As die wind waai

Atta kyk na die skets in die tydskrif. Sy sug en kou die agterkant van haar pen. Wat moet ʼn mens oor so ʼn prentjie skrywe? Haar alte vrugbare verbeelding kan niks daarmee uitrig nie.

Die prent is plat en leweloos, dink sy. Daar is iets mistroostigs aan die boom se blare wat so neerdwarrel aarde toe. Die hele prentjie is weemoedig. Iemand anders sou straks iets daaroor kon skryf, maar nie sy nie. Dis nie soos sy van die lewe hou nie. As die wind waai, moet dit waai soos gister, sodat niks regop kan bly nie; met stof wat jou half wil verwurg en blare wat waai en dans in die wind. Sό dat al die nonsens uit jou uitwaai. As dit reën, moet dit stort en donder en blits. As die son skyn, moet die besies skreeu en walms moet so deinserig van die grond af opslaan.

Sy hou niks van triesterige, halfhartige dae nie. Dan wil sy wegkruip. Dan dink sy oor alles in haar lewe wat jou jammer om die hart maak. Dan wil sy grens.

Eergister was so ʼn dag. Toe het sy op ’n hopie gaan sit. Maar gister het die wind gewaai dat jy geweet het dit bedoel om jou heeltemal weg te waai. Met die wind wat haar van agter stoot het sy by die deur van die boekwinkel ingestrompel. Toe sy die stof en windtrane uit haar oë vee, was dit daar: Komma se nuutste uitgawe, met vet letters op die voorblad wat die prysgeld vir ʼn skryfwedstryd aankondig. Bewerig van opwinding het sy die geld vir die tydskrif uitgetel. Gulsig het haar oë oor die inhoudsopgawe gevlieg om te sien waar sy die besonderhede kan kry.

In die nag het die plan begin broei. Vanmôre toe sy wakker word, wou sy skryf. Nie net skryf omdat sy lus is nie. Sy wou nie soos gewoonlik net die verhaal op papier uitgooi en in die ou ysterkis wegsluit sodat niemand dit moet sien nie. Nee, sy wou skryf om die prys te wen. Vir almal om te sien en sodat sy dit by haar spaargeldjies kan sit om te studeer.

Maar nou is die prentjie waaroor sy moet skryf plat, leweloos.

Wie kan nou skryf oor ʼn vrou soos hierdie? ʼn Regte porseleinpop, pragtig, fyn en ryk. Kyk net die duur klere, handsakkie en al. Die man het ook aandklere aan, en die motor waarby hulle staan is nogal ʼn spoggerige vintage motorkar. Uitgevat asof hulle wil gaan dans of opera toe gaan.

Sy kou ongeduldig aan haar pen.

Maar kyk hoe staar die simpel mense doer in die verte. So asof hulle siele êrens agtergebly het en hulle net so droefgeestig voel soos die blare wat sonder rigting deur die windjie rondgewaai word.

Die prentjie maak haar kwaad. Hulle het nie die reg om so te lyk nie. Wie’s húlle om hartseer te wees?

As daardie vrou gelyk het soos sy, met te groot heupe, groot oë in ʼn ronde gesig en wortelrooi kroese; of as hulle elke dag, soos sy, moes wonder hoekom jou pa en ma jou weggegooi het soos ʼn sleg ding - dan kan hulle begin hartseer lyk. Wat weet hulle daarvan om ʼn optelkind te wees in ʼn huis waar jou waarde gemeet word aan hoe groot die kindertoelaag is? Hoe kan twee sulke mense verstaan hoe dit voel as jy elke dag met skelklanke in jou ore wakker word? Rusie oor jou, en wie weet nog wat alles.

Weet sy met haar porseleingesiggie hoe vervelig dit is om dag na dag by ʼn till te sit, terwyl dit brand in jou om te studeer sodat jy kan skryf - rêrig kan skryf? Of van die worsteling om die pryse reg te slaan op die till, terwyl elke vrou met haar kruidenierswaentjie ʼn nuwe storie in jou kop loswoel?

Hulle met hulle spoggerige vintage motorkar, wie is hulle om so hartseer te lyk?

“Hoe weet jy of daardie vrou nie swaar gehad het nie,” sê ʼn stemmetjie in haar binnenste. “Kyk hoe lyk sy, maer en uitgeteer onder daardie mooi jas. Nie lekker vet om die heupe soos jy nie. En jy kan mos sien sy kan ook nie eers grens soos jy nie. Lekker grens tot alles wat jou omkrap uit jou uit is - die eensaamwees en sukkel en kwaadwees. Sy’s soos daardie blare wat so dwarrel. Sy sal sit en treur en wegkwyn en as sy móét huil sal dit droë, leë snikke wees wat seermaak.”

“Is nie,” stry sy teen haar beterwete. “Die vrou in die prentjie is plat en ryk. Ek kan nie oor haar skryf nie.”

“Nee,” verwyt haar gewete weer. “Dis omdat die son skyn en jy wil nie van haar hartseer weet nie. Wat as sy na die ongeluk pas terug is uit ʼn kliniek? Jy weet mos – sy en haar man is geskei. Hulle kon nie met mekaar praat oor wat gebeur het nie. Elkeen het stom sy eie pad geloop en dit het net te veel geword.“

Sy kyk weer na die prentjie en skielik wéét sy van daardie nag. Atta staan op en loop kombuis toe. Sy sit ingedagte die ketel aan en weer af. Sy sien die porseleinvrou wat nooit emosies wys nie, by die hospitaal uithardloop toe alles verby is. Haar lyf is krom gebuig. ʼn Motor ry verby in die straat. Die naggeluide verdring haar swaar snikke. Haar Hanna-kind! Haar enigste blou-oog seuntjie!

