Die wonder van die Goddelike liefde deur Chris van der Merwe

  • 0

Titel: Die wonder van die Goddelike liefde
Skrywer: Chris van der Merwe
Uitgewer: Lux Verbi (NB-Uitgewers)
ISBN: 9780796317612

 

Koop Die wonder van die Goddelike liefde by Kalahari.com.

 

 

Wanneer teoloë eenkant toe staan

Dikwels dink "gewone" Bybellesers dat net opgeleide teoloë of kerklikes die Bybel reg kan uitlê en oor godsdiens kan praat. Dit gebeur selfs onder Protestante, al is hul deel van ’n kerklike tradisie wat juis sy naam kry van sy protes teen enige sulke voorrang.

Maar die nuuskierige leser sal gou vele voorbeelde vind van nieteoloë en niekerklikes wat hulle nie laat afskrik het van Bybelinterpretasie nie.

Trouens, ondanks die ontkerklikingsproses in Westerse lande het sodanige ondersoek van die Bybel drasties gegroei. Kenners van gebiede soos die letterkunde, literatuurwetenskap, sosiologie, antropologie en sielkunde bestudeer Bybeltekste omdat hulle die sleutelrol van die Bybel in die wêreldkultuur erken.

"Dead Christ in the grave" deur Holbein (bron: Alchemy Key Concepts)

Daar is vele voorbeelde van diepsinnige werk oor die Bybel en godsdiens deur nieteoloë. Een van die beroemdstes in die skryfkuns is Dante se Goddelike Komedie wat met sy nadenke oor Bybelse motiewe die Westerse kultuur tot vandag toe nog beïnvloed. Die vyftien minute wat Dostojewski in Basel voor Holbein se skildery van Christus se verminkte lyk deurgebring het, het hom in sy Die Idioot geïnspireer tot ’n aangrypende godsdienstige bespreking oor die verskriklike werklikheid van die dood. Hy knoop die bespreking van die skildery met wat later ’n veel aangehaalde opmerking sou word: “Die skildery kan ’n mens jou jou geloof laat verloor.”

’n Verdere boeiende voorbeeld is DH Lawrence se ontleding van die boek Openbaring as ’n skerp, selfs hatige, veroordeling van die prag en praal van die Romeinse Ryk, wat volgens hom gedryf is deur pure afguns en frustrasie oor sy eie vaal, roemlose bestaan. Bybelwetenskaplike navorsing oor Openbaring debatteer tot vandag toe Lawrence se ontleding.

In sommige gevalle sou die werk van bekende literatuurwetenskaplikes die uitleg van die Bybel grootliks beïnvloed. ’n Voorbeeld is die ontleding van Markus se evangelie in Frank Kermode se Genesis of Secrecy. On the interpretation of narrative.

Ander kunsvorme het ook hul geniale Bybelresepsies opgelewer. Salvador Dali het, ironies genoeg, onder die invloed van die gevierde Spaanse skrywer en mistikus Jan van die Kruis die kruisigingsverhaal se dieper betekenis soos min professionele Bybeluitleggers uitgebeeld.

In latere niekerklike kontekste het allergroot name van skrywers en filosowe soos Albert Camus, Derrida, Lyotard, Arendt en Ricoeur intensief besig gebly met godsdiens met byvoorbeeld hul nadenke oor die kerkvader Augustinus.

Onder die baie voorbeelde van Bybelresepsies in die Afrikaanse digkuns staan Sheila Cussons uit in haar diepsinnige en goed-nagevorste gedigte met Bybeltemas en -insigte. In ’n tyd waarin die mistiek in die Afrikaanse kerklike wêreld prakties verlore geraak het, kan Afrikaanse lesers nou Cussons lees om dit beter te leer ken.

