan daar ’n ander meisie in jou lewe instap. Dan mag julle twee dit dra.”

“Dankie, Tannie.”

Hulle lui af en Louis trek die pakkie nader. Eers ruik hy daaraan, maar dit ruik na winkel.

Versigtig trek hy die plakkertjies los. Hulle kom maklik af.

Dit is twee T-hemde.

Albei is swart. Versigtig vou hy een oop. Daarop is ’n grys buitelyn van ’n man en ’n meisie wat soen. Ordentlik soen. Onderaan staan Fais le maintenant.

Louis vou die volgende een oop. Die hemde is identies.

Die kleintjie sou mooi styf om Franci gepas het, maar die grote is nou te klein vir hom. Franci het hom geken toe sy lyf maer en uitgeteer was. Tog trek hy dit oor sy kop, maar dit lyk verspot op hom.

Deksels.

Hy trek die hemp weer uit en google die woorde. Franci kon Frans praat, hy nie.

*

Ná ’n slegte nag eet Louis vroeg ontbyt en stap om hospitaal toe. Dit gaan ’n dag vol naalde wees, maar as alles vandág reg is, sal hy nooit weer hoef terug te kom nie.

*

Teen halftwaalf stap hy na die onkoloog se spreekkamer. Hy het ’n afspraak met haar om 11:45. Die laaste toetse se uitslae sal beslissend wees.

Toe hy by die wagkamer instap, sit die meisie met die lang hare daar. Sy het haar neus diep in ’n boek. Versigtig gaan sit hy. Sy is nog mooi. Haar lyf is skraal en lank. Sy is waarskynlik amper so lank soos hy.

Saggies haal hy sy boek uit en probeer lees, maar hy kan nie help om haar uit die hoek van sy oog te sien nie. Hoe sal sy lyk wanneer haar hare begin uitval? Lesende meisies was nog altyd sexy, dink hy wrang. Franci kon ook so sit en lees; sy kon heeltemal wegraak in die ander wêreld.

Louis se oë raak weer vol trane en nou kruip hy agter sy boek weg.

Hoekom is Franci dood? Hoekom? Hoekom?

*

“Louis?”

Hy skrik, sy gedagtes is ’n warboel.

Die onkoloog met haar rooi hare staan ’n entjie van hom af. Sy lag.

Toe hy opstaan, kyk sy hom op en af en sê: “Jy lyk fantasties. Kyk daardie spiere. Wow, ek is trots op jou.” Sy tree vorentoe en gee hom spontaan ’n druk.

“Het jy langer geword ook?” Haar hande rus vir ’n oomblik op sy skouers. “Wow, Louis. Voel net.”

Dis wat Franci moes gesê het.

Die onkoloog tree terug. “Ek wil net sê: ek is besig met ’n baie moeilike geval en ek gaan laat wees vir ons afspraak. Ek is baie jammer. Kan ek jou ’n SMS stuur? Dan loop jy rond tot ek reg is vir jou?”

Hy knik en sy verdwyn.

“Is jy Lóúis?”

Dis die beeldskone meisie met die boek.

Hy knik. “Ja, ek is.”

Die meisie spring op. Laat val haar boek, tel dit op, vat aan haar hare, trek die toppie wat haar maag wys effens af en ... steek vas.

“Wow, ek sou jou nie herken het nie, maar nou sien ek wel. Jissie ou, wat het jy gedoen? Jy lyk stunning. Waar het jy vakansie gehou?”

Effe oorbluf sê hy: “Die Karoo.”

Sy slaan haarself teen die voorkop. “Natuurlik. Franci het gesê!”

“Franci?”

“Ja, Franci. Sy het nie een oomblik ophou praat oor jou nie. Hy nice jy is, hoe vriendelik. Hoe sterk, hoe ’n groot leser jy is. Jinne, sy was mal oor jou. Ek was later heeltemal jaloers. Ek wou ook so ’n boyfriend hê.”

Sy bloos gloedrooi, maar kyk nie weg nie.

