Die vrou met die piering

  • 1

Ek hou my piering in my linkerhand en my teekoppie in my regterhand; presies soos Ma my geleer het. Al is ek in die Wimpy.

My vyftigjarige hande is skurf. My naels is kort en gesplinter. Sunlight liquid en Handy Andy is nie jou maters nie. Ek moes liewers my naels as my hare laat doen het vir tant Sus se begrafnis.

Dit moet ’n bom wees, dink ek as ek die geluid hoor, maar ek het nog nooit ’n bom gehoor nie. Ek sien die dak val. Ek dink dit val vinniger in as wat dit vir my lyk. Daar is baie stof.

Dis asof ek ’n fliek kyk. Ek bly net so sit totdat iemand my aan die elmboog beetkry en skree: “Hardloop!”

Ek word saamgesleep. Daar is baie geraas. Iemand skree. Dalk skree almal. Dis net in my kop wat dit stil is. So stil soos die nag met Pa en die geweer. Ek weet ek moes dit gehoor het. Ek het dit dan sien gebeur. Maar dit was doodstil. Daarna ook. Niemand het ooit oor daardie nag gepraat nie. Die begrafnis was ’n feestelike affêre. Soveel skaapboude. En al die blomme. Ons was mos nie ryk mense nie. Ek het gevra. Ma het gesê: “Die Voorsienigheid sorg vir alles.”

Dit kan tog nie wees nie. Is die Voorsienigheid dan simpel om van Pa ontslae te raak? het ek gewonder.

Ek voel benoud. Daar is nie uitkomkans nie. Daar is te veel mense. En hulle skree. En skree. Almal beur tegelyk vorentoe. Soos Pa se Afrikaners in die drukgang. Soos toe ek swanger raak en Ma ewe saaklik sê: “Dan het ons ’n troue om te reël.”

Toe reël ons ’n troue. Nie heeltemal so spoggerig soos Pa se begrafnis nie. Maar daar was ook skaapboude. En dit was ewe jolig. Daar was glad ’n orkes en als. Ek het ’n wit rok gedra met ’n sluier en ’n sleep en Ma het gesê: “Mens stal nie jou vuil skottelgoed uit vir inspeksie nie.”

Die joligheid het nie lank gehou nie.

Buite is dit skielik baie helder.

Ek kyk op my horlosie. Gelukkig het ek vroeg in die pad geval. Daar is nog genoeg tyd. Ek kan nog betyds wees.

Dis so vrek ver om te ry vir ’n begrafnis. Van Polokwane af tot in Potchefstroom. Maar dis die laaste van die tantes. Ma sou wou hê ek moet gaan.

Ek sien ’n stofstreep op my dienlike swart langbroek en my gesondheidskoene is glad vaal van die stof. Selfs my mooie nuwe wit hempie is nie ongedeerd nie.

’n Paar mans dra ’n vrou uit en lê haar op die gras neer. Haar langbroek is nat. Siestog.

Sien, dis vir tye soos die dat mens altyd ’n verskoninkie onderklere in jou handsak saamdra. Soos Ma my geleer het.

My handsak. Ag, my genade, my handsak is nog daarbinne. En my kar se sleutels.

Alewige agterlosige ek. Soos die dag toe ek die eiers gaan uithaal het en die hoenderhok half oop gelos het. Hond het baie pret gehad. Maar dit was die einde van die hoenders. En van die hond. Ma het hom aan die boom vasgemaak. Ek moes hom skiet. Met Pa se geweer. Ma was slim met straf uitdeel. Ek het dit nooit weer vergeet nie.

Nie dat ek ophou foute maak het nie. Dit was net die onthou wat gebly het.

Dis makliker om in te kom as wat dit was om uit te gaan. Ek wil giggel. Onthou hoe maklik dit was om die hand vol pille te sluk. Maar om hulle uit my maag te kry was ’n aaklige spul.

Die pyp wat hulle in my keel afgedruk het het my so naar gemaak. Die dokter was woedend.

“Wat de hel het jou besiel? Jy het alles loop staan en verongeluk.”

Sy hande was so hard soos sy oë en die trek om sy mond. Nie so sag en toeganklik soos hulle in die maanlig in sy motor by die buurdorp se dam was nie.

Binne is dit nou stil. Maar vuil. Pype drup water op die stowwerigheid.

Op die tafel lê my sleutels en handsak langs die onderstebo koppie. Ek glip my handsak oor my arm en tel dan my sleutels op.

Vir ’n oomblik staan ek die chaos en bekyk. Wie gaan die gemors opruim? Ek haat opruim. Die dat ek die skottelgoed daai keer so netjies onder die omgekeerde piering opgestapel het.