Skrywers soos Maretha Maartens en Marzanne le Roux-Van der Boon het in hul verhale ook op ’n meer toeganklike vlak in Afrikaans oor godsdiens geskryf. Meer krities was daar in onlangse tye, via LitNet, die publikasie, Die Omstrede God, waaraan vele skrywers deelgeneem het, maar die oudjoernalis Piet Muller het ook aandag getrek met sy nietradisionele boeke oor godsdiens.

Terwyl een stroom publikasies duidelik gevestigde godsdienstige oortuigings bevraagteken het, was daar terselfdertyd ’n ander invloedryke beweging waarin nieteoloë ’n lekegehoor oor die sinvolheid van Bybelse inhoude wou inlig. In die buiteland was dit veral die Brit CS Lewis, skrywer van sulke topverkopers soos The Chronicles of Narnia, The Screwtape Letters en Mere Christianity, wat onder intellektuele en professionele persone bekendheid verwerf het. Sy boeke is in meer as 30 tale vertaal. Nog ’n suksesvolle skrywer is die Amerikaner Philip Yancey, ’n voormalige redakteur van die invloedryke tydskrif Christianity Today, wie se boekverkope al 14 miljoen verbygesteek het.

Dit is in hierdie genre dat daar nou in Afrikaans ’n nuwe publikasie bygevoeg word. Chris van der Merwe is binne die Suid-Afrikaanse konteks veral as letterkundige bekend. Sy boek wil handel oor die sentrale godsdienstige tema van die liefde, maar hy vermy teologiese besprekings. Hy skryf daaroor in volle bewussyn van sy nieteologiese agtergrond: “Ek is as letterkundige opgelei, nie as teoloog nie” (10). Maar daarmee bedoel hy nie dat teologie in sy boek ontbreek nie. Dit is veral die nuttelose gestry binne die teologie oor teensprake in die Bybel en die betroubaarheid van Bybelse inligting waarby hy verbystuur.

Reeds sy titel en sy taal onthul gou sy empatie en verbintenis met die Christendom en verklaar waarom hy nie in ’n gestryery wil verval nie. Hy wil skryf oor die “wonder” van die goddelike liefde en hy ontleed Bybeltekste en -verhale om hul “rykdom en toepaslikheid” te illustreer. Hy skryf, selfs meer uitgesproke, dat sy strewe geestelik is, dit wil sê, “om nader te kom aan die God van liefde in wie ek geleer het om te glo” (10). Sy werk is dus selfimpliserend en gevul met bewondering vir sy tema.

Die boek se spirituele karakter blyk uit sy fokus op morele waardes wat te midde van alle wisselvallighede en verval aan die lewe sin gee. Daarom het sy werk as subtitel: "sinvolle waardes vir die lewe". Dit gaan dus om die praktyk van die geestelike lewe en die transformatiewe werking van die Bybel in ’n wêreld gekwel deur morele verwarring en betekenisloosheid.

Ryke inhoud
Die boek handel, anders as wat ’n mens uit die titel sou wou aflei, nie net oor liefde nie. Slegs 20 van die 160 bladsye gaan spesifiek daaroor. Tog stut hy hierdie bespreking met gedagtes oor Bybelse temas wat met die liefde verstrengel is. Hy wil met so ’n ruim kyk ’n goed-ingeligte bespreking aanbied, veral omdat die liefde in ons tyd goedkoop geword het (141).

Die boek bevat daarom, naas die liefde, ses ander kerntemas van die Christelike geloof, soos hy telkens vir sy lesers uitspel (bv 156–7): hulle is geloof, hoop, geregtigheid, nederigheid, blydskap (geknoop met vrede) en waarheid. Daarmee neem hy waagmoedig ’n reusetaak op sy skouers: hy skryf in sy boek van 158 bladsye oor temas wat in talle teologiese werke intense aandag gekry het.

Soos ’n goeie wetenskaplike steun hy vir hierdie bespreking telkens op gespreksgenote uit die hede en verlede. Benewens tradisionele figure soos Calvyn, Pascal en Bonhoeffer kom meer tydgenootlike skrywers soos Lewis en Yancey dikwels aan die woord. Maar hy verwys ook na interessante figure soos Wendy Farley, Primo Levi en Marilynne Robinson – almal mense wat met insig oor die Bybel en hul godsdienstige ervaring skryf.