“Ek mis haar,” gaan die meisie voort, “maar ek erken ek was jaloers. Nie een van die seuns wat ek ken kon by Franci se beeld van jou pas nie.”

Louis is oorbluf.

“Maar,” begin die meisie en bloos weer. Dié keer kyk sy weg, sy kyk grond toe, trek weer die kort toppie onder toe en kyk hom dan eers in die oë: “Jy lyk nou baie anders as op haar foto’s.”

Sy probeer hom in die oë kyk, maar kyk dan af.

“Is ek te vinnig op jou?” vra sy.

Louis weet hy moet gevlei voel, maar hy weet steeds nie wat om te sê nie.

“Dis net ...” Die meisie waai met haar hande. “Dis net, hierdie plek laat my dink ek wil nie eendag sê: ‘Ek wens’ nie.”

Sy gaan sit, vat haar boek en hou dit soos ’n skild voor haar, maar sy kyk weer na hom. Haar oë is donker, soos haar hare.

“Hoe ken jy vir Franci?”

Die meisie lag. Sy beduie om haar heen. “Ek het hier matriek geskryf. Haar pa het gereël dat ek by haar skool skryf. Ek en sy het saam geswot. Ons was mal oor mekaar, al was ek jaloers op haar. Dis nou oor jou.”

“Wat is jou naam? Sy het my nie van jou vertel nie.”

“Erentia. Onthou, ek het opgedaag ná jy al klaar was met jou behandeling.”

Erentia. Die naam klink bekend. Franci hét hom vertel dat sy ’n lekker vriendin het om mee saam te swot, maar ...

“Sy het my tog van jou vertel,” sê Louis.

“Ek was mal oor Franci,” sê die meisie en kyk grond toe.

“Ek ook,” sê Louis.

“Ek weet,” sê Erentia. “En sy oor jou. Louis dit, Louis dat. Kom jy nog Tuks toe volgende jaar?”

Louis knik.

“Ek mag dalk ook kan, afhangende van die behandeling ...”

Dit moet ’n pruik wees, maar hoe behou sy haar lyf so?

Die stilte draal. Dan sê sy: “Ek is jammer. Ek is nou pushy, ek is jammer. Dis net ...” Haar oë raak vol trane. “Dis dié plek. Ek kom nie weg nie. Ek is hier, die hele blerrie vakansie deur. My vriende is in Margate. Hulle het boyfriends. Al mens met wie ek kon gesels was Franci. Aan die begin. Ek was mal oor haar, maar al waaroor sy kon praat was jy. Later begin ek ook dink aan jou. Ek is ’n leser en ek maak my eie stories in my kop en hier staan jy, maar nie die vaal jy op Franci se foto’s nie. Jy is baie meer sexy as wat ek gedroom het.”

Louis se kop spin.

“Toe is die eksamen klaar,” gaan Erentia voort. “Franci gaan Frankryk toe en jy sit iewers sonder ontvangs. Daarom stuur sy vir my al die foto’s en vertel my hoe sy jou op elke straathoek wou soen.”

Die meisie kyk op deur haar hare. Die trane drup nou uit haar oë. “Ek sit hier, sien heeldag sterwende mense om my en al waaraan ek kan dink is jy.”

Hy gaan sit. “Toe kom Franci terug, wys my die T-hemde wat sy gekoop het vir julle twee en ... Toe is sy dood, twee dae na hulle teruggekom het. Philip gaan aan, neem die plek oor. En ek sit steeds hier.”

Sy snik, snuif effens en sê: “Jammer. Ek ken jou al so goed in my kop. Ek lees seker te veel.”

“Nee,” sê Louis. “Nee, ek is ook ’n leser. Ek is mal oor lees.”

“Ek weet,” sê Erentia. “Ek weet amper alles van jou.”

Die stilte draal. Toe sê Louis: “Ek weet niks van jou nie.”

“Wat wil jy weet?”

Hy is op die punt om te vra wat sy makeer, toe dink hy en vra: “Vertel my van jou beste boeke ooit.”

Sy glimlag en begin praat.

*

Die deur gaan oop en die onkoloog kom uit.

