Die weë van die agnostikus

  • 6

Mens moet maar net soms bietjie lae profiel hou en dan die agnostici se skrywery hier dophou om te sien presies hoe verward en rigtingloos hulle is. Soos in die verlede, het Richardt ook weer sy weg na hierdie forum gevind en bars hy daagliks los met talle sinnelose en inhoudlose haelkorrel-briefies oor alles en nog wat, om daardie dwingende behoefte en honger na aandag en erkenning te probeer stil, sonder sukses, natuurlik – meeste ignoreer eenvoudig die snert wat hy oor die algemeen op ongekende skaal kwytraak. Mens wonder soms wat fout is met die mens, maar mens wonder nie vir lank, nie …

Maar Richardt het ook by die koortjie agnostici aangesluit en is daar deesdae heelwat van daardie sinnelose, inhoudlose haelkorrels van hom wat handel oor sake Gods – nie dat die inhoud van daardie tref-en-trap briefies iets sinvol bevat waaroor mens iets te sê wil hê, nie, maar dit is relevant omdat mens dit kan vergelyk met die ander agnostici wat gereeld hulle negatiewe uitbraaksels hier loslaat.

Wanneer ons die agnostici se ‘grondige feite’ waarop elkeen aanspraak maak, egter gadeslaan, kom ens baie vinnig agter dat algar van hulle se aansprake van mekaar verskil as synde die rede vir die sogenaamde nie-bestaan van God of sake Gods. Hulle lees almal min of meer dieselfde materiaal  en hulle demonstreer almal ’n totale insigloosheid waar hulle kommentaar lewer oor spirituele sake, al is dit nou sake Gods of oor sake okkulties, soos byvoorbeeld die kabbala, ens (watter verband was daar nog ooit tussen die kabbala en die Evangelie? Net vir die agnostikus in sy versinsels). Tog is elkeen kamstige ‘feite’ waarop hy steun, heeltemal verskillend van die volgende. Daar is geen konsekwensie nie. Dit val op, by gelowiges is die konsekwensie só sigbaar, dat gelowige skrywers dikwels op kinderagtige manier gepoog gekoggel te word dat hulle een en dieselfde persoon, is – duidelik omdat daar net Een Waarheid is.

Dus, wat die agnostici dus slaag om te doen en waartoe Richardt met sy sinnelose snert deesdae mildelik bydra, is die feit dat elkeen van hulle se uiteenlopende weergawes van dieselfde issue, net weereens demonstreer hoe elkeen maar net poog om sy eie onsekerheid en innerlike wroeging oor sake Gods te verwoord, verantwoord en mee te struwel. Hierdie eienaardige optrede en benadering van die agnostici bring ons net weer by daardie ou probleem van hulle uit – daardie persoonlike stryd en obsessie wat vergestalt in die psigose van selfdesepsie wat eenvoudig vereis dat hulle hul oë sluit vir die feite rondom sake Gods - feite wat deur miljoene der miljoene gelowiges oor die aardbol heen geken en geleef en beleef, word - deur hulleself doelbewus op bykans daaglikse basis te probeer wysmaak dat die werklikheid van God se bestaan vir húlle onwerklikheid kan word deur hulself daagliks te peper met hulle eie verfomfaaide interpretasies en versinsels.

As ek só na Richardt se snert kyk en sy onbegrip van hoe dinge werk in die spirituele dimensie, dan kry ek hom eintlik jammer oor sy onkunde waar hy dan aanmerkings wil maak oor Trienie, wie daagliks betrokke is met en by God. Hoe sal hy op aarde kan begryp wat Trienie verduidelik oor aktiwiteit van onreine geeste en die behandeling daarvan en dies meer? Maar sy onkunde en onvermoëns weerhou hom nie van arrogante, sinnelose aanmerkings, nie. Hy is natuurlik nie enig in sy optrede nie en die soort van ding sien ons maar by hulle almal van tyd tot tyd.

