Die voorgenome huwelik

  • 0

Danie se oë is blinknat toe hy sy woorde, sin vir sin, agter die dominee aan herhaal, en diep in sy bruid se bruin oë kyk: "Voor God en sy gemeente beloof ek ... e ... ek liefde en trou ... vir altyd en in alle omstandighede aan ... e ... aan my bruid", en vee vies die traan van sy wang.

Die gaste giggel en "ag shame" word agter hande gefluister. Ek moet keer of ek stort self ’n traan.

*

Ek was by die dag toe die bruid, Liena Badenhorst, haar pa, majoor Badenhorst (algemeen bekend as Die Majoor) en ek gaan gesels het met Danie se ouers oor die “voorgenome huwelik”, soos Die Majoor daarna verwys het.

Dit was ’n woonstel aan ’n huis. Buite het die winterlugbesoedeling laag gehang oor dié voorstad in Pretoria. Binne die woonstelletjie het dit geruik na ’n mengsel van sigaretrook, muf, brandewyn en die nat van die hond wat ons verwelkom het by die deur. Die sitkamertjie was donker en oorvol met gelapte meubels vol hondehare.

In die vertrek is twee mense: ’n middeljarige man en ’n vermaerde, verwaarlooste vrou wat in ’n hopie sit in die hoek van die vertrek – Danie se ma – smeulende sigaret in die hand.

Die man steek sy regterhand uit en brom iets wat klink soos “Johnny” sonder om op te staan of op te kyk.

Johnny sit geklee in ’n blou oorpakbroek en vuil wit frokkie en teug beurtelings aan die brandy-en-Coke in sy een hand en die sigaret in die ander. Sy olierige hare is grysswart, onversorg en krul op in sy nek. Sy oë is wild gedrink en hy trek sy een oog effens toe met elke sluk, sodat sy hele gesig skeeftrek.

Daar is fyn rooi aartjies op sy neus en op sy wange en is net-net sigbaar onder die sowat drie dae oue stoppelbaard.

Die hopie mens met die sigaret rys uit haar stoel – stadig – en stel haarself voor en steek ’n skraal wit hand na ons uit: "Stacy. Sit maar. Nie daar nie, daai een's stukkend, sit maar daar,” beduie sy met haar blik.

Stacy is skraal gebou; die groen-en-geel rok hang tot net bo haar enkels sodat haar skeef uitgetrapte pantoffels wys. Sy is skoon, besluit ek, maar verweer en sonverbrand. ’n Karwag? Haar stem is diep en hees en haar asem dra ook ’n alkoholwalm.

Die Majoor is eerste aan die beurt: "Ek is majoor Badenhorst, aangename kennis. Is jy Daniel se pa?"

Die man antwoord nie; Stacy antwoord namens hom. "Nee, hy's sommer my boyfriend. Weet nie waar Daantjie se pa is 'ie. Ma' ek's sy ma."

Die Majoor maak keel skoon trek sy ruggie kiertsregop en begin praat: "Ek het hierheen gekom om Daniel se ouers te raadpleeg oor sy en my dogter Liena” (hy beduie in Liena se rigting) “se voorgenome huwelik.”

"Nou's da' dan fout?" hees Stacy uit haar donker hoekie van die vertrek.

Die Majoor gaan voort. "Ek voel dat, uit die lig van die feit dat Daniel nie ’n vaste werk het nie en ook dat hy blykbaar geen kerklike opvoeding het nie – nie gedoop en aangeneem volgens die kerklike orde nie – hy nie ’n geskikte man sal wees vir my deeglik goed-opgevoede dogter nie. Ek is ’n man van die kerk en ook geagte lid van die kerkraad en ek sal my dus geensins kan vereenselwig met hulle ... em ... voorgenome huwelik nie. Ek sal dit ook waardeer as julle met my saamstem in hierdie geval. Om die waarheid te sê, meer as ..."

"Voorgewatse huwelik?" onderbreek Stacy hom. "En wat se ge-“goed opgevoed” is dit met jou? Was net Daantjie daar die dag toe sy pregnant geraak het, hè?"

Die Majoor, steeds penorent, wikkel sy moestas heen en weer, geïrriteerd.

"Gmf! Ten minste hét sy ’n werk en sy het haar matriek klaargemaak, kleintjie en al ..."

"Jy moet ma' self met Daantjie praat, ’s sy besigheid. Ma's mý kind. Ek't hom opgebring. Hy's ’n goeie kind, dít kan 'k jou sê." Sy wys met die twee vingers wat die sigaret vasknyp na Die Majoor, sit dan die sigaret in die mond, trek die kooltjie rooi, draai haar kop skuins dié kant toe en blaas die rook uit, die arm met die sigarethand regop op die elmboog gerus.

Die Engelse aksent van die olieman, Johnny, dreun meteens op sonder dat hy sy blik van die TV-skerm afhaal.

"Jy't hom nie grootgemaak, die weeshuis het."