“Erentia?”

Die meisie skrik, asof sy weer weggeruk word uit ’n ander wêreld.

“Is jy oukei?” vra die onkoloog.

“Dis Louis,” sê Erentia en wys na hom.

“Ek weet,” sê die onkoloog. “Ek ken hom al langer as jy.”

“Het jy my nodig?” vra die meisie.

Die onkoloog knik.

“Goed,” sê Erentia. “Hy mag my net nie so sien nie.”

Sy pluk ’n grimeerstelletjie uit en tjoef-tjaf verdwyn alle tekens van trane. Met ’n swaai van haar bos hare kyk sy eers na die onkoloog, toe na Louis, glimlag skitterwit en sê: “Game face on, kom ons gaan.”

Die deur gaan agter hulle toe.

*

Louis probeer lees. Die minute tik verby, maar hy kan nie sy kop om hierdie situasie kry nie. Franci was mal oor hom, al het sy alles gedoen om hom teen haar te waarsku.

Die boek help nie vandag nie. Sy kop raas.

Uiteindelik gaan die deur oop. Erentia verskyn, dan die onkoloog en toe, veel stadiger, ’n ou mannetjie van ongeveer twaalf. Louis skrik. Hy ken daardie gesig. Tot onlangs het dit hom begroet ná elke erge chemosessie.

“Kyk wie’s hier,” sê Erentia vir die jong seun.

Die knaap kyk en dan glimlag hy. “Dis mos Louis!”

Genade. Ken almal hom?

Die seun beweeg pynlik, steek sy hand uit en sê taamlik saaklik: “Ek gaan binnekort ophou met chemo. Dan gaan ek weer oukei wees vir ’n ruk en dan gaan ek dood. Maar ek gaan vir my ook ’n girlfriend kry, een soos Franci.”

Louis vat die hand versigtig, wel wetend hoe seer ’n lyf is ná ’n intense sessie.

“Doen dit,” sê hy. “Soen haar longe uit.”

Al drie lag.

Die onkoloog wys hy moet inkom en Erentia-hulle vertrek.

“Dis nou finaal,” sê onkoloog toe sy die deur toemaak. “Ons gaan hom nog een geweldige dosis gee. Hy sal tydelik in remissie gaan, maar daarna ...” Sy skud haar kop. “Ek het nou vir hom verduidelik dat ons hom net palliatief sal behandel.”

Sy sukkel vir ’n oomblik om te praat, maar dan draai sy na hom. “Maar jý, Meneer. Jy is so gesond soos ek. Terwyl ons gewag het vir die oproep na sy ma-hulle kon ek deur alles gaan. Jy is skoon. Skoon, Louis. Skoon. Geluk.”

“Vir hoe lank?” vra hy.

“Jou soort kanker hoef nie terug te kom nie. Gaan heen en lééf.”

’n Oomblik staan hulle so, toe vra die onkoloog: “Mag ek jou weer ’n drukkie gee? Dis min dat ek sulke goeie nuus kan oordra in my werk.”

Hy knik en sy druk hom styf vas, stoot hom weg en knie weer sy skouerspiere. “Ek kan nie glo hoe goed jy lyk nie.”

Hy glimlag verleë.

Sy beduie na die deur. “Jy het my nie meer nodig nie. Gaan gryp die lewe, Louis.”

Net voor hy die deur toetrek, roep sy: “Louis! As jy kan, staan vir Erentia by!”

*

Kamer 5 maak hom mal.

In die verlede sou hy simpel voel ná ’n besoek aan die hospitaal, maar Franci sou hier wees.

Vandag voel hy so sterk en fris soos lank laas in sy lewe, maar Franci is dood. Franci, wat toe nooit sy meisie was nie, Franci op wie hy totaal verlief was.

Hy voel soos ’n dier in ’n hok en stap na ontvangs.

Philip, steeds in sy plakkies, kyk op. Vir ’n oomblik sien Louis ’n dominee se kyk in daardie gesig. Franci se pa het ook só gekyk as hy bekommerd was oor ’n gas.