Maar sy bronne werk ten dienste van sy groter doel: in sy voorwoord vertel hy dat hy die slyk wat deur eeue heen op die sewe begrippe aangeplak het, in sy boek wil skoonmaak. Hy wil daarom met onbesoedelde Bybelse materiaal werk, en dan veral met “die lewe en woorde van Jesus” (9).

Sy eerste hoofstuk oor geloof wys hoe versigtig, logies en wetenskaplik hy te werk gaan. Hy beskryf eers hoe geloof nie rasioneel op empiriese feite ingestel is nie (12), maar eintlik onverklaarbaar is. Dit is nie gerig op die sigbare nie. Soos Noag se ark toon, gaan geloof "teen die stroom van gesonde verstand in" (13). Dit beteken nou weer nie dat geloof noodwendig irrasioneel is nie. ’n Mens kan met goeie redes aanvoer waarom die sprong van geloof nodig is. Geloof berus op die getuienis van betroubare mense wie se lewens boonop die krag daarvan bewys. Dikwels is mense se ongeloof bloot die resultaat van hul vooroordele: hulle is nie gewíllig om te glo nie.

Tog is geloof nie noodwendig sonder twyfel nie, soos blyk uit die boek Job: “God verkies iemand met opregte vrae en eerlike twyfel bo dié met konvensionele ’vroom’ woorde sonder insig” (21). Geloof is nietemin nie onskadelik nie en hou uitdagings en risiko’s in. Tog word hierdie risiko oortref deur die risiko om nie te glo nie en aldus God se gawes te ontbeer (27). Sy slotvraag: "Is dit moeilik om te glo?" het as antwoord dat dit beide maklik is, omdat menslike inspanning uitgeskakel word, én moeilik is, omdat dit teen die menslike natuur indruis en gehoorsaamheid vra.

Hierdie oorsig van net een hoofstuk illustreer reeds die ryk inhoud, maar ook die kritiese, ondersoekende benadering van die boek. Hier is ’n deurwinterde akademikus aan die woord.

Verrassings
Die boek se kritiese gees en kreatiwiteit lewer soms verrassende stellings op wat vir sommige vroom, behoudende lesers vreemd op die oor sal val, maar vir ruimer-denkendes bevrydend sal werk. Een voorbeeld sal dit helder illustreer:

In sy hoofstuk oor waarheid hou die skrywer vas aan die tradisionele siening van Christus as enigste weg tot God (125). Dit is deel van die waarheid wat nie verander nie (10). Hy skram dus weg van ’n relativisme wat waardes as wisselvallig beskou.

Al is waarheid subjektief, gekleur deur persoonlike, menslike sieninge (122), bly dit verbind met die goddelike liefdesverhouding as ’n “objektiewe werklikheid” wat gelowiges subjektief in Jesus ervaar (125). Die objektiewe werklikheid is veral dan die waardes wat Jesus verkondig, eerder as sy persoon. Ou-Testamentiese gelowiges wat Hom nie geken het nie, kon tog ’n liefdesverhouding met God hê (127). Dit is dan waarom nie-Christene soos Sokrates en Gandhi deel het aan die waarheid, want hulle het waardes wat Jesus verkondig het. Van der Merwe kan daarom, merkwaardig (en terwyl hy aan die tradisionele voorstelling van die hiernamaals vashou) skryf: “Nie-Christene wat die morele waardes aanhang wat Jesus verkondig het, sal in die hiernamaals by Hom tuis voel” (127).