"'t was net daai een keer. Toe ek by die robot gewerk het. Hy was klein. Nog maar só groot." Sy wys met die sigarethand, arm uitgestrek voor haar. "Toe't hulle hom kom vat want ek mag nie bedel met ’n kind nie. Ma' hy's lankal weer terug en ek hét gesorg vir hom, meneer ... e ... wat's jou naam nou weer?"

"Majoor. Majoor Badenhorst ..."

"Majoor? Ma' jy lyk nie of jy in 'ie army is nie. Jy's te oud ..."

"Afgetrede weermaglid, ja."

Die Majoor dra sy vyf-en-’n-halwe voet met ’n stywe ruggie en arms regaf teen sy sye. Dit is asof hy permanent op aandag is. Selfs as hy loop of sit lyk dit of hy op aandag is.

*

Dit is die konflik tussen hom en sy gesin wat my gewoonlik by hulle sake intrek, soos nou, want vir hom is alles swart-en-wit en vir liefde is daar nie werklik ruimte nie. Dit is nie beheerbaar genoeg nie. Die natuur van die mens, veral as dit kom by liefde, kan nie in sy wil in reg geskreeu en geïnspekteer en gekritiseer word nie. Hoe hý tot trou en kinders maak gekom het, bly ’n raaisel. Seker maar in die dae voor die majoorgeit hom beet gehad het. Dan, of dit nou in die supermark is, of by die gemeente of by sake soos hierdie, beveg hy sy opinie met groot woorde soos des-nie-teen-staande, overgeset-synde, eerwaarde kerkraadslid en die ek-is-’n-majoor-op-aandag-hake-netjies-teen-mekaar-ding totdat hy sy sin kry. Intussen sal hy sy weglêsnor, sy moestas, heen en weer wikkel met elke teëstribbeling wat sy kant toe kom. Komieklik.

Liena is so grootgemaak. So, sonder liefde van haar stywe op-aandag pa, want liefde werk nie in sy wêreld nie. Die gevolg, so reken ek, is dat Liena in haar matriekjaar liefde gaan soek het by ’n man. Dié het toe, soos so dikwels in hierdie gevalle gebeur, ontaard in seks. Liena word swanger, steek dit weg vir so lank as wat haar fisieke toestand dit toelaat en kom eendag hier by my en my vrou aan, huilende en "Wat moet ek nou doen?".

Die man, oftewel jongman, is Danie Venter. Hy wóú trou. “Die kind moet ’n pa hê wat vir hom sorg.”

Hoe hy sou sorg, was nog nie duidelik nie. Die outjie het al in graad 9 uitgeval en maar in die supermark rakke gaan pak.

Met sy agtergrond van kinderhuise en ’n ma wat foeter van een man na die ander was hierdie troubesluit van hom, sy toerekenbaarheid, dus ’n ligpunt.

Ons probeer toe maar help. Hou die ouderling-majoor so kalm as wat moontlik is, want dié wou haar (sy eie dogter!) toe net laat sensuur by die gemeente tot hy besef sy eie naam by die agbare kerkraad sou in gedrang kom. Toe wou hy eers uit die kerkraad bedank en toe later sommer uit die kérk bedank en sy eie kerk, “waar die kerkorde nog met respek en dissipline uitgevoer word”, gaan stig. Dit het my en veral die dominee weke gevat om die ou man tot bedaring te bring. Sy berusting sou hy op die ou end soek deur ten minste die huwelik toe probeer keer.

Tot nou toe.

So het dit dan gekom dat ek summier ingetrek word by die hele drama wat hom oor die volgende 18 maande sou afspeel. Soos ook die geval daardie dag by Danie se ouers.

*

Die Majoor praat weer met die bondeltjie met die sigaret in die hoek: "Ek sal dit waardeer as julle my sal bystaan in my stryd om hierdie huwelik te verhoed, te keer, voordat dit plaasvind. Ek het geen ruimte in my hart vir hierdie mannetjie nie." Snorretjie roer.

"Daantjie sal moet sê ... ’s sy besigheid. En maak ma’ ruimte vir hom in jou majoorhart, want hy’s jou kleinkind se pa." Sy gee ’n snuif en vee dan haar bolip met die rugkant van haar sigarethand af.

"Maar mevrou Venter ...!"

"Stacy! Wat se ge-mevrou is ’it met jou. Daantjie al ’n grootmens, Meneer, Majoor, whatever jou naam tog is."

"Ek is Majoor en ek gaan nie hierdie saak met hóm bespreek nie. Ek beskou die saak as afgehandel."

Danie kom die vertrek binne en groet beleefd.

Die Majoor groet nie terug nie; hy roer sy snor een maal en trek los: "Ek het nou vir jou ma gesê dat ek nie tevrede is daarmee dat jy en Liena trou nie. Jou ouers het geen beswaar aangeteken nie. Ek beskou julle huwelik dus as afgelas."

"Maar Oom ...?"

"Majoor! Dit is Majoor! Hoeveel keer nog!" Snor roer onder sy neus.