Dit was die dag na my egskeiding toe Ma dit op haar geneem het om die wildvreemde dominee te bring om my te beraad. Nie dat Ma iewers ’n dominee sou kry wat vir my bekend was nie.

Gelukkig het ek die vuil skottelgoed mooi netjies gepak, dag ek ewe toe ek en Ma die kombuis inloop met haar melktert, vleispasteie en parlementskoek.

“Ag Anna,” het Ma gesug, “Mens kan tog mos nie ’n week se vuil skottelgoed onder ’n piering wegsteek nie.”

Hoe is dit dat Ma altyd ander se foute so duidelik kon sien?

Ek stap byna tydsaam uit.  Mense kyk my vraend aan. Wel, het hulle gedink ek moet my handsak en sleutels daar binne los?

Ek sien iemand het ’n kombers oor die vrou op die gras se gesig getrek. ’n Verskoning onderklere vir haar is nou omsons. Maar daar is ’n begrafnis om te reël.

Wie sal tog opdaag as ek begrawe moet word? My Anchen-kind. Ek is seker sy sal kom al moet sy sewentien uur op die vliegtuig sit om van daar onder af te kom. En dit sal ook genoeg wees.

Die gemeentesusters sal darem ook opdaag. Ja, na Ma se berading het ek maar ’n kerk loop soek en gesorg dat my skottelgoed skoon bly.

Die kassiere by Pick n Pay sal dalk na my begrafnis kom. En die karwag met die eentand-glimlag. Nie die ander karwagte nie. Net sy. Maar wie sal hulle laat weet? Ek beter ’n briefie op die yskas sit as ek by die huis kom sodat Anchen sal weet om hulle te nooi.

Ek moet op daai briefie ook sit daar moet nie skaapboude op my begrafnis wees nie. Liewer net toebrode. En dalk frikkadelle. Ma het frikkadelle gehaat. Gesê dis arm-mense-kos. Ek het nie verstaan nie. Ek dag ons was arm mense.

Ek draai om. Kry my ietwat afgeleefde Honda in die oog. Ek is moeg. My arm pyn. Watter arm pyn as mens ’n hartaanval kry? Ek wil nie die vrou onder die kombers wees nie.

Ek sukkel om my kar se deur oop te kry. Plaas het ek al vir my een van daai nuwe motors gekoop wat so met die wys van die sleutel en ’n mooi geluidjie oopsluit.

My handsak hou aan om teen my arm af te glip. Ek kan nie mooi sien om die sleutel in die gat te kry nie.

Is soos die dag toe ek al Ma se Queen Anne-koppies op een slag kombuis toe wou dra. Ek wou uit. Dit het gereën. Die gronddam sou vol wees.

Toe laat val ek die Queen Anne-koppies wat Ma van haar ma geërf het en net uitgehaal het vir belangrike gaste.

“Ag Anna, dis oor jou kop altyd op ’n ander plek is,” het Ma voor die gaste gesê, maar ek het gehoor wat haar oë sê.  Ek het daai dag die gronddam en die mooie water gemis, maar elke haal oor my skouers en rug getel.

’n Man staan nader. Hy bied nie aan om te help nie. Hy vra: “Dame, hoekom hou jy die hele tyd die piering bo jou kop?”

Ek giggel. Steek ietwat skaam die Wimpy-piering langs die onderkleertjies in my handsak. Ek gebruik nie my sakdoekie soos Ma my geleer het nie. Sommer met my hand vee ek my neus en wange af.

Ek gee ietwat te vinnig vet. My verbleikte motor skop baldadig klippies op.

Dalk was Ma darem oor een ding reg. Alles is Voorsienigheid. Tant Sus se begrafnis en die Wimpy se dak en die piering. Sou mens selfs ’n mens se eie stommiteite op Voorsienigheid se boek kan skryf?

By die eerste rooi lig voel ek hoe my voet op die rem bewe. Ek vis my beursie en ID-boek uit my handsak uit. Skuif hulle half onder my sitplek in. Toe draai ek die venster af en prop die baie dienlike handsak met sy twyfelagtige inhoud in ’n verbaasde straatverkoper se hande voordat ek ’n tweede keer vandag te vinnig vet gee.

Nou moet ek my oë oophou dat ek nie die verkeerde pad vat nie. Ek gaan nie begrafnis toe nie. Nie vandag nie. Tant Sus sal my nie mis nie. En Ma? Ma is al anderkant die spieël en die raaisel. Sy het nie meer ’n sê dié kant nie.

As ek roer kan ek nog vanaand by die see slaap. Ek het ’n ganse lewe om in te haal. Sonder Ma.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top