“Ek het Erentia ontmoet,” sê Louis. “Die onkoloog het gesê ek moet dalk ... vir haar ... bystaan.”

Die dominee se gesig verdwyn voor ’n groot glimlag. “Asseblief. Ek is so bly. Wat ’n ongelooflike meisie. Ná Franci se dood het sy geweldig baie gedoen vir die oom en tannie. Ek kan nie glo dat sy nog aangaan nie. Kom, ek neem jou.”

Hulle stap om die gebou na die groter eenhede.

By nommer 12 stop hulle. Aan die binnekant gooi iemand op. Louis ken dit. Phillip skynbaar ook.

Philip klop saggies en die deur gaan kort daarna oop. Erentia lyk opgewonde om hom te sien.

Philip beduie hy moet ingaan en maak die deur saggies agter hom toe.

Louis buk langs die seun en begin om sy mond af te vee. O, hoe goed ken hy dit nie?

Erentia gryp na ’n lap, maar Louis druk haar in ’n stoel en begin die klein stukkies braaksel van die vloer af opvee.

“Dankie,” sê die seun.

“Ek was ook daar,” sê Louis.

“Wat was jou roetine in die gym?” vra die knaap.

Louis begin vertel. Erentia volg aanvanklik hulle gesprek, maar haar kop knik.

Toe sy saggies begin snork, glimlag die seun. “Dis ’n kompliment vir jou. Sy het laas aan die slaap geraak in daardie stoel toe Franci kom help het.”

Na ’n hele tyd van stilte sê die knaap: “Soms dink ek dit sal beter wees as ek gou vrek. Dan hoef sy nie meer na my te kyk nie en my pa en ma hoef nie meer heeldag en aldag te werk om te betaal hiervoor nie.”

Ek is nie ’n dominee nie, dink Louis. Ek weet nie wat om te sê nie.

Die seun begin weer uitvra oor gymroetines. Louis praat tot daar sagte snorkgeluidjies uit albei se monde kom.

Toe Erentia wakker word, sê hy: “Gaan fliek. Ek bly by jou boetie tot jy terugkom.”

Sy lyk onseker, maar toe hy haar met sy hand wegwaai, glimlag sy. Nie ’n game face-glimlag nie. Dit is ’n hartseer glimlag.

*

Philip bel die volgende oggend van ontvangs af om te sê die bussie het opgedaag. Louis is reg.

Sy boeke is in Franci se sak en hy gooi dit oor sy regterskouer, neem die tas in sy linkerhand en met sy regterhand tel hy die pakkie met die twee T-Hemde op.

Hy oorhandig die pakkie aan Philip en sê: “Gee asseblief vir Erentia wanneer jy haar sien.”

Philip glimlag. “Jy kan maar lees,” sê Louis.

Hy het lank getob oor wat my moet skryf.

Toe, uiteindelik, was dit maklik.

Hier is al my kontakbesonderhede. Philip het dit ook.

Jy ken dié hemde. Myne is te klein, maar dit sal jou pas. Franci s’n sal jou boetie pas.

Sê jou boetie moet op Google kyk wat dit beteken, dan moet hy die hemp dra en dit doen.

Ek het nog ’n klein bietjie spaargeld. Ek sal kom kuier waar jy ook in die land is. Of jy kom Polokwane toe. Ek sal betaal. Daar is min om te doen, maar ons het ’n biblioteek vol boeke.

Louis


Hierdie verhaal is een van ’n tweeluik.

Die eerste verhaal verskyn in die bloemlesing, Die perfekte brander, saamgestel deur Adinda Vermaak en Marieta Nel wat in November 2017  by LAPA Uitgewers verskyn.

Klik hier vir meer inligting.

  • 1

Kommentaar

  • Willie van Aswegen

    As iemand wat 'n lewensmaat aan kanker afgestaan het, het ek bogenoemde storie uit 'n ander hoek gelees. Welgedaan Izak de Vries dit was seer herinneringe wat herleef maar so empaties geskryf dat ek dit terdëe geiet het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top