Die xenofobiese geweld wat Suid-Afrika teister

  • 2

Beste lid van PEN Afrikaans

In solidariteit met PEN South Africa en alle sogenaamde "vreemdelinge" in Suid-Afrika veroordeel die bestuur van PEN Afrikaans ten sterkste die xenofobiese aanvalle op mede-Afrikane en verskeie gemeenskappe wat in die afgelope twee weke binne ons landsgrense plaasgevind het. 

Ons doen hiermee 'n beroep op die Suid-Afrikaanse regering om alles in sy vermoë te doen om orde en vrede te herstel, die veiligheid van slagoffers te verseker en die oortreders te vervolg.

Voeg asseblief jou stem en handtekening by hierdie dringend beroep op ons regering: 
http://sapen.bookslive.co.za/blog/2015/04/18/pen-south-africa-condemns-xenophobic-attacks/

Met vriendelike groete
Danie Marais
Bestuurder: PEN Afrikaans

  • 2

Kommentaar

  • Pieter Haasbroek

    Beste PEN-vriende,

    Ons verwag van ons regering om "vreemdelinge-haat" teen te werk en aanvalle op "vreemdelinge" te verhoed. Die verwagting spruit uit ons beskawingspeil voort. Minder beskaafde - of barbaarse mense voel blykbaar dat dit heeltemal regverdig is om vreemdelinge te haat, aan te val, of om die lewe te bring.

    Die verhouding tussen ons eie mense en "hulle" - die vreemdelinge - word deur 'n aantal faktore gekompliseer.

    As die vreemdelinge hulle hier aan misdaad skuldig maak, wek dit ons argwaan. Pieter Pieterse is deur 'n bende Mosambiekers vermoor, waar hy by sy huisie in Marlothpark sit en skryf het. Corrie Sanders, ons bokskampioen, het sy dogter teen vier Zimbabwiese rowers by haar verjaarsdagpartytjie in 'n restaurant naby Hartbeespoortdam probeer beskerm, en is doodgeskiet. Telkens verneem ons van Nigeriërs wat die dwelmhandel beheer. (Selfs een met 'n Minister se vrou aan die hand.) Na bewering bedryf hulle ook mensehandel met ons meisies. Die Sjinese hier, staan agter die stroping van perlemoen en renosterhorings. Oos-Europese rampokkers het ook al hier 'n tuiste gevind. Die algemene gesindheid onder Suid-Afrikaners is dat ons nie die buitelandse misdadigers hier nodig het nie.

    'n Tweede belangrike faktor is die relatiewe sosio-ekonomiese aantreklikheid van Suid-Afrika. In baie gemeenskappe in Afrika heers 'n beskouing dat hier volop ekonomiese geleenthede bestaan in ons moderne, welvarende ekonomie. Die werkloosheid hier en wydverspreide, gepaardgaande armoede skrik hulle nie af nie; ekonomiese migrante is gewoonlik selfversekerde, dinamiese ondernemers. Hulle verseker hul ekonomiese oorlewing deur harde werk en vaardigheid. Hierdie immigrante maak 'n onbetwisbaar belangrike bydrae tot ons ekonomie, soos elders in lande waar hulle verwelkom is. 'n Deel van die inkome wat immigrante hier verdien, gaan na hul familie in die land van hul herkoms. Ongelukkig bejeën van ons mense die immigrante se sukses as "relatiewe ontneming": hulle het die werk- en ander geleentheid gevat wat ons toekom. Daarom mag hulle maar besteel word, en hul winkeltjies geplunder.

    En dan is daar die werklike vlugtelinge na Suid-Afrika. Mense wat uit Afrika se vele bloedige slagvelde ontsnap het, of wat onder hul regering se swaar stewels vertrap is, of wat verhongering en ontbering in die gesig gestaar het. Die vlugtelinge uit Somalië verdien veral ons simpatie hiervoor.

    Dit is egter die instroming van Zimbabwiërs wat ons spesiale aandag verdien. Hulle land was vooruitstrewend, reeds modern, welvarend en 'n stabiele demokrasie onder Mugabe se regering. Al geraamte in sy kas was die duisende Matabele-dissidente wat vermoor is. En hy het gevrees dat hy daarvoor voor die Internasionale Geregshof aangekla gaan word. Daarom wou hy die grondwet verander sien, sodat hy permanent President kon bly. Mugabe het daardie verkiesing verloor. Dit was vir hom 'n skok; hy moes haastig organiseer om sy opposisie te ontmagtig. Hy het sy skoktroepe, die "oorlogsveterane", die plase ingestuur om sy opposisie daar: boere en hul werkers, te gaan terroriseer. In die Zimbabwiese verkiesings daarna is waarskynlik elke vuil tegniek denkbaar ingespan om ZANU-PF aan bewind te hou. Mbeki se sogenaamde waarnemers het goedkeurend hul koppe geknik.