Morele waardes?
Van der Merwe se sterk fokus op morele waardes sal nie enige onstemmigheid oproep nie. Liefde is inderdaad ’n belangrike, selfs wonderbare deug. Maar plek-plek val dit op hoe gedrewe die klem op waardes in die boek is. ’n Mens kry soms selfs die indruk dat die boek liefde wil-wil objektiveer deur dit tot die uitlewing van morele optrede te reduseer, al probeer die skrywer by herhaling uitspel dat liefde in God en Jesus gevind word, dat dit ’n genadegawe is en dat deugsaamheid niks met menslike prestasie te doen het nie.

In ’n gedeelte oor liefde as hoofboodskap van die Bybel skryf hy byvoorbeeld eers oor die liefde en getrouheid van God vir mense (139–40) voordat hy beklemtoon hoe belangrik dit is dat wederliefde daarop moet volg. In die volgende deel is daar dan ’n vloed van verwysings na die wederliefde wat die mens “behoort te” toon.

Weer eens: niemand sal ontken dat ’n vertikale liefde vir God met liefde vir mense verbind moet word nie. Niemand kan in God glo en sy medemens haat nie, staan daar al lankal in 1 Johannes 4:20. En dit is ’n standpunt wat steeds weer teen formele godsdienstigheid gehandhaaf moet word.

Eintlik is daar nie regtig iets besonders aan die gedagte dat liefde om wederliefde vra nie. Dit is iewers ’n algemeen-menslike verwagting, wat soms ’n innerlike dinamiek tot moralisme het. Dit raak aan die ou antieke motief van “do ut des”: “Ek gee sodat jy gee.”

Dit is opvallend hoe die band tussen goddelike liefde en wederliefde in kernverhale in die Bybel ontbreek. Die bekendste voorbeelde is die gelykenis van die verlore seun in Lukas 15 en die genade wat aan die moordenaar aan die kruis geskenk word (Luk 23:43). Die wonder van die goddelike liefde in Bybelse konteks is vir my juis en veral te vind in die onvoorwaardelikheid daarvan.

Dit het die implikasie dat ’n belangrike deug is om te gee sonder om te verwag en dat liefde veral na vore kom waar wederliefde ontbreek.

Daar is selfs ’n nog diepere perspektief wat in gedagte gehou moet word. Die siening in die boek dat ’n morele bestaan “’n leë lewe met betekenis” kan vul, staan sekerlik buite kyf. Bybelse verhale soos dié van die ryk jongman beklemtoon egter dat selfs die beste morele lewe soms as leeg ervaar word. Pascal het, soos baie ander spiritualiteitskrywers, opgemerk dat die edelste lewe die lewe is wat sy morele prestasie verborge hou. Die terughoudendheid oor ’n eie morele lewe is daar omdat morele mense te goed besef dat die morele lewe nie uit hul innerlike voortkom nie, maar aan hulle as gawe gegee word. Dit is God wat in mense woon en werk, het Paulus dit uitgedruk toe hy mense aangespoor het om hul eie heil uit te werk (Fil 2:13).

Trouens, Thomas á Kempis het beklemtoon dat ’n mens se morele lewe geestelike verdieping kan blokkeer. Wie in God se liefde woon, besef te goed hoe die begeerte en soeke na ’n morele lewe tot bedekte selfbewondering kan verlei en dus uiteindelik in die pad van ’n vertrouensvolle verhouding met God kan staan.

Daar is ’n uitdaging in skrywes oor moraliteit, veral wanneer hulle deur die reeds bekeerdes gelees word. Mense van ons tyd, klaar afgerem deur die vinnige pas van hul dagprogram en alles wat hulle moet doen om goed te wees, voel hulle maklik deur ’n skuldgevoel belas. Hulle staan dikwels voor ’n aanslag van godsdienstige aktivisme. Hierdie “goeie” mense wat daagliks soek om ’n oorvloed van ordentlikheid uit te leef, ervaar juis dat al die mooi doen en late hulle ook maar weer innerlik leeg laat.