Atta, sit die ketel weer aan, en sit ʼn teesakkie in die koppie. Sy droog haar oë sommer met vadoek af en kry lag vir haarself. Sjoe, die einste plat prentjie laat nou haar trane loop!

Maar natuurlik, loop haar gedagtes weer: Toe kom die selfverwyt. Fred wou nie dat die porseleinvrou gaan werk nie.

“Ons het nie die geld nodig nie”, het hy gesê. “En Jean is nog klein.” Maar sy wóú werk.

In haar gedagtes hoor Atta die porseleinvrou oor en oor in die nag fluister: “Niemand kon dit verhelp het nie. Ma het mooi na hom gekyk. Dit sou niks gehelp het as ek by die huis was nie. Dit was ʼn ongeluk, ʼn ongeluk, ‘n ongeluk …”

Onbewustelik roer Atta haar tee. Natuurlik het Fred se verwytende stiltes nie gehelp nie, stiltes wat al hoe langer geword het  tot hy uiteindelik sy goed gevat en geloop het. En die porseleinvrou - haar skuldgevoelens het haar magteloos gemaak om hom te troos of om hom te keer.

Die ongeluk, die egskeiding - alles was vir haar te veel, so erg dat sy heeltemaal verdwaal geraak het en in ʼn kliniek weer tot haarselwers moes kom.

Atta kyk weer na die prentjie. Enigeen kan sien dat die vrou nog breekbaar is en dat die pyn nog vlak lê.

Atta maak die tydskrif toe; sy wil nie verder dink nie. Die son skyn. Dis nie ʼn dag vir swaarkry en hartseer wees nie.

“Nee, moenie draaie gooi nie,” berispe haar gewete haar. “Wat van die man? Hierdie broer van haar, met sy mooi aandklere. Jy’s jaloers omdat hy hierdie brose vrou so goed verstaan. Jy weet hy sal ook verstaan van jou ysterkis, al besitting van jou ma, van jou geheime en jou stories. Hy sal verstaan hoe gedigte jou siel ontroer en ʼn hartseerverhaal jou half verwese agterlaat. Jy sou hom graag rêrig wou ken en jou drome met hom wou deel. Dis hoekom jy nie oor haar wil skryf nie.”

“Is nie,” verweer sy. “Ek is bly vir haar onthalwe. Hy is die enigste een wat verstaan, omdat hy net soos sy is. Hy sal haar vanaand na ʼn duur restaurant neem. Oor ʼn glasie wyn, by kerslig en sagte musiek sal hy sy hand uitsteek na haar toe - sonder woorde. Sy sal getroos wees en weet hy begryp. Sy sal moed skep en die eerste wankelende treetjie vorentoe gee.”

“Buitendien soveel pyn en leegheid! Hoekom sal ek jaloers wees?” daag sy die stemmetjie uit. “En in elk geval weet hy nie hoe dit voel om wakker te word met rusie en ʼn geskel in jou ore nie. Hy sal nie verstaan soos Johnnie nie!”

“Al wat Johnnie verstaan, is ʼn motor se binnegoed. Sy vaardige hande is lomp om ʼn boek te blaai,” kom dit tartend. “Hy weet nie eers van jou stories nie en sal nooit begryp hoekom jy elke maand ʼn paar rand afknyp om eendag te studeer nie.”

“Maar hy ken armoede en weet wat gedurige bakleiery aan jou doen, al is hy nie ʼn optelkind nie. Hy het ʼn goeie hart!” snoer sy die stemmetjie die mond.

Sy smyt die pen neer, half stukkend, opgekou. Sy sal anderdag oor die porseleinvrou skryf. ʼn Dag waarop sy kans sien om wat met die kindjie gebeur het oop te vlek en saam met die plat stukkende vrou te huil. Dan sal sy skryf oor die toneel wat die porseleinvrou gesien het toe sy van die bus af geklim het:

Die struik waaragter die klein blouoog blondekop seuntjie wegkruip om haar speel-speel skrik te maak as sy die hekkie oopsluit. Die motorfiets wat beheer verloor en deur die heining bars. ʼn Klein lyfie wat deur die lug trek ...

Sy sal vertel van die porseleinvrou wat wanhopig lang treë gee, maar niks ongedaan kan maak nie. En die vreeslike verwyt wat in die lug bly hang: as sy nie gaan werk het nie, sou haar afgesmeekte Hanna-kind nie toe, dáár gewees het nie.

Maar sy kan nie nou oor die porseleinvrou skryf nie. Sy gaan nou aantrek vir Johnnie, wat nie omgee dat haar jeans styf span om haar heupe nie, en dink dat sy mooi lyk in haar wit valletjiesbloes. Sy sal agter op sy motorfiets klim en die wind wat deur haar hare waai sal al die verdrietigheid uit haar uitwaai. Hulle sal op die mallemeule gaan ry. En lag. En vergeet van ʼn geskel, rusies en optelkind wees; van toegesluite stories in ʼn ysterkis en die toegeskulpte porseleinvrou wat nie kan huil nie.

Die simpele tydskrif kan loop waai. Sy sal self spaar om te leer om ordentlik te skryf. Hulle kan hulle prysgeld hou, hulle met hulle plat prentjie op ʼn sonskyndag wat haar wil laat grens!

As mens grens kan jy nie skryf nie.

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top