Groete,

Kobus de Klerk

  • 6

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Dit lyk, nie, vir my asof Kobus, nie, sy komma's ook aan die stert beet het, nie.

    Johannes Comestor

  • CorneliusHenn

    Kobus, ek twyfel of Hans Richardt homself as ’n "agnostikus" beskou. Ek dink Hans, nes meeste ander uitgesprokener teen teïsme, hou hulself eerder as ateïste voor. ’n Agnost staan in die algemeen passief  en in verdraagsaamheid teenoor enige vorm van geloof en ongeloof. Dis nou reeds lank wat jy herhaaldelik op jou vernieling van die woord "agnost" gewys word Kobus. Jou verkragting daarvan is duidelik ’n poging om dubbel die pyn met jou neerhaling aan ander toe te dien. Boos, besete, dis al hoe ’n mens jou manifestasie hier kan verklaar Kobus. Jou narsisme is siek en dit  laat jou duidelik onopvoedbaar; ’n duidelike prentjie vanwaar jy kom ou Kobus. Ek plaas weer die skakel waar enigeen wat belang sou stel die algemene betekenis van agnost (buite Kobus de Klerk se infernale spirituele intelligente verklaring daarvan) kan lees: http://en.wikipedia.org/wiki/Agnosticism. Groete, Cornelius.

  • Ek het nou nie self die "snert" gelees wat Richardt kwytgeraak het nie, maar jou aanval op hom en sy sienings is neet so sonder feite. Beck en Cowan het ’n boek geskryf wat hierop betrekking het: "Spiral Dynamics". Hulle het wêreldwyd (ook in SA) navorsing gedoen oor mense se ontwikkeling. Hierdie ontwikkeling sluit ook ’n mens se siening van God in. Hulle het 8 ontwikkelingsvlakke geïdentifiseer en kleure aan elke vlak toegeken. Die vroegste of laagste vlak is Beige wat gaan oor oorlewing: Dan volg Pers, Rooi, Blou, Oranje, Groen, Turquoise, en Geel. Die agnostici is gewoonlik  op die groen vlak. Ander navorsers het die ontwikkeling volgens die mens se interpretasie van mites uiteengesit: 1.    Mities Tasbare: Die self leer in hierdie verhouding van sy identiteit in die familie, die groep of nasie en ervaar alles deur die sintuie. Die mites verduidelik hoekom dinge gebeur en ook van die kragte agter die gebeure. Indien jy goed doen sal goeie dinge met jou gebeur, indien nie sal die slegte jou oorval. Die self ervaar alles konkreet en sorg net vir die eie ek en is egosentries.   2.    Mities Letterlik: Op hierdie vlak word die self bewus daarvan dat daar agter die heilige tasbare items ’n storie is wat vertel dat die items heilig is. Die storie word beklemtoon. Die self bestudeer die storie en voel dat dit nooit die diepte van die mite kan deurbreek nie. Siende dat die godheid die mite aan die mens gegee het, word gevoel dat die reëls van die verhaal streng nagevolg moet word. Die self is nou deel van ’n groter groep en sorg net vir diegene wat streng volgens die letter van die wet lewe. Hulle is etnosentries.   3.    Mities Rasioneel: Hier ontdek die self dat die letterlike interpretasie van die mite nie teen rasionele ondersoeke kan staande bly nie. Die self vind dat daar agter die mites ’n doel lê wat die fokus van hierdie vlak word. Die self besef dat sekere universele waarhede op almal betrekking het en nie net op die klein groepie nie.   4.    Mities Globaal: Wanneer die mens (self) die universaliteit van die mites besef, is die self in staat om meer perspektiewe te handhaaf en kan dan insien hoekom vroeëre vlakke dinge glo en doen. Die persoon mag op hierdie vlak wêreldgodsdienste bestudeer en ontdek dat alle mites min of meer dieselfde storie vertel.   5.    Mities Argetipe: Op hierdie vlak word die storie minder belangrik en onderliggende patrone kry die klem. Die self  (Higginbotham 2009:146) “may identify spiritual realms where beings or elements of consciousness exist. It may form relationships with these spiritual realms or beings.” Die self beweeg buite die mitiese struktuur en betree die Wesens direk. Dit word vir die mens (self) moeilik om woordelikse uitdrukking aan die ervarings te gee.  Verder, voel die mens nie net dat hulle deel van die kreatiewe proses is nie, maar ook dat hulle die kreatiewe proses word.   6.    Mities Avatar: Die finale verhouding met mites is wanneer die self nie langer in terme van argetipe konsepte dink nie (Higginbotham 2009:147): “Here the self realizes that myth is a vehicle whose purpose is not to describe something external to people (such as God, angels, ethical rules, and so on), but to stimulate internal transformation[i] by directing people’s attention to some truth about themselves or reality.” Mense op hierdie vlak wil ander mense help om hulle bewussyn te transformeer om hulle ware Natuur in die goddelike te realiseer. Richardt is waarskynlik op die Mities rasionele vlak waar die dienings van die mites nie meer sin maak nie. Of die mense se "feite" verskil maak nie saak nie. Jou "feite" oor God verskil ook met ander se "feite" oor God. Onthou die meerderheid verteenwoordig nie noodwendig die waarheid nie. Kyk maar wat met die ANC gebeur. Dink jy hulle meerderheid is die waarheid?  