Daarom wil hulle ’n slag naas al die goed-doen uitkom op die stil plekke, om net te wees waar God hulle soms en op belangrike tye ook wil hê: in afsondering, stilte en rus – verby alle moraliteitsgesprekke en doenighede. Wat hulle dan innerlik herstel en voed, is geestelike praktyke soos godsdiensoefening, bybelstudie, sabbatsrus, omsien na die liggaam, afsonderingsgeleenthede, stiltetyd, skryf, skilder en musiek maak of luister. Juis sulke anderse aktiwiteite koester waardes van selfsorg en voed geestelike groei.

Die vraag is uiteindelik of ons prestasiegedrewe tyd nie vra om minder gedrewenheid, meer rus, meer viering, meer doodgewone plesier aan die liefdevolle teenwoordigheid van God nie.

Die teologie en die liefde
Die leser raak gou bewus van ’n sekere afstandelikheid wat die skrywer tot die teologie handhaaf. Soos hier bo vermeld, skryf hy uitdruklik dat hy eerder letterkundige as teoloog is. Sy houding oor teologie kom by tye meer spesifiek aan die orde. Hy vertel van Bonhoeffer, die bekende Duitse versetsteoloog wat in die tronk besef het dat sy medegevangenes min van teologie weet en dat dit daarom sinloos sou wees om met hulle oor teologiese sake soos die plaasvervangende offer van Christus te praat. “Hy het daarom besef dat praktiese dade van liefde in dié omstandighede meer betekenis sou hê as teologiese uiteensettings” (153).

Hierdie vertelling sluit aan by ’n punt in die voorwoord dat hy met sy boek nie teologiese diskussies wil voer nie (10). Terwyl hy in sy voorwoord sê dat hy haarklowerige teologie wil vermy, laat blyk hy later dat “teologiese uiteensettings” minder sinvol as praktiese liefdesdade kan wees.

Gegewe Van der Merwe se eie intellektuele aanpak, is dit duidelik dat sy opmerkings gerig is teen ’n teologie wat sy besinning in die weg staan of wat nie bevorderlik is vir gewone mense se geloofservaring nie. ’n Mens sou sy opmerkings kon beskou as ’n afwysing van “slegte” teologie wat mense se geloof afbreek of benadeel.

Gelukkig is daar ook ’n ander soort teologie. Bonhoeffer, wat hom so op die praktiese liefdesbetoning ingestel het, soos uit bostaande aanhaling blyk, is daarin gemotiveer deur sy godsdienslose teologie, gerig op die mondige mens van sy tyd. Sy praktiese verhouding met medegevangenes het dus ’n duidelike teologiese motivering. ’n Mens sou vele ander voorbeelde kon noem van hoe die teologie juis verstarring in die godsdienstige lewe teengewerk het, soos met die klem op fundamentele waarde van nierassigheid in ’n tyd van politieke immoraliteit of soos met die stryd om die toelating van vroue tot ampte vanuit die waarde van die gelykheid van alle mense voor God.

’n Goeie teologie het vele mense bevry tot ’n dieper en meer vervullende verhouding met God.

Dit bring ’n mens tot die vraag hoe so ’n teologie met hierdie boek in gesprek kan tree.

Slyk in die Bybel
Dit is inderdaad dikwels vir gewone Bybellesers steurend en haarklowerig om teoloë te sien baklei oor teensprake in die Bybel en oor die outeurskap van Bybeltekste (10). Maar daar is min met ’n basiese opleiding in Bybelwetenskap wat onvrede sal wees wanneer die ryke, kosbare verskeidenheid in die Bybelse tekste uitgewys word. Dit is ’n waardevolle insig wat in hierdie boek ook beklemtoon word by die bespreking van die verskillende kleure van die liefde (151–3).