"Die kleintjie is mos my kind ok. Ek is sy pa, Oom ... e ... Majoor, en ek is lief vir Lientjie en wil graag met haar trou. Majoor weet tog ek sal ’n beter werk kry en ek sal kerk toe gaan en alles ..."

Die Majoor vlieg op uit sy stoel en staan kiertsregop. Stywe rug.

"Ga! Liefde! Wat weet jy van liefde, mannetjie! Jy't-net een ding op jou brein ..."

"Is nie, Oom. Ek ..."

"Jy moet my nie in die rede val nie, ventjie. Die troue is af. Af, sê ek jou. Dis verby. Afgehandel. Daar is niks meer te sê hieroor nie. Totsiens."

Die Majoor doen ’n regsomkeer en loop-marsjeer by die deur uit, Danie agterna. Nog ’n oorwinning in die slagveld vir Die Majoor.

Buite gekom staan Danie met ’n huilende Lientjie in sy arms en fluister iets in haar oor. Die Majoor gee sy bevel so in die verbystap: "Toe, toe. Kom laat ons loop. Ons sake hier is afgehandel."

Danie drafstap hom agterna en haal hom by die tuinhekkie in.

"Kan ek vanmiddag oorkom daar na Oom-hulle? Ek wil ..."

"Nee! Waarvoor?"

"Daar is iets wat ek vir die tannie wil gaan sê."

"Jy het niks vir haar te sê nie. As jy iets het om te sê kan jy dit vir mý sê."

"Nee, Oom, ek moet met die tannie praat – daar is iets wat ek vir haar moet vertel van Oom."

"Wat sê jy? Iets omtrent my?! Luister, jou klein swernoot, ek draai jou nekkie vir jou om net duskant jou stuitjie. Moenie met my kom speletjies speel nie. Ek is nie jou maat nie. Wat is daar van my wat jy vir haar wil vertel?"

"Dis sommer niks nie, Oom. Dis net iets van daai vrou by die weermaggimnasium en Oom se dinge, maar los dit maar, ek sal anderdag vertel."

Die Majoor word asvaal. Met die uitsondering van sy snor wat onwillekeurig heen en weer spring, verander hy in ’n soutpilaar. Sy gedaante verander van onoorwinbare weermagoffisier na verslaenheid. Danie het iets aangeraak uit sy verlede. Ou koeie wat Die Majoor lankal nie meer gedink het uitgegrawe kan word nie. Danie se oë glim, want Danie kan sien hoe die ou kêrel nou in sy verlede rondsoek na feite. Danie het ’n voet in die deur. Danie én Die Majoor weet dit alte goed.

"Luister jou klein vloek, hierdie is my persoonlike sake. Dit het niks met jou te doen nie. Hoor jy vir my! As ek jou naby my vrou kry, maak ek jou vrek!"

Die teenaanval van Die Majoor is desperaat – en onsuksesvol. Die saadjie is geplant.

"Dis oukei, Majoor. Ek sal haar sommer sê as ek haar by die supermark sien."

Dit was die einde van die gesprek. In die kar op pad huis toe was daar, behalwe Liena se snikke, slegs stilte. Die Majoor verwissel ratte met ’n bewerige hand en krap die ratte so na elke tweede derde wisseling. Sy koördinasie is skoon daarmee heen, dag ek.

Die uitnodiging na die troue het so ’n maand daarna gekom: “U word hartlik uitgenooi na die huweliksbevestiging van Danie Venter en Liena Badenhorst op so en so datum drie-uur vir halfvier ...” Mooi opgerol en toegebind met ’n geel strikkie en alles.

*

Dit was ’n tuintroue en die middag het soel gehang toe die dominee hulle vra om mekaar die regterhand te gee.

"Hiermee verklaar ek dan dat Daniel Venter en Liena Gertruida Venter wettig getroud is. Gee aan mekaar die ringe as teken van julle liefde en eenheid as man en vrou."

Daar was applous van die gaste, later die heildronke en al die dinge wat ’n huwelikseremonie kenmerk. Die Majoor staan daar rond in uniform, soms op aandag, soms, wanneer hy dink niemand sien hom nie, op rus. Die tante, vooroor gebuig en die ene konsentrasie, skarrel van eetgoedtafel na drinkgoedtafel na gaste – vriendelik – en dan terug na eetgoedtafel met ’n skinkbord vol eetgoedjies.

Dit was ’n mooi middag. Blou. Die blommemeisies, die blomversierings oral in die tuin, die geel linte op die bruid se rok, die babadogtertjie met die geel rokkie in die stootkarretjie en die hemel wat bo dit alles deurbreek na die klam en koel van die oggend se reën.

Ek spoor die bruidegom op waar hy, sjampanjeglas in die een hand en ander hand in die broeksak, met die gaste staan en gesels.

"Nee, sommer niks nie Oom," antwoord hy toe ek hom vra wat dit was wat hy Liena se ma wou vertel. "Dit was Liena se ma se plan, Oom. Sy't my gesê ek moet vir Die Majoor noem van die vrou by die gimnasium. Sy't gesê dit sal Die Majoor draai. Sy was reg Oom. Hy hét gedraai."

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top