  • Beste Kobus

    Die Christen se probleem is dat sy kop so vol snert geprop word dat sy ore toegestop raak.

    (So sonder kommas.)

    Groete

    Angus

  • Kobus de Klerk

    Naas, ek dink jy besef jou kommentaar oor die integriteit van my artikel en my analise van Richardt se talle haelkorrel-briefies, is nie juis relevant nie, gesien dat jy self erken dat jy nie sy briefies gelees het, nie – maar tog omtrent die inhoud daarvan kommentaar lewer asof jy weet wat aangaan.

    My feite oor God is nie my eie nie, maar God getuig van Homself. Diegene wat van God verskil, is nie met waarheid en feite besig nie, maar versinsels en mites. Ek sal elders perspektief weergee op jou kommentaar hierbo.

    Ek sien Comestor het baie probleme met die gebruik van kommas. Toemaar, Comestor, dit behoort te verbeter met konsentrasie en natuurlik, oefening.

    Kobus de Klerk

  • Kobus de Klerk

    Cornelius,

    Vir die soveelste keer – jy het gedurig die kat aan die stert beet. Neem nou die einste Wiki artikel wat jy voorhou en lees die stukkie oor die etimologie van die woord 'agnostikus' en lees ook bietjie verder ondertoe, hoe daar in dieselfde artikel wat jy probeer gebruik teen my, selfs die begrip agnostiese ateïs, soos ek dit ook gebruik, gedefinieer word. Vergelyk nou die kommentare van ateïste soos George Claassen  en sien hoe hy perfek inpas by die definisie van ’n ateïstiese agnostikus. Jy kan dit klaarblyklik nie insien nie, maar die fenomeen van agnostisisme (gebrek aan kennis) omtrent God is juis wat alle agnostici in gemeen het, of hulle dit nou in ’n radikale geloof ontwikkel, soos die ateïste, of nie.

    Jou insigloosheid en onkunde is weldeeglik bekend op hierdie  forum, veral jou manier om met groot en geleerde woorde te probeer omgaan, maar sonder dat jy die betekenisse en kontekste daarvan kan insien en begryp. Jy gebruik mooi hogere woorde soos ’n aap wat ’n pak klere aankry met ’n blink ring aan die vinger. Maar, die oomblik as hy sy snater oopmaak, hoor mense hy is soos hy lyk – ’n aap, ten spyte van die mooi kleding en blink ring en lag mens vir die spektakel met die deftige klere en die blink ring, aan.

    Verstaan asseblief as jy kan – dit is die rede waarom daar nie juis kommentaar gelewer word op jou snert nie – behalwe net om dit soms uit te wys.

    Kobus de Klerk

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top