Wat die boek nie bespreek nie, is hoe elke Bybelskrywer ’n eie perspektief op die liefde aanbied wat net in húlle tekste voorkom. Daar is ’n groot verskil tussen Matteus en Lukas se evangelies oor die vyandsliefde, terwyl Johannes se siening van liefde heel anders is en min met vyandsliefde te doen het. Selfs in Paulus se briewe word liefde op verskillende maniere verstaan. Daar is 1 Korintiërs 13 wat teenoor die getwis van die Korintiërs die nodigheid van die liefde onder mekaar in ryke taal besing en daar is die liefde in Galasiërs wat van mense vra om hulle begeerte na prestasie prys te gee deur hul opponente lief te hê.

Die maniere waarop hierdie sieninge van die liefde in ’n spesifieke konteks ingebed is, lei ’n mens tot ’n bepaalde verstaan van die Bybel, maar bring veral ook ’n insig in die broosheid van die goddelike liefde in die Bybel.

Bybellesers besef gou dat elkeen van hierdie tekste wat hoog opgee oor die liefde, terselfdertyd ook op een of ander manier die liefde faal. Paulus skryf in 1 Korintiërs sy vernederende, liefdelose opdrag oor vroue wat in die erediens moet swyg. In sy brief aan Filemon vra hy mooi dat die baas nie sy slaaf as ’n besitting moet beskou nie en hom lief sal hê. Maar in wat vir moderne lesers na liefdeloosheid lyk, stuur hy die slaaf terug na die baas en herintegreer hom in ’n onmenslike sisteem van slawerny. So uitgesproke is Paulus hieroor dat sy brief eeue lank gebruik is om slawerny as ’n Godgegewe instelling te verdedig.

Hierdie konkrete inligting het nie te doen met teologiese haarklowery nie, maar is besonderhede van lewensbelang. Dit vloei voort uit die hart van die evangelie met sy boodskap van die kruis wat wys hoe breekbaar en verwondbaar die goddelike liefde is: menslike geweld en veragting, fyn weggesteek agter die masker van vroom godsdienstigheid, is soms sterker, veel sterker, as die liefde. Hoe broos die liefde werklik is, blyk uit die verlede toe sommige Christelike geloofsgemeenskappe hoë aanspraak op hulle liefdevolle lewenstyl gemaak het, maar steeds kru vorme van liefdeloosheid bly koester het. Die verdediging van apartheid en slawerny deur gelowige mense wys dit maar te deeglik uit.

Bybelse tekste faal en is ontrou aan die liefde. Slyk is nie maar net in teologiese besprekings te vinde is nie. Die slyk sit vas op Bybelse tekste self. Juis daarom moet Bybellesers nie dink hulle kan direk, verby teologie, na die Bybel gaan en daar ’n rein, onbesmette beeld van Jesus vind nie. Die verhaal van Jesus is opgeneem in Bybelse situasies wat die eerste gelowiges se siening van Jesus weerspieël. Die verrotting knaag selfs aan die wortels van godsdiens.

Meer as ooit, dus, is dit nodig om die Bybel te toets vir sy donker kolle, net soos Christus met die Ou Testament in sy Bergrede gemaak het.

Hierdie insig bring mens tot ’n selfkritiese, versigtige lees van Bybelse tekste, want vroom mense se kruistog van vandag is dikwels die skande van môre. Dit is deurslaggewend dat die lees van die Bybel ’n soektog na steeds diepere verstaan sal bly, eerder as ’n bron wat gevestigde insigte bevestig. Ook in ’n mens se beste morele lewe, nageboots op Bybelse voorbeelde, sal onvermydelik liefdeloosheid skuil – vandaar die opdrag tot gedurige studie van die Bybel vanuit ’n gesindheid van selfondersoek. Dit is ook waarom die teologie met hierdie boek in gesprek sal bly, want so ’n gesprek dien juis die groei in geloof.

Kan ’n woedende God liefdevol wees?
Ek wil as verdere illustrasie een verdere kwessie opper wat in ons tyd belangrik geword het. Van der Merwe skryf op bladsy 127 byna terloops die volgende: “Christene glo God se regverdige woede oor die sonde van Israel is deur Jesus se offer afgeweer.”