    Soos die boere en hul werkers van hul plase verdryf is, het boerdery agteruit gegaan in die Zimbabwiese "broodmandjie" van Afrika. Armoede - en hongersnood! - het toegeneem, en is vererger deur 'n hiperinflasie. Dit het ook besparings uitgewis en beleggings het gekwyn. Deurentyd is Mugabe deur Mbeki en later Zuma gesteun: hand aan hand! 'n Baie belangrike element hiervan was die afvoer van duisende Zimbabwiese vlugtelinge, moontlike politieke opposisie vir Mugabe, deur verslapte grensbeheer. Hier is die Zimbabwiese plaaswerkers inderdaad gewerf deur boere wat gesukkel het om werkers te kry. Hier het hulle ook in die bou- en konstruksiebedryf werk gekry, en in Suid-Afrika se myne. As hulle hul gesinne saamgebring het, het hulle behuising nodig gehad, en gesondheidsdienste en skole. Suid-Afrika het daaraan voorsien. Dit alles, ondanks die haglike omstandighede in ons land se krotbuurte. Zimbabwe het dus in die proses 'n arbeidspoel vir ons ekonomie geword en meer ekonomies afhanklik as wat dit ooit as Britse kolonie was. Was dit nie vir Zimbabwe se walglike regering nie, kan Suid-Afrika maar gerus die land oorneem.

    'n Laaste gedagte oor vreemdelingehaat: Toe 'n wit joernalis aan Mugabe tydens sy besoek aan Soweto 'n vraag stel, was sy antwoord: "I do not want to see a white face in front of me!" Zuma het nie daarop gereageer nie. Almal wat na die televisienuus gekyk het, het egter hierdie blatante uitdrukking van rassehaat in Suid-Afrika gesien. Die stilswyende kondonering daarvan deur ons President Zuma voorspel niks goeds nie. Gaan wittes die volgende slagoffers van vreemdelingehaat word? Of die Indiërs van Natal? Of ons bruinmense? Suid-Afrikaners het reeds uit Mosambiek begin vlug.

    Gegroet

    Pieter Haasbroek

  • Francois Verster

    In reaksie op Pieter Haasbroek se stellings, die volgende: die konsep van vreemdelingehaat is natuurlik so oud soos die mensdom, toe familiegroepe stamgroepe geword het en die onderskeid tussen "ons" en "hulle" ontwikkel het. Jean Auel se "The Clan of the Cave Bear" bied duidelike voorbeelde, terloops. Daar word beweer dat een van die mens se grootste voorwaartse spronge juis was om in vrede met mekaar saam te leef, en in die sg "globale dorp" wat deur ongebreidelde menslike ontwikkeling tot stand gekom het - deur natuurlik veral kommunikasie en vervoernetwerke wat nou benewens mense en idees ook siektes vinniger versprei - dui op die verhoogde druk op ons redelik onlangse vermoë om multi-kultureel te kan saamleef (en laat ons maar kennis neem; die groot K-woord is Kultuur, wat waardesisteme insluit wat selfs gewelddadig bots. Ja dit alles word nou 'n toets vir hierdie "moderne" tendens van laat-maar-leef.
    Ons moet ook besef dat hierdie druk gaan toeneem omdat mense te veel raak en hulpbronne skaarser raak (globale verhitting sal bydra) en uiteindelik gaan wrywing toeneem, wat konflik onafwendbaar maak. Vreemdelingevrees word inderdaad vreemdelingehaat, want dis dan nie net verskille in waardes en kommunikasiestelsels (soos taal) wat frustrasie veroorsaak nie, maar die vermoë om basiese hulpmiddele te kan verkry. Kompetisie, die ding waarmee Afrika baie swak is, veroorsaak die geweld, want onkunde, soos ons ministers al baie getoon het (hulle moet hulle geheime met ons deel, het die een mos gesê) veroorsaak ook frustrasie wat tot geweld lei.
    Intussen laai die druk op, globaal, want oral is nou massa-migrasies - the lemmings are stampeding - en geen land is meer 'n eiland nie, ook nie ons kontinent, wat te lank geïsoleerd was en nou nie meer kan inhaal nie, want niemand gaan vir ons wag nie - veral nie die Ooste nie. Wat Pieter geskryf het, kan nie betwis word nie, en hy het maar enkele belangrike punte uitgewys.
    Wat my betref, is die vraag nou: hoe relevant is ons - meestal wittes - op forums soos hierdie, se gesprekke hieroor? Dit sal immers van blote akademiese belang bly solank diegene wat hieroor kan besluite neem wat tel, daarvan onbewus is, of hulle nie eens daaraan steur nie. My vrees is dat laasgenoemde groep nie naasteby die kennis en die wil het om so 'n komplekse en essensiële kwessie aan te pak nie - 'n kwessie wat 'n krisis gaan word as jy die media kan glo (ek bedoel globaal) en wat ons almal se oorlewing bedreig. So, kan SA se sakelui iets doen? Want wie anders gaan iets KAN doen?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top