Met hierdie opmerking oor die toorn of woede van God raak Van der Merwe van die mees problematiese teologiese kwessies van ons tyd aan. Hy wys dat hy die problematiese hiervan begryp wanneer hy dit elders in meer besonderhede bespreek (57–60). Hy verwys na Romeine 12:19, waar Christene aangesê word om die oordeel en wraak aan God oor te laat. Die opmerking laat hom skryf: “Tog val dit vreemd op in die Bybel dat God wel mag wraak neem, maar die kinders van God mag hulle nie wreek nie. Is hier nie ’n teenstrydigheid tussen God se gebod en God se optrede nie?”

Iets kwel hom. Maar wat dit is, is nie heeltemal duidelik nie. Dit lyk asof hy fokus op die vraag waarom God kan wraak neem en mense nie. Sy antwoord lui dat God weens die kwaad rede tot woede het. Vele Bybeluitleggers en teoloë sal saamstem daarmee dat sommige Bybelse tekste die toorn van God op dié manier moreel regverdig. Hulle wil voorts deur die woede-motief duidelik maak dat God mense vir hul dade verantwoordelik hou.

Maar meer kwellend vir sommige Bybellesers is die blote feit dat God woedend kan word. Dat God ekstreem en onredelik woedend kan word, vererger die probleem soveel meer. Van der Merwe betrek self die berugte Psalm 137:8-9, wat die lof van mense besing wat Babel, Israel se aartsvyand, se babatjies met ’n klip verbrysel. Hy verwys ook na die unieke verhaal waarin Jesus sy teenstanders woedend met ’n sweep uit die tempel verdryf.

Dit is al erg genoeg om rekenskap te gee van gedeeltes in Bybelse tekste wat God se oordeel vereenselwig met die verbryseling van kindertjies. Nog slegter word dit om saam met Van der Merwe te lees dat die vergelding vir die Babiloniërs se dade (59) eintlik weerwraak is. Hoewel dit wreedaardig vir die moderne oor is, glo hy hulle dade bied “versagtende omstandighede”. Maar dan volg daar sy volgende sin: “Wat die Babiloniërs gedoen het, moet aan hulle teruggedoen word.”

So ’n benadering weerspreek, soos Van der Merwe elders uitwys, Jesus se oproep om nie kwaad met kwaad te vergeld nie – wat ’n verdere probleem bied. Hoe kan die Bybel sulke teensprake opneem?

Van der Merwe gaan nie dieper op die saak in nie, al is dit ’n kwelvraag wat in teologiese kringe al allerhande antwoorde opgeroep het. Sommige Bybellesers beskou byvoorbeeld Psalm 137 as Ou-Testamentiese denke wat deur die evangelie vervang is. Die argument hou egter nie stand nie. Die weerwraak-gedagte kom nie net in Openbaring 18:6–7 duidelik terug in ’n Christelike konteks nie, maar word selfs sterker gestel. Christen-gelowiges word aangemoedig om hulle vyande in dubbele maat pyn en droefenis aan te doen.

Maar dit kan nog erger: die weerwraak en die gewelddadige oordeel word in die Nuwe Testament op ’n uiters grimmige manier met God verbind veral wanneer die oordeel van ongelowiges beskryf word: as goddelike oordeel gaan voëls in die eindtye die vleis van ontelbare mense vreet (Openbaring 19:17–18). Skuldiges se bloed sal tot by die tooms van perde styg en 1 600 kilometers ver vloei (Openbaring 14:20). Die Nuwe Testament self “klink wreedaardig op die moderne oor” (59) – des te erger omdat dit ’n beeld van ’n wreedaardige God teken.

En op sy heel ergste is daar Bybeltekste wat op ’n immorele manier God sonder veel of goeie regverdiging as geweldenaar uitbeeld. In hierdie gevalle is God se oordeel nie teen kwaad gerig nie, of is dit uit verhouding met oortredinge. Walter Brueggemann, een van die mees gerespekteerde Ou-Testamentiese kenners van ons tyd, het ’n boeiende ontleding hieroor geskryf. Hy wys op tekste in die Ou Testament wat God as ’n dreigende, willekeurige moordenaar uitbeeld wat in uiterste spanning met en kontras teenoor die goddelike liefde staan. In Exodus 4:24 dreig God sonder rede om Moses dood te maak. Toe David ’n sensus gereël het om die volk te tel, is 70 000 Israeliete daaroor gedood – tot Dawid se eie skok (2 Sam 24:1–17). Ussa, wat bloot en sekerlik met goeie bedoelings wou keer dat die ark van God omval, is deur ’n woedende Here op die plek om die lewe gebring (2 Sam 6:7-9). En in die Nuwe Testament word Ananias en Safira summier gedood omdat hulle gelieg het (Hand 5).

Is hierdie uitbeelding van ’n wraakgierige en soms selfs willekeurige woede moreel regverdigbaar? Kon God nie, so word in teologiese kringe geredeneer, boosheid onder die oordeel bring sonder kru geweld en ewigdurende marteling nie? Is die woedende en wraaklustige verbryseling van kinders ’n morele oordeel oor die kwaad?

In onlangse tye het iemand daarop gewys dat hierdie beskrywinge iewers na kettery lyk omdat dit immorele, menslike karaktereienskappe, eie aan antieke gedrag (deur antropomorfistiese taalgebruik) op God oordra. Boonop maak sulke taal God ’n gevangene van mense se tydgebonde idees van straf en oordeel.

Daar is belangrike redes waarom teologiese navorsing aandag aan hierdie probleem skenk en waarom ’n mens genuanseerd oor Bybelse voorstellings van God se woede praat. Godsdienstige geweld en vernietigende haatgedagtes is ’n groeiende probleem. Dodelike terroriste-aanslae deur godsdienstige fanatici steun dikwels op sulke Bybelse temas soos die heilige oorlog teen God se vyande en word gedryf deur ’n moralistiese aanspraak op beloning vir dade wat God se eer beskerm.

Dit gebeur nie net binne Islam nie. Die geskiedenis wys genoeg hoe Christelike gemeenskappe hulself as agente van God se oordeel beskou en die Nuwe Testament gebruik het om individue en groepe uit te roei en te vervolg. Dit het ver buite ons eie kring in die hoogs ontwikkelde en Christelike Duitsland gebeur. Maar in ons eie land lê diep spore van die verwoesting wat in die naam van die Christendom veroorsaak is.

Geweld is lank nie net bloedig nie. Dink maar aan hoe geloofsgemeenskappe Bybelse taal oor slawerny, die vrou en homoseksualiteit oor eeue heen gebruik het om vernietigende en onregverdige samelewingstrukture in die naam van God in stand te hou en mense uit te roei wat nie by die status quo inpas nie.

Hierdie bespreking is nie die plek om die rol van geweld in die Bybel uiteen te sit nie. Dit dien alleen maar om uit te wys watter belangrike kwessies deur Chris van der Merwe se boek ter sprake gebring word en watter eise aan die interpretasie van die Bybel gestel word.

Dit sou ’n spesiale ervaring wees om sulke sake en nog meer in groter diepte met die skrywer van hierdie boek en ander “gewone” lesers van die Bybel te kan bespreek. Elke kans moet immers gebruik word om saam met geloofsgemeenskappe na te dink oor brandende kwessies van geloof. Die dae van teoloë as die ingeligtes en “leke” as hulle wat ingelig moet word, is lankal verby. Dit is nou ’n tyd waarin Bybellesers van alle vermoëns as medereisigers saam vra na die betekenis van een van die invloedrykste boeke van alle tye. Hierdie boek van Chris van der Merwe is ’n nuttige baken op en vir daardie reis. Die gesprek is egter nog lank nie verby nie.

Pieter GR de Villiers

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top